Downsizing: ’n filmresensie

  • 0

Downsizing
Regie en draaiboek: Alexander Payne
Spelers: Matt Damon, Kristen Wiig, Christoph Waltz, Rolf Lassgård, Hong Chau, Jason Sudeikis

Dat die wêreld ’n probleem het met oorbevolking is ’n feit, maar hoe om dit op te los? Downsizing sorg vir een van die oorspronklikste wetenskapfiksietemas in ’n lang tyd: verander mense in Klein Duimpies en jy kan hulle in ’n skoenboks inpas, by wyse van spreke.

Die film open met ’n wetenskaplike (Rolf Lassgård) wat die uiteindelike deurbraak van dekades lange navorsing beleef: hoe om lewende wesens te laat krimp tot ’n breukdeel van hul oorspronklike grootte. Nog ’n dekade of wat later kan dié plan, behoorlik gekommersialiseer en heeltemal wettig met die ondertekening van verskeie kontrakte, in werking gestel word. Paul Safranek (Matt Damon) en sy vrou Audrey (Kristen Wiig) besluit oplaas ook op die prosedure en verhuising na een van die stede vir “klein mense”, hoofsaaklik vir die paleis van ’n huis waarvoor hulle volgens die puntestelsel kwalifiseer. Meer wil ’n mens nie oor die verhaal verklap nie, behalwe dalk hierdie ou waarheid: hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde – tot op ’n punt, dan sorg die film weer vir ’n verrassing. Dit lei tot ’n merendeels bevredigende einde, weliswaar met die tipies Amerikaanse formule van die liefde wat alles oorwin.  

Matt Damon se spel is uitstekend en Downsizing kon vier sterre verdien het as die filmmakers hul onderwerp meer empaties benader het. Die film lewer geldige sosiale kommentaar, maar die kyker raak nooit werklik emosioneel betrokke by die karakters nie. Te veel verteltyd word bestee aan mediese prosedures om die praktyk geloofwaardig voor te stel, boonop met tandartsbesoeke en ontharingsmetodes wat jou laat gril eerder as om simpatie te wek. 

Dié kritiek ten spyt bly dit ’n interessante en kykbare film wat ’n slag ’n ander perspektief as ruimtekolonies op ons bedreigde toekoms bied.

Sterre: 3

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top