Schalk Schoombie verwys in sy artikel “Ghosting: in die vallei van doodgeswygdes” van 24 Mei 2023 tereg na die verskynsel van skielike ignorering, vermyding en doelbewuste blokkering van pogings tot kommunikasie (“ghosting”) as ’n vorm van gedrag wat wyer voorkom as net in die konteks van flirtasie en romantiese interaksie. Hy verwys met goeie reg verder na die impak wat hierdie manier van omgaan het op die persoon wat aan die ontvangkant daarvan is, met ander woorde hoe pynlik dit kan wees om doodgeswyg te word. Die verwerping, die gevoel van niksbeduidendheid en waardeloosheid, en die impak daarvan op individue se selfbeeld en emosionele welbehae is deesdae wyd bekend en word wyd en syd beskryf.
Die verskynsel van doodswyging as ’n vorm van kommunikasie word egter soms in die media, en veral die sosiale media, onbeskroomd as negatief, kwaadwillig en teenstrydig met die goeie norme en waardes van die samelewing aangebied. So asof diegene wat hulle aan hierdie “laakbare” gedrag skuldig maak, deel vorm van ’n groep mense van wie daar gesê kan word dat hulle nie maniere het nie, gebrekkige persoonlike verhoudings het, en/of gebukkend gaan onder vorms van psigopatologie of sielkundige “issues”. Daar word gereeld gespekuleer oor hoekom mense hulle skuldig maak aan doodswyging, en moontlike redes soos swak maniere, lafhartigheid, asook straflustigheid word genoem. Schoombie self haal bronne aan wat tot die (heel geldige) gevolgtrekking kom dat ’n doodswyger hom of haar aan emosionele vervlakking skuldig maak.
............
Doodswyging sou seker in die meeste kontekste as ’n radikale vorm van kommunikasie beskou kon word, maar dit is al wat dit is: ’n vorm van kommunikasie. As iemand nie meer jou pogings tot kommunikasie wederkerig nadoen nie, of jou ignoreer, beteken dit dalk dat die persoon nie met jou wil woorde uitruil nie.
............
Terwyl van hierdie bovermelde motiveerders definitief soms geldig kan wees as moontlike redes vir doodswygers se gedrag, bied dit nouliks die volle prentjie van ’n verwikkelde tafereel wat sosiale kommunikasie vergestalt. Doodswyging sou seker in die meeste kontekste as ’n radikale vorm van kommunikasie beskou kon word, maar dit is al wat dit is: ’n vorm van kommunikasie. As iemand nie meer jou pogings tot kommunikasie wederkerig nadoen nie, of jou ignoreer, beteken dit dalk dat die persoon nie met jou wil woorde uitruil nie. Doodswyging is egter júis ’n vorm van kommunikasie, en ’n baie daadwerklike manier van kommunikeer. Dit sê: “Ek verkies om nie meer met jou op dieselfde manier, of gedurende dieselfde tye, te kommunikeer soos wat ek in die verlede het nie.” Of dit sê gewoon: “Ek wil nie verder met jou gedagtes uitruil nie, en ek wil ook nie vir jou ’n rede gee daarvoor nie.” Die verontwaardiging en argwaan wat dit by die ontvanger van hierdie kommunikasie ontlok, sê soms veel meer van die persoon wat doodgeswyg word as van die een wat die doodswyging uitvoer. In sommige gevalle sou mens selfs kon sê dat die eiegeregte manier waarop sommige mense te werk gaan om op sekere behandeling aan te dring, en hul histeriese reaksie as dit nie gebeur nie, grootliks die verklaring bied vir waarom ander mense gekies het om hulle te ignoreer of dood te swyg.
In die era van kort boodskappe en beperkte aandagspanne is dit onvermydelik dat kommunikasie al hoe meer vereenvoudig, verkort en abrup gaan word in toenemend diverse situasies, ook in situasies waar vriendskappe en romanse ter sprake is. Dit is wel so dat die digitale wêreld dit maklik en gerieflik maak om kommunikasie te verbreek of te blokkeer sonder om noodwendig verantwoording te doen of om iemand persoonlik te konfronteer. Maar dit is ook makliker om ’n epos te stuur as om te perd te moet ry om aan iemand se deur te gaan klop. Die feit dat tegnologie dit makliker maak om interpersoonlike afstand te skep beteken nie dat mense ewe skielik kommunikasie gaan blokkeer net omdat hulle kan nie. Indien dit gebeur dat mense skielik doodswygers word, beteken dit dat hierdie mense in elk geval die vloei van kommunikasie wóú verander – tegnologie maak dit net gerieflik en maklik om skielik op te hou kontak maak en agter digitale afskortings te skuil. As mense vanuit ’n kommunikasiemodel na doodswyging kyk, is dit bloot net nóg ’n vorm van kommunikasie, en een wat hoogstens gekenmerk kan word deur dít wat die sosiale omgewing as swak maniere definieer.
Doodswyging is ’n baie duidelike vorm van kommunikasie, naamlik dat die doodswyger nie wíl nie. Om te probeer verstaan hoekom nie, gaan gewoonlik nie veel aan die situasie verander nie, en kan mens baie vinnig en baie diep in die Haas se maalkolktonnel laat beland. As iemand dus vir jou deur doodswyging te kenne gee dat hy of sy nie met jou wil praat of via teks wil reageer op jou herhaaldelike boodskappe nie, waarom wil jy hê dat die persoon hulle onwilligheid in woorde moet oordra, of nog erger, vir jou ’n rede vir die onverwagte onwilligheid moet gee? Jou ontsteltenis sê dalk meer van jou behoefte aan afsluiting, of onvermoë om met onsekerheid of skielike verandering saam te leef.
............
Doodswyging is ’n baie duidelike vorm van kommunikasie, naamlik dat die doodswyger nie wíl nie.
............
Meestal pleeg mense die doodswyging-ding omdat dit vir hulle die meeste voordeel in ’n situasie inhou. Vele mense vind dit moeilik om konflik, konfrontasie en emosiebelaaide gesprekke te hanteer. Alhoewel dit dalk nie baie heldhaftig is nie, bied doodswyging ’n opsie aan mense wat sukkel met konflikhantering om onaangename situasies te vermy. Wie is in elk geval bereid om die eerste klip van oordeel te gooi wanneer dit by heldhaftigheid of toepaslike hantering van konflik kom? Soms is doodswyging ook die gevolg van swak kommunikasievaardighede eerder as dat dit noodwendig belaai is met bose bedoelings. Sommige mense, byvoorbeeld mense wat op die outismespektrum funksioneer, ervaar intense onvermoë om hulself toepaslik, en veral emosioneel toepaslik, te kan uitdruk. Doodswyging word dan vir hulle eerder ’n manier om die ander persoon te beskerm, en nie weens hulle sosiale of kommunikatiewe lompheid seer te maak nie.
Doodswyging bied dus aan iemand die opsie om sy of haar outonomie te kan beskerm, en/of vir die individu om ’n reg op keuse te kan uitoefen. Alhoewel daar soms negatiewe gevolge kan wees (soos met alle keuses), kan doodswyging gevolglik ook as ’n vorm van selfbeskerming gesien word.
Daar is vir seker ’n menigte kontekste waar doodswyging vir beide partye voordeel inhou. Navorsing toon byvoorbeeld dat veral in kortstondige (romantiese of vriendskaplike) verhoudings, en in verhoudings wat nie genoegsaam gegroei het nie, die afwesigheid van langdurende verduidelikings en gesprekke wat deur doodswyging veroorsaak is, uiteindelik beide partye help om vinniger emosioneel van mekaar te ontbind, en om vinniger afsluiting te bereik. As iemand jou twee keer vir ’n afspraak gevra het, en jy hoor daarna niks weer van die persoon ten spyte van jou pogings tot kontak nie, is dit in ’n moderne tyd ’n aanvaarbare aanduiding dat die persoon nie verder geïnteresseerd is nie, en jou waarskynlik ook nie ’n verduideliking skuld nie. Doodswyging is nog meer aanvaarbaar in ’n professionele werkskonteks. Lastige of ontoepaslike boodskappe van ’n kollega kan liefs met ignorering en doodswyging begroet word, ’n strategie wat heel waarskynlik tot voordeel van beide partye in hierdie situasie is.
............
Doodswyging bied aan iemand die opsie om sy of haar outonomie te kan beskerm, en/of vir die individu om ’n reg op keuse te kan uitoefen. Alhoewel daar soms negatiewe gevolge kan wees (soos met alle keuses), kan doodswyging gevolglik ook as ’n vorm van selfbeskerming gesien word.
............
Dit is nog meer toepaslik, en amper ideaal, as beide partye die doodswyging-taktiek gebruik, byvoorbeeld in ’n geval waar twee individue op ’n romantiese afspraak was, maar nie een van die twee verder belangstel om mekaar weer te sien nie. In hierdie voorbeeld, en in soortgelyke gevalle, aanvaar beide individue gewoonlik dat die abrupte beëindiging van verdere kommunikasie aanvaarbaar is, en dat dit amper ’n ongeskrewe ooreenkoms word dat beide geen verdere pogings tot kontak of verwagtinge gaan bedink nie. Sou een van die partye hierdie ongeskrewe ooreenkoms ignoreer en die ander persoon byvoorbeeld aanhoudend probeer kontak, het die samelewing geen probleem met die doodswyger nie, maar weinig simpatie met die party wat ongenooid probeer pla. So ’n individu word gou as ’n perverse bekruiper benoem.
Dit is welbekend dat ons weinig beheer het oor wat ander mense sê, doen of dink; as sodanig het ons ook min beheer daaroor dat doodswyging sig as ’n effektiewe manier van kommunikasie gevestig het. Ons het egter wel beheer oor ons eie reaksie op wat ander mense na ons kant toe gooi. As mens in die reën staan, wórd jy nie die reën nie, jy erváár bloot die reën. As iemand jou dus doodswyg, hoef jy nie ’n doodgeswygde identiteit aan te neem nie. Doodswyging is dus niks meer as dit nie: net een van vele maniere wat iemand anders gekies het om met jou te kommunikeer, en hoe jy daaroor gaan voel, hang uiteindelik van jouself af.
Lees ook:
Kommentaar
Wonderlik, ja, het self ook gevoel dat Schoombie se stuk te veel nog verswyg. Dit gebeur dat een persoon vreeslik obsessief raak, veral met hierdie aanlyn toepassings wat so gewild is. Kort voor lank is die een persoon die ander se slaaf wat konstant moet rapporteer en een na die ander onredelike en paranoïse eis volg. Of dit word vir welke ander rede ook al duidelik dat daar te groot onversoenbaarhede is wat nie sinvol opgeklaar sal kan word nie.
Uiteindelik word dit soms gedoen deur mense om hullself ook te beskerm. En op die korttermyn is dit dikwels is 'n klein opoffering vir die langtermynskade wat so gesystap word.