
https://pixabay.com/photos/man-faceless-horror-anonymous-1283576/
............
Nou sien jy dit, nou’s dit weg. ’n Ontwykende verskynsel, ’n spook. Dis selfs moeilik om Afrikaanse woorde daarvoor te vind.
.............
Nou sien jy dit, nou’s dit weg. ’n Ontwykende verskynsel, ’n spook. Dis selfs moeilik om Afrikaanse woorde daarvoor te vind.
Een ding is seker: Dit kan ontstemmend en pynlik wees om daarmee kennis te maak. Dit kan jou met onsekerheid verlam, laat twyfel oor jouself, jou talente en vaardighede. Dit kan jou slaap steel. Dit kan jou laat wonder waar jy ’n fatale fout begaan het. Dit kan jou soos ’n swak minnaar laat voel. Of ’n onwaardige vriend.
Jy is nie die enigste een nie – almal ervaar een of ander tyd ’n vorm van hierdie verskynsel, tot hul spyt. “Ghosting.”
Die optrede of praktyk is om skielik alle kontak met iemand (soos ’n voormalige romantiese maat) te verbreek, gewoonlik sonder verduideliking, deur nie meer telefoonoproepe, kitsboodskappe ens te onvang of daarop te reageer nie.
Is daar ’n Afrikaanse woord vir ghosting wat so presies beskrywend is soos die Engelse woord? Dalk moet ons praat van “om bespook te word” of “geskim te word”. Iemand kan “beheks” word, maar nie “bespook” nie. Dit het ’n gespook afgegee om uiteindelik te besluit op ’n woord sonder ’n spook: doodgeswyg, of doodverswyg. Dood suggereer ’n finale afsluiting, ’n geswyg soos die graf.
Die skrywer David Levitham omskryf dit so: “Dit sou maklik wees om te sê dat ek onsigbaar voel. Inteendeel, ek voel pynlik sigbaar, en totaal geïgnoreer.”
(Skrywers is blykbaar die enigste mense wat woorde soek vir ghosting – die meeste slagoffers voel begryplikerwys skaam oor die ervaring en verkies om dit te vergeet.)
Hierdie betreklik nuwe gedrag, om iemand te degradeer tot onsigbaar, as’t ware tot ’n spook, word meestal verbind met die beëindiging van verhoudings. Terwyl dit moeilik is om ’n verhouding op ’n aangename of mooi manier af te sluit, kan dit besonder pynlik en verwarrend wees indien dit skielik gebeur en stilswye ingespan word. Doodswyg word algemeen gebruik in enige situasie waar ’n persoon skielik vertrek of onverklaarbaar stil raak.
Dit kom veral in romantiese verband voor. Die definisie van ghosting as ’n metode om ’n verhouding te beëindig is in 2017 in die Merriam-Webster-woordeboek opgeneem. Die woord was toe reeds geruime tyd informeel in omloop, sedert die mid-2000s. Tans verwys dit nie net na minnaars wat mekaar so behandel nie, maar ook vriende, kennisse en kollegas.
In die Merriam-Webster word ghosting, vry vertaal, so aangegee:
selfstandige naamwoord; ’n vae dubbele beeld op ’n televisieskerm, asook die vorming van sulke beelde; sulke vertoon is geneig om onder ghosting te ly, wat as vreemde lyne op die skerm verskyn, Consumer Reports.
Anders gestel: Doodswyg vind plaas wanneer ’n persoon alle kommunikasie afsny met ’n vriend of ’n persoon met wie hulle uitgaan, sonder enige waarskuwing. Oproepe word vermy, boodskappe op sosiale media en in ontmoetings word met stilswye begroet.
In sommige opsigte het die persoon wat so verswyg word, ’n spook geword. Die beëindiging van ’n verhouding word veral verbind met die gebruik van sosiale media. Boodskappe en oproepe word gewoon nie beantwoord nie en dit laat die een wat die boodskappe stuur, verward, onseker en seergemaak.
Die Booker-bekroonde Indiese skrywer Arundhati Roy (vir The God of small things) het die stilte oor gedwonge stiltes verbreek met haar vermaning: “Daar is nie werklik iets soos die ’stemloses’ nie. Daar is net die doelbewuste stilgemaaktes, of dié wat verkies om nie gehoor te word nie.”
Roy se diepgaande stelling sny na alle kante van hedendaagse magsmisbruik wat die slagoffer dwing om stil te bly weens vrees, intimidasie en gevoelens van minderwaarheid.
Die stilgemaaktes in die “vrygemaakte” demokratiese samelewing is oral. Nie almal se stemme word gehoor nie, en waar hulle opklink, word hulle dikwels gedemp of doodgeskree deur magsbeheptes en faksies op die ekstreme linker- en regterfront.
Die Amerikaanse digter en skrywer Anthony Liccione beskryf die toestand van die slagoffer wat nie gesien of gehoor word nie, as ’n soort onsigbaarheid: Om daar te wees, maar nie daar te wees nie. (“Being there, but not being there.”)
Tiemie in PG du Plessis se Siener in die suburbs wou “van geweet wees”. Dit is ’n basiese menslike behoefte, om gesien en gehoor te word, iets wat van kleins ingeprent word ondanks die dreigement: “Kinders word gesien en nie gehoor.” Almal wil weet dat hulle ’n verskil maak, aan ten minste een persoon en hopelik die gemeenskap. Die Viëtnamese skrywer Viet Thann Nguyen (van The Sympathizer) som die behoefte op as ’n morele keuse: “Hoewel dit beter is om geliefd te wees as gehaat, is dit veel beter om gehaat te word as geïgnoreer.”
..........
Om geïgnoreer te word is om sosiaal uitgewis te word. Om as ’n spook tussen die lewendes te wandel. Om verban te word na die vallei van die doodverswygdes.
..............
Om geïgnoreer te word is om sosiaal uitgewis te word. Om as ’n spook tussen die lewendes te wandel. Om verban te word na die vallei van die doodverswygdes.
Die woord ghosting is nie ’n onlangse skepping of vonds nie. Wiiliam Shakespeare het dit in sy tragedie Anthony and Cleoptra gebruik. Die karakter Pompey in die eerste bedryf, toneel 6: “... wherefore my father should revengers want / Having a son and friends; since Julius Cæsar, / Who at Philippi the good Brutus ghosted, / There saw you labouring for him.”
Die woord dui hier op oorwinning – Caesar het Brutus uitoorlê. Inderdaad is dit ’n antieke woord wat op wye vlak verwys na die skep van ’n skim of ’n spook; om iemand onsigbaar te maak, uit die weg te ruim.
Die Amerikaanse filmmaker en skrywer Sarah Burns verduidelik: “Een oomblik Romeo, die volgende is hy weg. Ghosting is wanneer jy ka-poef letterlik verdwyn uit iemand se lewe sonder ’n woord van verduideliking.”
’n Verbruiker wat anoniem aanlyn na romantiese avonture op soek is, verdedig die gebruik: “Dit is FOMO (the fear of losing out), die vrees om ’uit te mis op’ iets of ’n persoon, wat volgende kom … Ghosting kan ’n bietjie gemeen wees, maar ons gaan net uit (dating); dis nie asof ons in ’n verhouding is nie.”
Die keuse van romantiese maats is deesdae oneindig, en die volgende een is net ’n veeg van die vinger weg.
’n Onlangse studie deur navorsers aan die Universiteit van Georgia, Athene, en die Universiteit van Mississippi bevind dat sowat twee derdes van deelnemers wat doodgeswyg is, aan die ontvangkant daarvan was as gevolg van ’n verhouding wat ten einde loop.
Studies toon dat sosiale verwerping van enige aard dieselfde pynroetes in die brein aktiveer as fisieke pyn, wat daarop dui dat daar ’n biologiese verbintenis is tussen verwerping en pyn. Indien ’n mens verwerp word sonder begrip van wat verkeerd geloop het, kan dit ’n mens geskok en seergemaak laat voel, onseker oor hulself en wat eintlik gebeur het. Mense het ontwikkel om in verbinding met ander te wees, wat die gebruik van ghosting soveel wreder vir die ontvanger maak.
Die navorsers was veral geïnteresseerd in mense met ’n behoefte aan afsluiting (closure) en of hulle meer deur ghosting geaffekteer word, en of hulle self ghosting gebruik om uit hul eie verhoudings te kom. Die gebruik van doodswyg word verbind aan ’n sterk begeerte om dinge net daar af te sluit en dit nie langer uit te rek nie.
............
Hoekom kies mense dan hierdie metode om ander dood te swyg? Is dit net swak maniere? Lafhartigheid? Om ’n debat af te sluit? ’n Manier om te wys hoe kwaad jy vir die doodgeswygde persoon is, afsydig teenoor hulle, gefrustreerd met hulle? Is dit ’n vorm van straf?
.............
Hoekom kies mense dan hierdie metode om ander dood te swyg? Is dit net swak maniere? Lafhartigheid? Om ’n debat af te sluit? ’n Manier om te wys hoe kwaad jy vir die doodgeswygde persoon is, afsydig teenoor hulle, gefrustreerd met hulle? Is dit ’n vorm van straf? Om te swyg is een manier om van die radar af te verdwyn, om ongemaklike konfrontasies te vermy, of om nie verantwoordelikheid te neem vir die pyn wat jy iemand aandoen nie. Dit weerhou die swyger daarvan om empatie te betoon en hul eie emosies te verduidelik. In hierdie opsig dui ghosting op emosionele vervlakking tussen mense.
Tegnologie dra by tot doodswyg omdat dit die indruk van “nog visse in die see” via toepassings versterk. Dit help om vinniger besluite te neem oor wie ’n moontlike sielsgenoot of maat kan wees, en wanneer daar ’n teleurstelling opduik, is dit eweneens makliker om die verhouding te beëindig sonder om redes te gee, dit te bespreek en emosioneel derms uit te ryg.
In hierdie konteks raak die individu weggooibaar. Sommige, aangehits deur Hollywood-romanses, glo daar is iets soos ware liefde en ’n ideale sielsmaat, en hulle is immer gretig is om aan te beweeg na die volgende verhouding om te sien wat dit bied.
Tydens die skryf van die artikel het ek self tot die gevolgtrekking gekom dat ek verskeie keer deur mense doodverswyg is, én dat ek dit self aan ander gedoen het. Dit het maklik geword in ons oorhaastige tegnolgiese tyd om tegelyk slagoffer en oortreder te wees. ’n Paar vriendskappe het gesneuwel omdat ons van mening verskil het oor omstrede onderwerpe, samesweringsteorieë en politieke verskille.
Die skrapkultuur wat sekere persona non grata meedoënloos kanselleer, help om sulke gedrag vatplek te gee. Soos ’n manlike karakter in die musiekspel Chicago kla:
Cellophane, Mister Cellophane shoulda been my name, /
Mister Cellophane / 'Cause you can look right through me / Walk right by me
And never know I'm there ...
Toe ek nog ’n redakteur was, het my e-posbus soms so vol geraak dat ek nie daarby uitgekom het om alle korrespondensie te beantwoord nie. My eie e-posse is meestal beantwoord, wat my laat dink dat doodswyg met status te doen het. Noudat ek nie meer so ’n “glansryke” pos beklee nie, word heelparty van my e-posse, WhatsApps en oproepe aan ander nie beantwoord nie. Ek is ouer, ’n wit man, ’n vryskutter wat nie ’n belangrike pos beklee nie, en nou ja, boontjie kry sy loontjie. Onsigbaar is nou verbind aan ageïsm.
Een voorbeeld: Ek vra twee kenners in die uitgewerswese of hulle weet van ’n kundige om na ’n manuskrip van my te kyk – ek benodig ’n bietjie raad met die slypproses. (Ek het nie gedink dit sou gratis hulp wees nie.) Die twee oudkollegas verwys my na dieselfde persoon, iemand met groot kundigheid. Ek reik uit na hierdie persoon, eers via e-pos en daarna via WhatsApp. Ek kan sien die boodskap is ontvang en gelees. Maar die stilte is oorverdowend. Ek wonder hoekom dié slim en belangrike persoon nie net kon reageer met drie woorde: “Jammer, te besig”, of gewoon: “Nee” nie.
’n Kenner in musiekkringe nader my met ’n voorstel om advertensies op ’n resensieblad wat ek bedryf, te plaas. Ons doen ’n oefenlopie en ’n advertensie word prominent op die tuisblad geplaas. Daar is geen terugvoering of dankie nie. E-posse word nie beantwoord nie. Kan ons praat oor vergoeding of quid pro quo? Ek bel en word verseker daar sal later die dag ’n antwoord wees. Daar is nie. Ek haal die advertensie af. Die instansie het ’n week se gratis reklame geniet. Die voorstel het immers van hul kant gekom. Hoe hanteer ’n mens sulke onprofessionele gedrag? Ons blad plaas immers gereeld musiekresensies – nóg gratis reklame.
Dalk moet ’n mens aanvaar daar is die outydse manier van dinge doen wat aan die verwyn is, en die nuwe manier. In die verlede was ’n groet, ’n handdruk en ’n man (vrou) se woord genoeg om ’n saak of ’n vriendskap te beklink. Woorde was iets werd.
’n Oudkollega waarsku my dat as iemand vir jou sê: “Let’s do lunch”, is die omgekeerde waar: “Ons sal dit nooit doen nie, hartjie.”
Die Nederlandse liriekskrywer en komponis Anna Jae is in die kol met haar pynlike verweer: “Jy ignoreer my so hard, dit is oorverdowend. Die stilte is so diep dit eggo.”
Bronne
https://www.merriam-webster.com/dictionary/ghosting
https://www.urbandictionary.com/define.php?term=Ghosting
https://www.goodreads.com/quotes/tag/ignoring
https://thehabitat.com/life/what-makes-ghosting-different-than-a-typical-breakup
https://www.earth.com/news/ghosting-is-harder-on-people-with-a-high-need-for-closure
Geredigeer deur W.G. Clark en W. Aldis Wright. The Complete Works of William Shakespeare. 1 January 1945. Uitgewer: Nelson Doubleday, Garden City, NY, BCE
https://www.songfacts.com/lyrics/cast-of-chicago/mr-cellophane


Kommentaar
Die term is ontleen aan die film met Ingrid Bergman met haar man wat met haar emosionele speletjies speel. Manipulasie.
https://en.wikipedia.org/wiki/Gaslight_(1944_film)
Word dit ook gas lighting genoem? Dis hoe ek altyd die verwysing na die film gesien het. Ek het gou bietjie gaan nalees. Dit wil tog lyk of ghosting of, soos hier beskryf, doodswyg, nie heeltemal die selfde konsepte is nie.
Nee, dis twee verskillende dinge.
Oe! Dit moet lekker wees! As sekere mense my wil ignoreer, dan is daar mos niks om te betaal nie of hoe?