
DJ Opperman het ’n beduidende invloed op die nuwer geslag van digters in Suid-Afrika gehad. Sy gedigte kan teen die agtergrond van Suid-Afrika se politieke klimaat van destyds op verskeie maniere verstaan word.
Dit is teen hierdie agtergrond dat Louise Viljoen vanjaar die driejaarlikse DJ Opperman-gedenklesing in Stellenbosch gelewer het. Haar lesingtitel is “DJ Opperman gelees teen die agtergrond van die ‘nuwe’”.
Viljoen is emeritusprofessor van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch (US). Haar navorsingsfokus is die Afrikaanse letterkunde en literatuurteorie, met spesifieke klem op die postkolonialisme, gender, identiteit, transnasionalisme en die posisie van klein letterkundes teen die agtergrond van die wêreldletterkunde. Sy is ook die ontvanger van die Jan H Marais-prys vir 2023 vir haar uitsonderlike bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal.
In haar Opperman-lesing kyk Viljoen na bepaalde en bepalende aspekte van Opperman se werk, hoofsaaklik teen die agtergrond van Antjie Krog se werk (omdat sy persoonlike kontak met hom gehad het), maar ook met verwysing na ander digters.
Viljoen brei uit op ’n stelling wat Helize van Vuuren maak in haar Opperman-oorsig in Perspektief en profiel: “Wanneer ’n mens ’n bestekopname maak van Opperman se oeuvre, is dit nodig om sy werk te lees teen die agtergrond van die ‘nuwe’ van vandag.”
Opperman was ’n prominente figuur in die Suid-Afrikaanse letterkunde. Sy werk bly ’n ryk erfenis en word steeds bestudeer en bewonder deur mense wat belangstel in Afrikaanse poësie en kultuur.
Hy het verskillende generasies studente ingelei in die geheime van die Afrikaanse en wêreldletterkunde. As dosent het hy ook ’n Letterkundige Laboratorium begin waarin hy jong skrywers en kritici begelei het.
........
Sy invloed op die nuwer geslag van digters is te sien in hul voortgesette strewe na die uitdrukking van taal, identiteit en sosiale bewussyn in Suid-Afrika.
........
Opperman se digkuns het ontstaan in ’n tyd van groot politieke veranderinge in Suid-Afrika, insluitend die vroeë apartheidsjare. Terwyl hy nie altyd direk na politieke sake in sy poësie verwys het nie, het sy werk dikwels ’n onderliggende kommentaar op die samelewing en die politieke klimaat van daardie tyd bevat. Dit het latere geslagte van digters aangemoedig om politieke en sosiale kwessies in hul eie werk op te haal.
Sy invloed op die nuwer geslag van digters is te sien in hul voortgesette strewe na die uitdrukking van taal, identiteit en sosiale bewussyn in Suid-Afrika.
As digter het hy nege grensverskuiwende digbundels en drie belangrike versdramas gepubliseer. As akademikus het hy een van die belangrikste studies oor die Dertigers en ’n hele aantal invloedryke opstelle gepubliseer. As literêre rolspeler het hy verskillende bloemlesings gepubliseer (waaronder die verskillende uitgawes van Groot Verseboek ’n belangrike kanoniseringsinstrument in die Afrikaanse poësie geword het) en as keurder het hy vir uitgewerye ’n groot rol gespeel in die vorming van talle digters.
Viljoen sê in haar lesing daar is geen twyfel daaroor dat DJ Opperman ’n monumentale plek in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde beklee nie.
Sy sê dit is enersyds te wyte aan die kreatiwiteit, vakmanskap en vernuwende aard van sy oeuvre wat soveel digbundels, versdramas, gepubliseerde proefskrifte en bundels literêr-kritiese opstelle insluit.
“Andersyds hou dit ook verband met die belangrike rol wat hy as kanoniseerder van die Afrikaanse poësie gespeel het deur die samestelling van verskillende uitgawes van Groot Verseboek. Daarmee saam ’n verskeidenheid verseboeke vir kleuters, klein kinders en skoliere. As dosent aan die universiteite van Kaapstad en Stellenbosch het hy studente in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde onderrig en vanaf 1960 by die Universiteit Stellenbosch ook jong digters opgelei in sy Letterkundige Laboratorium.”
“Ewe indrukwekkend is die impak wat sy poësie op jonger geslagte digters gehad het,” sê Viljoen.
Van die bekende digters wat vanjaar se Opperman-lesing bygewoon het, sluit in mense soos die Nederlandse digter Alfred Schaffer, Joan Hambidge, asook die letterkundige en digkunsresensent Andries Visagie.
........
Elke nuwe leser of nuwe geslag lesers sal ’n eie opvatting van wat aktueel, relevant en boeiend is, na die lees van Opperman se tekste bring.
........
Die fokus van vanjaar se Opperman-gedenklesing was om ’n skrywer soos Opperman se werk te lees teen die agtergrond van die “nuwe vandag”.
“Die nuwe is uiteraard ’n begrip wat voortdurend verskuif,” sê Viljoen. Elke nuwe leser of nuwe geslag lesers sal ’n eie opvatting van wat aktueel, relevant en boeiend is, na die lees van Opperman se tekste bring.
Viljoen lees enkele aspekte van Opperman se digterskap teen die agtergrond van bepaalde ontwikkelings in die Afrikaanse literêre landskap ná die afsluiting van sy oeuvre.
Sy laat val onder meer die soeklig op die kwessie van transkulturele identifikasie met ander kultuurgroepe met verwysing na Suid-Afrika se rasse-diversiteit in van Opperman se werk.
In haar lesing laat Viljoen haar lei deur Krog se verhouding met Opperman as voorganger. Sy sê Krog is verreweg nie die enigste digter in Afrikaans wat op Opperman reageer nie. Karen de Wet se navorsing het gewys op die indrukwekkende aantal digters wat op verskillende maniere met Opperman in gesprek tree deur verwysings, bevestigings en afwysings van sy werk.
........
Sy laat val onder meer die soeklig op die kwessie van transkulturele identifikasie met ander kultuurgroepe met verwysing na Suid-Afrika se rasse-diversiteit in van Opperman se werk.
........
Die rede waarom sy op Krog fokus, is eerstens omdat sy in die beginjare van haar digterskap ’n persoonlike verbintenis met Opperman gehad het.
Sy sê oorsigte van Opperman se oeuvre wys feitlik sonder uitsondering op die feit dat sy werk gerig was op die Suid-Afrikaanse landskap.
Sekere elemente van transkulturele identifikasie is volgens Viljoen een van die kraglyne wat van Opperman se poësie uitgaan. “Alhoewel Krog se aansluiting by ander Suid-Afrikaanse kulture ook gevoed word deur ander bronne en oorwegings, is sy een van die digters wat Opperman volg in die gebruik van elemente uit die inheemse kulture van die land.”
Sy verwys in haar lesing ook na die problematiek van “transkulturele toe-eiening”.
Viljoen se eie gevoel is dat transkulturele kruisbestuiwing positiewe resultate kan hê as daar op verantwoordelike wyse wedersyds geleen en beïnvloed word, maar dat ’n skrywer wel binne die Suid-Afrikaanse konteks met sy geskiedenis van onderdrukking en verskuiwende magsverhoudings bewus moet wees van bepaalde sensitiwiteite rondom hierdie interaksies.
Een van die prominente voorbeelde van transkulturele kruisbestuiwing in Opperman se debuutbundel is die lang vyfdelige gedig “Shaka” waarin hy met die historiese gegewe van die Zoeloe-koning Shaka werk.
Dat Opperman se hantering van historiese stof en die literêre tradisies van die ander kultuurgroepe in Suid-Afrika Krog geïnteresseer het, blyk volgens Viljoen uit Krog se Opperman-gedenklesing van 2009 waarin sy Thomas Mofolo en Opperman se hantering van die Shaka-geskiedenis met mekaar vergelyk.
“Sy [Krog] argumenteer onder andere dat daar onderliggend aan Opperman se keuse vir die sogenaamd onpartydige uitbeelding van Shaka se nasiebou-projek, ’n poging was om die Afrikaner se ‘begeerte tot apart-wees en nasiebou’ te regverdig, maar betoog uiteindelik dat daar tog – veral in ’n postkoloniale omgewing soos Suid-Afrika – meriete is in Opperman se opvatting dat die digter hom onpartydig in die posisie van die ander moet kan verbeel, alhoewel dit wedersydse ongehinderde gesprek [sal verg], wat met toewyding, verantwoordelikheid, vertaling, taalondervraging en toerekeningsvatbaarheid gevoer word” (Krog 2010:13).
........
Opperman het onder andere geskryf dat ons in die toekoms nie slegs op ons eie wêreld gesteld gaan wees nie, maar ons én ons kinders die wêrelde van ons mede-landgenote intiemer gaan leer ken in ’n wisselwerkende verhouding waar die Afrikaner se kultuurbeeld meer verwikkeld gaan word en rekening gaan hou met ander kulture en kunswerke.
........
Viljoen verwys ook na ’n uitspraak wat Opperman gemaak het in ’n koerantartikel in ’n Uniefees-bylaag in Die Burger op 24 Mei 1960. Daarin blyk dit dat hy bewus was van die gevare van kulturele self-isolasie in die Suid-Afrikaanse konteks.
Opperman het onder andere geskryf dat ons in die toekoms nie slegs op ons eie wêreld gesteld gaan wees nie, maar ons én ons kinders die wêrelde van ons mede-landgenote intiemer gaan leer ken in ’n wisselwerkende verhouding waar die Afrikaner se kultuurbeeld meer verwikkeld gaan word en rekening gaan hou met ander kulture en kunswerke.
“Ons eie gaan ons met minder selfbeskerming en groter selfkritiek beskou, sodat ons meer volwasse kan word, die kritiek van ander ook kan verdra,” het Opperman destyds geskryf.
Volgens Viljoen gee Opperman met sy voorbeeld van transkulturele identifikasie en uitsprake ’n bepaalde impuls wat kreatief, esteties en eties op ’n eiesoortige manier deur ’n skrywer soos Krog verwerk word.
In sy gedig “Spelonk” ervaar hy na Viljoen se mening in die sogenaamde swart wêreld van die spelonk ook iets van die letterlike en figuurlike stemloosheid van swart mense onder die apartheidsbestel.
Viljoen sê veel meer navorsing is egter nodig om volledig in te gaan op ’n hertaksering van Opperman se oeuvre teen die agtergrond van die nuwe. Wat wel geblyk het uit haar poging om Opperman se werk te lees teen die agtergrond van sy leerling Krog se werk, is dat daar belangrike kraglyne van sy werk uitgegaan het, dat sy poëtika haar gedwing het tot nadenke oor haar eie posisie en dat sy op veelseggende wyse ingeskryf het téén sy invloed.
Sy sê haar ondersoek toon ook dat daar bepaalde breeklyne is met ’n nuwe generasie digters wat hulleself om bepaalde redes distansieer van die kanon en digterlike waardes soos deur Opperman verwoord. Dit alles dui op ’n letterkunde in Afrikaans wat veelvuldig, beweeglik en dinamies is, voortdurend aan’t reageer op wat in die hede gebeur, sluit Viljoen af.
Lees ook:

