DJ Opperman 100 jaar: Wium van Zyl se bydrae

  • 0

Die digter DJ Opperman sou op Maandag 29 September 2014 honderd jaar oud geword het. Onlangs het die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch 'n feesvieringsgeleentheid in die Wilcocksgebou op die kampus aangebied waar sy menslike nalatenskap geëer is. Wium van Zyl was Opperman se assistent in 1971 en 1973 en het sy MA by hom voltooi. Die gedig hieronder is deur Wium van Zyl geskryf en dateer van direk ná Opperman se begrafnis.

Uitvaart van ’n digter

Die môre lê soos helder water oor
die begraafplaas teen die hang.
Ons in kisklere kyk geboeid
in dié gat waar jy
Diederik, Johannes
dosent, digter, profeet
nou beslis
gaan uitvaar van lyf tot stof.
Ons dra roosblare by,
simpatiseer, staan dan traerig rond
tot die ondernemers nogal ongepoets
sy manne die graaf laat gryp.
Ek kyk verlaas terug
en wonder
hoe lýk die wêreld
deur die glasholtes
van ’n perd se oog?
Eers baie later as die donker uit
die Kaapse klowe kom
weet ek weer hoe die yl straal
van Danger Point se toring
bewerig oor ’n gevaarsee soek,
hoe helder
praat die visvangplekke op die Plaat
en praai die potjieriet,
en sien ek as die waters sak
met die juiste stand van die maan
kom ’n mompelende ou skipbreukeling
bonkig in ’n flentertrui
tog nog met flits en stok
woel in holtes klam verwondering.

Uit: Wium van Zyl, Oggendvuur, Tafelberg 1991

 

Lees ook Etienne Britz se bydrae.
Lees ook Joan Hambidge se bydrae.

Lees ook Chris van der Merwe se bydrae.
Lees ook Lina Spies se bydrae.
Lees ook Dorothea van Zyl se bydrae
.
DJ Opperman 100 jaar: In klank en beeld.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top