Dis tyd dat akademici vrouemigrante se ervarings ondersoek

  • 0

Marietjie Lambrechts (Foto: verskaf)

Die uiterse geslagsdiskriminasie, verwerping en fisieke en emosionele mishandeling wat vrouemigrante ervaar, is aan die hand van ’n fiksieteks, met soveel pynlike waarhede in, deur Marietjie Lambrechts vir LitNet Akademies ontleed. Die teks wat gebruik is, was Zebra crossing van Meg Vandermerwe, wat die verhaal vertel van hoe ’n vrouemigrant Suid-Afrika, asook geslag- en magsverhoudings ervaar. En veel swaarder as mans kry. Elsabé Brits het vir Marietjie ’n paar vrae gestel.

 

Waarom skop ’n groot deel van die samelewing – ook in Suid-Afrika – steeds teen die waarheid dat daar ’n baie nou verwantskap tussen geslagsrolle en mag is, asook kultuurgeoriënteerde diskriminasie? Het dit op sigself ’n hardnekkige “kultuur” geword of nie?

Die verwantskap tussen geslagsrolle en mag klink effens hard op die oor in ’n moderne samelewing. Kultuurgeoriënteerde diskriminasie is vasgelê in bepaalde lewenswyses en rituele wat oor generasies heen deur beide geslagte aanvaar en in die onderbewussyn van die lede van ’n bepaalde groep vasgelê word. Dit is so deel van mense se verwysingsraamwerk dat dit as die norm aanvaar word. Veranderings word met moeite geïnisieer.

’n Kollektiewe identiteit is die waarborg dat ’n individu veilig voel. Dit vorm die grondslag van persoonlike identiteit en beïnvloed ’n individu se lewensuitkyk.

Solank soos wat vroue ’n ondergeskikte posisie teenoor mans aanvaar, sal haar posisie nie verander nie. Dit is en bly vroue se verantwoordelikheid om heersende denkpatrone rakende hulle posisie in die samelewing te verander. Dikwels word geslaggebaseerde diskriminasie deur vroue self in stand gehou.

Indien ’n individu dit sou waag om teen heersende sosiaal- en kultuurgebaseerde riglyne in opstand te kom, word sy as ’n “moeilikheidmaker” na die buiterand van die samelewing rangeer. Vroue vrees isolasie en vereensaming en sal eerder inval by heersende gedragspatrone as om daarteen in opstand te kom of dit uit te daag.

Vrouemigrante kry veel swaarder as die mans wat migreer – hoekom is dit so en kan jy ’n paar voorbeelde noem?

Asof dit nie genoeg is dat omstandighede haar dwing om haar vaderland te verlaat nie, is grensposte die begin van haar ellendes. Nog voordat vrouemigrante in gasheerlande aankom, is hulle die slagoffers van diskriminasie en uitbuiting. Korrupsie, omkoopgeld, dreigemente van verkragting en geweld is ’n werklikheid.

Oorvol woonomstandighede in die gasheerland ontneem haar van broodnodige privaatheid en daar word van haar verwag om huishoudelike take in kommunes te verrig. Dit sluit dikwels mans in met wie sy geen verwantskap het nie.

As sy aansoek doen vir verblyfregte in gasheerlande, word daar dubbeld teen haar gediskrimineer: as vrou en as migrant. As gevolg van haar ondergeskikte posisie word sy maklik as sondebok vir allerhande onheile in die gemeenskap uitgesonder.

Kindergeboortes dien as bevestiging dat ’n spesifieke groep migrante permanent in ’n gasheerland is en dus aanspraak kan maak op sekere regte en voorregte. In ’n land soos Suid-Afrika met endemiese werkloosheid, gebrekkige dienste en beperkte hulpbronne is die teenwoordigheid van vrouemigrante ongewens.

Vrouemigrante word nie net aan diskriminasie deur inwoners van gasheerlande blootgestel nie, maar ook uit eie geledere. Gegroepeer as buitestanders op die rand van die samelewing, keer migrante terug na die tradisionele waardesisteme en lewenswyse van die land van oorsprong. As patriargie in die land van oorsprong gegeld het, word dit onveranderd in die gasheerland voortgesit en dikwels geïntensiveer. Vroue wat nie meer kan staatmaak op die ondersteuning van geslagsgenote nie, vereensaam in die gasheerland.

In die openbaar en in die huis ervaar vroue meer diskriminasie en swaarder omstandighede – hoe en hoekom?

Konflik tussen lede van groepe met verskillende waardesisteme, lewenswyses, voorkeure en persepsies is ’n werklikheid in openbare ruimtes. So byvoorbeeld beskryf Theokritos reeds in die 4de eeu vC in een van sy idilles hoe daar teen vrouemigrante in openbare ruimtes gediskrimineer word en dat hulle bloedweinig aan hulle weerlose situasie kan doen.

Uit Zebra crossing is dit duidelik dat die posisie van vroue in openbare ruimtes tot vandag toe nog nie veel verander het nie.

Vroue word nie alleen deur lede van die plaaslike bevolking verneder nie, maar is ook slagoffers van diskriminasie en uitbuiting deur amptenare in staats- en ander openbare instansies wat veronderstel is om haar posisie in die gasheerland te wettig. Sonder dokumentasie is dit onmoontlik om die formele arbeidsmark te betree en word sy verplig om haar tot die informele sektor te wend ter wille van oorlewing.

Dit plaas die vrouemigrant in ’n onbenydenswaardige posisie waar uitbuiting aan die orde van die dag is, veral in gevalle waar haar visum van ’n spesifieke werkgewer afhanklik is. Waar haar man nie in staat is om ’n werksgeleentheid in die gasheerland te bekom nie, kan ’n vrou as enigste broodwinner van die gesin nie bekostig om haar werk te verloor nie.

Sonder wettige dokumentasie kan vrouemigrante nie bankrekenings open nie. Dit maak hulle maklike teikens vir misdaad, omdat misdadigers weet dat hulle kontant aan hulle lyf of in hul wonings wegsteek.

Vroue wat migreer, ontsnap nie aan die patriargale sisteem indien dit deel was van die kultuur in die land van herkoms nie. Dit beteken dat private ruimtes nie ’n veilige hawe aan vroue bied nie, veral in gevalle waar huishoudelike geweld kultureel aanvaarbaar is. ’n Vrou meld selde huishoudelike geweld aan, omdat sy dit as ’n persoonlike saak beskou en repatriasie vrees indien haar man aan ’n misdryf skuldig bevind sou word.

Meg Vandermerwe, skrywer van Zebra crossing, aan die woord by die Adam Small-fees. (Foto: Suki Lock)

Dit verg ’n boek soos Zebra crossing, deur ’n vrou geskryf, om te vertel wat migrantevroue ervaar en hulle leefwêreld oop te vlek. Waarom is daar nie behoorlike navorsing, veral deur vroue om ander vroue te vertel het?

Dit is jammer dat so min akademici die ervaringswêreld van vrouemigrante as wetenskaplike navorsingsveld ontgin. Dit is asof dié vroue se teenwoordigheid in ’n land wat veronderstel was om aan hulle ’n nuwe tuiste te bied, dood geswyg word.

Die groot verdienste van ’n boek soos Zebra crossing is juis die feit dat dit maatskaplike probleme wat ’n gemarginaliseerde deel van die gemeenskap ervaar, uitlig.

Sonder om direk sosiale kommentaar te lewer, word die ervarings van ’n sekere groep geskets wat die oorheersende waardesisteem van die betrokke gemeenskap uitdaag. Die feit dat hierdie roman nie veel aandag geniet het toe dit in 2013 gepubliseer is nie, spreek boekdele.

Dalk sal die onlangse verfilming van Die swerfjare van Poppie Nongena meer gewig verleen aan ’n ander literêre teks wat fokus op die unieke probleme wat vrouemigrante in gasheerlande ervaar.

Het Suid-Afrika nog nie die waarde van #herstory besef nie? Of waarom die gebrek aan navorsing oor dié vroue se intense ervarings?

Uit persoonlike ervarings weet ek dat bepaalde tendense en probleme in ’n gemeenskap kristalliseer wat op globale vlak hanteer moet word.

Al is die posisie van vroue in die samelewing op die oomblik onder die vergrootglas, veroorsaak ’n gebrek aan wetenskaplike navorsing wat op persoonlike ervarings fokus, dat die weerlose posisie van vrouemigrante voortduur. Vrouemigrante verdien dat hulle posisie in gasheerlande behoorlik ondersoek sal word sodat oplossings vir hulle unieke probleme gevind kan word.

Dit is hoog tyd dat studies op hierdie terrein vanuit regeringsgeledere geïnisieer en finansieel ondersteun word.

 

Lees Marietjie Lambrechts se artikel vir LitNet Akademies hier:

Die invloed van plek en ruimte op die identiteitskonstruksie van vrouemigrante binne die Suid-Afrikaanse konteks na aanleiding van Zebra crossing (2013) deur Meg Vandermerwe

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top