Onderhoud: Dis swaar as 'n ouer sterf

  • 0

rou650
Estelle Kruger is in gesprek met Jenobia Kock (JK) en Ansie Lessing (AL) oor hulle LitNet Akademies-artikel Enkele adolessente seuns se belewing van die dood van ’n ouer en die ondersteuning aan hulle.

Wat is die agtergrond van die studie – maw watter omstandighede het tot hierdie navorsing van julle gelei?

JK: Ek het deur my onderwysloopbaan as lewensoriëntering-opvoeder telkens waargeneem hoe adolessente seuns wat ’n geliefde aan die dood afgegee het, emosioneel swaarkry. Vanuit my persoonlike gesprekke met dié seuns het ek waargeneem dat hulle dikwels hul rouproses uitstel of onderdruk in ’n poging om nie uiting aan hul emosies te gee nie. Verder het ek ook waargeneem dat adolessente dogters in vergelyking met adolessente seuns makliker oor hul verlies praat en uiting aan hul emosies gee. Hierdie waarnemings het my belangstelling geprikkel en ek het begin wonder oor watter rol sosialisering en geslagsrolle speel ten opsigte van seuns se rouproses. Om hierdie rede is die geslag gespesifiseer in die studie.

Dink julle dat tienerseuns deur ’n ander (verskillende) proses van rou gaan as tienerdogters? Motiveer asseblief.

AL: Ons is van mening dat die rouproses van tienerseuns wel verskil van dié van tienerdogters. Seuns word in baie gevalle van kleins af geleer om “nie te huil nie”. Dit is dus moontlik dat seuns hulle emosies onderdruk en nie ’n behoorlike rouproses ondergaan nie. Daarteenoor is dit sosiaal aanvaarbaar dat dogters vrylik, deur trane uiting gee aan emosies van verdriet.

Dit moet egter in gedagte gehou word dat elke mens se rouproses ’n individuele verloop het wat verband hou met die mens se persoonlikheid, benadering tot die dood en afhanklikheid van en verhouding met die afgestorwe persoon.

Die navorsing gaan oor bruin leerders – sou dit dieselfde (of anders) gewees het by wit seuns wat ook ’n ouer aan die dood afstaan? Indien wel, hoekom?

AL: Uit die aard van die saak sal leerders (ongeag kultuur) wat ’n geliefde aan die dood afgegee het, deur ’n soortgelyke rouproses gaan, naamlik skok en ontkenning, woede, onderhandeling, depressie en aanvaarding. Die meer kontemporêre siening wat deur beraders en sielkundiges by roubegeleiding gevolg word, lê nie slegs klem op die hantering van die verlies wat die persoon gely het nie, maar veral ook op die herstel van die persoon se ekwilibrium deur hom of haar te begelei tot ’n nuwe identiteit en benadering tot die lewe wat aanpas by die nuwe omstandighede sonder die geliefde. Dit is egter moontlik dat daar kultuurverskille in die uiting van emosies van verdriet kan voorkom.

Die meeste mense wat betrokke is by die meelewing/ondersteuning/berading by rouprosesse is bewus van Kübler-Ross se teorie van roufases wat sy reeds in 1969 geformuleer het. In watter mate word haar sienings nog gehuldig in soortgelyke navorsing as julle s’n?

AL: Kübler-Ross en soortgelyke denkers se siening geld ook in die eietydse benadering tot die rouproses. In die algemeen gaan mense deur die fases van verliesverwerking, soos tradisioneel gesien. Hierdie siening van die verliesoriënteringsproses word egter deesdae aangevul deur ’n restourasie-oriënteringsproses waartydens bedroefdes hulle lewenstorie herskryf en nuwe betekenisse geskep word vir ’n veranderde verhouding met die afgestorwene.

Julle navorsing was kwalitatief van aard. Is julle bewus van enige kwantitatiewe studies oor die rouproses? Wat sou die verskil (indien enige) in impak wees op die onderwerp?

JK: In ’n voorlopige literatuurstudie is enkele kwantitatiewe studies wat adolessente/gesinne se belewing van die dood van ’n ouer of geliefde binne die Suid-Afrikaanse konteks nagevors het, opgespoor waarvan slegs een in die Wes-Kaap gedoen is. Die meeste Suid-Afrikaanse studies is met volwasse respondente gedoen.

AL: Navorsing oor die rouproses by adolessente is meestal kwalitatief van aard. Die rede daarvoor is dat navorsers belangstel in die subjektiewe en individuele belewing van dood en die rouproses en dit moeilik vind om menslike gedrag in kwantifiseerbare en meetbare terme, wat die werkswyse van kwantitatiewe navorsers is, te verduidelik. ’n Kwantitatiewe aanpak van die navorsingsvraag sou antwoorde verskaf op hoeveel adolessente op ’n bepaalde wyse op die dood van ’n ouer sal reageer en hoe dikwels. Die fokus van kwantitatiewe navorsing is veralgemening van bevindinge vir ’n bepaalde groep en die daarstel van “wette” wat deur die beskrywing en begrip van die realiteit verkry word.

Kwalitatiewe navorsing was die aangewese metode vir hierdie studie. Deur die gebruik van ’n kwalitatiewe navorsingsmetode is die navorsers se begrip van die aard en moontlike oorsake van die uitdagings wat deur die adolessent in sy direkte omgewing beleef word, verdiep. Daar is op adolessente se gedrag in ’n bepaalde konteks gefokus en die data van hulle ervaring soos deur hulle self verskaf is beskryf en geїnterpreteer. Deur ’n kwantitatiewe navorsingsmetode sou ons nie dieselfde diepte en omvang van die bevindinge bereik het nie.

In watter mate het julle as navorsers die navorsingsvraag geïnternaliseer? Wees asseblief spesifiek.

JK: Die navorsingsvraag het gespruit uit my persoonlike interaksie en gesprekke met adolessente seuns en dogters wat ’n ouer aan die dood afgegee het. Ek wou in besonder die manlike rouproses verstaan/ondersoek en ook die moontlike invloed van seuns se sosialisering ten einde beter begrip en insig te ontwikkel. Deur middel van ’n voorlopige literatuurstudie is hierdie belangstelling verder aangewakker deurdat baie min studies oor seuns/mans en verlies van ’n geliefde opgespoor kon word. Die behoefte aan ’n studie oor seuns en verlies is geїdentifiseer en die navorsingsvraag het persoonlik ’n dieper betekenis gekry deurdat ek die waarde van die studie wou beklemtoon en die navorsingsvraag met indringende beskrywings van die seuns se ervaring van hul verlies wou weergee.

Die navorsingsontwerp help dat navorsers objektief is. Was daar egter tog tye wanneer julle subjektief betrokke geraak het? Hoe/wanneer?

JK: Drie data-insamelingstegnieke is in hierdie studie gebruik wat voordurende ontleding van kategorieë, temas en subtemas vereis het ten einde elke seun en ook die seuns as groep se rouproses so volledig moontlik te beskryf en weer te gee en gevolgtrekkings moontlik te kan maak. Aangesien kwalitatiewe navorsing ’n intense proses van data-ontleding verg en dus baie tyd in beslag neem, asook weens die persoonlike aard van die seuns se weergawes van hul rouproses, het ek wel soms subjektief betrokke geraak by elke seun se rouproses. Ek was egter voortdurend op my hoede dat subjektiwiteit nie die bevindinge van die navorsing beїnvloed het nie.

Hoe het julle uitgekom by die idee om collages te gebruik waarin deelnemers inligting verstrek het oor hulle rouproses?

AL: In die algemeen praat seuns nie maklik oor hulle gevoelens nie en dit was gevolglik nodig om van ’n doelgerigte en nie-intimiderende tegniek gebruik te maak om werklik insig in hulle ervarings te verkry. Die prente, beelde en woorde wat vir die samestelling van ’n collage gekies word, reflekteer dikwels gevoelens wat nie verwoord kan word nie en hou, afgesien van die algemene betekenis daarvan, ook verband met die kliënt se persoonlike ervarings en kultuur. Die keuse van die materiaal vir die samestelling van die collage kom dikwels uit die onderbewuste na vore en gee dus vir die terapeut groter insig in die ervarings en gevoelens van die kliënte.

Verder stel die collage ’n visuele storie voor wat die vertrekpunt vorm vir ’n dialoog tussen die kliënt en die terapeut en die storie is in hierdie navorsing as die basis gebruik in die fokusgroepbespreking.

Dink julle dat die collages gelei het tot terapie, soos wat gebeur in kunsterapie?

AL: Die collages het definitief terapie in die hand gewerk, soos deur van die deelnemers aangedui. Van die adolessente het gesê dat dit die eerste keer was dat hulle met maats oor die dood van hulle moeders gepraat het.

JK: Aangesien die seuns simbole, prente en woorde in tydskrifte moes soek vir die maak van hul collages, het dit ook ’n mate van projeksie moontlik gemaak. Die feit dat hulle simboliek in beelde kon sien en assosiasies met woorde, prente en simbole kon maak, het die collages vir hulle ’n projeksiemiddel gebied waardeur hulle die ervaring van die verlies van ’n ouer eers kon verken en weergee sonder om met ander daaroor te praat. Van die seuns het ook aan die einde van die fokusgroeponderhoud aangedui dat hulle besef het dat hulle nie alleen deur so ’n verlies kon gaan nie en dat hulle dit waardeer het om met mekaar oor hul verlies te kon praat.

Is die interpretasie van kunsobjekte soos collages nie maar eintlik individueel/subjektief/arbitrêr/relatief nie? Watter invloed het dit gehad op die interpretasie van julle bevindinge?

AL: Soos die geval met alle kwalitatiewe navorsing is, kan ook collages individueel/subjektief/ arbitrêr/relatief geag word. Die doel van kwalitatiewe navorsing is egter nie die veralgemening van die bevindinge nie, maar die verkryging van diepgaande subjektiewe inligting oor belewinge van ’n bepaalde teikengroep oor ’n bepaalde onderwerp. Die interpretasie van die bevindinge uit die navorsing is dan ook in dié lig, naamlik om nie te veralgemeen nie, maar om ryke inligting te bekom, gesien en gedoen.

Dink julle dat tieners se belewing van die dood van ’n ma anders is as dié van die dood van ’n pa – en indien wel, in watter opsigte?

AL: Die intensiteit van die belewing van die dood van ’n ouer hou verband met die verhouding wat tussen die ouer en die kind bestaan het. Oor die algemeen is die moeder die versorger van die kind en die dood van die moeder kan gevolglik in dié verband ’n leemte laat. Verder speel die moeder deur haar versorging ’n belangrike rol in die bindingsproses van die baba en bied ook die grondslag vir langtermyn geestelike welstand en die vermoë om verhoudings te vorm. Die kind kan die pyn van verlies van die moeder as lewensbedreigend ervaar en gevolglik probleme ervaar om verhoudings te stig, wat weer aanleiding gee tot emosionele en fisieke spanning. Aan die ander kant word die vader dikwels as gesagsfiguur asook die finansiële voorsiener van die huisgesin gesien en ervaar. Die afsterwe van ’n vader gaan gevolglik nie slegs met pyn en verlies gepaard nie, maar dikwels ook met angs oor toekomstige finansiële sekuriteit. ’n Mens kan egter nie veralgemeen nie en daar sal altyd verskille tussen mense wees en ook tussen tieners se belewing van die dood van ’n moeder of vader.

Hoe sou julle die bevindinge van die navorsing aan ’n belangstellende (maar ongeletterde) ouer verduidelik?

JK: Die studie is onderneem om enkele bruin seuns in die adolessente fase se ervaring van die dood van ’n ouer en ondersteuning binne die skoolopset te ondersoek en te verken. Die geslag van die ouer is nie gespesifiseer nie, maar al die seuns het hul moeders verloor. Onderhoude is individueel met elke seun gevoer en die seuns het later ’n collage saamgestel deur die uitknip en plak van prente, woorde en simbole wat hulle ervaring van die dood van hul ouer uitgebeeld het. Daarna het die seuns in ’n groep vir mekaar vertel wat hulle in die collages uitgebeeld het (met ander woorde hul ervaring van die dood van hul ouer). Die adolessente seuns het aangedui dat die dood van hul moeders hul lewens vir altyd verander het; dat hulle baie hartseer en stukkend was na die dood van hul moeders, maar wel ondersteuning van die skool, vriende en portuurgroep ontvang het. Gesinsverhoudinge het verbrokkel en die seuns het dikwels hul rou alleen hanteer. Hulle het ook aangedui dat hulle ’n lewenslange band met hul moeders sal hê, groter verantwoordelikheid vir hul eie lewe aanvaar en hul eie en ander kinders/mense se gevoelens beter verstaan. Die seuns het die waarde van ander se ondersteuning as belangrik geag, maar genoem dat die openlike toon van hul gevoelens deur hul sienings van wat hulle dink manlikheid is, beïnvloed word.

Wat het julle elkeen as persoon geleer in die proses van navorsing en die publikasie van julle bevindinge?

JK: Aangesien ek nog nie persoonlik iemand in my onmiddellike familie aan die dood afgegee het nie, het ek vanuit die navorsing besef dat die dood van ’n geliefde ’n lewenslange verlies is. Verder dat mense nooit oor die dood van ’n geliefde kan kom nie, maar dat hulle bloot leer om voort te gaan met die lewe sonder die afgestorwene. Vanuit die seuns se intense beskrywings van hul hartseer en verlange na hul moeders het ek ook meer begin dink oor my eie nalatenskap vir my dogters en uitgebreide familie en vriende, asook hoe ek graag onthou sou wou word.

AL: Die samestelling van ’n collage het besondere waarde om op ’n nie-intimiderende wyse deur te dring tot die innerlike van adolessente seuns. Die seuns het in ’n ontspanne atmosfeer geleentheid gekry om te dink oor hulle ervaring van die dood van ’n moeder. Die fokusgroepbesprekings het aan die seuns ’n geleentheid gebied om hulle eie verlies te verstaan en in ’n mate te oorbrug. Dit het hulle gehelp om oor hulle verdriet te praat. Verder is dit duidelik dat roubegeleiding ’n noodsaaklikheid vir adolessente is en dat die skool en onderwysers ’n leeue-aandeel daarin behoort te hê.

Navorsing oor die dood en die rouproses wek uiteraard persoonlike herinneringe op. ’n Mens herbeleef die skok van ’n ouma wat skielik aan ’n hartaanval sterf, ’n nefie wat op slag gedood word in ’n motorongeluk of ’n swaer wat sug en alles is verby. Mens dink ook aan jou geliefdes wat na ’n lang siekbed die wêreld vir ’n beter plek verruil het en die geleidelike aanvaarding van die onvermydelike. Mettertyd verminder die hoekom-vrae en kry ’n mens berusting in aangename herinneringe.

Lees die artikel "Enkele adolessente seuns se belewing van die dood van ’n ouer en die ondersteuning aan hulle" hier. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top