"Dis my ma se taal, my pa se stilwees en hoe hulle daagliks net leef"

  • 0

“Bowenal als, is my ouers ’n groot inspirasie wat my werk op verskillende maniere aanraak. Dis my ma se taal, my pa se stilwees en hoe hulle daagliks net leef. Dis ’n rykdom wat ek as kind al besef het en dankbaar is dat juis hulle my ouers is.”

Dit is die woorde van die jong opkomende skrywer Herschelle Benjamin op die vraag waar sy inspirasie vir sy skryfwerk vandaan kom.

Nie net het Herschelle onlangs ’n skrywersbeurs van die Teksmark-inisiatief ontvang nie, sy toneelstuk Korreltjie Kop Klong is my dood was ook die enigste Afrikaanse toneelstuk by die New Voices-program wat hierdie maand by die Kunstekaap, in Kaapstad, plaasgevind het.

Herschelle gesels oor sy passie vir skryf en die kunste, en die uitdagings daaraan verbonde om ’n toneelstuk neer te pen.

Herschelle Benjamin tydens tegniese intrek van Korreltjie Kop Klong is my dood (Foto: Vulture Photography)

Herschelle, jou toneelstuk Korreltjie Kop Klong is my dood was vanjaar die enigste Afrikaanse stuk by die New Voices-program. Vertel ons asseblief meer oor die stuk.

Ek het die storie eers geskryf as ’n monoloog uit die perspektief van ’n jongman wat in ’n rehabilitasiesentrum sit en wag vir die oomblik wanneer hy ontslaan word. Ek was toe in my matriekjaar op skool en het ’n hartverskeurende siklus waargeneem onder baie jong seuns in my buurt. Hulle was vasgevang vir diefstal of dwelmmisbruik en hul ouers met die hulp van polisie en maatskaplike werkers moes hul dan wegstuur na spesiale inrigtings.

Sommige van hulle was tydens my hele hoërskoolloopbaan in en uit by sulke inrigtings. Uiteindelik word hul 18 en daardie opsie verstryk. Baie van hulle word dan aan dwelms verslaaf en is weer tronk of rehabilitasiesentrums in en uit. Ek was gefassineer en persoonlik geraak deur familielede na aan my wat daardie pynlike prosesse moes deurgaan. Ek het gesien hoe dit hulle emosioneel en fisiek affekteer – veral die moeders. Ek wou iets daaromtrent doen, en skryf was die enigste manier waarop ek vir die jongman en die ma ’n ewe sterk stem kon gee in ’n storie wat hard praat oor die teenwoordigheid van geloof/kerke, die gemeenskap en trauma uit ons verlede. Die stuk het veral gedraai om die soeke na ’n identiteit en die instandhouding daarvan terwyl jy op soek is na ’n beter lewe.

Die rolverdeling van Korreltjie Kop Klong is my dood. Van links: Eoudia Samson, Ann Juries-May, Jurgen Romario McEwan, Charlene le Roux en Herschelle Benjamin

Wat behels die New Voices-program?

New Voices is Kunstekaap se jaarlikse tekskompetisie vir jong skrywers om hul tekste in ’n volledige produksie te vervaardig met die hulp van ’n mentor. Enigiemand kan inskryf met ’n teks of voorstel waarvan die mentors dan self een skrywer elk kies om deel van die program te wees. Vanjaar was Sandra Temmingh my mentor en ook die regisseur van Korreltjie Kop Klong is my dood. Sy is ’n veteraan in die toneelwêreld, gesoute dramadosent en werk tans ook op die kykNET-sepie Suidooster. Ek het onder haar leiding aan die teks gewerk, maar ook aan verskillende aspekte van die hele produksie. Sy het my die geleentheid gegun om deel te wees van oudisies en repetisies waar ek meer soos ’n assistentregisseur gewerk het. Ek het ook as deel van die program vir my eie stuk die poster ontwerp en die bemarking/media gehanteer. Daarby het ek as runner gehelp as verhoogbestuurder en met die ligte ook. Dit was werklikwaar ’n proses wat my meer as net as ’n skrywer uitgedaag het, en daarvoor was ek uiters dankbaar.

Waar kry jy jou inspirasie vir jou skryfwerk?

Dit hang af. Korreltjie Kop Klong is my dood was geïnspireer deur my hulpeloosheid terwyl ek as matriekseun gesien het hoe ander jong seuns in my buurt agteruitgaan. My onlangse werk het baie te doen met studente by universiteite, asook die akademie self. Ek word baie beïnvloed deur waar ek tans in my lewe is as ’n 22-jarige bruin jongman. Dis beide opwindend en angswekkend. Ek put baie uit persoonlike ervarings en waarnemings. Dis ’n nabyheid aan temas/onderwerpe, maar ook ’n verwyderheid daarvan wat aanloklik is vir my as skrywer. Ek lees ook baie boeke, artikels en poësie en word veral geïnspireer deur ander toneelstukke, soos my gunsteling, An Octoroon, deur die Amerikaanse skrywer Brendon Jacobs-Jenkins. Onlangs was ek ook in Skotland nadat ek die Elizabeth McLennan-beurs vir teater onvang het, waar ek die geleentheid gekry het om Britse, Skotse en Ierse dramaturge en teater te bestudeer. Bowenal als, is my ouers ’n groot inspirasie wat my werk op verskillende maniere aanraak. Dis my ma se taal, my pa se stilwees en hoe hulle daagliks nét leef. Dis ’n rykdom wat ek as kind al besef het en dankbaar is dat juis hulle my ouers is.

Jurgen McEwan as Edmun

Watter uitdagings is daar verbonde aan die skryf van ’n toneelstuk?

Sjoe. Ek dink vir my was dit nog altyd dat die werk iets anders moet sê/doen en mense laat dink. Ek vind dat ek graag stukke wil skryf wat mense laat dink en nooit preek nie, hetsy dit op papier of op die verhoog is. Daarby moet iemand jou stukke lees en jou konstruktief help om konstant daaraan te timmer, maar ook die geleentheid gee om oor hul skouers te loer. Ek dink ook daar is ’n groot verskil om ’n toneelstuk te skryf, want daar is ander reëls wat geld. Dis anders as ’n gedig, prosa of net ’n kortverhaal. Ek vind dit lekker om tussen verskillende skryfwerke te beweeg, maar vind ook dat dit soms uitdagend kan wees om die regte hoed op te sit. Dit het self daartoe gelei dat ek die verskillende vorme en style vermeng het in die skryf van ’n toneelstuk en dit was net so leersaam.

Jy het onlangs ’n skrywersbeurs van Teksmark ontvang. Vertel ons meer?

Ek het vanjaar my ander toneelstuk, Aas Poetica, ingeskryf by die derde Teksmark en ’n kans gewaag met ’n stuk wat begin het as ’n tegniese skryfeksperiment met vraagstukke oor mag, seksualiteit en ouderdom. Dit was ongelooflik ontvang by die Teksmark, met Stian Bam, Jacques Bessenger en Cantona James wat ’n gedeelte uit die teks as leesteater aangebied het. Verlede jaar was my ander stuk In Slavenhuis 39 ook goed ontvang en sal volgende jaar debuteer by die US Woordfees. Die skrywersbeurs is ’n aanmoediging van die bedryf om meer te skryf en bydrae te lewer tot nuwe gesprekke/vraagstukke deur toneelstukke. En dit help ook baie vir ’n jong man om finansieel verder te ploeter.

Charlene le Roux as Antie Miera (regs), en links, Eoudia Samson as Antie Wiessie

Van waar jou liefde vir die kunste?

Die lewe en my ouers. Alhoewel hulle nie in die kunste is nie, was dit die manier waarop hulle my grootgemaak het van kleins om altyd te waag, te leer, jouself uit te druk, hard te werk, toeganklik te wees vir inspirasie, bewonder die wêreld, wees realisties maar ook opsetlik naïef, teken, skryf, klim, hardloop, val, staan op, lag, praat, skree ... Ek kan nog aangaan, want ek dink regtig die liefde vir die kunste is onbewustelik deel van wie hulle is en hoe hulle my grootgemaak het. Jare later het die opsê van my eie woorde voor slapenstyd spesiaal net vir hulle en die grasperk wat ’n verhoog was tydens Desembermaand se someraande, name gekry en dis toe ek besef waar ek hoort.

Dink jy daar is ’n toekoms vir die jeug in Suid-Afrika wat ’n loopbaan in die kunste wil volg?

Ek het laas in my eerste jaar, toe ek van LLB na drama geskuif het, die vraag van almal gehoor. Ek kon dan nie antwoord nie, maar het nou al ’n paar opmerkings daaroor. Ek dink mens moet net uiters hard werk en baie veelsydig wees. Jy moet dit ook uit eerlike/opregte redes doen en nie vir die geld of roem nie. En dis maar ook ’n bietjie geluk en wie die langste kan uithou. Daar is beslis ’n toekoms as jy wil “Aanhou beweeg en geraas (wil) maak”, soos Jan Rabie gesê het.

Ann Juries-May as Brenda

Cast op verhoog (Foto: Vulture Photography)

Wat is jou mening oor die toekoms van Afrikaans?

Solank mense dit aanhou praat en skryf, is daar beslis ’n toekoms.

Is dit belangrik dat teater grense moet verskuif en die sogenaamde norme in die samelewing moet uitdaag?

Ja, ek dink teater moet altyd die spieëls op hou vir ons. Dis ’n nodige slagaar vir ons land en vir die kunste. Teater is ’n uitstekende katalisator vir vernuwende denke en uitdagende areas wat stoei tussen die ongemak en gemak.

Herschelle, wat hou die toekoms vir jou in?

Ek moet my meesters in drama en teaterstudie aan Stellenbosch-universiteit klaar maak in die volgende jaar en dan wil ek aanhou skryf en teater maak. Dit is my droom om eendag my eie tekste se regie ook te doen. Nou wil ek soveel as moontlik leer oor alle aspekte van teatermaak en ook meer oor skryf. Ek doen ook die afgelope halwe jaar ’n internskap by Media24 onder Die Burger se kunsredaksie, en kunsjoernalistiek is ook belangrik vir die kunste. Ek is bevoorreg dat ek my vingers in verskillende potte kan druk om die kospotte te laat prut. Ek hoop ek sal in die toekoms dit nog meer doen en altyd ’n bydrae lewer of net betrokke wees in verskillende opsigte.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top