Dis Mei op VIA – met regte mense, en regte stories!

  • 0

Die werklikheidsreeks Myne vir joune was uit die staanspoor ’n treffer, en in ’n splinternuwe seisoen van dié sosiale eksperiment ruil twee lede van twee uiteenlopende gesinne weer plekke om te leer en beleef hoe ander mense dink en doen. Wat gaan die gesinne by mekaar leer, en watter lewenslesse neem hulle terug na hul eie huis? Kyk saam elke Woensdag om 21:00 van 26 Mei, met herhalings Donderdae om 09:00, Sondae om 21:30 en Maandae om 09:30.

In seisoen 3 van Sjefhuis maak ’n nuwe aanbieder haar verskyning: die bekroonde akteur Quanita Adams. Oudergewoonte is Bertus Basson weer die meestersjef, om wie se aandag die agt jong sjefs met mekaar in die kombuis meeding. Saans is almal onder een dak in die villa, en dié keer is daar meer drama as ooit. En wie weet, dalk weer ’n liefdesintrige? Nou in ’n nuwe tydgleuf, elke Donderdagaand om 20:00. Met herhalings Vrydae om 08:00, Donderdae om 14:00 en Saterdae om 19:00 (van 19 Junie).

Die gewilde speletjiesprogram Musiekpaniek is terug, en die aanbieder Carla Mackenzie staan reg vir nuwe sangers en hul “superfans” om te kyk wie se musiekkennis is die beste. Dis ’n uiteenlopende groep gaste in seisoen 4, met onder andere Elvis Blue, Corlea Botha, Francois van Coke en Peach van Pletzen wat in die ateljee kom kuier. Speel saam, elke Vrydagaand van 21 Mei om 20:00, met herhalings Vrydae om 14:00 en Saterdae om 22:00 (van 29 Mei).

En dan val die kollig in die geselsprogram Besigheid wat saak maak opnuut op die entrepreneurs wat klein besighede laat werk. Meer as ooit gaan dit oor die persoonlike aanslag en die gesigte agter elke suksesvolle onderneming – die planmakers wat die verskil maak. Wat motiveer hulle, en wat is hul grootste uitdagings? Kom luister na hul stories, en leer uit hul ervarings. Met die aanbieders Rozanne McKenzie en Anton Schmidt wat ’n vermaaklike, interessante aanslag verseker. Inspirasie – dis waarop jy kan reken elke Saterdagoggend van 15 Mei om 08:30, met herhalings Woensdae om 10:00 en Maandae om 18:30 (van 24 Mei).

Etlike ander hoogtepunte beloof dié maand boeiende wintervermaak op VIA.

In Minki staan twee episodes uit: Op 3 Mei om 20:00 verwelkom Minki van der Westhuizen Suid-Afrika se eerste Michelin-sjef, Jan Hendrik van der Westhuizen, op haar bank. En op 17 Mei gesels Minki met die koslegende Ina Paarman.

In Huisgenoot: Ware Lewensdramas is net die naakte waarheid goed genoeg op 3 Mei om 21:00, wanneer die kleurryke lewe van Suid-Afrika se kaalbaskoning, Beau Brummel, in Huisgenoot se visier is. Op 24 Mei herbesoek ons die gru-verhaal van die Sizzlers-moorde toe twee mans in Januarie 2003 10 mans wreed aangeval het in ’n gay masseersalon in Kaapstad. Net een van die slagoffers het dit oorleef.

Jo Black se gas in Doodgewone Jo op 4 Mei om 20:30 is die legendariese komediant, sanger en filmmaker Leon Schuster.

En op 6 en 13 Mei om 16:30 besoek Derrich Gardner in Tuintoere die plaas Babylonstoren aan die voet van die Simonsberg buite Franschhoek. As jy self nog nie daar kon uitkom nie, maak reg vir dubbele kykplesier – dis ’n verkenning van een van die oudste Kaaps-Hollandse plase deur die oë van die bekende botanikus Ernst van Jaarsveld.

Op 10 Mei om 17:00 in die laaste episode van dié seisoen van Kaap, Kerrie en Koesisters maak Fatima Sydow haar hart oop oor haar kanker.

En op 12 Mei om 21:30 in Boereverneukers probeer Izak du Plessis agter die kap van die byl kom oor wat presies Burre Burger se rol was in droogtehulp aan boere regoor die land. Die geld het ingestroom, maar is alles vir droogtehulp gebruik?

Dan laaste, maar nie die minste nie: Wie sal ooit die tsoenami in 2004 in Suidoos-Asië vergeet? In Keerpunt om 21:00 op 13 Mei, vertel Leilani le Roux van haar angservaring toe sy en haar verloofde op Phuket was vir hul troue – maar toe tref die tsoenami dié eiland. Leilani het ernstige beserings opgedoen en haar hart het twee keer gaan staan. Maar sy leef, en vertel haar eie storie.

VIA, ook beskikbaar op Catch Up en in die DStv-app.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top