Dik dun thick thin deur Nataniël: ’n lesersindruk

  • 0

Dik dun thick thin
Nataniël

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798181419

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Nataniël is ’n kunstenaar wie se skryfwerk ek amper altyd geniet. Ek huiwer nooit om ’n boek van hom te koop nie, want op sy beste is hy ’n meesterlike skrywer en verteller; na my beskeie mening dalk ’n bietjie onderskat. Die Nataniël-konsep oordonder ongelukkig dalk sommige mense se persepsie van sy skryfwerk, en kan moontlik verhoed dat sy skryfwerk ernstiger opgeneem word. Dit was dan ook so dat ek Nataniël se vorige boek, Kyk na my (Human & Rousseau, 2019), waarin hy sy jeugjare in herinnering roep, heel boeiend gevind het. Die boek Dik dun thick thin was egter in vergelyking met van sy ander boeke vir my effens teleurstellend.

Dit is gelukkig ook maar net, soos altyd, my eie subjektiewe siening van die saak. Ek spreek so min as moontlik negatiewe dinge oor boeke uit, en die grootste rede hiervoor is dat ek my boeke baie versigting kies. Boeke is mos maar ’n duur stokperdjie, maar dis geweldig lonend. Daar word gelukkig so baie boeke gepubliseer dat ’n mens, met ’n klein bietjie navorsing vooraf, amper seker kan wees dat jou keuse van boek die geld werd sal wees. Dit was dan ook opmerklik dat die meeste van die resensies wat ek onder oë gehad het oorwegend positief op Dik dun thick thin gereageer het.1 En ek sal beslis ook nie die boek in sy geheel afskryf nie. Van die verhale in die boek is, soos dikwels die geval is in Nataniël se skryfwerk, gewoon meesterlik geskryf, soos net hy kan.

So wat sal dan die kritiek wees? Sommige van die verhale in die boek het gewoon net nie my aandag vasgevang nie, en dit was later ’n stryd om dit enduit te lees. Die boek word op die buiteblad as “skreeusnaaks” beskryf, en dit bevat wel snaakse verhale, maar ek het dit beslis nie as “skreeusnaaks” ervaar nie. Hierdie sentiment word ook gehuldig deur die resensent JB Roux, in wie se bespreking van die boek uitdrukkings voorkom soos “effens saamgeflans” en dat dit “meer grinnik as giggel ontlok”.2 Dit is jammer, want humor, tesame met sy uitsonderlike vaardigheid met die Afrikaanse taal, is tradisioneel twee van die sterkpunte van Nataniël se boeke. Van laasgenoemde is daar egter darem nog heelwat te vind in Dik dun thick thin.

In nog ’n resensie waarsku Louise Viljoen dat Nataniël “nie almal se koppie tee” is nie en dat Nataniël “in wese ’n viering van anderswees [is]”.3 Dit is gewis die geval en ook die rede hoekom baie mense, insluitend die uwe, so baie waardering vir sy werk het, want alhoewel Nataniël se skryfwerk maklik afgemaak kan word as ligte leesstof, ideaal bedoel vir ontspanning en luilekker vakansiedae, bied sy skryfwerk tog dikwels pitkos en sosiale kommentaar. Hy is veral krities teenoor die politiek, en dit is daardie pittighede wat telkens deurskemer wat ’n mens tog met ’n bemoedigde gemoed laat voortlees. Hy begin byvoorbeeld sy verhaal “30 years” met die volgende sinnetjie: “It sounds awful when you say it, but there are people in this world who should be avoided at all costs” (57). In “How to improve others” is die boodskap skynbaar dat mens liefs nie moet probeer om mense te verander nie – glad nie slegte raad nie, as jy my vra.

So gepraat van “30 years”, 8 van die 28 verhale in die boek is nie in Afrikaans geskryf nie, maar in Engels. Daar is verhale uit sy jeugjare en ook sy studentejare, en heelwat van die stof van die verhale is ook gebou op sy ervaringe as uitvoerende kunstenaar en sy reise en interaksies met mense regoor die land. Ek kan ongelukkig nie Dik dun thick thin beskryf as ’n boek wat my gaan bybly nie; daarvoor was te min van die verhale werklik boeiend. Skreeusnaaks is die meeste verhale gewis ook nie. Ten minste nie vir my nie. Nataniël se grootste aanhangers sal egter waarskynlik, soos gewoonlik, weer aan sy lippe hang en hierdie boek verslind. Trouens, hulle maak skynbaar reeds so.

Eindnotas

1 ’n Gloeiende resensie deur Maryke Roberts het op LitNet verskyn: “Dik dun thick thin deur Nataniël: ’n resensie”, https://www.litnet.co.za/dik-dun-thick-thin-deur-nataniel-n-resensie/ (9 Augustus 2021 geraadpleeg).

2 Roux, JB, “Deur dik en dun saam met Nataniël”, http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/deur-dik-en-dun-saam-met-nataniel-20201108 (7 Augustus 2021 geraadpleeg)

3 Viljoen, L, “Boekresensie: Dik Dun Thick Thin”, https://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/boekresensie-dik-dun-thick-thin/ (7 Augustus 2021 geraadpleeg).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top