Dik Dun Thick Thin deur Nataniël: ’n resensie

  • 0

Titel: Dik Dun Thick Thin
Skrywer: Nataniël
Uitgewer: Human & Rousseau, 2020
ISBN: 9780798181419

Die boek bevat 28 nuwe kortverhale soos net Nataniël hulle kan uitdink en skryf – 20 Afrikaans en agt Engels. Sommige is persoonlik, ander is eerder sprokies uit sy verbeelding van doodgewone mense se verhale. Dat hy weet hoe om ’n storie te vertel wat jou hartsnare roer, is gewis. En ook dat hy meesterlik met woorde kan omgaan. Kyk byvoorbeeld na: "Van toe af was Joubertyn soos ’n verpleegster op ’n lang skof, vriendelik in die oggend en kwaad in die middag."

En natuurlik is sy gevatte beskrywings oral: "varkgilletjies soos vakansieseks"; "die klein duiweltjies op jou skouer is handlangers van die groot duiwel en is gestuur om jou te help om te sê wat jy nie moet sê nie, vat waar jy nie moet vat nie, eet wat jy nie moet eet nie en kyk waar jy nie moet kyk nie"; "ek is so knorrig soos ’n bejaarde wolf"; "hy lyk glad nie meer soos iemand waarvoor jy ’n bankie sou mistrap nie"; "sy is so breed soos ’n koeldrankmasjien"; of "ek het klein wit pilletjies wat ek altyd saamdra om die koerantopskrif, Sanger vermoor moeder, te vermy."

Nataniël se fyn waarnemingsvermoë van die alledaagse, van die mens se gewoontes en sêgoed, laat jou soms lank verpoos by ’n sin: "She said things started going wrong when they invented parking. The moment you give somebody his own parking space, his mind starts changing, he thinks if he can have that, he can have more, that’s when the trouble starts."

Of sy gedagtes oor politiek, ’n "spel wat niemand kan wen nie". Dit gaan oor mag en gulsigheid en ’n oneindige lewe. Maar sy gevoel is dat dit alles nonsens is. Dat gesondheid – geestelike, fisieke, spirituele – al is wat tel. Soveel waarheid in ’n gedagte wat op die oog af vinnig onder jou oë kon verby gly. Tot jy begin herkou daaraan.

Dis ook net Nataniël wat met ’n titel soos hierdie kan wegkom en steeds boeke verkoop! Maar anders as wat jy dink, is dit nie ’n verwysing na sy wipplankgewig oor die jare waarmee hy gereeld self spot nie. Dit kom uit een van sy kortverhale wat ’n pragtige liefdesverhaal rondom ’n gebreide skoenlapper, ’n herfsmark en Tish, ’n wolwinkeleienaar, weef.

Sedert sy solodebuut het Nataniël meer as 70 oorspronklike verhoogproduksies aangebied, 15 albums en vyf DVD’s vrygestel en 16 boeke gepubliseer. Hy is hoof van sy produksiemaatskappy, Nataniël House of Music, en ook Kaalkop Studio. Hy staan ook aan die hoof van die liefdadigheidsorganisasie The Nataniël Progress Project.

Die boek is lekker om in een sit deur te lees, maar as die lewe tussenin gebeur en jy een-een op ’n slag kan geniet, bring dit ook tyd vir goed insink, oordenking en weer lag of hartseer wees.

Ek kon nie die eerste verhaal begin sonder om een van die vele male wat ek hom op die verhoog gesien het, in my geestesoog te hou nie. Dis asof jy die stories begin lees met die ongewone ritme waarmee Nataniël sy stories vertel. En dit dra by tot die ongewoonheid van die verhale en van die ervaring. In ’n tyd van inperking en sosiale-afstand-houding en handreiniger is hierdie jou kans om ’n bietjie teater in jou eie gemakstoel te geniet.

Sê vir jouself Nataniël staan self in een of ander lang gewaad op ’n donker verhoog en vertel self vir jou van sy kinderdae, sy ouma se wyshede of van trourokke met baie rose op, want "om jul middels te laat klein lyk, het ’n mens gebed en ’n rondawel nodig". Wie anders as Nataniël om hierdie ongewone beelde in jou kop te kom lê?

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top