Digitaal en speel-speel leer met Xander: 'n onderhoud

  • 0

Sibella Knott-Craig (foto: http://xander.co.za/blog/sibella-knott-craig-xanders-creator-and-the-mom-who-started-it-all/)

Sibella Knott-Craig is 'n bedrywige ma – en die skepper van Xander, 'n opvoedkundige toepassing vir jong kinders. Sy vertel vir Naomi Meyer wie by Xander kan baat vind.

Sibella, vertel asseblief van Xander? Sal dit mense met jong kinders interesseer?

Xander is ’n reeks Afrikaanse onderrigtoepassings (apps) vir jong kinders tussen drie en sewe jaar, alhoewel ons nou ook ’n Spel-toepassing het wat spesifiek op elke jaar van graad 1 tot graad 10 gerig is. Die interaktiwiteit van digitale toestelle ondersteun die vaslegging van nuwe konsepte, maak dit pret om te leer en hou die leerders se aandag in ’n moderne, tegnologies-gedrewe wêreld. Die span agter Xander voel sterk oor moedertaalonderrig en om hoëkwaliteit-toepassings beskikbaar te stel in plaaslike tale, aangesien die meeste digitale programme slegs in Engels beskikbaar is.

Daar is meer inligting op www.xander.co.za en Facebook. 

www.xander.co.za

Wie en wat is Xander?

Xander is ‘n oulike T-Rex wat van avonture hou, dus ontdek leerders kleure en vorme, liggaamsdele, ABC, 123, basiese somme, spelling en nog, sodat jong leerders vir “groot skool” kan voorberei.

Dis natuurlik ook goed vir ouer kinders om ’n tweede taal aan te leer.

Sal Xander ‘n jong kind kan help voorberei vir groot skool?

Vir seker, dis ons doel. Ons wil graag dmv hoëkwaliteit-, digitale toepassings ons eie kinders ’n geleentheid gee om digitaal te kan meeding met hul eweknieë wêreldwyd. Hulle kan nou nuwe konsepte in hul eie taal bemeester en gemaklik wees met tegnologie wat vry is van advertensies en "in-app purchases" om hul aandag af te lei en ouers te frustreer. 

Bied Xander ook toepassings geskik vir ouer kinders?

Die speltoepassing is op dié stadium die enigste een vir ouer kinders, tot graad 10 – ons het dit ontwikkel in samewerking met die Universiteit Stellenbosch om die regte woorde per graad te beklemtoon, dis ’n aanloklike woordsoekspeletjie. 

Hoe werk dit prakties – hoe leer kinders op ‘n telefoon?

Kinders kan deesdae van ’n jong ouderdom af op ’n slimfoon hul gunstelingspeletjies opspoor. Ons gebruik kinderstemme wat hulle mee kan identifiseer en hulle kan uit ’n groot verskeidenheid temas kies waaroor hulle wil leer. Die toepassings is interaktief en deur herhaalde gebruik word konsepte bemeester terwyl ouers met gerustheid kan weet dat kinders leer terwyl hulle speel en slegs aan gesonde tegnologie wat ook deur ouers ontwikkel is, blootgestel word. 

Watter soort toestel benodig ‘n mens om hierdie opvoedkundige apps af te laai? Wat kos dit?

Die maklikste manier om die toepassings te vind is op ons webtuiste, www.xander.co.za, of Facebook. 

Xander is op alle Apple- en Android-toestelle beskikbaar deur die AppStore, PlayStore en die Amazon App Store. WeChat gaan ook binnekort vir Xander aanbied. ’n Paar van die toepassings is gratis, en ons het gereeld promosies, aangesien ons sterk voel daaroor dat bekostigbaarheid nie in die pad moet staan vir jong leerders nie. Die ander toepassings is tussen R9,99 en R23,99. Ons wil ook graag hê ouers moet dit sien as ’n belegging in hul kinders se toekoms.

http://xander.co.za/language/afrikaans/

Is Xander net in Afrikaans beskikbaar?

Xander is in sewe addisionele Afrikatale beskikbaar. Ons voel sterk daaroor om eendag meer tale in te sluit en alle jong leerders ’n geleentheid te gee om met digitale onderrig te kan verkeer en leer. Dis duidelik uit verskeie ondersoeke dat ’n verbetering in voorskoolse onderrig ’n direkte effek het op toekomstige onderrig, werksgeleenthede en lewensgehalte, so ons voel dis baie belangrik en in ooreenstemming met die Grondwet om materiaal in alle Suid-Afrikaanse tale beskikbaar te stel. 

Sal Afrikaanse kinders ook basiese vaardighede in ander landstale kan leer deur Xander te gebruik?

Inderdaad – ons kinders kan ook nou maklik tweede en derde tale aanleer om deel te wees van ons Reënboognasie.

http://xander.co.za/language/xhosa/

http://xander.co.za/language/xhosa/

Wil jy dalk vertel van die Apps Africa Awards vanjaar?

Ons is baie trots om hierdie jaar geselekteer te wees as ’n finalis in die Education-kategorie van die Apps Africa Innovation Awards wat op 14 November plaasvind. Xander het verlede jaar die Best Kids App-toekenning ontvang in Silicon Beach App Awards in Los Angeles.

Wat is julle visie? Hoe en op watter maniere wil julle uitbrei?

Ons is baie dankbaar dat ons reeds in die afgelope drie jaar so ver kon kom in ’n hoogs mededingende omgewing. Ons droom om meer toepassings te maak, om ’n markleier te bly en ’n animasiereeks aan die lewe te bring wat nog meer jong leerders kan bereik. In die volgende paar maande sal daar ’n fantastiese nuwe toepassing wees vir kinders om die tyd te leer, asook ’n nuwe app wat binne ’n 3D-wêreld saam met Xander leer oor voorsetsels.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top