Die WOW, moets en moenies van blog

  • 10
gertrautenbach300

Gert Rautenbach

Gert Rautenbach is deel van ’n hedendaagse bloggergeslag en vertel wat dit is wat hom die afgelope tien jaar aanspoor om gereeld sy gedagtes suksesvol in die kuberruim met ander te deel. Hy gee ook raad aan voornemende bloggers en verduidelik die verskil tussen die persoonlike blogger en die rubriekskrywer. Dit is deel van ʼn LitNet Akademies-webseminaar oor die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel deur Lizette Rabe: “Rubriekmaak” à la ryk, ryker, Rykie – Rykie van Reenen en enkele merkers vir hedendaagse blog-rubriekskrywers. Lees ook Herman Lategan se gedagtes oor rubriekskryf en blog.

***

Die wêreld is groot en vreesaanjaend, tjok-en-blok vol slim mense en kenners wat klink asof hulle alles weet. Alles is reeds gesê; oor elke onderwerp is daar iemand wat meer weet. Jy wil blog, maar wat is veilig, waar om te begin wat om te sê?

Wanneer jy 'n boek lees, musiek luister, 'n fliek kyk, loop en dink, of soms in 'n gesprek met iemand is, het jy 'n WOW oomblik. As daardie WOW die volgende dag, en die volgende week, nog met jou is, dan het jy iets om oor te skryf.

Aan die einde van die 1990’s, met die koms van die eerste slimfone, het ek in die gewoonte gekom om iets van my WOWs op my telefoon te tik – in daardie na-gloei oomblik wanneer jy 'n boek toemaak en in die rak sit, of uit 'n fliek stap – net voordat jy terugkeer na die harde werklikheid.

'n Paar jaar later, vroeg in die 2000’s, het ek vir die eerste keer van blogs gehoor – en my onmiddellike gedagte was om my WOW notas van my selfoon oor te plaas as bloginskrywings. Dit was die begin van my bloggery en daardie oorspronklike snippertjies is nog steeds daar, na al die jare.

Van toe af het ek geblog en algaande in 'n stem begin skryf vir 'n onsigbare gehoor – nie meer net vir myself nie – 'n gehoor met wie ek my WOWs wou deel.

So het ek op my blog (http://gertrautenbach.blogspot.com) oor letterkunde, musiek, flieks en kuns begin skryf, meer as 'n dekade gelede. Vandag is daar sowat 180 skrywes gepubliseer en gewoonlik omtrent 20 ongepubliseerdes wat lê en wag.

Ek het van die begin af net in Afrikaans geskryf.

As iemand my raad vra wat wil begin blog:

  1. Skryf onder jou eie naam

Wanneer ek kyk na die duisende doodgebore blogs op die internet, mense wat begin en vinnig opgehou het, kan ek sien dat die grootste probleem nie die wêreld is wat nie belangstel nie (alhoewel dit waar is). Die groot doodmaker is dat mense nie hulleself – en hulle eie skrywes – in die oë kan kyk nie.

Die meeste bloggers het skuilname – dit is 'n fout. As 'n blog gaan oor die ontwikkeling van jou stem, jou siel en jou reis – hoe op aarde gaan dit gebeur as jy begin deur jouself weg te steek en nie eers jou eie naam hardop kan sê nie?

Sommige mense dink dat blogging 'n uitlaatklep is vir iets wat hulle in die gewone lewe nie 'n plek voor kan vind nie. My ervaring is dat sulke mense net 'n paar keer oor geheime skryf en dan wegvlug vir die sig van hulle eie woorde. Buitendien, die internet het baie beter maniere om alter ego’s mee uit te leef.

Om karakter te bou moet jy jou plaas koop, jou buurman se hand skud en op een plek boer.

  1. Moenie jou blog bemark nie

Wat?! Wat is die punt daarvan om te skryf as jy nie lesers het nie?

Lesers sal kom. Maar die begin is kosbaar – en jy sal dit eers later besef – want dit is daardie wonderlike vrye tyd van vorming: die vind van jou stem, jou werklike belangstellings, wat werk en nie werk nie. Die tyd wanneer jy besef wat vir jou volhoubaar gaan wees.

Wanneer jy daardie eerste skrywes na heinde en verre stuur vir vriende en familie, gaan twee goed gebeur:

  1. Niks.
  2. Niks.

Die arme ontvangers gaan nie weet hoe om te reageer nie. Hieruit lei skrywers af dat hulle gefaal het – hoekom wil niemand iets sê nie, hoekom voel ander nie wat hulle voel nie?

Ontspan. Wanneer jy begin skryf, skryf jy vir jouself en vir niemand anders nie. Konsentreer net daarop om jouself te ontwikkel; kommentaar is 'n bonus. Hou net aan. Lesers sal mettertyd kom.

  1. Moenie aanhaal en herhaal nie

Een van die tendense die laaste ruk, veral sedert die opkoms van Tumblr, is die plasing en herplasing van Cardies-styl-kaartjies met inspirerende of godsdienstige wyshede, pittighede, gedigte ens. Dit gee my die heebie jeebies.

Wie is ek om dit af te keur as mense dit wil doen?

Wat my pla daarvan, is dat dit een lang ekskresie is wat nooit die karakter van die mens wys nie. Dit is nie skryf of verwerking of ontwikkeling nie. Re-tweet dit dan liewer op Twitter maar los jou blog in vrede om die oorspronklike voetspore van jouself wys.

'n Blog moet oorspronklik wees en 'n stem hê. Die kanse dat mense na jou sal kom vir dieselfde inhoud wat regoor die internet versprei lê, is zero.

  1. Skryf vir die toekoms, nie vir die oomblik nie

Skryf elke stuk sodat dit nog steeds lekker sal wees om oor vyf jaar te lees.

Die harde werklikheid is dat die meeste mense toevallig op jou blog gaan afkom wanneer hulle iets google – en dit gaan lank wees nadat jy daardie stuk geskryf het.

As hulle hou waarvan hulle lees op daardie oomblik, het jy 'n kans dat hulle verder sal kyk wat anders daar te sien is op jou blog.

  1. Moenie regverdig wees nie

Hoekom nie? Omdat dit jou gaan lamlê. Om al die kante van 'n saak te probeer stel is 'n perfekte manier om in analysis paralysis te verval, waarna jy óf te bang gaan wees om te publiseer, óf die Wikipedia-weergawe gaan publiseer – en wat is lekker daaraan?

Ek is 'n sensualis, nie 'n joernalis nie. Ek skryf oor boeke, maar dit is nooit resensies nie – resensies probeer billik wees teenoor die materiaal: wat was goed, wat was sleg, hoeveel sterretjies uit vyf.

Die blogger is 'n vampier – jy suig die bloed (net wat vir jou lekker is en niks anders nie) uit iets en juig van plesier.

As jy Cleopatra wil gaan kyk net vir die slang – dit is jou reg.

In daardie diep vrede met jou plesier ontdek jy smaak – en smaak is die kosbaarste ding wat 'n blogger kan hê. As jy regverdig wil wees, wees regverdig teenoor jou smaak.

  1. Geloof en gevoel

Ek het geen tyd vir skrywers wat huiwer nie: begin deur verskoning te maak omdat hulle wonder oor dit en twyfel in dat.

Selfvertroue is alles en selfvertroue vloei van smaak: wanneer jy 'n WOW gevoel het, het jy iets onvernietigbaar.

'n WOW dra sy eie sertifikaat-van-waarheid saam met hom, want dit is gevoel. Dit kan nie verkeerd bewys word nie. As jy dit het, moenie probeer bewys dat jy ook weet van blah blah blah nie (wie gee om?) – skryf sodat jy uitkom by wat jy gevoel het.

  1. Prikkel en passie

'n Blog moet prikkel. Dit is sy enigste heilige doel.

Soms moet jy die ontknoping van 'n storie vertel, want die prikkeling, die WOW, is daarin.

Soms is die prikkeling in die premisse: 'n man lei twee ander mense na 'n plek waar hulle diepste wense waar sal word ...

Jy hoef nie die antwoorde te hê nie – waar Dawid die wortels begrawe het en wat die sin van die lewe is nie – jy hoef net (en móét) prikkel.

En 'n skrywe wat nie prikkel nie, was 'n mors van tyd.

En wat is die lewe sonder passie? Ek hou nie daarvan om te skryf oor iets waaroor ek geen passie voel nie. Daarom skryf ek baie selde oor boeke of flieks wat ek nie geniet het nie.

  1. Los die Brothers Karamazov vir later

The Brothers Karamazov was die belangrikste boek in my lewe – en ek het nog nooit daaroor geskryf nie.

Daardie ding wat brand in jou bors – waaroor jy so graag wil skryf: los dit vir later. Slyp jou tande op die kleiner, onbelangriker dinge.

Deur die belangrikste ding te vinnig te probeer skryf gaan jy jouself teleurstel.

  1. Respekteer die agterkop

Die agterkop – daardie sous van drome en denke – is die allerheiligste deel van die menslike anatomie.

Ek hou gewoonlik 'n lys ongepubliseerde skrywes in die lou-oond – rou en halfgebak, brousels en mismaaksels, goed wat nooit die lig van dag sal sien nie – maar hou dit daar as drafts, konsepte waarop jy nog nie heeltemal jou vinger kan lê nie.

Dis uit daardie kreatiewe sop wat die goeie goed gebore word. Sommige van my skrywes lê vir twintig jaar in my agterkop voordat ek daaroor skryf.

  1. Volg jou eie neus

Vergeet alles waaroor almal 'n bohaai maak. Die grootste nuus vandag is oor 'n maand vergete. Die wonderlike ding van blogging is dat dit die voetspore van jou reise is – en jou reise is net joune, niemand anders s’n nie. Wanneer jy blog, nooi jy mense om saam met jou te reis.

Ek het eenkeer 'n foto van een van my helde gesien – Karen Blixen. Saam met haar was Marilyn Monroe en 'n derde vrou: Carson McCullers. Wie is dit? En daar sink ek af in nog 'n hasegat ...

So lei een ding na 'n ander en vorm die zig-zag roete wat uiteindelik ons lot bepaal.

  1. Eie tyd, eie teiken

Ek dink een verskil tussen die persoonlike blogger en die rubriekskrywer is hierdie aspek: bloggers kan kies wanneer hulle praat en wanneer hulle swyg. Seestrome kan jou stoot na goed en jou later weer wegtrek daarvan. Moenie daarmee veg nie.

Soms sal maande verbygaan sonder dat die inspirasie vir iets daar is; dit is ook goed.

  1. Een ding op 'n slag

'n Goeie skrywe is soos een perfekte duik van die wipplank in die swembad in. Skets die agtergrond en konteks en bou op na die WOW oomblik. Alles net een keer.

Moenie met die deur in die huis val en dadelik die groot idee uit die sak laat nie. Jy sal dit daarna oor en oor herformuleer.

Moenie te veel in een asem sê nie; jy sal oor jou voete val. Moet niks wat nie met die WOW te doen het, by die hare insleep nie, veral nie jou vrese oor dom lyk, verkeerd wees, uitgevang word of iets vergeet nie. Que sera sera.

Een idee is genoeg vir een skrywe.

  1. Verskeidenheid in tyd

Hoe meer jy skryf, hoe meer mense sal by jou uitkom. Dit is omdat die meeste Afrikaanse blogs deur Google-soekterme gevind word, en lank nadat dit geskryf is.

Deur oor verskillende onderwerpe te skryf sal die rykheid van jou blog baie meer aantreklik word – maar daar is geen kortpad hiervoor nie. Dit kom met tyd.

  1. Die beloning is selfontdekking.

Sukses is nie in die getal besoekers nie – anders sou pornograwe die trofeë gehou het. Sukses is groot impak op 'n paar mense, of net een mens. En as jy eerlik en met passie skryf sal daar lesers wees – want dit wat jou geroer het, sal iemand anders roer.

Jammer: daar is geen geld en roem in blogging nie.

Die beloning is in selfontdekking en jou eie groei – maar dit is 'n wonderlike trip nogtans.

En as sulks: moenie die verlede uitvee nie. As jy lank genoeg aanhou, sal jou menings oor ou goed verander, maar wat geskryf is, is geskryf. Om daardie ou menings te sien is 'n groot eer – dis bewys dat jy gereis en gegroei het.

*

Wanneer ek na my ouers se boekrakke kyk, wonder ek wat ons vir ons kinders gaan nalaat, behalwe geld. Boeke het e-boeke geword; plate het MP3’s geword; skilderye is JPEG’s. Koppies en pierings gaan binnekort deur 3D-drukkers gemaak word.

Wat gaan hierdie geslag oordra aan die volgende – uit die een hand na die ander?

Ek het vir lank aan my blog gedink as die boekrak van my siel – en eendag wanneer ek weg is, sal dit wys waarmee ek verwonderd was.

Nou besef ek ook: dit is my nalatenskap aan myself. Soms lees ek 'n inskrywing van twaalf jaar gelede en probeer onthou wie die man was met hierdie sterk opinies.

O ja, dit was ek.

 

  • 10

Kommentaar

  • Avatar
    Jans Rautenbach

    Die wonder van grensloos dink blog die ewige van lewe in agt woorde: "Wat bly agter in die boekrak van my siel?"

  • "Moenie jou blog bemark nie." en dan later "Jammer: daar is geen geld en roem in blogging nie."

    Dit is wat gebeur as mense wat geen plek het om advies te gee oor blogging nie, advies begin gee oor blogging. Daar is geld in blogging en dus doen ek, en so paar ander dit vir geld. Die groot deel van geld maak uit 'n blog is dat jy 'n gehoor ontwikkel wat gaan aanhou terugkeer na jou blog. Om daardie gehoor te bou moet jy bemark.

    Maar wat sal jy weet van 'n gehoor hê of blogging Gert? Jy het miskien so 10 mense 'n maand wat jou blog lees en nou wil jy kom advies rondgooi oor iets waarmee jy self nie baie goed is nie.

    En daardie was maar die twee duidelikste probleme met jou advies. Skaam jou Gert.

  • Rich, lyk my jy het nog nie genoeg van Gert se lekker diepsinnige (Dostoyevskiaanse/donker Russiese?) blogs gelees nie. Jy weet dus nie dat Gert vinnig (ja, soms dalk bietjie te vinnig, maar watwou) en hard en reguit skryf nie (inderdaad helemal die teenoorgestelde van Dostoyevsky se deurstopperstyl, maar hulle siele het iets in gemeen volgens my - 'n sekere digte donkerte gemeng met 'n groot grap???). Sy blog vereis dat mens tussen die lyne moet kan lees - dit beskryf baie keer verruklik verwarrende eksistensiële krisisse, vir my altans - soos jou skrywe byvoorbeeld juis ook van getuig: jy klink heeltemal verward oor die feit dat mens iets gratis kan doen (Hy is dalk klaar ryk genoeg vir al wat jy weet - aan geld of geluk - hoe sal ons weet?!). Kan jy jouself indink hoe vry Gert moet voel?! Man dit moet mos fantasties wees om geen finansierder gelukkig hoef te moet hou nie! Of ek Gert reg lees, di of hy dit so bedoel, sal ek nie kan weet nie en dit maak ook nie saak nie. Die woord behoort aan die leser. Gert gooi net die woord en die leser kan dit vat of los en maak daarmee soos hy/sy wil. Kyk net hoe min kommentaar is daar op sy blog - hy voel vere vir lesersgetalle. (As ek reg onthou het hy wel al oor 'n miljoen besoeke gehad!) Hy skryf volgens my vir homself, hy gaan homself skynbaar te buite om by homself uit te kom (vergelyk Krog se "skryf-ode"). Hy skryf vir die wat tussen die lyne kan lees, en hulle kry ure se pure plesier! In my oge is hy 'n closet kunstenaar, 'n onhebbelike romantikus, dodelik snaaks. Nee wat Rich, rek jou reikwydte en ruk daardie reklamebordjie af. EK "reis soos 'n gedagte" (Krog) as ek Gert se blogs lees. Dalk hou jy nie van (op)roerende reise nie Rich, so bly maar besig met jou vlak bemarking. Ek gaan nou eers gou weer 'n draai by Gert Rautenbach gooi - vir 'n fix in dubbelsinnige diepte.

    • Matia, of hy dit vir homself doen of nie, of jy tussen die lyne moet lees of nie, is irrelevant. Hy praat oor iets wat hy niks van weet nie. En nee, sy blog het nog nie naby 'n miljoen lesers gehad nie. Jy noem selfs die feit dat hy geen kommentaar kry nie, die heel eerste teken dat niemand sy blog lees nie.
      Jy kan nie vir Gert vergelyk met Krog nie. Hierdie artikel is snert. Hoekom word daar nie eerder met Afrikaans bloggers gepraat wat sukselvol is nie? Laat hulle advies gee. WatKykJy blog voltyds, dit is sy werk. gevaaalik.com is onlangs saam met Deon Maas, Kerneels Breytenbach, Anton Goosen en Koos Kombuis ge-interview vir 'n artikel in die nuutste Taalgenoot. Daardie twee ouens weet wat hulle doen as dit kom by blog, dit sal dus tog meer sin maak om van hom te hoor. Die twee grootste Afrikaans bloggers in Suid-Afrika, maar nee, laat Gert snert-advies gee.
      Jy sal nie jou huis laat ontwerp deur iemand wat nie 'n argitek is nie, en ons behoort ook nie mense wat nie kan blog nie advies laat gee oor hoe om te blog nie. Ek gee nie om of jy van Gert hou nie, dit is jou keuse. Feit bly staan hy het geen rede om te maak of hy weet van blog nie. Los dit vir die suksesvolle bloggers.

  • Rich, my ma, ’n ou antie, lees die Taalgenoot – gepraat van (taal)bemarking! Ek lees mense wat vir my iets tussen die lyne gee.
    Ek het Gert nie vergelyk met Krog nie – ek moes Krog se woorde gebruik om sy werkswyse en wat dit aan my doen, te kan beskryf.
    Ons definisie van sukses verskil. Of jy een mens red (dit is aan die dink sit) of baie, jy is ’n held in my oge.
    Wat beteken “1 093 397 views”?
    Nietzshce het inderdaad gesê kwantiteit is uiteindelik die deurslaggewende faktor, maar hy ook gesê dat die VERSKIL in kwantiteit meer tel as die inhoud van die kwantiteit. En dis waar die verskil inkom, dws ons is terug tussen die lyne (gewis nie altyd 'n gemaklike plek nie, maar ook nooit vervelig nie).
    So, nee wat, gee my enige dag ’n dubbelsinnige denker met diepte wat my leesvaardighede uitdaag. Sonder so ’n uitdaging is ek dood!
    Geen kommentaar? Gert Rautenbach slaan mens stom man, dis hoekom mense nie kommentaar lewer nie. Ek praat uit ervaring. Daar is ’n hele paar skrywes waaroor ek nog dink oor hoe om my gedagtes te formuleer. (Ja, ek is sucker vir stomgeslaan-ervarings – dit is wanneer ek weet ek het ’n liggaam, dit is wanneer ek weet ek bestaan uit chemiese goeters waaroor ek geen beheer het nie, dit is wanneer ek weet dat ek nie net uit ’n verstand bestaan nie, dit is wanneer ek weet dat ek in die hande en genade van iets buite my beheer is, dit is wanneer ek weet ek wil nederig wees.)
    Maar dankie vir jou respons, Rich. Jou verwysings na WatKykJy en gevaarlik.com – gesiglose slimjanne vir my; gee my Gert se kwaaikyk gravitas wat braaf genoeg is in sy eie naam by sy nie altyd perfekte skrywes daar staan te maak om deur die wat kan gelees te word – beaam maar net weer daardie ou gesegde van gee die massas brood en sirkus, en die Kaap is Hollands.
    Blogs werk goed as dit lig en vinnig is, maar as dit jou in die proses ook in jou diepte kan roer, noem ek dit ’n winslesie. Ek gaan myself dus nou eerder – in Elizabeth Eybers se woorde – “Tussen my boeie en my vlerke” ophang daar op Rautenbach se buffel van ’n boerklongblog!

    • Die ou agter gevaaalik.com is Ruan Stix Fourie. Sy naam is op elke een van sy posts op gevaaalik.com. Dit is ook geen geheim dat Gifford Peche die man is agter die naam Griffin op watkykjy.

      Vra bietjie jou ma, die ou antie, of sy die artikel oor proteswoorde gelees het waarin Fourie ge-quote word, 'n hele paar kere. Dan vra jy haar of sy weet van Gert.

      Nee wat Matia, sit jy maar eerder. Jy kom voor soos een van daardie wat haarself deurmekaar maak met al die groot woorde wat sy gebruik om ander te probeer beïndruk. Wees jy net jouself toe. Mens is baie meer gemaklik in mens se eie vel as mens nie probeer voorgee om iets anders te wees as wat jy is nie.

  • Ai, in my haas om by Gert Rautenbach se blog uit te kom vergeet ek elke keer om die "stel my in kennis wanneer nuwe kommentaar bygevoeg word" blokkie te klik - ek sou graag weer van rou suksesgedrewe Rich wou hoor. Sjoe, of ons nie al genoeg lesse deur die geskiedenis geleer het oor wat sulke supersuksesgedrewe dade kan doen nie - gepraat van 'n dubbelsinnige besigheid!

  • Avatar
    maraja badenhorst-burger

    My god Gert, dis voorwaar ’n nuwe Ossewa waarmee ons hier in die kuberruim te doene het ...
    Baie, baie dankie vir jou rigtingwysers vir my eie blog wat ek as terapie die nag van my man se dood begin het ... voorwaar vir myself ... en vir my twee klein dogtertjies, vir eendag as hulle groot is en wil lees van hul ma se binnereise deur hierdie grootmenswêreld ...
    Mens is Nooit te oud om te leer nie - dis die titel - en dis ’n WOW vir my ... as ek soms lees hoe ver ek al gereis het en soos jy noem, gaan dit nie oor roem of rykdom of 15 minutes of fame nie, maar om ’n spoor agter te los vir die nageslag ...

  • Ek wil 'n eie blog begin, maar het nie 'n idee waar, hoe en wat om te doen nie! Belangrikste van alles, ek wil weet wat die koste is in Suid-Afrika.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top