Woorde wat woorde laat wip

  • 4
hermanlategan_oorspronklikefoto

Herman Lategan (foto: Philip de Vos)

Die rubriekskrywer Herman Lategan vertel wat dit is wat sy woorde laat wip. Hierdie bydrae is deel van ʼn LitNet Akademies-webseminaar oor die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel deur Lizette Rabe, “Rubriekmaak” à la ryk, ryker, Rykie – Rykie van Reenen en enkele merkers vir hedendaagse blog-rubriekskrywers.

rubriek s.nw. 1. (verouderd) Opskrif, titel in ou handskrifte. 2. Onderafdeling, kategorie. 3. Afdeling in 'n nuusblad aan ʼn bepaalde onderwerp gewy. Uit Ndl. rubriek (Mnl. rubrike in bet. 1, 1884 in bet. 2 en 3). Mnl. rubrike uit Latyn rubrica "(rooi geskrewe) titel" van ruber "rooi". Opskrifte is in rooi geskryf waardeur die begin van ʼn nuwe afdeling aangedui is. D. Rubrik, Eng. rubric, Fr. rubrique. – Etimologiewoordeboek van Afrikaans (GJ van Wyk ea).

Die redakteur van Rapport Weekliks, Pieter Malan, het my net oor die drie jaar gelede gevra om ʼn rubriek oor pittige en wetenswaardige woorde te skryf. Hoe hy van my belangstelling uitgevind het, weet ek nie, vermoedelik deur Facebook, waar ek gereeld stories rondom woorde versin het.

Ek het spesifiek ʼn belangstelling in ouer woorde wat nie meer deur ʼn jonger geslag gebruik word nie. Woorde soos wisseldans, koekeloer, kattemaai, aalmoesenier, oumakappertjie, kotiljons, doemdoempie, gepaneerde varkkarmenaadjie (crumbed pork chops, thank you kindly), en so aan.

Veral ook woorde en idiomatiese uitdrukkings wat ek as kind in Namakwaland gehoor het by die bruin plaaswerkers, saans om die vuur. Ek het meer by hulle oor die kaleidoskopiese ritme, klank en timbre van Afrikaans geleer as by baie ander mense.

Hulle het ook op my jong gemoed ʼn groot uitwerking gehad met hul allegoriese “stem van die storieverteller” en hul ryk idiomatiese uitdrukkings. Tot vandag toe vind ek meer aanklank by Afrikaanssprekende bruin mense as by baie wit mense wat Afrikaans gekaap het met ʼn deftigheid wat my so irriteer dat ek woedend raak.

Ek was bevoorreg om familie in en om Lutzville en Koekenaap te hê. My skoolvakansies het ek gereeld bedags op die banke van die Olifantsrivier en saans met die “volk”, soos hulle destyds minagtend genoem was, deurgebring. Die plaaskinders van hierdie werkers was my enigste vriende, omdat daar nie juis ander kinders in die omtrek was by wie ek aanklank gevind het nie.

Die akteur Babs Laker, onder wie ek drama studeer het, asook my Namakwalandse ma, het my weer met die poëtiese en musikale kwaliteite van Afrikaans sterk beïnvloed.

Nou maar goed, genoeg keel skoongemaak en om by die punt uit te kom (iets wat noodsaaklik vir enige rubriek is): aanvanklik was ek erg huiwerig oor so ʼn rubriek, omdat ek gevoel het ʼn akademikus moet liewers iets soos “Woorde wat wip” aanpak. My forte was drama en Engels; my moedertaal, Afrikaans, was my hartsliefde.

Dit het my mos nie ʼn vakkundige gemaak nie. Voorts het ek ʼn stormagtige verhouding met Afrikaans gehad, en nog steeds. Die NG Kerk, Nasionale Party, Broederbond, Suid-Afrikaanse Weermag, Voortrekkers, kadette, patriargie, al daai verstikkende tipe goed het my liederlik afgesit, so lief as wat ek vir die taal was.

“Nee,” het Pieter Malan gesê, hy soek nie iets wat vol akademiese wartaal is en verstok lees nie, hy soek my tipe aanslag. Nou ja, wat daai aanslaanwyse is, weet ek tot vandag toe nie, en ek moet bieg dat ek ook nie weet wie “Woorde wat wip” se deursneeleser is nie.

Dit kan gevaarlik wees, want ʼn rubriekskrywer moet weet vir wie hy of sy skryf. Toe ek voorheen rubrieke in Engelse publikasies gehad het, was ek terdeë bewus van presies wie die lesers was.

Nou om ʼn nuwe rubriek te begin is nie ʼn maklike storie nie, want baie harde werk gaan in net 500 woorde. Afhangende van die onderwerp, kan ek met navorsing tussen drie dae tot vyf uur aan een kolom spandeer.

Eendag toe ek iets wou skryf oor ʼn sekswerker wie se arms gebreek en haar tepels afgesny is, het dit my dae gevat om by die kern van hierdie grusame verhaal (sien rubriek hieronder) uit te kom. Ek moes na die kamer gaan waar sy vermoor is. Daarna twee kere op die trein om haar ma in Mitchells Plein op te spoor. Ek het kilometers te voet geloop, verdwaal, en eers twee dae later haar familie gevind. Dit het hard gereën, ek was deurdrenk met reën. My doel was om haar voetspore te volg, soos sy sou gery en geloop het om by haar ma uit te kom.

Iemand, ʼn swaap, het my gevra hoekom ek nie net die adres gegoogle het nie. Huh? Hoe sou ek die mense wat in haar buurt gewoon het, leer ken het? Soos ek geloop het en aanwysings vra, het ek kort geselsies met almal aangeknoop.

Ek kon die lug ruik, die klanke van honde wat blaf hoor, vliegtuie wat oorvlieg; ek kon sien hoe staan bendelede verveeld op straathoeke en rook. As ek haar ma net gebel het, sou hierdie besonderhede verlore gegaan het.

As ek sommer in ʼn motor na haar adres wat ek kamma gegoogle het, moes gery het, sou ek glad nie by die tekstuur van die mense en die gebied kon uitgekom het nie. My doel was om die regte spelling van haar naam te kry, want in twee koerantberigte was dit verskillend gespel.

Ek het onmiddellik besef dít is my rubriek: die patos van ʼn vrou wat so liederlik vermoor is, en haar naam is nie reg gespel nie. Ek moes haar naam kry, met die regte spelling. Haar ma was uit, maar haar amper-blinde ouma het my gehelp.

Toe ek aan haar deur klop, toe het sy net van die lykdiens gekom. Sy het uit haar handsak iets gaan haal, naamlik die traktaat wat hulle vir haar laat druk het. Op hierdie stukkie verfrommelde memento mori, met haar mooi foto op, was die korrekte spelling van haar naam, en so het ek toe ook die rubriek geskryf.

Ek wonder soms of lesers wat ʼn stuk tjoef-tjaf lees, besef hoeveel werk daar ingaan. Nie alle stukke vat so lank nie – ander dae loop ek met ʼn gedagte wat stadig ontkiem, ek hoor dalk ʼn woord wat my verbeelding op hol sit, en dit kan ek in so vyf uur skryf. Dis nog steeds ʼn lang tyd vir net 500 woorde.

Ek het baie vryheid met die rubriek en niemand het nog ooit met my gelol oor die inhoud nie. Daar was wel een keer in die vroeë dae, toe ek in besonderhede oor ʼn plaasmoord skryf. Pieter Malan het my gebel en gevra of ek regtig so iets op daardie stadium in “Woorde wat wip” sou wou sien. Die kolom was nog in sy babaskoene.

Dit was nie sensuur nie, dis net dat die besonderhede baie erg was. Ek het dit weer gelees, en ek moes met hom saamstem.

In die begin het ek ook meer esoteriese verhale aangepak, sprokies en verdigsels. Gou het ek agtergekom dit werk nie eintlik nie – lesers soek nie so iets nie. Toe het ek rubrieke begin skryf waarin ek kritiek uitgespreek het.

In een het ek die Afrikaners gepak wat so homofobies gal braak op die kommentaarafdelings van Netwerk24 en ander webwerwe. Ek onthou dit duidelik; dit was ná die selfmoord van die violis Annake de Villiers, die lewensmaat van die sanger Lize Beekman.

Mense het geskryf as jy ʼn lesbiër wil wees, is dit die prys wat jy moet betaal, God straf jou. Ek kon die venyn eenvoudig nie glo nie. Ek het daaroor geskryf.

Daarna kon die seewater my nie afwas nie; ek is uitmekaar geskeur. Persoonlike aanvalle is van alle kante teen my geloods.

Boeta, en moet nou net nie oor godsdiens iets verkeerds sê nie. Die Bybel word dan teen jou gebruik om mensehaat te regverdig, want dis wat dit is. Rou haatdraendheid.

Baie Afrikaners se beheptheid met verregse godsdiens is verbysterend. As jy byvoorbeeld ʼn uiters banale en middelmatige sanger is, noem net jy het jou hart vir die Here gegee, en jou dissipels vermeerder oornag soos brode en visse. Dis ʼn foefie; ek glo nie helfte van daai stories nie.

Sou ek dit ooit skryf, sal ek nie die einde daarvan hoor nie. Dis irriterend, want ek’s nie lus vir belaglike terugvoering nie. Ek het ook nie die tyd om verstrengel te raak in lang uitgerekte relase nie, dis emosioneel dreinerend.

Verder is ek eenvoudig te sensitief vir ongenaakbare, ongegronde kritiek van mense wat met voedoe goël, want dis die kategorie waarin ek daardie mense plaas (diegene wat dweep, nie alle gelowiges nie). Amateursangomas van God.

Ek moet noem, dis nie net sommige Afrikaners nie, in die swart gemeenskap is daar ook ʼn kroniese beheptheid met ʼn uiters konserwatiewe vorm van godsdiens. Wat ek eintlik wil skryf, is dat hierdie onsmaaklike tipe manie en groepshisterie ʼn vorm van ʼn diepgewortelde kollektiewe persoonlikheidsafwyking is.

Maar ek wil nie mense met versteurings stigmatiseer nie, so dit daar gelaat.

Later het ek ook die draak begin steek met die literêre establishment, en ook dit het geboemerang, omdat ons volkie baie parogiaal kan wees en glad nie oop is vir ʼn ligte vorm van opstuurdery nie.

Dis ʼn klein en bitsige kliek, ʼn koterie van selfingenome brulpaddas wat daaglikse fellatio en kunnilingus op mekaar toepas. Die gegil wat jy hoor, is die orgasme wat hulle kry as hulle na hulself in die spieël kyk.

Liewe aarde, as ek lees hoe bitsig die rubriekskrywers oor outeurs in The Spectator of die New Yorker is, dan wonder ek waar val hierdie klomp uit die boom uit. Die gevolg vir my is selfsensuur, wat eintlik maar die ergste vorm van enige sensuur is. Ek laat my kop hieroor in skaamte sak.

Tog, op die ou einde voel ek ek het ʼn eie stem ontwikkel, en wissel my rubriek nou tussen aweregse vinjette oor randfigure, vreemde plekke wat ek dalk besoek, en woorde. Ek glo ook nie die kolom sal vir ewig hou nie, want met elke rubriek is daar ʼn lewensduur, behalwe as jy nou ds Kobus van der Westhuyzen is, wat al vir dekades in Landbouweekblad skryf.

ʼn Goeie rubriekskrywer is iemand wat my aandag trek, al stel ek nie noodwendig in die onderwerp belang nie. Marnus Hattingh kry dit reg met sy motorstories. Louis de Villiers met sport. Peter Bruce as hy oor die ekonomie skryf. Morné du Plessis en sy wonderlike rubriek oor voëls.

Daar is vele ander rubriekskrywers voor wie ek die knie buig, mense soos Nathan Trantraal en destyds Anastasia de Vries. Martie Retief-Meiring, Wilhelm Jordaan, Etienne Britz, Gerrit Olivier toe hy libertyn was, Max du Preez, Tim du Plessis, Sonja Loots, Michelle Linnert, Henry Cloete, Dana Snyman, Riaan Grobler en Marianne Thamm.

Ek het die grootse agting vir Justice Malala en Barney Mthombothi. Toe Gerrit Komrij nog geleef het, was ek ʼn aanhanger – dis nou ʼn man wat geen doekies omgedraai het nie. Internasionaal is daar te veel om te noem, maar een eienskap strek soos ʼn leitmotif deur hulle: elke een het sy eie stem.

Wat blogs betref, het ek nie veel ooghare vir daardie tipe geraas nie, dis maar muurpapier. Daar is uitsonderings. Pierre de Vos se skrywes oor die grondwet is insiggewend; Joan Hambidge se “Woorde wat weeg”; Crito, as hy of sy nou nie al weer op vakansie is nie; en Anton Harber wat oor die media skryf.

Die probleem met laasgenoemde is dat hy nie gereeld nuwe materiaal plaas nie, daarom dink ek baie blogs is eenvoudig ʼn mors van tyd. As dit nie weekliks, indien nie daagliks, verfris word nie, los maar liewer. Dis koeterwaals.

Ter afsluiting wil ek sê dat dit dalk onregverdig is om vandag se rubriekskrywers met Rykie van Reenen, Audrey Blignaut of MER te vergelyk. Natuurlik moet hulle herdenk word, maar toe hulle nog geskryf het, was dit die goue tydperk van die gedrukte media.

Spasie was nie ʼn probleem nie. Boonop hoef hulle nie mee te geding het met Facebook, Twitter, Instagram en die legio publikasies op die internet nie. Mense se aandag is van korte duur.

ʼn Mens moet anders en bondiger skryf vir ʼn tegnologies geletterde generasie, en die voorreg om ʼn onderwerp eers agter die bult te gaan haal en dan mooi uit te pluis en vleis aan die geraamte te gee is oor en verby.

Vir nou, want een ding is seker: die verlede is voorspelbaar, die toekoms nie.

_________

Dit was ‘n kwessie van eerbied

vunsig b.nw., bw. 1 benouend, muf, dood, 2 (figuurlik) neerdrukkend, ontstemmend. – Woordkeusegids: ʼn Kerntesourus van Afrikaans.

Dit was vir my ʼn lewenskwessie om die regte spelling van dié vrou se naam te kry. ʼn Nagblom en ontkleedanseres van die Kaapse skemerwêreld, demi-monde. Ek het haar naam in twee koerante raakgelees.

Eers Anneza, toe Aneesa Adams, van Beacon Valley, Mitchellsplein. Ek moes haar familie opspoor, haar korrékte naam kry, dit was ʼn saak van belang.

Dinge het teen my gewerk, ek het net haar ma, Bernadette, se naam tot my beskikking gehad. Die polisie was huiwerig om inligting te gee, die joernalis wat die storie geskryf het, net stempos.

Sonder telefoonnommer, sonder straatadres, is ek op ʼn reënerige dag vort. Ek wou die spoor volg wat sy na haar familie sou neem. Op die Kaapse stasie het ek op ʼn trein na Mitchellsplein met gebreekte vensters geklim.

Die hemelwater het teen my gesig gespat. Die trein se wiele op die spore, staal teen staal, het soos ʼn slaghuis se lemme wat deur groot karkasbene sny, skerp geskreeu.

Verlate stasies, oorvol stasies, ʼn gewieg en geskud deur vervalle begraafplase, verby smerige kragstasies, baksteenrooi fabrieke. Die lug dik van roet, vuil reën.

Daar aangekom het ek deur ʼn skare mense geloop, verby straatpriesters op volgepropte sypaadjies wat na die Here roep. Blaffend teen die eter.

Nat straatbrakke het kom bedel. Groot passasiersvliegtuie met blinkdik mae vol mense het oor my kop gedruis. In my geestesoog het verskeurde lyke uit die lug geval, aarde toe, ploffend teen die grond.

Ek is oor die pad met die vinnige verkeer na Beacon Valley. Daar het ek mense gestop, gevra, hulle het hul koppe geskud. Kinders en ou mense het vir my gekyk.

Die strate se name was dié van motors: Chrysler, Cadillac, Holden. Ná ʼn wolkbreuk, sonder sambreel, is ek deurdrenk terug stasie toe. Daardie nag het ek gesweet, rondgerol.

Met sonsopkoms ʼn koors, maar ek moes op, ek moes weer gaan soek. Hierdie keer kry ek by die verslaggewer ʼn straatadres. Ek is weer vort, eers per spoor, later soek-soek, ʼn lae wolkbank wat onheilspellend teen die aarde hang.

Ek moes drie kilometer loop. Verby Hengelaar- en Muurbalstraat. ʼn Kat spring van ʼn muur af. By die regte nommer het ek gaan staan.

Ek het geklop. ʼn Bejaarde vrou met sagte oë soos misbanke het oopgemaak, haar gesig na my gedraai. Sy is Blanche, haar ouma, die persoon wat haar eintlik grootgemaak het. “Die naam,” vra ek, “die regte spelling van die naam.”

Sy het ʼn pamflet gaan haal, vir my gegee. Aneesa Adams, 16 November 1988 – 20 Julie 2014. “Dus Aneesa, en nie Anneza nie. Dankie, dit is ʼn kwessie van eerbied,” het ek gesê.

Aneesa Adams is veras nadat haar lyk in ʼn losieshuis in die Kaapse middestad gevind is, albei haar arms gebreek, ʼn plastieksak oor haar kop, en tepels met ʼn mes afgesny. Respek, inderdaad.

En toe ek wegloop onthou ek meteens die wrang woorde van die straatpredikant: “God is liefde.”

 

 

 

 

  • 4

Kommentaar

  • Ek het al met baie rubriekskrywers gewerk en min van hulle ewenaar Herman se toewyding. Seshonderd woorde kom nie vanself nie. Hy is een van die beste rubriekskrywers in Afrikaans van die huidige generasie. Ek is saam met hom bly dat hy, veral na die verskyning van sy rubriek- en joernalistiekbundel, die kritiese erkenning kry wat hom láaaaaankal toekom.

    • Ja, ek koop sowaar die Rapport spesiaal vir daardie wonderlike rubrieke, en dan blaai ek vinnig deur tot ek kan terugsit en lees. Wat kan mens anders sê as ''dankie"?

  • Pieter van der Merwee

    Herman is ’n briljante rubriekskrywer en joernalis. Hy beskik oor ’n vermoë om ’n kwessie van buite, van bo, en van tussenin te analiseer en te beskrywe. Hy het ’n ding v heilige koeie, hy kan hulle nie onaangeraak láát nie ... Viva, daai toewyding van stap in die voetspore van ander, dis wat Columbus gedoen het ja! Hou so aan Herman!

  • Eintlik lees ek koerante vir die rubrieke. Persoonlik het ek in 1977-79 my hand daaraan gewaag by HOOFSTAD, en meer onlangs in 'n obskure plaaslike publikasie. Sonder om aan Herman se puik werk afbreuk te doen kan ek nie nalaat om my gunsteling te noem nie. Lees Donderdae in Beeld hoe Annemarie van der Walt met woorde goël.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top