Die werklikheid wil fiksie word – Ingrid Winterbach oor haar wenmanuskrip in die GAR

  • 0

Ingrid, baie geluk met die toekenning van die eerste prys in die GAR.  Vertel ons kortliks oor die manuskrip wat jy voorgelê het.

Ek wou wegkom van die skilder- en skrywerkarakters van vorige romans: Maria Volschenk is ’n rekenmeester en Karl Hofmeyr is in die rekenaarbedryf. Voorts is daar ’n groterige supporting cast (hoewel dikwels nie baie ondersteunend nie), en uitvoerige verwysings na heavy metal-musiek. En na lewende wesens van allerlei aard – mense, palings, sprinkane, swart wurms, honde, ensovoort. 

Foto: Christine Cronje

 

Jy het tydens jou toespraak verwys na die geweldige selfvertwyfeling wat jy ervaar het in die oploop na die prysuitdeling. Het hierdie vertwyfeling spesifiek te make met die manuskrip en die grensverskuiwende (aldus die beoordelaars) aard daarvan, of is die vertwyfeling maar normaal wanneer jy 'n roman voltooi?

Die vertwyfeling is in groot mate deel van die skryf van elke roman, maar in hierdie geval was dit miskien groter omdat ek ’n manuskrip, en nie ’n gepubliseerde teks nie, voorgelê het vir beoordeling.

Die beoordelaars verwys in hul commendatio na die "selfbewuste ontwyking van plot" wat jy in hierdie roman uitoefen. Ek sou raai dat dit die skryfproses aansienlik moeiliker maak wanneer jy terselfdertyd boeiend en onderhoudend probeer skryf, maar ook die gegewe van plot probeer ondermyn. Is dit 'n tegniek wat jy doelbewus ontwikkel, of het jou roman jou in daardie rigting gedwing?

Ek glo nie ek het plot doelbewus probeer ontwyk nie. Dis maar soos ek skryf. Ek dink wel dat daar in die roman tempowisselings is: dele waarin die handeling versnel teenoor stadiger bewegings.

Is daar nog ruimte vir fiksie in die hedendaagse wêreld, en veral in Suid-Afrika, waar die waarheid dikwels heelwat vreemder as die vreemdste fiksie is?

Jaaa!! Die Suid-Afrikaanse werklikheid dring behoorlik daarop aan om gefiksionaliseer te word! Die uitdaging vir skrywers is om dit op maniere te doen wat reg laat geskied aan die vreemdheid daarvan. (Nie altyd ewe maklik nie.)

Hoe beïnvloed hierdie toekenning jou planne vir die onmiddellike toekoms, en die jare vorentoe?

Soveel beïnvloed dit nie my onmiddellike planne nie – ek moet nog doen waarmee ek voor die prys besig was. Wat die jare vorentoe betref – gits, ek weet nie.   

Keer terug na die GAR–indeksblad. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top