
Die e-posse is gestuur om die wenners te laat weet, nou mag ons hulle name aankondiging.
Die volgende persone ontvang elkeen twee staanplekkaartjies na die Theuns Jordaan Tribute-konsert in Kaapstad:
- Francois Geldenhuys
- Sandi Justus
- Ronel Orton.
Baie geluk en geniet die konsert!
Persverklaring: Theuns Jordaan Tribute-konsert kom Kaapstad toe!
DHL Stadion, Kaapstad – Saterdag 6 Januarie 2024
In samewerking met eBetSA
Die grootse Theuns Jordaan Tribute-konsert wat vroeër vanjaar op Loftus Versfeld aangebied is, het die room van Suid-Afrika se kunstenaars voor ’n skare van meer as 20 000 toeskouers byeengebring, om in ’n wêreldklasproduksie hulde te bring aan die ikoniese Theuns Jordaan.
Ná ’n vloedgolf versoeke aan die organiseerders, is daar nou goeie nuus vir Kapenaars: Die Theuns Jordaan Tribute-konsert word vroeg in 2024, op Saterdag 6 Januarie vanaf 19h00 by DHL Stadion in Kaapstad aangebied.
Die veertien top Afrikaanse kunstenaars wat by die Pretoria konsert opgetree het, sal ook in Kaapstad op die verhoog wees om Theuns se liedjies te laat herleef in ’n uitnemende grootskaalse produksie. Konsertgangers kan uitsien na vertonings deur Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Ray Dylan, Dozi, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Ricus Nel, Jay du Plessis, Bok van Blerk, Danny Smoke, Liezel Pieters, Lianie May en Jacques du Plessis.
Die Theuns Jordaan Tribute se konsertorganiseerder, Sonett de Villiers, sê: “Die Loftus-konsert was ’n groot viering van Theuns se lewe en musiek. Die konsert het almal se verwagtinge oortref.
“Dit was een van die mooiste en grootste gebeurtenisse in Afrikaanse musiek nog. Dit was verseker ’n enig-in-sy soort musikale belewenis en spreek boekdele vir Theuns se nalatenskap sowel as van die kunstenaars, produksiespan en kreatiewe leierskap wat passievol te werk gegaan het.
“Dit was ’n enorme projek en ons het nie voorsien om dit weer te doen nie, maar sedert die Loftus-konsert, hou Kapenaars aan met vra dat die konsert ook in Kaapstad aangebied word. Ons het navorsing gedoen en agtergekom dat daar weinig Kapenaars by die Loftus-konsert teenwoordig was.
“Ons voel verplig om iets vir Theuns se Kaapse aanhangers te bied, omdat hulle aanhou vra. Daar het baie werk, tyd en kreatiwiteit in die produksie ingegaan en dit het ’n besonderse vertolking van Theuns se musiek opgelewer. Ons sien uit om dit met net soveel passie by die DHL Stadion aan te bied.”
Die Theuns Jordaan Tribute laat Theuns se liedjies herleef in ’n reuse produksie wat deur gesoute vervaardigers Andries Pieterse, Deedee Oosthuizen en Floors Oosthuizen behartig word, in samewerking met Theuns se jarelange vriend Jacques du Plessis.
Kaartjieverkope maak komende Dinsdag 4 Julie oop. Verkope is beperk tot 20 000 kaartjies. Kry jou kaartjies by https://itickets.co.za/events/474125.
Volg ook: www.facebook.com/theunsjordaantribute

