Voordrag by die WAT se Woordpret: Die ideaal van ’n meertalige universiteit

  • 3

Sonja Loots was op 3 Junie 2016 gasspreker by die Woordpret van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Die tema van die gesprek was: "Die ideaal van 'n meertalige universiteit." Hier onder is haar volledige voordrag by die geleentheid. Lees ook 'n oorsig oor die geleentheid hier.

 

Sonja Loots en Willem Botha (foto: Frikkie Lombard)

Molweni, Abahlobo. Molweni, Abafundi. Molweni, manene namanenekazi. Goeiemiddag vriende, studente, dames en Here. 

Kuyabanda namhlanje kodwa siya kusela iwayini. En ai, die teenwoordigheid van wyn hier vandag sal moet help om die palet te suiwer, want dit is maar met wrangheid dat ’n mens jou waag aan ’n besinning oor die ideaal van ’n meertalige universiteit terwyl die senaat van die Universiteit Stellenbosch vanmiddag waarskynlik met ’n groot meerderheid gaan stem ten gunste van die universiteit se nuwe konseptaalbeleid.

Dit was moeilik om te weet wat ek in hierdie lesing moet sê, aangesien dit lyk asof die ideaal van ’n veeltalige universiteit al verder in die niet verdwyn. Miskien is die geveg nog nie verby nie, maar dit voel nodig om so prakties moontlik te probeer werk met die situasie soos dit besig is om te ontvou. Dus: indien dit so moet wees dat Engels voorlopig die politieke en ekonomiese oorhand het in die omgewing van tersiêre opvoeding, hoe beveilig ons die land se ander tale totdat die wiel dalk weer draai?

Ek wil vandag padlangs en informeel praat, met nie te veel teorie nie. Nogtans wil ek begin deur te verwys na die werk van Gilles Deleuze en Felix Guattari. Deleuze en Guattari is relevant vir ’n gesprek oor meertaligheid onder meer vanweë hul werk oor die bewerkstelliging van ’n mineurtoon in majeurtale, een uitweg vir nie-Engelstalige studente en akademici wat hul in die majeur moet laat geld. Terloops: hulle skryf nie in die kastig alomteenwoordige akademiese oppertaal Engels nie, maar as deel van die meertalige kenniswêreld dink en verwoord hulle hul invloedryke insigte in Frans.

In die voorwoord tot A thousand plateaus. Capitalism and schizophrenia (soos die Engelse vertaling heet) maak Brian Massumi, die vertaler, die volgende opmerking oor die werk van Deleuze (dikwels verkeerdelik toegedig aan Deleuze self): “A concept is a brick. It can be used to build a courthouse of reason or it can be thrown through the window” (Massumi, 1980:xii).

Ek wil vandag oor die konsep meertaligheid dink as ’n baksteen in die hand. Ek hou van die beeld. Dit weeg swaar, dit het gravitas. Dit is iets wat in ’n bakoond of smeltkroes gevorm is. Dit is iets verbasend fragiel. Dit kan gebreek word. Dit is ook veelsydig. Mens kan dit gebruik om te bou of, as jy dit gebruik soos Massumi dit visualiseer, om te breek.

Massumi se beeld resoneer omdat hy die konsep as baksteen plaas in die hand van mense wat bou, maar ook, in ’n minder gelukkige wending, in die hand van mense wat buite ’n bousel of konstruk staan. Dit is toenemend die geval dat die gesprek oor meertaligheid deel vorm oor ruimtes van uitsluiting. Oor die meganismes en taktieke van uitsluiting heers daar nie eenstemmigheid nie, maar ek gaan my vandag die vryheid veroorloof om aan die hand te doen dat Engels in die tersiêre omgewing toenemend die sprekers van ander tale buite in die koue laat staan.

Die feit dat die Universiteit Stellenbosch volhard in sy hardkoppige strewe om Engels as verstektaal te vestig, beteken in die praktyk dat Afrikaans en isiXhosa uitgesluit word uit ’n sentrum van mag en invloed. In die Massumi-aanhaling hier bo gaan dit om ’n konsep in die hand van denkers wat buite “a courthouse of reason” staan, maar “’n hofsaal waar redelikheid seëvier” is na my mening nie ’n akkurate beskrywing vir die Engelstalige universiteit wat voor ons oë op hierdie dorp verrys nie. Die hersiene taalbeleid verteenwoordig die oorwinning van strooipopargumente, halwe waarhede, politieke leuens en wanpersepsies. Die debat was nooit oor “die behoud van Afrikaans as die dominante onderrigmedium”, soos Pierre de Vos in meer as een skrywe valslik beweer nie. En nee, ook nie oor Stellenbosch as “primêr Afrikaanse universiteit”, soos Max du Preez en ’n koor ander stemme ewe moedswillig aangevoer nie. Dit het gegaan oor die behoud van Afrikaans as akademiese taal op gelykwaardige vlak naas Engels, ’n strewe wat nek omgedraai is toe George Steyn, die raadsvoorsitter, die raad gelei het om te stem teen ’n mosie wat dit as prinsipiële uitgangspunt wou verskans.

As Afrikaans en isiXhosa voorlopig buite in die koue staan, is dit nie buite ’n hof van redelikheid nie, maar buite ’n hasehof waar die regter of regters hulle gedra soos Lewis Carroll se Koningin van Harte in Alice in Wonderland. Sodra hulle oor Afrikaans dink, skree hulle “Off with her head.” Dit het die afgelope maande geblyk dat om met sulke mense te argumenteer, en selfs om op redelike gronde argumente te wen, futiel is. Die sogenaamde raadplegingsproses was niks meer as oëverblindery nie en die insette van meertaligheidsaktiviste is met oppervlakkigheid en arrogansie opsy geskuif.

Hier staan ons dus nou, buite die hasehof, ‘n bietjie radeloos, met slegs die konsep van meertaligheid soos ’n baksteen in die hand. Wat kan ons daarmee maak?

Ek stel voor ons gooi dit deur ’n paar vensters.

“As Afrikaans en Engels gelyke status kry, brand hierdie kampus,” het die raadsvoorsitter, George Steyn, luidens berigte op die mees onlangse raadsvergadering gekonstateer. Die versoeking is groot om hom ‘n bietjie die skrik op die lyf te jaag met dreigemente oor Afrikaanssprekende opstand, maar dit sê ek sommer tong-in-die-kies. As dit kom by die gooi van bakstene, bedoel ek dit asseblief metafories. Metafore is egter nie grappies nie, dames en here. Selfs al bestaan die baksteen in ons hand slegs as konsep, as ideaal, is dit gewigtig en kan dit moontlik nog die verloop van gebeure beïnvloed.

Wat behels die konsep wat ons soos ’n baksteen in ons hand vashou? het ek myself afgevra toe ek moes besluit wat om vandag hier te sê. Wat is meertaligheid, en ook: wat is dit nie. Ek deel graag ’n paar voorlopige gedagtes, aan-die-draf-gedagtes, die soort wik-en-weeg-gedagtes wat mens dink as jy met ’n baksteen in die hand staan en wonder wat jou verder te doen staan.

 Meertaligheid is nie anti-Engels nie, maar beslis anti-imperialisties en antikoloniaal

Engels is ’n pragtige taal, sê hierdie Anglofiel vandag sonder skaamte. Maar wanneer Engels uitasem besing word as ’n paspoort tot die internasionale arena, reduseer dit Suid-Afrika op baie problematiese wyse tot satelliet of aanhangsel van ander lande en kennispraktyke. Dit adem presies die soort koloniale kennispraktyke wat met goeie rede onder beleg is. Koloniale kennispraktyke en eentalige, Engelssprekende universiteite wil ons laat glo dat Engels oral is, dat dit die oorsprong van alles is en dat niks daarbuite bestaan nie (ek praat hier in die taal van Achille Mbembe). Dit onderdruk alles wat buite die eie raamwerk geartikuleer, gedink en verbeel word, leer Mbembe ons.

Ek het gesê ek wil nie teoreties praat nie, maar ek wil nietemin herinner dat meertaligheid as konsep teoreties goed onderlê is om weerstand te bied teen Engels as meesternarratief, gegrond in die kettergeloof dat die akademiese wêreld net uit Noord-Amerika, Engeland en Australië bestaan. Dit is in daardie opsig ’n stewig-gebakte baksteen.

Die elitistiese opvatting dat kennisproduksie noodwendig gefokus is op deelname aan ’n Engelssprekende internasionale gemeenskap, en waardevol is slegs indien dit na buite gerig is, misken voorts die belang van kritiese intellektuele werk wat gewortel bly in die universele maar gelokaliseerde konteks van hierdie land. Dit verklap ook op ongelukkige wyse dat Suid-Afrikaanse universiteite nie krities dink oor watter Engels hulle omarm nie. Hulle bedink en bedryf Engels nie as ’n taal-van-hier nie, maar op klakkelose wyse as ’n verknegte en minderwaardige vorm van die voertaal van Amerikaanse en Engelse universiteite waardeur hulle so begogel is. Dat dit geskied as kastig deel van dekolonialisering, gaan die verstand te bowe.  

Meertaligheid is nie eentaligheid nie

Dit is opvallend hoe universiteite besig is om iets wat in wese ’n gebrek of tekortkoming is, naamlik die onvermoë om in meer as een taal akademies te funksioneer, tot norm te verhef. Dat hierdie taalgestremdheid sigself so onsigbaar as moontlik probeer hou, onderlê ook die volgende argument: “Swart studente is reeds gekompromitteer omdat hulle nie in hul moedertale leer nie; laat die Afrikaanse studente ook ’n prys betaal.” En wie, dames en here, betaal geen prys en maak geen toegewings nie? Ja-nee, die eentalige Engelssprekende wat so gemaklik en so vanselfsprekend die morele hoë grond opeis. Dis darem die lekker lewe, of hoe?

Die wegbeweeg van meertaligheid bevorder die belange van eentalige Engelssprekendes, deur die institusionalisering van die enigste taal waarin hulle bedrewe is. Dit neem as konteks die konferensiepaadjies wat hulle snuiftrap. Dit plaas Engels in die middelpunt en neem aan dat daar niks in ander tale gebeur wat die moeite werd is nie. Dit gee voor dat Engels gedepolitiseer en neutraal is. Dit maak valse aannames oor Engels se sogenaamde inklusiwiteit en bemagtigingspotensiaal.

Die teiken van my kritiek is nie net blanke Engelssprekendes nie. Ek wil hulle nie kwytskeld nie, maar ek sien dieselfde houding by swart Suid-Afrikaners en Afrikane wat in Engels opgevoed is en geen Afrikataal magtig is nie. Gaan loer gerus maar na die CV’s van die mees radikale stemme teen Afrikaans. Dit behoort dikwels aan mense wat in Afrika gebore is, maar wat hul tersiêre opleiding in Amerika of Europa ontvang het. Te dikwels word die toon in die Suid-Afrikaanse tersiêre omgewing aangegee deur produkte van Amerikaanse en Britse universiteite wat nog nooit die kopskuif en die harthop terug na hierdie land en hierdie kontinent kon maak nie (en wat, met hul Ivy League-graadserfikaat in die gatsak, veel te sê het oor die voorregte en bevoorregting van ander). Die ironie is dat hulle deurgaans hul oog bly hou op ’n moontlike terugkeer na hul eksotiese alma maters. Hulle swaai die sweep slegs tot hulle sak en pak vertrek en die res van ons met die gebakte pere los. Gaan doen gerus ’n bietjie speurwerk. Ek voorspel julle sal vind dat die meerderheid van invloedryke kampvegters vir Engels as enigste voertaal by Suid-Afrikaanse universiteite self eentalig is, of eentalige akademiese loopbane bedryf wat buite Suid-Afrika gevorm is en wegkyk van Suid-Afrika (en Afrika).

Meertaligheid is nie taalverskuiwing nie

Een van die baie dinge wat die raad en bestuur van die Universiteit Stellenbosch vir hul rekening moet neem, is dat hul keuse teen Afrikaans ook Afrikaanse skole in sy voedingsgebied onder druk plaas. Afrikaanse ouers sal toenemend hul kinders uit Afrikaanse skole haal omdat hulle meen dit is die beste manier om hulle vir Engelstalige universiteite te brei.

Die skuld kan egter nie net voor die deur van die universiteite gelê word nie. Afrikaanse skole moet ook selfondersoek doen. As Afrikaanse skole weerstand wil bied teen taalverskuiwing, moet hulle hul sokkies optrek. Selfs ouers wat gesteld is op moedertaalonderrig, sal hul kinders laat verengels as hulle aanvoel dat die gehalte van onderrig in Afrikaanse skole swak vergelyk met die gehalte van opvoeding in Engelstalige skole. Vergeet dus van die rugby, Afrikaanse skoolhoofde, en dink akademie. Moenie aanneem dat Afrikaanse ouers gaan kies vir Afrikaanse skole nie; werk hard om dit vir hulle te laat sin maak. Dink uitstekend-opgeleide onderwysers wat nie in geradbraakte Afrikaans kommunikeer nie en wat hul vak beter aanbied as hul eweknieë in die Engelstalige skool om die hoek.

Dieselfde oorwegings geld die Afrikaans-kurrikulum op skool. Is Afrikaans as skoolvak van ewe hoogstaande gehalte en ewe prikkelend as Engels? Word leerders ewe veel gestimuleer en uitgedaag? Is die voorgeskrewe werke op dieselfde peil? As ouer en as Afrikaans-dosent wat werk met die produkte van die huidige Afrikaans-leerplan, kan ek helaas net my kop ontkennend skud. Die gehalte van die verbeeldinglose, babamaklike Afrikaans-leerplan op skool kort dringend aandag indien dit vir statusgedrewe en ambisieuse ouers en leerders aanloklik wil wees.

Voordat ek aanbeweeg, wil ek ook vlugtig noem dat die vinnige verengelsing onder stedelike, bruin Afrikaanssprekendes op veral die Kaapse Vlakte aandag behoef. Die historiese redes daarvoor is welbekend, maar indien dit nie vertraag of gestuit word nie, sal Afrikaans in die komende dekade ’n beduidende en ryke segment van haar taalgemeenskap verloor.

Meertaligheid, in Suid-Afrikaanse konteks, is nie uitsluitlik met Afrikatale gemoeid nie, is nie gekant teen Europese tale nie en is nie anti-Afrikaans nie

Neville Alexander, waarskynlik die mees waardevolle teoretikus oor meertaligheid wat Suid-Afrika nog opgelewer het, was die produk van kinderjare wat hom aan meer as een van Afrika se tale blootgestel het. Sy ouma, sy moeder se moeder, was oorspronklik uit Ethiopië. As volwassene kon Alexander onthou dat hy kleintyd uit haar mond flardes Oromo gehoor het. Sy ma was Engelssprekend, sy vader Afrikaanssprekend, hoewel sy vader Skots was. Hy het ook as volwassene geskryf oor vroeë kennismakings met isiXhosa en Khoisan. As jong seun was Duits egter die taal wat hy eerste aangeleer het ná Afrikaans en Engels, as leerling van die Holy Rosary Convent, ’n Katolieke sendingskool. Latyns weer was die taal van nagmaal en kerkrituele. Hierdie tweelingliefdes het hom later geneem na Duitsland, waar hy in Latyn die werke van Ovidius en Plinius gelees het. Aan die UK het hy Duits, Afrikaans en Engels saam met geskiedenis bestudeer. In die gees van Alexander is dit jammer en onvanpas dat die meertaligheidsgesprek dikwels ontspoor omdat gemeen word dat sogenaamde “vreemde” of Europese tale geen staanplek in die Suid-Afrikaanse tersiêre omgewing verdien nie. By die Universiteit van KwaZulu-Natal is aandag aan isiZulu as akademiese taal lofwaardig, maar het die universiteit fouteer deur ’n stokkie te steek voor die aanbied van Afrikaans en Europese tale. Aan die UK sou Alexander, as hy nog geleef het, wel nog kon instap by ’n Duits-departement en ’n Afrikaans-departement, maar in die gebou op Bo-Kampus wat na hom vernoem is, is slegs Engels hoorbaar, en op die naamborde van dié gebou verskyn daar slegs een taal. Die Neville Alexander Building, dus, en basta met alles anders. Ek wonder wat hy daarvan sou dink?

Dit vorm deel van ’n tydsgees wat tot gevolg het dat Suid-Afrikaners vergeefs wag dat die histories Engelse en swart universiteite die Grondwetvereiste van meertaligheid met erns bejeën. Blade Nziande het onlangs vir opslae gesorg toe hy aan die hand gedoen het dat kommunikasievaardighede in Afrikatale ’n vereiste moet wees vir graadverwerwing aan Suid-Afrikaanse universiteite, maar dit is nie mooi duidelik of en hoe universiteite hieraan uitvoer gaan gee nie. By my eie universiteit is daar reeds twyfel uitgespreek oor of Afrikaans deel moet vorm van só ’n meertaligheidsinisiatief. Die voorlopige gedagte is geopper dat studente nie die opsie moet hê om te kies om Afrikaans te leer nie. Nogmaals wonder ek wat Alexander sou sê; en waarom ons geboue na mense vernoem sonder om hoegenaamd ag te slaan op die gees en inhoud van hul lewenswerk.

Meertaligheid is nie tweetaligheid nie

Die ideaal van ’n meertalige universiteit, of van ’n meertalige samelewing, word lewend gehou deur meertalige sprekers. Let op: meertalige sprekers, nie tweetalige sprekers nie. Dit maak sin dat Afrikaanse mense hul taalregte integreer met dié van ander Afrikatale, sodat dit ’n Suid-Afrikaanse eerder as Afrikaans strydpunt raak. Maar as ons dit ernstig bedoel met pleidooie vir meertaligheid, moet ons ook in ons eie lewe werk maak van meertaligheid. As Kapenaars in gesprekke oor meertaligheid oor die taal “Kôsa” en die “Kôsa-mense” praat, pleks van isiXhosa en die amaXhosa, en sonder selfs ’n sweempie van ’n poging tot ’n kliek, laat dit asseblief nie die Afrikaanssprekendes wees nie. Tyd, dames en here, dat ons ten minste die naam van ons vriende se taal korrek begin uitspreek. Ook, terwyl ons besig is, tyd om in isiXhosa te leer groet. Ek glo voorts dit is verkeerd en bisar dat ons hier in die Wes-Kaap nog ’n generasie Afrikaanssprekende kinders grootmaak wat nie op skool isiXhosa leer praat nie. Ons moet agiteer vir die reg van ons kinders, of kleinkinders, om in Afrikaanse skole ’n derde taal as deel van die verpligte leerplan te leer. Doen ons dit nie, maak ons kinders groot wat uitgesluit bly van noemenswaardige gesprekke: op straat, in winkels, in die werkplek, in howe en in die parlement.

Indien ons dit sou kon regkry om eerlike en opregte vriendskappe te smee met die sprekers van ander inheemse tale, raak daardie baksteen in die hand ’n potensieel magtige wapen. Wat mens sou wou sien, is dat Engels op sy tone gehou word, van balans gehou word, herinner word dat sy vastrapplek in Suid-Afrika prekêr en bestrede is. Dit is nie die bril waardeur ons alles sien en interpreteer nie en hier in die Wes-Kaap behoort ons in Afrikaans én isiXhosa ’n baksteen te gooi deur alle aannames dat dit wel so is. Om meertalig te wees, kom egter neer op veel meer as ’n politieke skuif, wat ons kan blootstel vir beskuldigings van opportunisme en waarvan die sukses nie gewaarborg is nie. Dit is gewoon ’n manier om hier tuis te hoort. Daarom wil ek graag vra dat ons voordat ons verdaag, mekaar almal in isiXhosa groet en in isiXhosa na mekaar se welstand te vra. Ek deel vir u notas uit waarop so ’n eenvoudige gesprek uitgeskryf staan.  In isiXhosa is dit gebruiklik om in die meervoud na iemand se welstand te verneem, selfs wanneer jy met een persoon alleen praat. Ninjani? “Hoe gaan dit met julle?” Die antwoord geskied volgens dieselfde beginsel. Siphilele. “Dit gaan goed met ons.” Die rede is die wyse ou Afrika-insig dat dit goed met die enkeling kan gaan slegs indien dit goed met sy of haar ouers, kinders en familie gaan. Dit lyk vir my ’n mooi manier om oor meertaligheid te dink. Met elkeen van die tale sal dit goed gaan slegs indien dit met almal goed gaan. Meertaligheid as ’n manier om in die posisie te kom waar ons in ’n koor kan verklaar: “Siphilele. Dit gaan goed met ons.” Waar ek met oorlog en slingerende bakstene begin het, eindig ek met vrede. In die meertaligheidsgesprek het mens dalk al twee nodig! Dankie, dames en here. Tramakassie. Enkosi kakhulu. En in die verstektaal van die Universiteit Stellenbosch, naamlik vrot Engels, fenk joe werrie mutch.

  • 3

Kommentaar

  • Quintus van der Merwe

    Dankie Sonja vir 'n interessante aanbieding. Ek wil graag reageer deur daarop te wys dat daar verkeerdelik in Afrikaans (en ander nie-Xhosa tale) na isiXhosa verwys word instede van Xhosa. Dit is soos om in Afrikaans na Duits as Deutsch te verwys. Die isi is net relevant as jy Xhosa praat en skryf. Ek weet dit is ook verkeerdelik in die Grondwet so opgeneem, waarskynlik agv 'n oordrewe poging tot politieke korrektheid. Vriendelike groete, Quintus van der Merwe

  • Charl-Pierre Naude

    Dankie Sonja, vir 'n uitstekende artikel - vol deurdagte en wydlopende insigte. Ek het nou die dag met een van hierdie ingevoerde Engelse akademici gepraat. Hy het die hele tyd Neville Alexander aangehaal in sy anti-Afrikaans argumente! Maar toe ek hom vra watter boeke van Alexander hy al gelees het kon hy nie een noem nie.

  • Enkosi uSonja ngenxa kwiprizenteyishini umdla; Ke ithemba ukuba ulawulo kunye nebhunga kwiYunivesithi yaseStellenbosch uya uqaphele ukuba imixholo

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top