Oorsig van die WAT se Woordpret met Sonja Loots

  • 0

Frikkie Lombard en Sonja Loots (foto verskaf)

Sonja Loots was op 3 Junie 2016 gasspreker by die Woordpret van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Die tema van die gesprek was: Die ideaal van 'n meertalige universiteit

Lees Sonja Loots se volledige toespraak hier.

Deel een: Openingsgroet

As die gehoor gedink het hulle gaan net kom sit en luister, is hulle verkeerd. Loots open die gesprek deur die gehoor ten eerste in isiXhosa en dan ook in ander landstale te groet. 'n Paar lede van die gehoor probeer moedig en hardop om met haar terug te praat. Die res van die gehoor besef: hierdie is 'n praktiese demonstrasie van 'n ware meertaligheidsopset. Net om dag te sê neem 'n goeie drie minute.

Hierdie openingsgroet is die toonaangewer vir die res van die gesprek. Enigiemand wat gedink het hulle gaan vandag hier sit en luister hoe die universiteit ander landstale ten koste van Afrikaans moet uitsluit, of wat gedink het hulle gaan vandag praktiese en eenvoudige oplossings hier kom aanhoor, was verkeerd.

Sonja Loots se gesprek is ten eerste 'n sosiologiese demonstrasie.

Haar openingsgroet demonstreer 'n baie belangrike kwessie aan die Afrikaanse gehoor: 'n meertalige universiteit is nie slegs 'n Afrikaanse universiteit nie.

Haar gesprek bestaan uit drie dele: die openingsgroet, die toespraakgedeelte en, voor die vrae, 'n kort Xhosa-les.

Deel twee: Toespraakgedeelte

Sy open haar toespraakgedeelte deur te sê dat dit nie sonder 'n mate van wrangheid is dat mens hier byeen is nie, teen die agtergrond van die vergadering van US vandag.

Sy verwys hier na die Universiteit Stellenbosch se senaatsvergadering wat ook op Vrydag 3 Junie plaasgevind het, net soos hierdie gesprek by die WAT. In hierdie senaatsvergadering is die finale konseptaalbeleid van die universiteit bespreek. Ingevolge die finale konseptaalbeleid het Afrikaans en Engels gelyke status by die Universiteit Stellenbosch, met 'n duideliker verwysing na Xhosa op kampus as in vorige jare.

[Met betrekking tot die finale konseptaalbeleid, hier beskikbaar: Die algemene aanduiding – en persepsie – is dat die universiteit in die rigting van Engels as primêre taal beweeg en dat Afrikaans dikwels aangetoon word as 'n taal wat uitsluitend is teenoor ander tale, in kontras met Engels, wat aangedui word as 'n meer inklusiewe taal. (Dit is ondertussen bekend dat hierdie konseptaalbeleid met oorweldigende meerderheid deur die senaat gesteun is, met enkele voorbehoude.)]

Terug by Loots se toespraak: sy meen die geveg is dalk nog nie verby nie, en dis duidelik dat sy verwys na die geveg teen Engels as taal van die imperialis. Sy haal aan uit A thousand plateaus: Capitalism and schizophrenia (Frans: Mille plateaux) deur Gilles Deleuze and Félix Guattari.

Sy laat die gehoor regop sit toe sy die beeld van 'n baksteen gebruik.

"Kom ons slinger vandag 'n baksteen deur die venster van eentaligheid."

Taal is 'n baksteen, is haar metafoor. Dit het gewig, dit het ook gravitas. Dit kan skade aanrig, dit kan opbou. Dis veelsydig, dis breekbaar.

Massumi, wat 'n bekende interpreteerder is van die boek deur Deleuze en Guattari, plaas die baksteen in die hande van mense wat besig is om te bou sowel as diegene wat buite die bousel staan.

Loots vra: "Wie word uitgesluit? Daaroor is nie konsensus nie. Maar ons weet wel: Engels sluit ander sprekers uit. Afrikaans en Xhosa word uitgesluit."

Die debat was nog nooit oor Afrikaans as dominante taal soos sommiges beweer nie.

Sodra iemand oor Afrikaans durf dink, voel dit soos die Koningin se bevel in Lewis Carroll se Alice in Wonderland: "Off with her head."

Wat maak ons nou?

Ons gooi die baksteen deur 'n paar vensters. As dit kom by die gooi van ‘n baksteen, is dit 'n metafoor. Maar metafore is nie grappies nie. Al is dit net 'n konsep, het dit gewig.

Dus: Wat is meertaligheid? Ek wil myself en almal herinner: meertaligheid is antikolonialisties en antikoloniaal, nie anti-Engels per se nie.

Die algemene klank vanuit universiteitsbestuursgeledere is: Engels is orals, dis alles, daar is niks daarbuite nie. Meertaligheid as konsep bied weerstand teen Engels as meesternarratief.

Die weg van eentaligheid: dit gee voor dat Engels gedepolitiseer is, en dit ignoreer ander tale se meertaligheidsbemagtiging.

Akademici in leiersposisies is dikwels met een voet op Suid-Afrikaanse bodem en met net een voet in 'n Suid-Afrikaanse universiteit – vandaar die strewe na eentaligheid.

Wat kan ons doen? Ons kan op skoolvlak al seker maak die Afrikaanse leerplan is op dieselfde uitdagende standaard as die Engelse een. Is dit? As ouer: nee. Ons verloor belangstelling en ons verloor uiteindelik studente.

Ons moet bruin sprekers betrek, meen sy. Niemand gee die pro-Engels-eentaligheidsvoorstanders die reg om bruin sprekers van die tafel af te vee nie. Ons as meertaligheidsvoorstanders behoort bruin sprekers te betrek.

Wat is meertaligheid nog?

Meertaligheid is nie taalvermenging nie.

Suiwer Afrikaans: as ons in ‘n meertalige land wil woon, gaan ons verskillende tale outentiek moet bedryf en behou.

Nie uitsluitlik Afrikatale nie, nie uitsluitend Europa nie. Ons moet kyk na Neville Alexander se nalatenskap: hy het Afrikatale geken én Europese tale. Nie een met uitsluiting van die ander nie.

Meertaligheid is nie tweetaligheid nie.

Kinders word die wêreld taalgestremd ingestuur – kinders moet die Afrikatale van die streek leer. Nie net om die guns te wen van landsburgers nie. Dit gaan oor behoort.

Jy kan nie 'n baksteen gooi na eentaligheid – Engels – as jy nie met ander mense kan kommunikeer of verstaan wat hulle in die winkel en omgewing praat nie.

Engels moet herinner word dat sy vastrapplek “prekêr en bestrede” is.

"Dis altyd te laat, nooit verby nie" – Breyten Breytenbach.

"Verander houdings en koppe," sluit Loots af. "Leer ons tonge om nuut te praat."

Deel drie: Xhosa-les

En dis wat sy ten slotte doen: sy leer almal se tonge om nuut te praat. In die proses verander sy houdings.

Die gehoor ontvang die volgende bladsy met hierdie paar woorde daarop:

 

In groepies van twee, wat gou uitbrei na 'n hele ry mense, groet gehoorlede mekaar nou in Xhosa.

Wat opval tydens dié Xhosalessie:

  • Taal is emosioneel, dit is nie net arbitrêre klanke nie.
  • Wanneer mense verskillende tale met mekaar praat, ondergaan hulle 'n soort metamorfose, ook ten opsigte van gedrag. Stillerige en geïnhibeerde Afrikaanssprekendes klink onverwags luidrugtig en gesellig.

Losse persoonlike gedagtes ná die gesprek:

  • Taal is emosioneel, dis nie net arbitrêre klanke nie. 'n Taal is aan 'n identiteit gekoppel, dalk meer so in lande waar minderheidstale gepraat word – en met betrekking tot die minderheidstaalgroep se sprekers. Ander lande waar dit sigbaar is, is lande waar tale ook 'n sekere politieke konnotasie het, soos Iers vir die Iere, of in lande waar twee tale om 'n magsposisie moet meeding, hoewel dit sigbaar is dat een van die twee die oorhand het – soos in België met Frans teenoor Vlaams.
  •  Die Universiteit Stellenbosch se voorstel op 'n stadium (ondertussen geskrap) dat slegs Engels as voertaal in openbare ruimtes soos koshuise gepraat moet word, is kortsigtig. Studente behoort aangemoedig te word om mekaar se moedertale aan te leer en met mekaar in hul eie tale te kommunikeer. Dit wil sê:

Afrikaanssprekende studente behoort aangemoedig te word om met Xhosastudente in Xhosa te gesels en Xhosastudente behoort aangemoedig te word om met Afrikaanssprekende studente in Afrikaans te gesels. As daar kunsmatige "reëls" gemaak moet word, is 'n moontlikheid dat die studente dan aangemoedig moet word om in hul derde taal (die Afrikaanse student Xhosa en die Xhosastudent Afrikaans) te praat waar moontlik. As dit nie moontlik is om met die gesprek voort te gaan nie, kan oorgeslaan word na Engels.

  • Afrikaanse mense het 'n manier om net met Afrikaanse mense te praat en as ons Afrikaanse mense nie ander mense in die land se tale kan praat nie, gaan ons nie met hulle kan praat nie en hulle ook nie met ons nie. Dan gaan niemand kan saampraat oor 'n meertalige universiteit nie en bly dit vir altyd net 'n ideaal.
  • 'n Meertalige universiteit is nie (net) 'n Afrikaanse universiteit nie.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top