
Fotobron: https://pixabay.com/photos/playground-empty-lonely-quiet-2263827/
Beatri Kruger praat met Naomi Meyer oor haar LitNet Akademies (Regte)-artikel Op soek na regsekerheid in die warboel van abduksie, menseroof en mensehandel.
Beatri, die volgende artikel het onlangs uit jou pen in LitNet Akademies (Regte) verskyn: Op soek na regsekerheid in die warboel van abduksie, menseroof en mensehandel. Jy was voordat jy in die akademie betrokke geraak het, ’n staatsaanklaer en ’n landdros. Jy het die regstelsel in die praktyk beleef en verstaan ook sy akademiese boustene. Wil jy dalk ten eerste vertel wat vir jou die grootste verskille was tussen praktiese uitleef en toepassing van die regstelsel, teenoor die akademiese?
Ek het al twee sfere baie geniet – hulle vul mekaar aan. My aanvanklike draai in die praktyk het gehelp om die toepassing van die reg prakties by studente tuis te bring. Die praktiese voorbeelde in hofsake kon lekker tydens lesings bespreek word en studente is skerp – hulle het flink daaroor debatteer
Jou artikel fokus op die belang van regsekerheid in die Suid-Afrikaanse regstelsel. Sekerlik sal baie van ons lesers met jou verskil; mense is sinies oor regsekerheid in die land. Soos ook in die vorige bedeling. Dit voel te maklik asof die Suid-Afrikaanse regstelsel nie die audi alteram partem-beginsel volg en aldag na die ander kant luister nie. Dis asof daar te dikwels gevoel word dit hang af van wie verskyn voor die hof, en dan word die uitspraak daarvolgens bepaal. Net een kant van die saak word gehoor. Dis ’n jammerte. En dis veral in prominente sake waar dit so werk. Twee vrae:
- a) Ervaar jy in die algemeen regsekerheid ten opsigte van die Suid-Afrikaanse regstelsel vandag?
Soos in die artikel genoem, som Langheld (2016:121) die toepassing van die beginsel van regsekerheid in die strafreg goed op:
Legislation must define clearly offences and the penalties which they attract. That requirement is satisfied where the individual concerned is able, on the basis of the wording of the relevant provision and, if need be, with the help of the interpretative guidance given by the courts, to know which acts or omissions will make him criminally liable.
In die algemeen word regsekerheid in die regspraktyk nagestreef. Die reg ontwikkel egter voortdurend en daarom is sekerheid oor die reg nie rigied nie. Die ontwikkeling van tegnologie het byvoorbeeld nuwe misdaadscenario’s geskep wat tot regshervorming gelei het. Die strewe na regsekerheid is dus ’n voortdurende proses.
- b) Indien ’n regspraktisyn nou hier lees: Wat kan gedoen word om aspekte van algemene regsekerheid uit te leef en toe te pas sodat die algemene publiek groter sekerheid kan verkry?
Die beginsel van regsekerheid is ’n kerndeel van die Suid-Afrikaanse reg en word ook deur die Konstitusionele Hof onderskryf omdat dit deursigtigheid, voorspelbaarheid, billikheid en geregtigheid bevorder. Daar is ’n paar aanbevelings in die artikel gemaak oor hoe om regsekerheid te bevorder. Die regsonsekerheid tussen abduksie, menseroof en mensehandel bestaan dikwels omdat die regsdefinisies van hierdie misdade soms nie korrek en konsekwent toegepas is in regspraak nie en omdat sekere wetgewing ook onduidelikhede bevat. Hierdie probleme kan en moet uitgewys en aangespreek word – dit is wat die artikel wil uitlig.
..........
Die regsonsekerheid tussen abduksie, menseroof en mensehandel bestaan dikwels omdat die regsdefinisies van hierdie misdade soms nie korrek en konsekwent toegepas is in regspraak nie en omdat sekere wetgewing ook onduidelikhede bevat. Hierdie probleme kan en moet uitgewys en aangespreek word – dit is wat die artikel wil uitlig.
............

Beatri Kruger (foto: verskaf)
Wat was die inspirasie vir jou belangstelling in hierdie tema(s)? Hoe het dit oor jou pad gekom? En waarom het jy op verdere navorsing daaroor besluit?
Ek het ongeveer 20 jaar gelede vir die eerste keer van mensehandel gehoor – dit was nog ’n baie onbekende misdaad en daar was nog geen wetgewing in Suid-Afrika om dit te bekamp nie. Dit was ’n lang reis totdat uitgebreide wetgewing in 2015 in werking getree het. Dit is baie bevredigend om te sien hoe die howe handelaars vir hierdie uiteenlopende vorme van mensehandel aan die pen laat ry. In mensehandelsake is daar al dikwels lewenslange vonnisse opgelê – in S v Seleso is byvoorbeeld beide vrouehandelaars tot 19 lewenslange vonnisse elk opgelê weens die aanlyn seksuele uitbuiting van ’n minderjarige meisie. Daar is egter nog baie uitdagings om die misdaad doeltreffend te bestry. Daarom is die navorsing hieroor boeiend en kan dit ’n bydrae lewer om geregtigheid te bevorder.
...........
In mensehandelsake is daar al dikwels lewenslange vonnisse opgelê – in S v Seleso is byvoorbeeld beide vrouehandelaars tot 19 lewenslange vonnisse elk opgelê weens die aanlyn seksuele uitbuiting van ’n minderjarige meisie. Daar is egter nog baie uitdagings om die misdaad doeltreffend te bestry. Daarom is die navorsing hieroor boeiend en kan dit ’n bydrae lewer om geregtigheid te bevorder.
...........
Jou navorsing handel oor drie afdelings van die reg wat van mekaar onderskei behoort te word sodat regsekerheid daaroor verkry kan word: abduksie, menseroof en menshandel. Wil jy dalk kortliks vertel wat jy beskou as die kernverskille tussen die drie misdade?
Die verskille tussen die misdade is breedvoerig in die artikel belig, maar in kort fokus elke misdaad daarop om sekere regsbelange te beskerm.
Die misdaad abduksie se omskrywing beskerm ouers se de facto-reg om feitelik beheer uit te oefen oor hul minderjarige ongetroude kinders, en hul de iure-reg om tot sodanige kinders se huweliksluiting toe te stem. Abduksie geskied dus wanneer iemand ’n ongetroude kind jonger as 18 jaar uit die beheer van sy of haar ouer of voog verwyder met die opset dat die oortreder of iemand anders met die kind kan trou of seksueel kan verkeer.
Hierteenoor beskerm die midaad menseroof hoofsaaklik ons almal se reg op bewegingsvryheid. Die misdaad word byvoorbeeld gepleeg wanneer iemand ontvoer word na ’n ander plek of êrens opgesluit word teen sy of haar wil. Die motief vir die vryheidsontneming is nie van belang by die vasstelling of die oortreder aanspreeklik vir die misdaad is nie. Daar kan dus velerlei motiewe wees vir die ontvoering, soos die eis van ’n losprys, die verhindering dat ’n persoon gaan werk deur hom gevange te hou, of selfs om politieke redes.
Anders as bogenoemde twee misdade is die kern van mensehandel dat die oortreder se doel is om finansiële of ander voordeel te trek uit die uitbuiting van ander persone. Mensehandel het hoofsaaklik drie elemente: a) Die oortreder moet ’n sekere verbode handeling pleeg, soos die werf, vervoer, ontvang, huisves of verkoop van ’n ander person. b) Dit vind plaas deur middel van ’n onregmatige metode soos om die slagoffer met geweld te dwing of te bedrieg. c) Die doel is om hom of haar uit te buit tot voordeel van die oortreder. Oortreders buit hul slagoffers op verskillende wyses uit, soos om hulle te dwing om seksuele dade of dwangarbeid te verrig, organe te skenk, ’n gedwonge huwelik aan te gaan of op ’n straathoek te bedel sodat die oortreder die inkomste kan kry. Slagoffers word dikwels wreed aangerand om te verseker dat hulle die oortreder se instruksies nakom.
Om mense as eiendom sonder seggenskap te beskou, as items waarmee gehandel kan word soos wat hulle wil ... Mens wil nie eens regtig hieroor dink nie. En mens het baie stereotiepe idees hieroor. As mens ’n ouer is, dink mens dadelik aan kinders wat ontvoer kan word. Of jy dink aan geestelike sektes wat meisies ontvoer of beheer. En dan dink mens ook aan welaf gesinne waar kinders teen lospryse teruggekoop moet word. Maar hier is sommer drie losse voorbeelde wat mens ver verwyderd van mens af kan hou. Hoe algemeen is abduksie, menseroof en mensehandel onderskeidelik in hierdie land? Word daar genoeg aandag daaraan gegee in ’n land wat in die algemeen onder soveel misdaad gebuk gaan?
Abduksie kom minder voor, maar menseroof en mensehandel dikwels. Ongelukkig is ons land se kapasiteit en vaardighede om die misdade te bekamp beperk en bly korrupsie ’n groot probleem. Tog is daar uiters toegewyde rolspelers wat ’n werklike verskil maak om die misdaad te bekamp en slagoffers te bemagtig om die trauma te oorkom.
Jy beskou een van die belangrike dinge wat moet gebeur dat die verskillende misdade duideliker en beter-omlynde definisies moet verkry, sodat die regspraktisyn weet hoe om daarmee om te gaan. Uit ’n praktiese oogpunt: Hoe sal dit iemand se saak bevorder as mens kan besef die persoon het deur hipoteties menseroof in die hande van ’n sekere party beland, in teenstelling met byvoorbeeld mensehandel?
..........
Dit sal ’n wesenlike verskil maak vir die slagoffer. In mensehandel is die uitbuiting dikwels brutaal en langdurig met ‘n verreikende emosionele en sielkundige impak op die slagoffers. Wanneer ’n persoon as mensehandelslagoffer identifiseer word, verskaf Wet 7 van 2013 uitgebreide beskerming en hulp aan so ’n slagoffer.
.............
Dit sal ’n wesenlike verskil maak vir die slagoffer. In mensehandel is die uitbuiting dikwels brutaal en langdurig met ‘n verreikende emosionele en sielkundige impak op die slagoffers. Wanneer ’n persoon as mensehandelslagoffer identifiseer word, verskaf Wet 7 van 2013 uitgebreide beskerming en hulp aan so ’n slagoffer.
Laastens: Ek het verwys na hoëprofielsake waar mens nie altyd die gevoel kry dat reg en geregtigheid geskied nie. Eerste vraag: Wat is die hoofdoel van ’n regstelsel? Het dit altyd te doen met die geskied van reg en geregtigheid?
Ja, die hoofdoel van die reg is om geregtigheid te laat seëvier. Eerbare regspraktisyns het ’n groot verantwoordelikheid om die reg so toe te pas dat ons almal se grondwetlike regte beskerm word en alle burgers in vrede kan werk en lewe.
Tweede vraag: Is daar ook kleiner, alledaagse sake waar mense wel kan weet - ons woon nog in ’n land met ’n regstelsel wat mens kan vertrou, en hier kan reg en geregtigheid vir my saak geskied?
...........
Ons land het baie uitdagings met betrekking tot misdaad en korrupsie, maar daar is talle hofuitsprake waar geregtigheid en billikheid realiseer en ’n menigte mense wat steeds verantwoordelike landsburgers is wat Suid-Afrika op hul hart dra.
.........
Ek dink tog so. Ons land het baie uitdagings met betrekking tot misdaad en korrupsie, maar daar is talle hofuitsprake waar geregtigheid en billikheid realiseer en ’n menigte mense wat steeds verantwoordelike landsburgers is wat Suid-Afrika op hul hart dra.