Die waarde van ontsnapping – Izelle Venter gesels oor Saktyd

  • 0

Die dertien finaliste van Huisgenoot se eerste werklikheidsreeks, Saktyd, is aangekondig tydens 15 Mei 2012 se openingspartytjie.

Saktyd is ’n werklikheidsreeks, in samewerking met kykNET, waartydens die deelnemers meeding om ’n werk by Huisgenoot los te slaan. Izelle Venter (hoofredakteur), Wicus Pretorius (adjunkredakteur) en Haidee Muller (verslaggewer) het landwyd gereis om die beste finaliste vir die program te kies en nou het die tyd aangebreek om te sien of die ink in hul are bruis. Die finaliste is tussen 18 en 41 jaar oud en die groep bestaan uit entrepreneurs, kopieskrywers, sakelui en selfs ’n kinderoppasser.

Nieteenstaande die feit dat die program al besig is om by Huisgenoot se kantoor geskiet te word, het Izelle Venter onmiddellik Naomi Meyer se vrae beantwoord.

Hallo Izelle, en dankie vir die geleentheid tot gesprek midde-in jou besige program. Vertel asseblief vir ons lesers van die program Saktyd.

Dis ’n soektog na talent! Iemand wat werklik ’n bydrae kan lewer tot Huisgenoot op ’n weeklikse grondslag. En die formaat is ’n kykNET-werklikheidsreeks met ’n diverse klomp Suid-Afrikaners wat leer, en tegelykertyd vir kykers wys, wat dit vat om die grootste tydskrif week na week saam te stel.

Dankie ook vir nou die aand se uitnodiging na die glansgeleentheid waar die Saktyd-finaliste aangekondig is. Dit was ’n lekker geleentheid met vonkelwyn, mooi mense en ’n mooi uitsig daar van die Nasdak af. Kort na hierdie geleentheid was ek by ’n ouetehuis waar ek toe, heel toevallig, ’n Huisgenoot in die wagkamer sien lê het. En net daar wonder ek oor jul teikenmark/lesers en julle joernaliste. Hoe versoen ’n mens die uiterlike glans van so ’n partytjie met die ware leefstyl van jul lesers – met ander woorde, ek vra vir jou die miljoen-rand-vraag: Hoe beoog jul om ’n joernalis te vind wat vir julle ware lesers gaan kán skryf?

Ons lesers is gewone mense, maar die meeste het ’n akute belangstelling in die glanswêreld. Daarom dat die meeste van ons getroue lesers agter begin lees week na week, waar die glansnuus oor bekendes is. Die waarde van ontsnapping wat ’n tydskrif bied, is ’n baie belangrike deel van ons psige. Maar dis juis hoekom Huisgenoot so ’n spesiale handelsmerk is: gewone mense en gewone kwessies vorm die grootste deel van ons inhoud. Die geheim is dus in die mengsel van inhoud. Ons fokus ook dikwels op die ervaringe van glansmense met wie ons lesers juis kan identifiseer. Al die toetse en uitdagings in Saktyd is juis so ontwerp om seker te maak ons kry iemand wat alle aspekte van die tydskrif verstaan en altyd ons lesers eerste plaas.

Wat is vir jou die lekkerste en die moeilikste dinge van joernalis-wees – en sal jy dit werklik, ten diepste, vir iemand anders aanbeveel?

Absoluut. Dis ’n wonderlike voorreg om ’n werk te hê wat jou uitdaag om gemeenskappe te vorm en dan inhoud te skep wat werklik ’n verskil maak. Nie net inlig nie, maar ook inspireer. Die moeilikste ding van joernalis-wees is om seker te maak jy vertel die regte stories wat jou teikenmark gaan fassineer – en dikwels om jou eie voorbehoude te laat gaan.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top