Goue lint, my storie begint-rubriek: die waarde van illustrasies in kinderboeke

  • 1

Die Bazoo-illustrasie is verskaf en verskyn met toestemming (dit word met vergunning van Renie Theron van Ebony Books geplaas)

Anke Theron skryf voortaan ’n nuwe kinderboekrubriek vir LitNet. Hier onder is een van die eerste aflewerings.


Wat het ’n stopteken, ’n rooilig en ’n geel driehoek gemeen? Wat sê jou visuele geletterdheidsvaardighede? Al drie hierdie dinge beteken stop, gevaar of stop want daar is gevaar en dit is rooi. Rooi beteken gevaar, of dalk liefde ...

Dink nou aan jou gunsteling-kinderboek. Hoe lyk die omslag? Hou nou vas aan daai herinnering in jou geestesoog. Illustrasies is waarskynlik die belangrikste element in ’n kinderboek, naas die storie self. Hoekom? Want dit is hier waar kinders hul eerste blootstelling aan verbeelding, kleur, vorms en die poorte na kognitiewe ontwikkeling betree. Hul eerste kennismaking met visuele geletterdheid is die rooi driehoeke en harte in prenteboeke.

In hierdie gesprek gaan daar drie sfere bymekaar getrek word sodat die rol en waarde van illustrasies in kinderboeke beklemtoon word.

Eerstens sal die rol wat illustrasies in kinders se ontwikkeling speel, vlugtig bespreek word aan die hand van ’n artikel deur Katrin Oddleifson Robertson, “Read illustrations to improve literacy skills” (2012).

Tweedens sal die rol wat illustrasies binne die onderwysruimte speel, en die aanleer van lees en visuele geletterdheid as ’n vaardigheid bespreek word aan die hand van Hana Hladíková se artikel, “Children’s book illustrations: Visual language of picture books” (2014).

Laastens sal die werk van enkele illustreerders in die Afrikaanse kinderboekbedryf belig word. Daar sal gefokus word op hoe hulle werk bydra tot die lewensvatbaarheid en gewildheid van kinderboeke in die Suid-Afrikaanse konteks.

Dit is dalk nie iets waaraan mens dink as jy besig is met die geletterdheidsvaardighede van leerders nie en hoekom kinders nie lief is vir lees of waarom Suid-Afrika se kinders sukkel met lees nie, maar visuele geletterdheid is ’n belangrike deel van ’n kind se ontwikkeling. In baie opsigte is dit die deur tot die aanleer van leesvaardighede, asook hoe ons alledaagse simbole soos padtekens lees.

Visuele geletterdheid en illustrasies

........
In ons alledaagse lewe word ons gebombardeer met visuele tekste wat spreek tot ons begrip van prente, diagramme, vorms, kleure, ensovoorts. Dit is deel van die aandag-ekonomie van die moderne wêreld, veral die tegnologiese sosiale media-wêreld.
En waar begin ons vir ons kinders leer hoe om sin te maak uit al hierdie visuele tekste? Dit is juis die antwoord wat illustrasies in kinderboeke vir ons bied.
........

Dit is in belang van kinders se geletterdheid om visuele tekste te kan “lees”. Oddleifson Robertson se artikel in PBS Kids for Parents bespreek die belangrikheid van die vaardighede wat illustrasies vir kinders help ontwikkel vanaf ’n jong ouderdom. Dit vind lank voor hulle werklik leer lees al plaas.

Sy begin haar artikel met al die goeie dinge omtrent voorlees vir jong lesers en kleuters wat ons alreeds weet. Die voordele om intieme tyd met jou kinders te spandeer en vir hulle slaaptydstories te lees. Daar is ook die taalwaarde van hierdie aktiwiteite omdat dit kinders help om taalstrukture, grammatika en uitspraak te internaliseer en so hul spraak help ontwikkel.

Die belangrikste aspek wat sy uitwys is: “How many of us, though, think to ‘read’ the illustrations in a book with the same amount of attention and care that we read the words? And why might this be important?” (Oddleifson Robertson 2012).

Dit is die heel interessantste ontdekking: In ons alledaagse lewe word ons gebombardeer met visuele tekste wat spreek tot ons begrip van prente, diagramme, vorms, kleure, ensovoorts. Dit is deel van die aandag-ekonomie van die moderne wêreld, veral die tegnologiese sosiale media-wêreld. En waar begin ons vir ons kinders leer hoe om sin te maak uit al hierdie visuele tekste? Dit is juis die antwoord wat illustrasies in kinderboeke vir ons bied.

As ons kinders wil grootmaak wat intelligente, ingeligte verbruikers en lesers van visuele tekste sal wees, dan is dit van uiterste belang om ons kinders te wys en te leer hoe om visuele tekste en visuele elemente te kan “lees” vir betekenis. “If we want our children to be intelligent and discerning consumers of visual information, we need to teach them how to read visual compositions for meaning” (Oddleifson Robertson 2012).

Nou is die vraag, maar hoe en waar begin ons? Dit is die lekker deel om te beantwoord. Oddleifson Robertson noem verskeie voorbeelde, maar die redelik algemene praktyk wat in kleuterskole gebruik word, is om te praat van “kom ons stap met ons oë deur al die prentjies in ’n nuwe boek voordat ons dit lees”. Ouers kan alreeds van peuter- of babastadium hierdie metode volg (en sommer die boek langer laat hou, omdat ons hom ’n paar keer gaan lees). Gesels oor die illustrasies, selfs meer as wat jy net die teks voorlees.

........
Dink ook aan kleuters wat dit geniet om deur ’n karton- of prenteboek te blaai. Dit is eintlik lees, want die illustrasies vertel ook ’n storie. Laat die kind vir jou vertel wat hulle dink in die prente gebeur, want wie het gesê daar is net een storie in ’n enkele boek.
........

Dink ook aan kleuters wat dit geniet om deur ’n karton- of prenteboek te blaai. Dit is eintlik lees, want die illustrasies vertel ook ’n storie. Laat die kind vir jou vertel wat hulle dink in die prente gebeur, want wie het gesê daar is net een storie in ’n enkele boek.

Illustreerders en skrywers werk nou saam om die storie te vertel. Partykeer gebeur die raar maar waar verskynsel en die skrywer is ook die illustreerder. Hladíková (2014:23) beklemtoon ook in haar artikel dat die illustrasies nie net ’n duplisering van die teks is nie en dat die illustrasies die verhaal moet aanvul. Dus is dit die moeite werd om die illustrasies in kinderboeke mooi deur te kyk en te bestudeer. Gesels daaroor met jou kleuter en vertel vir jou baba en peuter oor die kleure, vorms en die assosiasies wat ons maak met daardie kleure en vorms. Op hierdie manier word die illustrasies eers bespreek voordat die teks aangedurf word.

Verder bespreek Oddleifson Robertson (2012) hoe kleure, vorms, voorwerpe en lyne of kwas-/penhale geïnterpreteer kan word. Hier dink mens aan hoe rooi met gevaar en liefde geassosieer word en hoe ons weet waar die verskil lê, is gewoonlik nou verbind met die vorms wat daarmee saam gebruik word. Dink byvoorbeeld aan ’n toegee- of stopteken. Wanneer ons die woorde lees bevestig en verbreed dit die inligting wat ons in die prent of illustrasie gelees het.

Wanneer ons dink aan lyne, is daar stippellyne wat die lyn kan laat huppel, en vet, dik lyne teenoor dun, maer lyne wat vir ons ander boodskappe probeer oordra. Dink byvoorbeeld aan die padteken vir ’n pad wat van ’n teerpad oorgaan in ’n grondpad.

’n Suid-Afrikaanse padteken (Wikimedia Commons, publieke domein)

Vorms het ook ’n spesiale impak op ons visuele geletterdheid. Dink hier aan perspektief, met ander woorde: groter vorms hoe nader dit aan die leser is en kleiner hoe verder weg, of dalk daai snaakse skuinsgedrukte reghoek – want dit stel ’n driedimensionele voorwerp voor. Dus is die verhouding tussen vorms en voorwerpe belangrik in die ontwikkeling van visuele geletterdheid en uiteindelik hoe ’n kind sy wêreld om hom sal verstaan, begryp en interpreteer.

Laastens is die mees voor die hand liggende praktiese motivering om kinderboeke met goeie, pragtige illustrasies in jou kind se leeslys in te werk vanaf so jonk moontlik, dat hul lewe propvol visuele tekste sal wees. Dink hier aan al die padtekens, kennisgewings, byvoorbeeld ’n geel driehoek op ’n blou agtergrond beteken dat die voertuig iets sleep, soos ’n sleepwa, woonwa of spesiaal-aangepaste sleepwa vir ’n boot of fietse. Of iets wat elke ouer vir hul kinders behoort te leer, dat ’n geel driehoek met ’n skedel op beteken iets is gevaarlik en moontlik giftig. Instruksieblaaie, advertensies op die TV, sosiale media, en dink ook aan daardie emoji’s wat ons almal so gereeld gebruik.

Oddleifson Robertson (2012) se hoofargument is dus dat illustrasies in kinderboeke ’n kardinale rol speel in kinders se ontwikkeling en opvoeding om visuele stimuli, tekste en inligting te interpreteer en te verstaan. Dit sal hulle in staat stel om die wêreld as ingeligte visuele lesers te navigeer.

Visuele geletterdheid in skole

Visuele geletterdheid is eintlik so deel van ons bestaan dat dit belangrik genoeg geag word om dit amper in elke skoolkurrikulum wat in SA aangebied word (CAPS, IEB, Cambridge en Oxford), in te sluit. Dit is ten minste vir die laaste 30 jaar deel van die finale skoolverlaterseksamens. Dit strek van advertensies, strokiesprente tot spotprente. Dit is hier waar van Suid-Afrika en Afrikaans se bekendste strokiesprentkunstenaars hul naam gemaak het.

Hande op, wie het ’n Fred Mouton, TO Honiball of Idees vol vrees-spotprent of -strokie in hul eindeksamen-vraestel gekry in matriek? Of wat van Madam en Eve, Hägar die Verskriklike of Louis die Laeveld-leeu?

Die vaardighede wat met hierdie visuele tekste getoets word, het jy alreeds begin aanleer toe jy as kleuter geleer het oor vorms, voorwerpe en kleure en hoe hulle geassosieer word met emosies, konsepte en abstrakte denke. Hladíková stel dit soos volg:

The visual language of picture books plays a crucial role in engaging a wide audience, including non-readers, and fostering a lifelong love for reading. Picture books serve as a tool for encouraging children to read, contributing to their academic and personal growth. (Hladíková 2014:23)

Ons moet ook nie vergeet dat hierdie visuele tekste ook in die koerante, tydskrifte en selfs aanlyn media voorkom nie. Daar is waarskynlik nog ’n hele paar generasies wat die strokies- en spotprente in die Vrouekeur of Huisgenoot se gedrukte vorm onthou.

Daarom is dit nie net belangrik vir jou kind se toekomstige akademiese prestasie om sy of haar visuele geletterdheid te bevorder deur tyd te spandeer aan die illustrasies in hul kinderboeke nie, maar deel van die groter integrale proses van sosialisering en funksionering in die moderne en tegnologiese samelewing.

Die groot vraag is dan eintlik wie staan agter die maak van hierdie bronne? Dit is waar die boekbedryf ter sprake kom en Hladíková verduidelik in haar artikel watter rol die ontwikkeling van dié bedryf in kinderboeke gespeel het.

Kinderboeke en die boekbedryf

Hladíková benader haar argument vir die belangrike rol wat illustrasies in kinderboeke speel deur na die geskiedenis en ontwikkeling van die kinderboek te verwys.

Sy lig die verbetering en vooruitgang van die produksie van boeke en spesifiek vir boeke vir kinders uit. Die belangrikste wendings vir kinderboeke, in die laat 1800’s en begin 1900’s, is wanneer die produksie en die aard van kinderboeke verander. Dit word met die eksplisiete doel vir kinders geskryf en uitgegee om te lees en te geniet. Dit is ook in hierdie tyd dat al hoe meer boeke vir kinders begin verskyn. Dit wil sê kinderboeke vir kinders in ’n taal met temas en inhoud wat hulle sal verstaan en kan verteer. Wat spesifiek gemik is op hulle ervaringswêreld. Dit is grotendeels te danke aan die vooruitgang van tegnologie, soos die drukpers en die kommersiële beskikbaarheid en bekostigbaarheid van boeke vir die alledaagse persoon op straat. Omdat boeke nie meer met die hand geskryf en gemaak moes word nie, het ook prenteboeke begin posvat.

Hladíková (2014:20) is ’n voorstander daarvoor dat kinderboeke, spesifiek prenteboeke, die wêreld vir kinders oopmaak en verstaanbaar maak lank voordat hulle leer om te lees. Hul woordeskat word uitgebrei met beide verbale en visuele verwysings.

Sy noem verder dat prenteboeke help om kinders se kognitiewe ontwikkeling te bevorder deurdat dit help met die onthou van inligting, die aanleer van sekwensiële patrone, patrone wat herhaal, die reproduksie van patrone, asook die ontwikkeling en verbetering van konsentrasievermoë, woordeskatontwikkeling, ontwikkeling van verbeelding en laaste maar nie die minste nie, die vermaakaspek van mooi prenteboeke.

Nóg ’n aspek van kinder- en prenteboeke is dat dit die vermoë het om generasies saam te bring. Hoe lekker lees ’n ouer of grootouer nie aan ’n kinderboek saam met hul kind of kleinkind nie? Dit skep die omstandighede waar volwassenes en kinders saam kan lees en gesels. Dit is ook hier waar lees met genot geassosieer word.

Die imperatiewe rol wat illustrasies in ’n kinderboek moet speel, volgens Hladíková (2014:21) is

to take the written story to a new level of entertainment. The artwork should stand for as much of the story as the words, expanding the story without duplicating the text itself while acting as a mediator between the text and the reader, allowing the reader “to feel the words”.

Illustrasies moet as deel van die teks gesien word en ook so “gelees” word. Die mooi prentjies is nie net ’n bysaak nie, maar vorm ’n geïntegreerde deel van die algehele verhaal. Die illustrasies dra die teks en die teks verbreed en brei die illustrasies se betekenis verder uit. Illustrasies het dus ’n baie belangrike rol te speel, selfs vir lesers wat nie meer kinders is nie. Soms vergeet ons as volwassenes om ’n bietjie meer aandag aan die illustrasies te gee.

........
Die grootste uitdaging vir uitgewers van kinder- en jeugboeke is om die regte illustreerder vir ’n bepaalde boek te vind, sodat dit goed sal verkoop. Die illustreerder se styl en medium moet gepas wees vir die verhaal.
Uiteraard moet die skrywer en illustreerder nou kan saamwerk en goed oor die weg kom ten einde ’n suksesvolle boek te lewer.
........

Hladíková maak ons as volwasse lesers bewus van die integrale rol wat illustrasies in kinderboeke werklik speel. Dit is deel van kinders se oriëntasie vir hoe om die wêreld om hulle te interpreteer en te verstaan. Dit berei hulle voor vir akademiese praktyke op skool en sosialisering in die algemene samelewing.

Die boekbedryf is as’t ware die drywer van hierdie baie belangrike tekste en natuurlik gaan bemarking en die uitdagings van ’n kapitalisties-gedrewe ekonomie hiermee saam.

Die grootste uitdaging vir uitgewers van kinder- en jeugboeke is om die regte illustreerder vir ’n bepaalde boek te vind, sodat dit goed sal verkoop. Die illustreerder se styl en medium moet gepas wees vir die verhaal. Uiteraard moet die skrywer en illustreerder nou kan saamwerk en goed oor die weg kom ten einde ’n suksesvolle boek te lewer.

Afrikaanse en Suid-Afrikaanse illustreerders

Nou kom ons Afrikaanse en Suid-Afrikaanse illustreerders aan die beurt en daar is geen tekort aan talent en vaardigheid nie.

LitNet het in 2012 ’n reeks onderhoude met ’n seleksie van Suid-Afrikaanse illustreerders gevoer en dit maak beslis vir interessante leesstof oor hoe hul skeppingsproses werk, waar hulle al oral hul illustrasies ten toon gestel het en hul verskillende agtergronde. Sommige name is meer bekend as ander, maar almal van hulle het iewers ’n belangrike bydrae tot ’n kind se leeservaring gemaak.

  • Alida Bothma
  • Maryke van Velden
  • Chris Venter
  • Diek Grobler
  • Piet Grobler
  • Aletta Dorfling
  • Marjorie van Heerden
  • Alex van Houweling (ongelukkig oorlede in 2020 aan kanker)

Ander illustreerders wat ook al groot naam vir hulself met kinderboeke gemaak het is:

  • Nick Daly (vroeër hierdie jaar oorlede op 15 Januarie)
  • Elsabé Ebersöhn
  • Elanie Bieldt (jong opkomende illustreerder)
  • Gerda Smit (onder die naam O.Griet)
  • Allister Ackermann
  • Vian Oelofsen
  • Tumi K Steyn

Moet ook nie van die skrywer, Fanie Viljoen, vergeet nie, want hy het al ’n hele paar van sy eie boeke geïllustreer. Hy het immers ’n grafiese kuns-kwalifikasie, al is hy bekend vir sy kinder- en jeugboeke.

Die kunsmediums van hierdie lys illustreerders se werk strek ook vanaf waterverf, olieverf, akriel, vetkryt en ander fisieke mediums. Die jonger geslag illustreerders werk meer met digitale mediums. Dit is nog ’n aspek wat in die laaste 20 tot 30 jaar in die bedryf verander het. Illustreerders skep digitale illustrasies, veral omdat dit die produksieproses vir die uitgewers en drukkers vergemaklik.

Die vooruitgang van tegnologie het die produksie, samestelling, skryf en bemarking van kinder- en jeugboeke beïnvloed en ingrypend verander. Dink bietjie aan hoeveel Bookstagrams of BookToks jy al teëgekom het...

Die lys van illustreerders wat genoem is, is nie omvattend nie en daar is beslis vele opkomende illustreerders wat hul talente en hande opsteek vir kinderboekillustrasies. Kyk dus mooi wanneer jy volgende keer ’n nuwe kinderboek koop of by die biblioteek uitneem na die naam naas die skrywer s’n.

Die twee illustreerders wat vir hierdie bespreking uitgesonder sal word, is Fred Mouton en Linki Brand. Elk uit ’n ander generasie en verteenwoordigend van verskillende eras en mediums van illustrasies in Suid-Afrikaanse kindertekste.

Fred Mouton (1947–2022)

Fred Mouton word waarskynlik die beste onthou vir sy spotprente in Die Burger en die illustrasies vir die Bazoo-boeke. Die veelsydigheid van sy illustrasies spreek tot die beginjare van spotprente, soos dié van TO Honiball en die speelsheid en tong in die kies humor in sy kinderboekillustrasies, soos in die Bazoo-karakter.

In Februarie tot Maart vanjaar (2024) is daar ’n uitstalling van Fred Mouton se illustrasies gehou in Stellenbosch by die Oude Leeskamer deur Ebony Books. Bazoo, die skilpad wat in die Fynbosbuurt woon, was die middelpunt van die uitstalling. Dit was iets besonders.

Die maklikste manier om kinders lief te maak vir lees, is deur illustrasie. Kwaliteit illustrasies en outentieke stories speel ’n deurslaggewende rol om lees prettig en boeiend te maak vir ontluikende lesers. (Ebony Books,2024)

Hierdie woorde staan sentraal tot die doel van die uitstalling en ook hierdie artikel. Dit was ook nie ’n tradisionele uitstalling met wyn en ’n ge-oe en aa oor hogere kuns nie. Dit was ’n uitstalling vir kinders om allerhande dinge saam met hul ouers en die karakters van Fynbosbuurt te ontdek. Daar was verskeie tonele wat as afdrukke te koop was. Net soos dit in die boekreeks gebruik is, waar Bazoo as ’n unieke skilpad uitgebeeld word. Die bobbejane is amper ikonies, soos dié van TO Honiball.

Volgens Renie Theron, die “ma” agter Ebony Books, was die doel van die uitstalling om ’n algehele motivering vir lees onder kinders te bevorder. Die bewusmaking en bevordering van leesbegrip en geletterdheid onder jong lesers is die hoofdoel van die Bazoo Projek. Daar is grootdruk of grootboeke beskikbaar vir onderwysers en ’n hele reeks boeke en tydskrifte waarvan Bazoo die bergskilpad deel uitmaak.

Daar was vir kinders (volwasse besoekers ook) ’n werkkaart om in te vul waar jy al die karakters in die galery moet vind. Hulle het oral tussen die afdrukke en aktiwiteite weggekruip. Daar was inkleurprente en interessante boublokke waarmee verskillende tonele uit die boeke gebou kon word. Die heel interessantste was die muur waarteen van Fred Mouton se pragtigste werk hang soos jy by die Oude Leeskamer ingestap het. Agter, teen dieselfde muur, was ’n hele swartbord geverf waarop kinders met bordkryt kon teken. Ja, jy kon maar teen hierdie muur teken, en die kinders het hulself gate uit geniet om die karakters na te teken. Die boodskap was duidelik: Dit moet lekker wees om te lees, en Bazoo was die ster.

Bazoo is nie uit die oude doos nie! Sy stories is beskikbaar op Spotify en word voorgelees deur Deon Lotz. Hy maak die stories lewendig vir klein oortjies en laat mens soms terugdink aan die radiostories van oom Evert Snyman.

Hierdie interaktiewe uitstalling is net nóg ’n voorbeeld van hoe ’n illustreerder se werk lank ná sy afsterwe steeds voortleef en ’n rol kan speel in jong lesers se leeservarings, al kan hul dalk nog nie self lees nie. Dit wys ook hoe ’n illustreerder soos Fred Mouton volksbesit kan word.

Boublokke wat verskillende tonele uit die Bazoo-reeks uitbeeld. (Foto: Anke Theron, met vergunning van Renie Theron van Ebony Books geplaas.)

Die swartbord-muur waar kinders na hartelus kon teken. (Foto: Anke Theron, met vergunning van Renie Theron van Ebony Books geplaas.)

Ula Uil, een van die karakters wat wegkruip in die vensterbank. Daar was agt karakters om te vind. (Foto: Anke Theron, met vergunning van Renie Theron van Ebony Books geplaas.)

Linki Brand

’n Illustreerder wie se visuele tekste beslis buite die boks rondloop, is Linki Brand. Sy het al ’n hele rits kinderboekillustrasies en omslagillustrasies gedoen, vir beide Afrikaanse en Engelse boeke. Sy het selfs ’n ATKV-Kinderboektoekenning ontvang vir Magriet die stadshoender (2020). Sy werk al vir ’n aantal jare uit die buiteland. Eers ’n paar jaar vanuit Edinburgh, Skotland en meer onlangs vanuit Bergen, Noorweë. Al die pad oor die groot oseaan. Hoe werk dit? Sy werk digitaal!

Sy is deel van ’n jonger geslag illustreerders en werk grootliks digitaal, maar gebruik ook tradisionele mediums in van haar werk. Brand se styl is helder, kleurvol en kontrasterend. Sy het ’n gouache-tipe aanslag, met helder, diep, versadigde kleure en ’n voorkeur vir rooi-, geel- en turkoois-skakerings en -ondertone. Veral die kontrastering van rooi teenoor turkoois en geel en oranje, soos in die Magriet-reeks en in Sylvester: Ramkat van die Groot-Karoo en Wetenskaap.

In haar onderhoud met Henrico Greyling vertel sy dat haar keuse vir kleure en styl dikwels deur die verhaal bepaal word.

Die storie se trant en gevoel (asook die skrywer se skryfstyl) gee vir my ’n aanduiding van die styl. Ek dink ook, omdat ek jare met korporatiewe handelsmerkidentiteite gewerk het, is daar hierdie bewustheid in my dat my styl moet aanpas by die identiteit van die storie en ook moet spreek tot die teikenmark van die spesifieke boek. Ek is vreeslik bewus van wie die storie gaan lees terwyl ek op ’n styl besluit. (Greyling 2020)

Gaan loer gerus na haar webtuiste. Haar werk is beslis ’n lushof van kleure, teksture en stories.

Haar boekillustrasies sluit die volgende kinder- en jeugboeke in:

  • Flippie word ’n vlieg (2022)
  • Mary Anning’s grewsome beasts (2021)
  • Vaandeldraers (2021)
  • Bastian Blom (2020)
  • Wetenskaap (2020)
  • Magriet-reeks (2020)
  • Halala Job Maseko! (2020)
  • Rooimiere-in-die-broek idioominkleurboek (2020)
  • Jill and the beanstalk (2020)
  • Sylvester: Ramkat van die Groot-Karoo (2020)
  • Draakasem (2019)
  • Brother swan (2018)
  • Gokul’s game (2018)

Die buitebladillustrasies van die volgende boeke het ook ’n bepaalde styl, waar foto’s, lynsketse en kleur illustrasies saam gebruik word om besonderse treffende omslae te skep.

  • Time of the swallows (2022)
  • Mixtape van die liefde (2022)
  • Toe ons in Ghrieshuis was (2021)
  • Baster (2020)
  • Offers vir die vlieë (2020)
  • Wolk (2020)
  • Die 17de veer (2020)
  • Môre as ons groot is (2020)
  • Iemand wat verdrink (2020)
  • Padkaart van ’n speurder (2013)

Jy kan selfs gaan kyk na hoe sy haar illustrasies skep in digitale formaat by hierdie skakels:

Omdat die illustrasies digitaal gedoen word, kan Brand vanaf enige plek in die wêreld werk en dit via die internet aan die uitgewers, grootliks Penguin Random House SA/LAPA, stuur. Dit vergemaklik ook die produksieproses omdat geen illustrasies ingeskandeer of verwerk hoef te word nie. Dit word reeds in die finale vorm aangestuur.

Haar illustrasies verskil nie net in styl met dié van Fred Mouton nie, maar sy werk digitaal, waar Mouton verkies het om met fisiese elemente en toerusting te werk. Dit is ook belangrik om in ag te neem dat die illustrasies in totaal verskillende publikasies verskyn: koerante teenoor kinderboeke. Mouton se illustrasies was meestal in houtskool, grafiet, of ink en waterverf. Waar Brand gemengde mediums en digitale illustrasies doen. Hierdie twee illustreerders se werk help kinders om stories te ervaar en te verstaan in hul “taal”, ’n taal van prentjies.

Ten einde was hierdie reis van illustrasies vir kinderboeke ’n wye omwenteling. Volgens Oddleifson Robertson (2012) en Hladíková (2014:20) is dit duidelik dat die illustrasies in kinderboeke nie net vir die mooi is nie. Illustrasies is waar ’n kind begin leer hoe om visuele tekste te lees, te interpreteer en die fondasie bou vir hoe ons as volwassenes in die lewe funksioneer. Visuele tekste is oral om ons – padtekens, gevaartekens, aanwysings, die “instruction manual” van die nuutste toestel of tegnologiese speelding, tot die advertensies en sosiale media wat jou oorreed om daardie tegnologiese speelding te koop.

........
Visuele geletterdheid is eintlik só belangrik dat dit in skole en kurrikulums as belangrik geag en getoets word tot op graad 12-vlak. En die wortels van hierdie vaardighede lê nêrens anders as in daardie kinderboek van kleure en vorms nie.
........

Visuele geletterdheid is eintlik só belangrik dat dit in skole en kurrikulums as belangrik geag en getoets word tot op graad 12-vlak. En die wortels van hierdie vaardighede lê nêrens anders as in daardie kinderboek van kleure en vorms nie. Waar ’n kind begin leer dat rooi hartjies beteken liefde. Dit is ook hierdie leeservarings wat volwassenes (ouers en grootouers) se verhoudings met hulle kinders en kleinkinders versterk. Kinders kry ’n sosiale opvoeding in die proses en geniet dit – alles omdat daar sulke mooi prentjies is.

In Suid-Afrika het illustreerders soos Fred Mouton diep spore getrap en die weg gebaan vir jonger illustreerders wat nog interessante spore in die hedendaagse boekbedryf gaan trap, of teken. Die rol wat die ontwikkeling en vooruitgang van tegnologie gespeel het in die bemarking van kinderboeke en illustrasies, het die landskap van kinderboeke onherroeplik verander, maar ook die horisonne verbreed. Linki Brand kan in ’n ateljee in Bergen, Noorweë sit en ’n pragtige buiteblad ontwerp en illustreer vir ’n boek wat in Afrikaans in Suid-Afrika uitgegee word.

Illustrasies in kinderboeke is om al hierdie uitgebreide redes een van die belangrikste elemente in ’n kind se reis om eendag ’n leser te word. Kyk na al daardie mooi prentjies, daar skuil veel meer betekenis as wat ons besef. Gesels daaroor met jou kind, want dit lê ’n grondslag wat nog lank gaan deel wees van hulle vaardighede en visuele geletterdheid. En wie weet, dalk red dit iemand (of ’n karakter) se lewe.

  • Die foto’s is met die vergunning van Renie Theron en Ebony Books, die uitgewers van Bazoo se vele avonture, geneem. Bestel gerus ook jou kopie van ’n Bazoo-storie: https://www.ebonybooks.co.za/

Bronnelys:

Bazoo. 2024. [Uitstalling]. Oude Leeskamer, Stellenbosch. Februarie–Maart 2024.

Brand, L. 2024. Met wie praat ek op Sondagaand? Deel 1. The Soletscheeres Podcast. https://soletscheeres.podbean.com/e/met-wie-praat-ek-op-sondagaand-linki-brand-1/? (19 Mei 2024 geraadpleeg).

Brand, L. 2024. Met wie praat ek op Sondagaand? Deel 2. The Soletscheeres Podcast. https://www.patreon.com/posts/met-wie-praat-ek-107181520? (19 Mei 2024 geraadpleeg).

Ebony Books. 2024. Bazoo se Wonderwêreld soos geïllustreer deur Fred Mouton. Uitstallingskatalogus. Oude Leeskamer: Stellenbosch. 13 Januarie 2024. 

Greyling, H. 2020. Onderhoud met Linki Brand. Storiewerf. https://storiewerf.co.za/2020/08/07/kuier-by-linki-brand/ (10 Augustus 2024 geraadpleeg).

Hladíková, H. 2014. Children’s book illustrations: Visual language of picture books. Studia Comeniana, 28(1):11–22. http://archive.sciendo.com/CRIS/cris.2014.2014.issue-1/cris-2014-0002/cris-2014-0002.pdf (18 Februarie 2024 geraadpleeg).

Linki Brand. https://linkibrand.com/projects (5 Augustus 2024 geraadpleeg).

Oddleifson Robertson, K. 2012. Read Illustrations to Improve Literacy Skills. PBS KIDS for Parents Online. https://www.pbs.org/parents/thrive/read-illustrations-to-improve-literacy-skills (19 Mei 2021 geraadpleeg).

Slippers, B. 2012. SA-illustreerders: Aletta Dorfling. LitNet. https://www.litnet.co.za/sa-illustreerders-aletta-dorfling/ (8 Augustus 2024 geraadpleeg).

Slippers, B. 2012. SA-illustreerders: Alida Bothma. LitNet. https://www.litnet.co.za/sa-illustreerders-alida-bothma/ (8 Augustus 2024 geraadpleeg).

Slippers, B. en A. van Houwelingen. 2012. SA-illustreerders: Alex van Houwelingen. LitNet. https://www.litnet.co.za/sa-illustreerders-alex-van-houwelingen/ (8 Augustus 2024 geraadpleeg).

Slippers, B. en C. Venter. 2012. SA-illustreerders: Chris Venter. LitNet. https://www.litnet.co.za/sa-illustreerders-chris-venter/ (8 Augustus 2024 geraadpleeg).

Slippers, B. en M. van Heerden. 2012. SA-illustreerders: Marjorie van Heerden. LitNet. https://www.litnet.co.za/sa-illustreerders-marjorie-van-heerden/ (8 Augustus 2024 geraadpleeg).

Slippers, B. en M. van Velden. 2012. SA-illustreerders: Maryke van Velden. LitNet. https://www.litnet.co.za/sa-illustreerders-maryke-van-velden/ (8 Augustus 2024 geraadpleeg).

Slippers, B. en P. Grobler. 2012. SA-illustreerders: Piet Grobler. LitNet. https://www.litnet.co.za/sa-illustreerders-piet-grobler/ (8 Augustus 2024 geraadpleeg).

Lees ook:

Leesbegrip? ’n Kinderboek kan jou kind se wêreld oopbreek

Volwassenes moet lees sodat kinders stories kan vind

Die sleutel tot die vreugde en plesier van kinderboeke

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top