SA-illustreerders: Alida Bothma

  • 4

Naam
: Alida Bothma

’n Skrikkel, deur Alida Bothma

 

Wat is jou "day job"? 

Ek is voltyds kunstenaar: illustreerder en skilder. Ek spandeer heelwat tyd om vir uitstallings te skilder en wissel dit af om kinderboeke te illustreer. Ek en my man het ook ons eie kunsgalery in Port Elizabeth, so tussenin is ek daarby ook betrokke.

 

In watter publikasies verskyn jou werk?

Van die bekendstes is seker Goue lint my storie begint en Goue fluit my storie is uit (Tafelberg), Nou wil almal sien en Al Everest se voëls, lg twee geskryf deur Rona Rupert (Human & Rousseau). Meer onlangs is daar Woordreise en Rymreise (Nasou Via Afrika) en Prinses Mossienes (geskryf deur Wendy Maartens, Lapa). Altesaam is dit seker sowat 160 boeke.

 

Hoe het die illustrasie-gogga jou gehap? 

Toe ek vir ’n advertensieagentskap gewerk het in Kaapstad net nadat ek geswot het, het Tafelberg van my werk raakgesien en vir my gevra om ’n boekvoorblad van een van Rona Rupert se boeke te ontwerp. Daarna het ek ’n manuskrip van Rona gekry en uiteindelik het ek voltyds begin illustreer.

In watter medium werk jy, en waarom verkies jy dié spesifieke medium? 

Dit is vir my lekker om te eksperimenteer met tegnieke en media, en ek hou daarvan om hulle te meng. Dit sluit oa in waterverf, ink, houtskool, olieverf, pastel en collage in verskillende kombinasies. Ek raak gou verveeld om in dieselfde medium te werk, daarom pas afwisseling my goed.

Is daar spesifieke genres of tipes tekste wat jy die graagste illustreer? 

Ek hou nogal van uiteenlopende soorte tekste. Dis vir my heerlik as fantasie deel uitmaak van ’n kinderstorie, waarvan sprokies ’n goeie voorbeeld is. Maar aan die anderkant van die skaal is ek mal oor gedigte illustreer, en nie net vir kinders nie. Ek sal graag kunswerke wil maak vir Afrikaanse gedigte wat as ’n koffietafelboek uitgegee kan word.

Illustrasie deur Natalie Pudalov


Wie is jou illustrasiehelde? Is daar ander illustreerders wat jou ontwikkeling as illustreerder en jou styl beïnvloed het?

Ek waardeer goeie tekenwerk baie, en daar dink ek veral aan mense soos Arthur Rackham en Carl Larsson. Ek hou van die oorspronklikheid en uitleg van die illustrasies van Natalie Pudalov. My vriendin van Iran, Fereshteh Najafi, se ryk kleurgebruik geniet ek baie. Ek hou ook van die eenvoud en lyngebruik van Renate Habinger. Ek dink nogal mens se styl word tog op ’n manier beïnvloed deur ander kunstenaars, al is mens nie noodwendig bewus daarvan nie. Vroeër jare was ek geïnspireer deur illustreerders soos Bernadette en Victor Ambrus.

Lees jy graag, en indien wel, wie is jou gunsteling-skrywers? 

Daar is baie. Die eerstes aan wie ek dink, is Paul Coelho, Khaled Hosseini, Aravind Adiga, Yann Martel, Barbara Kingsolver. Dis nou almal internasionale mense wat ek genoem het. In Afrikaans is daar so baie! Ek reis self baie graag, en geniet dan ook reisvertellings, soos Dana Snyman se werk. Dan is daar Afrikaanse digkuns wat my baie na aan die hart lê – so baie digters van toeka en nou wat te veel is om uit te sonder.

Wat is die een bestaande teks wat jy die heel graagste sou wou illustreer?
 
Daar is heelwat sprokies wat ek graag onder hande sou wou neem – maak nie erg saak watter een nie!

Saam met watter skrywer, lewend of dood, sou jy die graagste wou werk, en waaroor sou die fiksionele boek handel waaraan julle werk?

Ek sou graag een van Rona Rupert se eerste boekies, Koningskind van die Hantam, wou illustreer met groot helderkleurige illustrasies en dit nuut uitgee in ’n groot formaat. (Dit is destyds as ’n klein swart-en-wit boekie uitgegee). Ek sal ook graag saam met Antjie Krog wil werk. Dalk kan die boek gaan oor die drome van ’n kind?

Het jy ’n ideale leser/gehoor in gedagte wanneer jy ’n illustrasie maak?

Ek probeer die teks en illustrasies sien deur die oë van ’n kind.

Is daar een illustrasie/illustrasieprojek uit jou loopbaan wat uitstaan as absolute gunsteling?
 
Ek hou van bundels illustreer. Stories: Goue lint my storie begint (Tafelberg); Gedigte: Woordreise (Nasou Via Afrika).

Keer terug na die SA-illustreerders indeksblad.

 

  • 4

Kommentaar

  • Elmarie Waltman

    Fantasties! So lekker om meer oor illlustreerders te sien. Wie gaan eendag hulle biografie skryf? Ons het definitief 'n nuwe Kannemeyer nodig!

    Dankie dat jy steeds so aktief illustreer Alida - Rona Rupert se boeke het baanbrekerswerk gedoen destyds. Dit is die boeke waarmee ek grootgeword het.

    Jou styl is baie uniek, moet nooit ophou teken nie! 

  • Bibi Slippers

    Hi Elmarie

     
    Ek is bly dat jy die reeks oor illustreerders geniet.  As daar enige ander illustreerders is van wie jy graag 'n profiel sou sien, laat weet asseblief!  Ek sal hulle probeer opspoor.  Dis nou nie heeltemal Kannemeyer nie, maar darem iets, ne?
     
    Mooi dag
    Bibi
  • Alida se illustrasies is volgens my mening Afrikana en maak 'n integrale deel uit van my eie visuele geletterdheid. Dankie vir die kosbare reeks oor illustreerders, ek volg dit getrou! 'n Profiel wat ek graag sou wou sien is dié van Angus McBride (veral bekend vir sy sketse van Langenhoven se verhale). 

     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top