
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Die vyf susters
Skrywer: Eleanor Baker as Alex Muller
ISBN: 9780798185042
Uitgewer: Human & Rousseau
Het jy al een van daai boeke gekry wat jou vies maak as daar iets gedoen moet word wat jou lees onderbreek? Ek praat van amper ongeskik vies, nie die dis-maar-oukei-vies nie. Dit is ’n boek wat die wêreld en tyd vir ’n ruk onbelangrik maak. Trump, Poetin en Hamas, selfs Eskom en die RNE is totaal onbelangrik, en selfs vergete.
Die disfunksionele Delport-susters het my geheel en al gevange geneem vanaf die eerste bladsy van Die vyf susters, wat geskryf is deur Eleanor Baker onder die skrywersnaam Alex Muller tussen 1998 en 2003. Nou is dit onder haar eie naam uitgegee deur Human & Rousseau, ’n druknaam van NB-Uitgewers. Dit is die eerste van vyf ligte spanningsverhale, waarin moord-en-roofspeurder Adriaan Kruger ingewikkelde sake oplos.
Adriaan lewe vir sy werk; dis amper al wat hy doen, om die verlange na sy oorlede vrou te verdryf. Hy vou origami, wat hom help dink. Vir sy kollegas lyk sy seilskepe soos kraanvoëls en die voëls soos skepe. Karien, die hoofverdagte in die moord op die oudste Delport-suster, sien die gevoude papier vir dit wat dit veronderstel is om te wees.
Die bure weet niks van die Delport-susters af nie, en dit maak hierdie ondersoek vir Adriaan ingewikkeld.
Karien is die jongste van die vyf susters. Sy is deur haar susters grootgemaak nadat haar ouers gesterf het toe sy baie jonk was. Sy is byderwets, selfversekerd en hardkoppig. Karien maak geen geheim daarvan dat sy Rosa, die oudste suster wat vermoor is, nie kan of kon verdra nie.
Rosa het haar jonger vier susters brutaal met ’n ysterhand geregeer. Sy het geen tyd vir mans gehad nie, en het Karien se verloofde, Philip, die berge ingejaag. Nie heeltemal die berge in nie, maar wel landuit. Karien is ook dik die duiwel in vir hom wat sonder ruggraat nie vir hulle verhouding kon opstaan nie.
Rosa, wat die helfte van elke suster se erfgeld en maandelikse salaris opeis, ook opgestelde take en badtye afdwing, was nie die mees geliefde persoon in die huishouding nie. Die ander vier volwasse susters het haar verafsku, maar was bang vir wat sy hulle kan aandoen. Die onverklaarbare babadood van hulle twee boeties doen Rosa se reputasie by die susters geen guns nie en hulle vrees vir haar gee feitlik vir elke suster ’n motief om haar te kon vermoor, veral omdat die moord plaasgevind het na ’n rusie oor Erfgeld, die televisieprogram waarna Madelief, Jasmyn en Iris gekyk het, wat nie Rosa se goedkeuring gehad het nie.
Madelief en ’n vriendin, Trish, bedryf ’n winkel wat materiaal, wol en benodighede verkoop. ’n Bisarre winkelvensteruitstalling maak ’n stewige kinkel in die kabel en stuur die ondersoek in ’n moontlike ander rigting.
Die tweeling, Jasmyn en Iris, het uit hul werk bedank en is tuis. Nadat Iris met ’n hartkwaal gediagnoseer is, het Jasmyn dit op haar geneem om tuis na Iris om te sien.
Terwyl Adriaan en sy mede-inspekteurs die saak ondersoek en begin sin maak van die interessante Delport-dames, word nog ’n persoon geskiet in die Delport-huis: Philip, Karien se toenmalige verloofde.
Adriaan kom op die toneel af waar Karien met die wapen in haar hand staan.
Philip se moeder is elke skoondogter se nagmerrie. Sy behandel hom soos ’n seuntjie en is gebroke nadat haar kind geskiet is in die Delport-huis. Volgens haar is Karien beslis die moordenaar.
Hierdie whodunit het meer as een moontlike who. Die geheimsinnige, of eerder eienaardige daaglikse lewe van die susters agter die lendelam draadheining en verwaarloosde perseel, is op sigself ’n raaisel.
Ek was so verdiep in hierdie verhaal dat ek almal behalwe Karien wou aankla as moordenaar. Elke karakter het ’n realiteit geword en ek het heerlik saam met hulle gesoek na die moordenaar, net om erg ontnugter te lees dat my kandidaat vir hierdie moord dit nie eers naasteby gedoen het nie.
Hierdie skeefgetrekte gesin het my vir ’n dag lank laat vergeet hoe ek al my rekeninge gaan betaal. Dit is woordlekkerte op steroïde.


