Die (vreemde) einde van ’n koerant deur Barnard Beukman: ’n lesersindruk

  • 3

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Die (vreemde) einde van ’n koerant
Barnard Beukman
Naledi
ISBN 9781067234850

As jy ook die heengaan van die papierkoerant betreur, móét jy hierdie boek lees. Eintlik behoort elke leser hierdie boek op hul boekrak te hê. Dit is ’n waardevolle stukkie geskiedenis – nie net beskryf dit die heengaan van koerante nie, maar ook die waarde wat mense (lesers) aan daardie stukkie papier heg.

Beeld se laaste redakteur, Barnard Beukman, het dit reggekry om met hierdie boek die ongelukkige, in plaas van vreemde, einde van ’n koerant (Beeld) te beskryf.

Die nuus het op ’n gewone Donderdagoggend (13 Junie 2024) gebreek. Die sakenuuswebwerf Moneyweb het berig Media24 gaan die dagblad Beeld, asook drie ander titels, Rapport, Daily Sun en City Press, sluit. Volgens die Moneywebjoernalis Jeremy Maggs sou “die besluit lesers en die Suid-Afrikaanse mediabedryf skok”.

Maggs was heeltemal reg. Eers het almal gedink dis fopnuus. Toe is dit nie. Die hel was los. Beeld was besig om sy 50ste bestaansjaar te vier. Dit kon mos nie?

As redakteur het Beukman ook nie geweet van die koerantbase se planne nie. In die boek probeer hy van die onbeantwoorde vrae beantwoord deur te onthul van wat in die gange en raadsale van Media24 en Beeld afgespeel het. Hy beskryf die openbare wipplankrit van ses maande, om die koerant te sluit, wat gevolg het. Die boek lees lekker met baie stof tot nadenke oor wat dalk eerder kon gebeur het (en hier hang my onderrok as voorstander van ’n gedrukte koerant tot op my voete).

Vir my, as redakteur van ’n gemeenskapskoerant in Noordwes, moet hierdie boek verpligte leesstof wees vir die koerantbase wat in hul kantore met houtpanele sit en besluite neem oor ’n koerant se toekoms, terwyl hulle eintlik heeltemal uit voeling is met die simbiose wat tussen lesers en hul koerant bestaan.

Gewoonlik word dit van die redaksie (of redakteur) verwag om die kalf uit die put te haal – of dit nou is om ’n adverteerder gelukkig te hou, óf te maak of niks fout is nie, terwyl alles om jou besig is om te brand.

Op ’n manier is daar egter skynbaar steeds van ons verwag om bloot te bevestig dat alles eintlik goed verloop. Dit het ’n nuwe vlak van uitdagings geskep oor hoe om personeel in die oë te kyk, om nie eens van lesers te praat nie. (18)

Kortom, daar is maniere om iets te doen, en ook hoe om dit nie te doen nie. Beukman se boek wys duidelik hoe om NIE ’n koerant te sluit nie. Dit was ’n poespas van begin tot einde; dalk te verstane as ’n mens lees “bestuur was nou in die hande van mense wat koerante bloot as ’n toevallige nuusplatform gesien het”. (46)

Behalwe dat die boek oor die einde van die papierkoerant handel, wat genadiglik nog nie op ons gemeenskapskoerante van toepassing is nie, bring Beukman op ’n wonderlike manier hulde aan die toegewyde lesers van Beeld en Rapport. Hy het ’n hele aantal lesersbriewe en -pleidooie teen die sluiting van die koerant in die boek ingesluit en ’n mens raak sommer van vooraf de moer in oor alles wat bygedra het tot die koerante se sluiting. Soos Saartjie Botha, Woordfees-direkteur, wat aangehaal word: “As almal koerante gekoop het, dan was ons nou nie in die situasie waarin ons nou is nie.” (111)

Ek het die boek emosioneel gelees, met die hoop dat hierdie beker my gespaar sal bly. Maar die rooi ligte flikker. Ek sal die boek hoog aanbeveel vir koerantlesers wat die gebeure rondom die sluiting van Beeld en Rapport as gedrukte koerante beter wil verstaan. Verder sal ek die boek bewaar as ’n kosbare deel van ons koerantgeskiedenis.

(Salomé Kotzé is die redakteur van die Klerksdorp Rekord.)

  • 3

Kommentaar

  • Louise Geyser

    Ek kan glad nie aan Beeld of Rapport dink sonder om totaal emosioneel te raak nie. Dit was deel van my DNA, my elkedagse ingelig wees oor die ontaarde lewe waarin ons ons bevind. Aanlynkoerantberiggewing werk glad nie vir my nie. Dit is totaal frustrerend om op en af op jou selfoon te beweeg en kolomme binne jou skerm te laat inpas en ook om die geloofwaardigheid van baie artikels te bevraagteken. Ek is kinderlik opgewonde oor die nuwe Afrikaanse nasionale koerant, Die Papier, wat eersdaags gaan verskyn, opnuut met ons gerespekteerde Barnard Beukman aan die stuur van sake. Maar intussen wil ek baie graag sy boek wat onlangs verskyn het, bekom om insig in die "vreemde of ongelukkige sluiting" van ons geliefde Afrikaanse dagblaaie te verkry. Waar kan ek die boek in Pretoria koop asb?

  • Sandra Pretorius

    Net jammer van die baie drukkersduiwels en taalfoute in die boek. Lyk of dit oorhaastig geredigeer is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top