
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Die (vreemde) einde van ’n koerant
Skrywer: Barnard Beukman
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781067234850
Die (dreigende) einde van redaksionele oordeel
“I know you think you understand what you thought I said, but I’m not sure you realise that what you heard is not what I meant,” aldus Alan Greenspan.
Hierdie aanhaling hang geraam teen my muur, langs die plek waar ek sit en tik. Terwyl ek Barnard Beukman se Die (vreemde) einde van ’n koerant klaar lees en daarna elke onderhoud en bespreking op die internet opslurp, bly Greenspan se woorde by my spook. Ek wonder of Beukman nie dalk soms lus is om van die dakke af te skree nie: “Julle mis ’n belangrike punt!”
Die meeste gesprekke oor die boek fokus op twee sake: eerstens die kultuurhistoriese verlies wat die sluiting van Beeld vir Afrikaans en Afrikaanse media beteken het; en tweedens die onbeholpe manier waarop die mediamaatskappy die proses hanteer het. Beukman skryf openhartig daaroor, sonder om kant te kies.
Maar tussen die bladsye lê ’n groter gevaar wat maklik misgelees word. Dit gaan oor die verlies van iets meer kommerwekkend: die rol van koerante as hekwagters van nuus, en daarmee saam die onafhanklikheid van die media. Beukman haal verskeie bronne aan wat daarop dui dat lesers én joernaliste moet veg vir media-onafhanklikheid (146).
Ek was negentien toe ek oor koerante en joernalistiek onderrig is. Willem de Klerk – oud-redakteur van Die Transvaler en later Rapport – staan met sy een voet op ’n stoel, pyp in die hand, en kerf die beginsels van joernalistiek in sy studente se koppe in. Hy verwys na ons as “julle bliksempies”, maar die lesse was dodelik ernstig. Een van sy belangrikste punte was dat elke koerant sy eie karakter het.
’n Joernalis skryf nie bloot nuus nie; hy skryf vir ’n gemeenskap. “Wanneer jy ’n gemeenskap se koerante verswak,” skryf Beukman, “verswak jy die institusie waardeur die gemeenskap met homself praat” (85). Wanneer ’n koerant verdwyn, verdwyn daardie stem ook.
Hierdie gedagte resoneer met Ton Vosloo se Oor die grense: ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering, waaruit Beukman aanhaal dat vryheid van meningsuiting binne ’n demokrasie op die spel is wanneer koerante verdwyn (118).
Beukman wys daarop dat besluitnemers in groot mediamaatskappye deesdae ver verwyder is van die gemeenskappe wat hulle dien (119). Internasionale navorsing bevestig dat redaksionele onafhanklikheid wêreldwyd onder druk is wanneer eienaarskap, advertensies en politieke invloede nuusbesluite begin stuur. (146)
Teen hierdie agtergrond word die hoofartikel in die laaste uitgawe van Beeld amper profeties: belangrike vryhede – soos toegang tot inligting – kan geleidelik verskraal, terwyl lesers al hoe meer as blote kliënte behandel word (146).
Volgens Jeff Bezos (eienaar van The Washington Post) het die internet die rol van koerante oorgeneem om menings te dra (147). Hy meen die media se funksie bly om die magtiges aan die waarheid te meet, die publiek in te lig, aan te pas en te innoveer, en rekord te hou van die geskiedenis terwyl dit gebeur (148).
Dit is juis hierdie rol wat onder druk is in die nuwe nuuswêreld. Beukman verwys na kitsnuusplatforms waar kunsmatige intelligensie en video toenemend die hoofmedium word (144–145). Die tempo is vinniger en die platforms groter — maar die vraag bly: wie besluit wat werklik nuus is?
Vivanco, ’n mediavideostrateeg, voer aan dat verbruikers al hoe meer hierdie rol oorneem: stroomdienste, sosiale media en inhoud op aanvraag bepaal wat mense wil sien (122). Die vloei van nuus word toenemend deur spoed, klieks en algoritmes gedryf.
In die dae van gedrukte koerante is nuus nie bloot versamel nie, maar gekies. Tydens daaglikse redaksievergaderings is beredeneer oor wat saak maak: watter stories op die voorblad hoort, watter konteks nodig is, en hoe ’n gemeenskap met homself praat (140).
Vandag word daardie proses minder sigbaar. Wat eens deur redakteurs gesif en gerangskik is, bereik die leser nie noodwendig meer in dieselfde samehang nie.
In die laaste hoofstuk bring Beukman hulde, soos met die laaste uitgawe van Beeld, aan getroue lesers oor die 50 jaar van die koerant se bestaan. Ek staar na die voorblad. Probeer alles inneem en opsom vir myself.
Die (vreemde) einde van ’n koerant is nie ’n nostalgiese pleidooi vir ink op papier nie, maar ’n dokumentasie van ’n mediabedryf in oorgang, en van ’n maatskappy wat ’n belangrike besluit opvallend onbeholpe hanteer het. As sodanig sal hierdie boek waarskynlik nog lank as ’n gevallestudie dien vir hoe om – en hoe om nié – ’n besigheid te herstruktureer nie.
Die sluiting van Beeld is ’n reuse verlies vir Afrikaanse media, en Beukman se boek bewaar ’n belangrike stuk geskiedenis. Enigiemand met belangstelling in media, joernalistiek, geskiedenis of besigheid se boekrak sal onvolledig wees indien Die (vreemde) einde van ’n koerant nie daarop pryk nie.
Maar drie dae nadat ek die boek klaar gelees het, bly gemoedsangs knaag.
Wie is die nuushekwagters noudat koerante, gedruk of aanlyn begin verdwyn?
Daar is meer nuus as ooit, maar die hekwagterrol wat eens deur redakteurs vervul is, word toenemend deur algoritmes oorgeneem. Vroeër kon ek soggens werk toe ry en by elke lamppaal sien wat die dag se hoofnuus is. Vandag moet ek self gaan soek – en hoe meer ek soek, en soms net doelloos in die web ronddwaal, hoe beter ‘leer’ die algoritme my voorkeure ken en besluit námens my wat belangrik is.
Daarom pleit Beukman dat lesers en joernaliste meer aktief aan die debat moet deelneem en onafhanklike media ondersteun deur betrokke te raak by onder andere inisiatiewe soos die Afrikaanse Mediastigting (Am). Hul doelstelling is “... die bevordering van ’n goed ingeligte samelewing deur die versterking van onafhanklike Afrikaanse media en joernalistiek, asook die waarde daarvan” (150).
Dit is hoekom Die (vreemde) einde van ’n koerant uiteindelik oor meer as die einde van ’n koerant gaan.
Dit gaan oor wié in die toekoms besluitreg het oor wát as nuus tel.
Lees ook:
Die (vreemde) einde van ’n koerant deur Barnard Beukman: ’n lesersindruk



Kommentaar
Interessante boek, jammer dat dit ontsier word deur so baie druk- en taalfoute. As mens so baie vir 'n boek betaal verwag 'n mens dit nie.