
Carmen (Foto: Oscar O’Ryan)
...
Dit is Carmen se heerlike moedswilligheid wat van haar so ’n tydlose en draaglike karakter maak.
...
Opera: Carmen.
Met: Nonhlanhla Yende, Lukhanyo Moyake, Vuvu Mpofu, Conroy Scott, Graham Bourne, Brittany Smith, Nica Reinke, Van Wyk Venter, Riaan Hunter, Mandisinde Mbuyazwe, Dumisa Masoka en Kristen Pienaar.
Ontwerp: Gregory King
Beligting: Faheem Bardien
Kostuums: Maritha Visagie
Choreograaf: Naoline Quinzin
Dirigent: Tim Murray
Assistentdirigent: Jan Hugo
Regisseur: Steven Stead
Kunstekaap, Kaapstad
Is die liefde ’n seëning of ’n vloek?
Dit is sekerlik ’n vraagstuk wat mense al eeue lank ondersoek om sin te maak van die lewe. Carmen is nie ver agter nie, want hier het ons ook met verraad, jaloesie en alle ander sake van die hart te doen. Ons almal, maak nie saak of jou hart ook ’n leerbaadjie dra nie, kan met hierdie storie deernis hê en dit is sekerlik waarom hierdie opera deur die Franse komponis Georges Bizet gehore al vanaf 1875 bekoor.
Ons word aan die fiktiewe wêreld voorgestel met ’n stasie vir die soldate, ’n kroeg en tabakfabriek met grou bakstene gebou, klinkende basstemme, graffiti, waens vol lemoene en klingende bierbottels.

Vuvu Mpofu as Micaela (Oscar O’Ryan)
’n Jong dame in blou gedrapeer, Micaela (Vuvu Mpofu), verskyn op die verhoog en die soldate koek soos vrugtevlieë om haar, uitgehonger vir geselskap. Sy is egter op soek na ’n spesifieke soldaat, Don Jose (Lukhanyo Moyake), die einste een wat binnekort die slagoffer van verliefdheid sal word.
Die soldate se gul basstemme bulder deur die ouditorium met die vraagstuk oor waar hulle mooi jong vroue kan vind. Hul antwoord lê egter by die tabakfabriek. Nes honger honde, water hulle monde wanneer die klok lui en die vroue uit die gebou uitpeul met rookwalms wat om hul borrel en kristalhelder sopraanstemme. Dis egter nog nie eens die hoogtepunt nie. Eers wanneer die onweerstaanbare Carmen (Nonhlanhla Yende) in polkadot uitgetooi haar eerste tree by die stel trappe af gee, word sy die spilpunt waarom alles in die opera draai – eers die middelpunt van die mans se wellus en dan ook die kwelpunt tussen die vroue in die tabakfabriek wanneer sy ’n groot X op een van haar kollegas se wange uitkerf. Die merrieperd is nog boonop parmantig ook en nie op haar bek geval nie, so sy verklaar dat dit selfverdediging was, al weier sy om te verklap wat die motief agter die daad is. Dit is Carmen se heerlike moedswilligheid wat van haar so ’n tydlose en draaglike karakter maak.
Sy word deur Don Jose gearresteer en op die stoep van die soldate met tou vasgeboei. Aan haar goddeloosheid is daar egter geen einde nie. Sy begin dan om ’n arme diplomatiese soldaat te verlei met romantiese beloftes. Hy swig voor haar verbode planne. Sy breek los en kom vry, maar hy word dan in haar plek gearresteer.
’n Troep trawante met onwettige gedagtes nader dan vir Carmen, wat instem om by hul aan te sluit. Don Jose, uiteindelik vrygelaat, is kort op haar hakke en vlug ook saam. Tussen die berge waardeur hul reis, begin versuur die eens vuurwarm vlam tussen die twee.
Die kwesbare Micaela, op soek na Don Jose, volg hulle spore die berge in. Haar aria “Je dis que rien ne mé’pouvante” het tot die grootste applous van die aand gelei.
Wanneer die applous bedaar, besef ons dat daar egter iemand anders ook op ’n soektog is agter die vlugtelinge aan. Die sjarmante Escamillo (Conroy Scott) is ook op Carmen se spoor, maar moet eers verby Don Jose kom. Die klankryke duet getitel “Je suis Escamillo” word met oorgawe deur Moyake en Scott vertolk.
Verder sal ek nie die storielyn verklap vir diegene wat nie bekend is met die opera nie, maar julle kan verseker wees van baie drama, bloed en gebroke harte.
Carmen kan ook vergelyk word met ander groot operawerke, soos Tosca, aangesien dit ook kyk na temas soos vroulike agentskap, geweld en liefde. Wat Carmen egter laat uitstaan, bo en behalwe die unieke musikale benadering, is die feit dat Carmen uit en uit onafhanklik is en nie soos haar eweknieë in opera swik onder die patriargale ystervuis nie.
Die drie sangers Yende, Mpofu en Scott staan kop bo skouers uit bo die res wat vokale verskeidenheid, tekstuur en spel aanbetref. Die balans tussen hardekwas rabbedoe en femme fatale, soos gespeel deur Yende, herinner aan Pauline Malefane se weergawe in U-Carmen eKhayelitsha (2005).
Die stel, hoewel eklekties en outentiek, verskaf egter min vir die oog en maak nie van die volle verhoog gebruik nie, wat te veel dooie spasie op die verhoog laat.
Die orkes oortref hulself, en veral die Franse horings tref die hartsnare. Dit is musiek wat nie net jou voete laat jeuk nie maar jou ook diep sal ontroer.
Daar is ook aangekondig dat daar met hierdie uitvoering weer vir die eerste keer in 50 jaar ’n opera vir die radio opgeneem is. Mag dit lei tot meer gereelde uitsending van dié spesiale medium. Opera praat in ’n taal van sy eie, ’n hartstaal.
Steven Stead (regisseur) en Tim Murray (dirigent) vul mekaar goed aan en bied hier ’n opera van hoë gehalte.
Of die liefde nou ’n vloek of seëning is, dit bly tog ’n groot dryfveer vir ons as mense, ’n rede om aan te hou lewe, een wat kleur aan ons binnekant gee. Is daar ’n beter genre as opera om ons dit te laat ervaar? Bring ’n geliefde saam as jy kan en kom verlustig jou in die roerende verhaal van die omstrede Carmen wat jou lank sal bybly.

