Die verlede in die hede: Kan ons anders onthou?

  • 14

Hierdie toespraak is op 18 September 2019 by die Excelsus Lentekonferensie vir Bedieningsontwikkeling by die Universiteit van Pretoria se Teologie-fakulteit gelewer. 

Precis:

Hoe ons ook al as mense probeer, die verlede is onontsnapbaar deel van die hede. In Suid-Afrika kan herinneringe aan die verlede nie anders as om gelade te wees nie. Herinneringe weerspieël dikwels die sosiale en politieke rasseverdeeldheid in die land. Is daar ander maniere van onthou waarmee brûe gebou kan word, en waarmee die eis van menswaardigheid van almal verwesenlik kan word?

“Die vergange is nie dood nie; dit is nie eens vergange nie.” – Christa Wolf

“Narratief is ’n brug na die ander.” – Maria Duffy

In ’n boek wat onlangs verskyn het en die moeite werd is om te lees, getiteld In my vel, skryf Azille Coetzee oor hoe sy in Amsterdam besef het dat wit Suid-Afrikaners ’n liminale posisie beklee waarin hul “teenwoordigheid in Afrika omstrede” is, en hul “tuishorendheid twyfelagtig”. Niemand wil eienaarskap neem van hierdie onsamehangendheid nie, skryf sy.

In Coetzee se poging om sin van haar identiteit te probeer maak, betrag sy die mense en luister sy na die diskoerse om haar. Sy skryf: “Ek hoor oor en oor: ‘Dis al meer as twintig jaar ná die einde van apartheid, kan hulle nie net oor dit kom nie.’ So baie van die wit Afrikaners wat ek ken, wil niks weet van enigiemand anders se pyn nie, wil nie hoor van apartheid nie en wil veral nie vir ’n oomblik dink aan hul eie aandadigheid of verantwoordelikheid teenoor ander nie. En laat jy nou net die killjoy wees wat hierdie kwessies ophaal by ’n braai. Wat gaan aan met ons? Hoekom is ons so bang om te verander? Om verantwoordelikheid te neem vir wie ons is?”

Om verantwoordelikheid te kan neem, moet mens kan onthou – wíl onthou. In Suid-Afrika is daar twee soorte mense: diegene wat nie wíl onthou nie, en diegene wat nie anders kán as om te onthou nie. Omdat die herinnering hier gaan oor ’n stelsel waarin andersheid ’n probleem gemaak is op grond waarvan teen mense gediskrimineer is, onder meer op grond van ras, skei ’n duidelike rasselyn dié twee groepe van mekaar, ongeag ouderdom.

Mamphela Ramphele in haar boek Laying ghosts to rest – dilemmas of the transformation in South Africa bestempel rassisme as een van die spoke van die verlede wat ons nog steeds nie tot ruste kon bring nie. Sy skryf: “Rassisme is nie net ’n jammerlike verskynsel uit die verlede nie. Dit is belangrik om te erken hoe ons elkeen daardeur beïnvloed is. Idees oor wit meerderwaardigheid en swart minderwaardigheid het die ingesteldheid van swart en wit Suid-Afrikaners gevorm. Die meerderwaardigheidskompleks van wit mense is nie net ongerekonstrueerde rassiste se probleem nie. Dit is geprogrammeer in diegene wat grootgeword het in omgewings wat aan hulle ’n hoër status verleen het weens hul velkleur. Dieselfde geld swart minderwaardigheid. Mens skud dit nie af soos ’n slegte verkoue nie. Dit is in jou psige vasgebrand deur deure wat in jou gesig toegemaak is, deur herhaalde vernedering. Vernedering kweek selfhaat en woede. Albei dié emosies maak dit moeilik om die uitdagings van die regte en verantwoordelikhede van burgerskap die hoof te bied. Die verwagting van vernedering lei tot ’n defensiwiteit in verhoudings.”

Dit is teen dié agtergrond wat ons DA-leier Mmusi Maimane se uitlating dat “as jy nie sien dat ek swart is nie, dan sien jy my nie” moet verstaan. Swartheid word ’n merk met ’n stel assosiasies wat swart mense bewustelik met hulle saamdra, of hulle wil of nie. Dié stel assosiasies is wat Europeërs en hul afstammelinge op ander vastelande die afgelope vier eeue aan ander mense geheg het op grond van fenotipe – velkleur, haartekstuur, gelaatstrekke – wat dan aan minderwaardigheid en ander negatiewe eienskappe gekoppel is.

Die Karibiese psigo-analis en filosoof Frantz Fanon vang in sy essay The fact of blackness die verskrikking van ras vas: “Ek het die wêreld binnegetree deurtrek met ’n wil om betekenis te vind in dinge; my gees was gevul met die begeerte om die bron van die wêreld te bekom. Toe vind ek uit ek is ’n objek tussen ander objekte.... [Ek is] geseël in ’n vermorselende objekskap ... ek is skielik geskaaf tot ’n nie-wese... die kyke van die andere het my vasgevang, op die manier wat ’n chemiese oplossing ’n kleurstof vaslê. Ek was verontwaardig; ek het ’n verduideliking geëis. Niks het gebeur nie. Ek het uitmekaar gespat. Nou is die skerwe deur ’n ander self aanmekaar geplak.”

In my eie navorsing vind ek dat rassisme nie net ’n spook van die verlede is nie. Die spook is springlewendig. Azille Coetzee was vier jaar oud toe Nelson Mandela vrygelaat is. Sy skryf dus uit die oogpunt van iemand wat nou in haar vroeë 30’s is. ’n M-student van my wat tans navorsing oor wit Afrikaanse vroue tussen 20 en 30 jaar oud doen, vind dieselfde allergie vir verantwoordelikheid neem. Die navorsing in my boek Sitting pretty – White Afrikaans women in postapartheid South Africa kyk na wit Afrikaanssprekende vroue in hul 30’s tot 60’s en vind byvoorbeeld dat idees oor wit meerderwaardigheid en swart minderwaardigheid interpretasies van die verlede en ook die hede bepaal.

’n Diskoers word geskep van ’n goeie wit mens teenoor ’n slegte swart mens, deur ’n soort morele ommekeer te skep tussen die ordes van apartheid en demokrasie. Apartheid word erken as ’n onderdrukkende stelsel, maar weerstand teen daardie onderdrukking word gesien as bandeloosheid. Swart mense word as onverantwoordelik en wanordelik voorgestel, waarteenoor die wit agente van apartheid óf onsigbaar is, óf sonder skuld. In die proses word die hele kwessie van verantwoordbaarheid vir die instandhouding van apartheid weg van wit mense gedeflekteer.

My navorsing vind ook ’n diskoers waarin apartheid as ’n las voorgehou word wat swart mense aanhou dra om redes wat “onbekend” vir wit mense is. Daar word van swart mense verwag om wit mense outomaties te vergewe vir die geleenthede wat swart mense weens geïnstitusionaliseerde rassisme in die verlede verloor het – ten spyte daarvan dat wit mense nie erken dat hulle by daardie rassisme gebaat het nie.

Die Instituut vir Geregtigheid en Versoening onderneem jaarliks sedert 2003 ’n peiling genaamd die South African Reconciliation Barometer. Dit wys dat wit mense meestal voet by stuk hou met wat die Kameroense denker Achille Mbembe “die defensiewe logika van wit ontkenning” noem. In my vergelykende studie van die jaarlikse peilings in die dekade tussen 2003 en 2013, vind ek ’n ontkenning by wit mense van die feit dat hulle in die verlede by die stelselmatige verarming van swart mense gebaat het. In 2003 het minder as ’n kwart van wit respondente (22%) hierdie feit erken, teenoor amper ’n driekwart (74%) van swart respondente. Teen 2013 ontken meer as die helfte van wit respondente (56,6%) dat baie swart mense arm is weens die standhoudende uitwerking van apartheid. Hierdie logika van defensiwiteit speel dus ook uit in die ontkenning dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was, met amper die helfte van wit respondente (47,2%) wat dit in 2013 ontken.

Dit kan gelees word as dat amper die helfte van wit mense die menslikheid van swart mense bevraagteken. ’n Ander bevinding van dieselfde jaar suggereer iets soortgelyks: 43% van wit Suid-Afrikaners stem nie saam met die stelling dat die apartheidsonderdrukking van hul swart landgenote verkeerd was nie.

Hoe maak ons sin van hierdie strakke onwilligheid om die kwaad van apartheid te erken? Pumla Gobodo-Madikizela, professor in Sielkunde wat tans die navorsingstoel in Historiese Trauma en Transformasie by die Universiteit Stellenbosch beklee, verduidelik in haar boek Dare we hope? Facing our past to find a new future hoe die interseksie tussen herinnering en identiteit werk: om te erken wat gebeur het, bedreig wit mense se sin van hul eie menslikheid – dat hulle gebaat het by ’n stelsel waarin andere onderdruk is, en waarin gruwels teen andere gepleeg is. Ontkenning verskaf regverdiging wat dit moontlik maak om die ongeregtigheid van apartheid te vermy. Dis daarom dat wit mense kan sê: Ek het hard gewerk vir wat ek het. Wat hulle mis, is dat swart mense ook hard gewerk het, maar dit het nie dieselfde moontlikhede aan hulle beskikbaar gestel as wat wit mense gekry het nie, byvoorbeeld om in eiendom te kon belê.

Die ontkenning van swart mense se historiese ervaring sny wedersyds ook na swart mense se identiteit. Desmond Tutu, aartsbiskop-emeritus van die Anglikaanse Kerk, beskryf die impak van die oortreder se ontkenning van die ongeregtigheid wat hy/sy gepleeg het soos volg: dit tref die kern van die menswees – die integriteit en identiteit – van die slagoffer. Wit mense se ontkenning van die vernietigende gevolge van apartheid ondermyn die persoonskap van swart mense.

Hoe beweeg ons verby hierdie skaakmatposisie, waarin wit identiteit met ontkenning bevestig word ten koste van swart mense se menslikheid? Om hierdie skietstilstand vreedsaam te besleg, verg dat ons, soos Thuli Madonsela gister gesê het, “onthou om te onthou”.

Die werk van Miroslav Volf kan help met die vraag hóé om te onthou, soos die akademikus Nicholas Allen skryf in ’n artikel oor herinnering. Volf dink na oor sy ervaring as slagoffer van rasse- en godsdienstige konflik – as Kroaat in die konflik met Serwië en as ’n Christen in die voormalige Joego-Slawië. Hy wys uit dat ons begeerte om kwytskelding óf tot geheueverlies óf tot herinnering kan lei, bewustelik of onbewustelik. Die begeerte om kwytskelding lei ons om die morele betekenis van ons gedrag te herinterpreteer om begrip vir ons optrede (of die gebrek daaraan) te kweek, of om onsself te verontskuldig.

Wat daarvan as ons eerder gemeenskaplikheid probeer bewerkstellig? Achille Mbembe beskryf in sy jongste boek Critique of black reason die wisselwerking tussen andersheid en eendersheid. Om verskillendheid of andersheid te eis, spruit uit die begeerte om insluiting en erkenning. Dit is die oorsprong van alle identiteite. Neem die Afrikaner-identiteit as voorbeeld: Diegene wat ontneem is van gedeelde menslikheid, wie se menslikheid ontken is deur die verwoesting en vernedering van Britse imperialisme, het gemobiliseer om ordentlikheid te herbewerkstellig met die skep van die Afrikaner-identiteit. Mbembe praat daarvan dat die andere nie net anders is nie, maar ook gelyksoortig. Hy stel voor ons gebruik die eendersheid binne die andersheid, en ons gemeenskaplike soeke na insluiting en erkenning selfs binne ons andersheid, om die idee van die menslike gemeenskap te herbevestig – dit wat ons gemeen het, waarmee ons ons gedeelde menswaardigheid kan bevestig, wat ook die grondbeginsel in ons Grondwet is.

Hoe kom ons by die gemeenskaplike erkenning van menslikheid uit? Die Ierse filosoof Maria Duffy, wat skryf oor narratiewe teorie oor geheue, beskou narratief as ’n “brug na die ander”. Gobodo-Madikizela meen ’n beginpunt is om na mekaar se verhale te luister en die ervaring van verlies aan albei kante te erken. Om ’n samelewing aanmekaar te sit wat deur geweld verskeur is, neem geduld. Sy vra of die ergste gevolge van apartheid nie met sterftesyfers aangedui moet word nie, maar eerder met die “onmeetbare verliese van die menslike gees” begryp moet word. Die menslike gees is wat herstel moet word. Sy stel voor ons reik uit na mekaar met konsekwente gesprekke oor ons moeilike verledes om ’n gedeelde menslike idioom te vind. “Ons menslikheid is die sterkste wanneer ons gefokus is op wat ons as mense verenig: deernis, en ’n etos van versorging teenoor mekaar, eerder as om voor vrees en agterdog te swig.” Sy meen ons moet dit wat ons as mense verbind, naamlik ons empatie, ontdek.

Een manier van stories deel, skryf Gobodo-Madikizela, is om sáám ons merkwaardige Suid-Afrikaners te onthou. Sy gee Beyers Naudé as voorbeeld: hy het “sy lewe met morele dapperheid liefgehad ... en menslike empatie beliggaam”. Stories soos syne is wat oor generasies heen gedra moet word “as lewende herinneringe waarmee diep menslike solidariteit geïnspireer kan word, en sodat ons as getuies van die verlede kan optree om te keer dat so iets ooit weer herhaal word”. Beyers Naudé is ’n “simbool van morele verbeelding”, noem Gobodo-Madikizela hom.

Vir ons as Afrikaners, of Afrikaanssprekende wit mense, is hierdie erkenning van die andere veral ’n uitdaging. Ons kom uit ’n politieke tradisie en denkraamwerk waarin eendersdenkendheid afgedwing is. Om onsself Afrikaners te kon noem, moes ons onbevraagtekenend by die dominante posisie inval. Dit is hoe apartheid vir amper 50 jaar gehandhaaf is. In die 1950’s het JG Strijdom aan ’n gehoor van Afrikaners gesê dat om apartheid teen te staan, verraad is. Eendersdenkendheid is geëis, anders is jy ’n volksverraaier. Sodoende is ’n stelsel in stand gehou waarvan ons nou eers werklik die omvang van die verwoesting van menslikheid kan sien, midde-in veelvoudige krisisse wat ons pogings om demokrasie te vestig, teister. Ja, baie word deur sommiges gesê oor die moderne infrastruktuur wat apartheid nagelaat het. Maar die menslike koste van daardie skewe moderniseringsproses van ekstreme uitbuiting op grond van ras begin nou eers werklik manifesteer.

Andersdenkendheid is ons plig as Afrikaners aan mekaar en aan hierdie land, as ons Suid-Afrika van die afgrond wil terugtrek. Kom ons onthou dus, en put inspirasie uit, die andersdenkendes. Daar is baie harde werk gedurende die 20ste eeu gedoen om voor te gee dat alle Afrikaners dieselfde gedink het. Maar daar was ’n tradisie tóé wat steeds nóú bestaan – waarvan Beyers Naudé die bekendste voorbeeld is – van Afrikaners wat anders gedink het, wat hulself laat lei het deur waardes van empatie en medemenslikheid. Kom ons verdiep en verwesenlik die nalatenskap van krities-etiese denke.

Kom ons onthou daardie Christen-gelowiges wat van die eerstes was om bínne Afrikanerdom weerstand teen apartheid te toon. Alreeds in 1948 skryf Albert Geyser, professor in Nuwe Testamentiese Studies aan die Universiteit van Pretoria, in die Hervormde Kerk se amptelike blad téén die idee van ’n volkskerk, dus téén die idee dat ’n kerk se lidmate net uit een volk of nasie mag kom. Luidens ’n artikel deur Andries van Aarde en andere, het Geyser in dieselfde jaar wat apartheid regeringsbeleid geword het, geskryf dat die kerk nie deur die wêreldse mag van nasionalistiese politiek versoek moet word nie, maar moet fokus op Christelike deernis. Hy was van een van die groep van 13, gelei deur PV Pretorius, destyds hoogleraar in Grieks aan die Universiteit van Pretoria, wat die verwydering van bruin mense van die gemeenskaplike kiesrol in ’n openbare verklaring in 1955 bevraagteken het. Hulle is aan ’n smeerveldtog in die Afrikaanse media onderwerp, waarop hulle met die volgende waarskuwing gereageer het: die smeerveldtog “wys vir ons hoe ver ons in SA beweeg het na ’n staat waarin dit gevaarlik is vir die individuele burger om ’n onafhanklike mening te huldig of uit te druk”. Soos ons weet, het dit daarna net erger geraak.

Twee ander teoloë, Bennie Keet en Ben Marais, het die Bybelse fundering van apartheid destyds bevraagteken. Keet het in sy boeke uitgewys dat die ondersteuners van die beleid, naamlik wit mense, nie die mense is wat onder die beleid ly nie. In Waarheen Suid-Afrika? stel Keet dit prontuit: “God het wel onderskeie volke gewil, maar nie aparte volke soos ons daardie begrip, waar dit die nie-blanke raak, in ons land verstaan nie. Skeidslyne word stellig nie in die Skrif tussen volke getrek nie, behalwe tussen Israel en die heidene, en daardie skeidslyne het met die koms van Christus weggeval. Daarom is dit ons plig, as Christene, om die skeidslyne (nie onderskeidinge nie) uit te wis.” Keet spreek hom teen die stelsel van trekarbeid uit, wat hy ’n “euwel” noem, en die destydse verbod op gemengde huwelike: “Die hele menslike geslag is aanpasbaar omdat dit uit een bloed is. Origens hang die huwelik van baie ander en groter oorwegings af as ras en kleur.”

Die boek Vertraagde reaksie word in 1960 gepubliseer, waarin Geyser, Keet, Marais en agt ander teoloë ná die Sharpeville-slagting standpunt teen apartheid ingeneem het. Die boek het aangevoer dat dit die verantwoordelikheid van die kerk is om “geregtigheid en menswaardigheid” te bevorder. In die boek doen Keet ’n beroep om onderhandelings wat eers 40 jaar later verwesenlik is: die kerk moet die leiding neem om die wit regering op ’n punt te bring waar dit met swart mense onderhandel om ’n oplossing vir die rassevraagstuk te vind. Marais het geskryf dat daar op die ou end geen eerbare manier gaan wees vir wit mense om swart mense van stemreg en ander politieke regte te ontken nie. Hoe waar het sy woorde nie geword nie.

Vir hul moeite en hul moed is hierdie teoloë weer eens onderwerp aan ’n veldtog om hulle te diskrediteer. Naspers se Piet Cillié het Vertraagde reaksie as ’n “boekie” afgemaak en die stommige stelling gemaak dat apartheid tot ’n beter begrip tussen die rasse gelei het. Vertraagde reaksie is deur Koot Vorster, Balthazar se broer en destyds moderator van die NG-Kerk, met die siekte masels vergelyk.

Die Wêreldraad van Kerke se Cottesloe-verklaring ná die Sharpeville-slagting is destyds ondersteun deur afgevaardigdes van die NG-Kerk. Die verklaring het rassediskriminasie verwerp, asook die kleurgrens in die arbeidsmark, trekarbeid en die verbod op gemengde huwelike. Dit is tóé dat die susterskerke hul Verwoerdiaanse periode in alle erns binnegaan het: Weens druk van destydse eerste minister HF Verwoerd het die NG-Kerk van die verklaring en saam met die Hervormde Kerk ook van die Wêreldraad onttrek. Geyser het voortgegaan om openlik sy steun vir die verklaring uit te druk.

Vir Beyers Naudé was die Cottesloe-voorval die deurslaggewende oomblik, met sy besef dat die Broederbond, waarvan hy nog lid was, ’n “gevaarlike invloed” in sy lewe geword het. Geyser het destyds só daaroor geskryf: Die Broederbond se interpretasies van die Bybel steun hul eie ideologiese posisie, en maak die “Bybelse eis van medemenslike liefde, geregtigheid en menslikheid onherkenbaar”. Geyser begin die Christelike Instituut. Ná Naudé se bedanking as predikant by die Aasvoëlkop-gemeente stel Geyser hom aan by die instituut. Koot Vorster het die instituut bestempel as ’n “steurnis van goeie orde”. Geyser is aan intense vervolging blootgestel, insluitend sy skorsing weens sogenaamde kettery in die vroeë 60’s, wat hy in die hof laat omkeer het, en doodsdreigemente en gepeuter aan sy motor se remme. Uiteindelik het hy die kerk verlaat.

In ’n toespraak in 1961 sê Naudé: “Die Kerk moet ’n aanvoerder wees vir die armes, die onderdruktes, diegene wat honger ly, die stemloses, diegene wat onregverdig behandel word – nieteenstaande of hulle wit of swart is.” Om dít te kan doen, sê Naudé, moet die Kerk kan empatie toon met die behoeftes van mense en nie net óór hulle praat nie, maar mét hulle. Hy het sy toespraak afgesluit met ’n gebed waarin hy gevra het dat Suid-Afrikaners ’n helder visie van hul profetiese beroep moet verkry om hierdie beroep vreesloos uit te lewe.

Geyser, Naudé en die ander andersdenkendes se beroep op die Kerk en Afrikaners in daardie donker tye kry vandag hernude relevansie. Wanneer ons land onder ontsaglike druk is, ook soos nou, is die laaste ding wat ons kan bekostig om die rassisme en rasseverdelings waarin ons geskool is, die opperhand te laat ry. Goeie Suid-Afrikaners moet hande vat, nou. Soos ek al voorheen geskryf het, is ons almal saam in hierdie boot. Ons moet saam uitwerk hoe kom ons heelhuids tot aan die ander kant van die veelvoudige krisisse wat ons land tans takel. Ironies is hierdie krisisse die ander ding wat ons gemeen het, naas ons gedeelde menslikheid en reg op menswaardigheid. Dit is nou die oomblik waarin ons vir mekaar moet sê, soos die Kroatiese denker Volf, dat ons nie op ons eie genoeg is nie: “Ek wil nie net ek wees nie; ek wil die ander deelmaak van wie ek is, en ek wil deel wees van die ander”.

Die Afrikaner-andersdenkendes van die verlede binne die kerk demonstreer vir ons die vermoë om met die andere te identifiseer. Hul lewensverhale wys hul vermoë om nie hulself te isoleer en ’n muur te bou teen diegene wat anders as hulle is nie, maar om bo die vrees waarin hulle grootgemaak is, uit te klim, en die menslikheid van swart mense te erken. Volf se idee van herinnering en geheue is toekomsgerig en aktief, nie net retrospektief nie. Herinneringe vorm nie opsigself ons identiteite nie. Ons identiteite word gevorm deur hóé ons en andere met daardie herinneringe omgaan.

Pumla Gobodo-Madikizela sê: “As herinnering gebruik word om ou haat weer te laat opvlam, val ons weer in voortdurende haat en konflik vas. Maar as herinnering gebruik word om te herbou, of om nuwe verhoudings te begin, bring dit hoop.” Kom ons volg in die voetspore van die andersdenkendes in die kerk. Hulle het in vorige donker tye steeds die dapperheid aan die dag gelê om die bevestiging en uitbou van die menswaardigheid van almal, ongeag andersheid, daadwerklik in die middelpunt van hul denke en optrede te plaas. Dit is die goue draad: die bevestiging van almal se menswaardigheid. Thuli Madonsela het gister gepraat oor die verontmenslikende werklikheid van voortslepende armoede – ’n kwart van kinders ly aan vertraagde groei weens ’n gebrek aan kos. Hierdie is ’n nalatenskap van apartheid wat die vernietigendste gevolge vir ons demokrasie inhou. Kom laat ons saam dink en doen om menswaardigheid te herstel, beginnende by armoede.

Lees ook

In gesprek oor witwees in Suid-Afrika met Melissa Steyn en Christi van der Westhuizen / In conversation about whiteness in South Africa with Melissa Steyn and Christi van der Westhuizen

The volksmoeder, ordentlikheid and whiteness

In my vel deur Azille Coetzee: ’n skrywer wat haarself blootlê sodat ons onsself kan sien

  • 14

Kommentaar

  • Avatar
    Johann Basson

    Geagte Lesers,

    Suid-Afrika is ryklik bedeeld met vele: ryke natuurlewe en biodiversiteit, ons multi-kulturele samelewing, unieke geologie / argeologie / geskiedenis waaruit die mensdom vele lesse uit ons verlede kan leer.

    Stel u voor ‘n NASIEVISIE dat Suid-Afrika ‘n top ekonomies wêreldkompeterende wenland op die gebied van toerisme is;

    Stel u voor ‘n grootse geïntegreerde waardeketting vir die toerisme bedryf;

    Stel u voor elke Suid-Afrikaner kan meedoen in die waardeketting om die bedryf te bevorder en inkomste hieruit te bekom;

    Stel u voor al die kreatiewe unieke produkte wat aan toeriste aangebied kan word;

    Stel u voor elke politikus, akademikus, onderwyser, geregsdienaar, medikus, mense betrokke by die verskaffing van wêreldklas infrastruktuur en kommunikasie, elke werklose, vrouens, weduwees, wees en wettige vreemdeling kan meedoen aan hierdie visie.

    So, “kom laat ons saam dink en doen om menswaardigheid te herstel, beginne by armoede”.

    Stel u voor waar kon ons al met die implimentering van hierdie Nasievisie gewees het in die afwesigheid van die ongekende skaal van korrupsie.

    Stel u voor hoe vaders uit werkstrots tydens aandetes hul gesinne inlig welke bydrae hulle die afgelope dag tot die bereiking van die Nasievisie bygedra het.

    Stel u voor: ‘n nasie sonder ‘n gedeelde droom het geen bestaansreg nie.

    Mag ons in ons kortstondige lewe strewe om aan andere te doen wat ons verwag hulle aan ons moet doen. Mag ons almal mekaar ‘n plek onder die Suid-Afrikaanse son en maan en sterre gun tot wedersydse selfaktualisering en ‘n vredevolle regverdige toekoms.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Soos gebruiklik is Van der Westhuizen se betoog erg eensydig. Hoe sleg die blankes was en is, word beklemtoon, terwyl geen kritiek teen swart mense uitgespreek word nie. Die bewering dat apartheid 'n misdaad teen die mensdom was, word sonder meer aanvaar en dan selfs gelykgestel aan die bevraagtekening van die menslikheid van swart mense. In werklikheid was daar vir skaars vier dekades in 'n enkele land 'n apartheidsbeleid. Hoe kan dit naasteby 'n misdaad teen die ganse mensdom wees? Marxisme/kommunisme het die lewens van letterlik miljoene mense geeis, bestaan reeds baie langer as apartheid en sy negatiewe invloed strek oor dosyne lande. Tog is marxisme/kommunisme nog nooit tot 'n misdaad teen die mensdom verklaar nie en Van der Westhuizen doen dit ook nie.

  • Dit is my opinie dat ons moet vorentoe beweeg. Die verlede is verby. Kom ons werk aan die toekoms. Om iemand heeltyd teh herinner aan sy/haar aandadigheid aan wat in die verlede gebeur het, help niemand nie. Vir sie nuwe leiers om die foute te herhaal, of blatant die verlede te gebruik as verskoning vir hulle foute, of om n minderheid sielkundig te onderdruk is ook nie aan nie. Na my mening is ons nou al amper 30 jaar na die demokrasie. Kyk watter vordering het die wereld gemaak in die afgelope 100 jaar na groot vernietigende wereld oorloe. Vergelyk dit met die agelope 25-30 jaar in SA gebeur het. Natuurlik moet ons n gewete he, mar asseblief kom ons beweeg vorentoe!

  • Wat het geword van post-strukturalisme se insigte? Van hoe tekste werk? Van hoe dit 'n moeilike vryheid moontlik maak? Haai, jinne, ... Onto-teleo-teologie is duidelik nog lank nie klaar met die mens nie ...

  • Soos sommige mense aangaan oor die onregte van wit teenoor swart, is dit baie erger as om 'n naaste familielid aan die dood af te staan. Spesifiek as daai lid op rassistiese wyse sonder enige rede vermoor is. Mens kan nie dit vir altyd gebruik as rede om iemand anders af te kraak en te veroordeel nie.

    Daar moet 'n sonsondergang wees vir die BBBEE voorskrifte, asook vir enigiets waarin witmense as 2de klas burgers behandel word wanneer dit by werk en grond kom. Dit is rassisties in die eerste plek, en teen die Konstitusie.

    Niemand kan ook verwag dat ek verantwoordelikheid moet dra van my voorgeslagte nie. Dit kan en sal 'n onmoontlike taak wees. Van der Westhuizen moet dit sommer namens alle wittes dra as sy so graag verwag die huidige geslag moet dit doen. Dit moet ook in gedagte gehou word dat apartheid nie deur die wit boere ingestel is nie, maar wel deur die Britte. Dis afgedwing, netsoos hulle engels op almal wil afdwing. Hulle het dieselfde in Indie gedoen, maar daar is dit lankal vergete. Net in SA word dit onophoudelik teen die huidige, Afrikaanse wittes se koppe gegooi. En ten spyte daarvan dat die Britte baie meer rassisties as die boere opgetree het, wil die swartes nie Afrikaans praat of Afrikaanse wittes as volwaardige inwoners beskou, wat die land opgebou het soos dit nooit voorheen onder die Britse heerskappy was nie. Hulle wil eerder die taal van die oorspronklike onderdrukkers en uitvinders van apartheid, naamlik die Engelse, praat.

    Swart mense is in my opinie tien maal meer rassisties as enige ander rasgroep op aarde. Hulle kan nie vergewe of voortgaan met hul lewens, en saamwerk met almal wat in die land woon nie.

  • Avatar
    Johann Basson

    In ag genome Suid-Afrika se lang poreuse landsgrense, toenemende ekonomiese wêreldkompetisie, afnemende natuurlike hulpbronne, wêreldwye menseverhuisings en bevolkingsaanwas, wie sal voorspellings waag oor die opset van die volgende huidige Suid-Afrikaanse groeperings oor 50 jaar?

    1) die Nguni;
    2) die Sotho;
    3) die Zulus;
    4) die Xhosas;
    5) die swartmense;
    6) die bruinmense;
    7) die witmense;
    8) die Afrikaners;
    9) die Indiërs;
    10) die Chinese;
    11) die Khoikhoi;
    12) die San;
    13) buitelanders?

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    So gepraat van Moesie Maimane, ek hoor hy ry 'n lekker sportnutsvoertuig. Hopelik gee hulle eendag vir my ook so voertuig.

  • Avatar
    Berdéhan Brand

    Om die kwessie vanuit 'n wetenskaplike/analitiese oogpunt as as algemene gesprekspunt voor te lê, is 'n diskoers en kom subjektief voor. Pro-aktiewe denke sal lankal nie meer "waarom" vra nie, maar die lokus verskuif van pre-95 na 2019 waar daar inderdaad báie gebeur het.
    (Ook geskik vir bespreking is Suid-Afrika nou - "waarom?"). Die kers het soms 3 kante.

  • Besef Christi van der Westhuizen ooit dat daar apartheid in Europa is? Duitsers mag byvoorbeeld nie in Portugal stem nie, of Spanjaarde in Frankryk nie ens ens.

  • Avatar
    Patrick Oertel

    Dankie, Christi.

    Ek het begin dink dat ek al persoon is wat verstaan. Dit is belangrik dat Apartheid alleen nie die blaam dra nie. Jan Smuts het die stigting van die Unie gedryf. Dit was sy idee en passie. Sy gestelde missie was om vrede tussen die twee "Blanke rasse" te bring. Met die stigting van die Unie, is Swartes pertinent uitgelaat. Die "Mines Job Reservation Act", 1912, wat toe nationale wet geword het in 1926, en die "Land Act of 1913", word dikwels beskryf as die eerste Apartheidsmisdade. 'n Boek wat die moeite werd is om te lees is "Native Life in South Africa," deur Sol Plaatje.

    Ek beweer dat Blankes nie besef dat hulle ook slagoffers van Apartheid is nie, in dat die meeste Blankes nog emosionele en intellektuele gevangene van Apartheid is. Hulle is nog nie vrygelaat nie. Waar Mandela sy" Long Walk To Freedom " gehad het, is Blankes nog toegesluit in die illusie van Blanke meerderwaardigheid. Totdat Blankes emosioneel en intellektueel bevry word, gaan ons land nooit genees nie.

    Nadat ek 'n paar van die FB opmerkings gelees het, het ek besef hoe ver ons van bevryding is.

  • Dr B.B. Keet (in hierdie artikel "Bennie Keet") was natuurlik een van die eindvertalers van die 1933-Bybel in Afrikaans.

  • Nou toe nou. Rassisme is 'n wit ding en apartheid 'n drogbeeld van 'afsonderlike ontwikkeling' wat net wil doodgaan nie. Skrywer besef nie nie dat rassisme nie tussen wit en swart voorkom nie, maar ook tussen swart en swart.

    So moes ek agterkom nadat ek begin werk het in die destydse Dept.Bantoe Adminstrasie dat die Zoeloe werknemers redelik minagtend van hul Xhosa-medewerkers gepraat het en beskryf het in tale wat 'n mens nie hier kan plaas nie.

    So sien ons dat mense hulself skaar by die volksgenote wat hul reken verkeerd behandel word en so het President Zuma nog steeds groot aanhang onder sy volksgenote al wil ander hom hof toe sleep.

    Die koekie op die kers was seker die swart dame wat na ons huis kom kyk het wat tans in die mark is. Haar is eerste vraag was nie ,hoeveel slaapkamers ens maar tot almal se verbasing wou sy weet hoe ver die huis van die naaste plakkerskamp is. En eers nadat sy verneem het hoe ver dit was het sy begin belangstel in dit wat daar alles in die huis is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top