Die verkiesing van die volgende openbare beskermer: 'n stryd vir die hart van die reënboognasie?

  • 0

Hierdie afgelope week was in baie opsigte die afskop van vele fel verkiesingstryde, met eggo’s wat ver buite Suid-Afrika om weergalm en wat nie noodwendig almal in ʼn verkiesingshokkie gaan eindig nie.

Onluste het uitgebreek toe die ANC se Kaapse tak hulle verkiesingslyste bekendmaak. Oor Pretoria hoef ons nie meer enigiets te sê nie. Die Amerikaanse nominasieproses: nou ja, hoe minder daaroor en die Orange Menace gesê word, hoe beter. Die Verenigde Nasies moet ʼn nuwe sekretaris-generaal kies, en ook daardie kiesproses, beklee met omstredenheid soos wat dit is, word fyn dopgehou.

Vir baie Suid-Afrikaners is dit egter die proses rondom die nominasies vir ʼn nuwe openbare beskermer wat hulle aandag gevange hou. Die posisie was geskep as deel van die kompromie waaronder nuwe Grondwet tot stand gekom het, en dit bestaan dus so lank as wat ons demokrasie bestaan. Op sy eenvoudigste gestel, was die taak van die OB nog altyd om die speelveld tussen Jan Publiek en die staat meer gelyk te maak. Die OB moes seker maak dat die publiek beskerm word teen die staatsinstellings en amptenare wat verkies is om hulle belange te dien. Hier ter plaatse verkeer ons lankal nie meer onder die waan dat ons staat inderdaad in ons beste belang optree nie.

Dis egter eers onder leiding van Thuli Madonsela dat die posisie waarlik tot sy reg gekom het. Die gewone deursneepersoon op straat het nie regtig onder enige van die vorige OB’s gevoel dat hulle regte en belange waarlik beskerm word nie. Ek wil my selfs verstout om te sê dat die man op die straat moeite sal hê om die name van die vorige OB’s te herroep – nie omdat hulle swak diens gelewer het nie, maar omdat nie een van hulle regtig nek uitgesteek en teen die heersers van die dag opgestaan het nie. Nie een van die vorige OB’s was onbevoeg nie, en hulle het waarskynlik hulle werk gedoen na die beste van hulle vermoë. Hulle beste het egter nie die verbeelding aangegryp nie, omdat dit nie regtig die openbaar beskerm het ten koste van die self nie.

Thuli Madonsela is seker die onwaarskynlikste knight-errant wat ons ons kan indink. Sy praat sag. Haar stellings is altyd weldeurdag. Sy probeer teen elke prys selfs diegene teen wie sy bevindings maak, se waardigheid beskerm. Meer as ʼn wetsgeleerde is sy die toonbeeld van wat ʼn samesmelting van regverdigheid, geregtigheid, empatie en meelewing kan wees. Sy wys vir ons wat ons kan wees op ons heel beste – sonder om ooit haar beginsels of haar vroulikheid prys te gee. Thuli Madonsela wys vir ons die betekenis van mensch, van integriteit in die konteks van 21ste-eeuse politiek en openbare lewe. Dis ʼn beeld wat ons broodnodig het te midde van ʼn see van korrupsie, selfregverdiging, en maak-en-breek-magspeletjies. Sy wys vir ons dat dit nie die een is wat die hardste skree en die blinkste skitter wat seëvier nie, maar die een wat stilweg en konstant doen wat reg is. Sy wys dat verhale van Goeie wat Kwade oorwin nie net in sprokies gebeur nie, dat good-guys-come-last net ʼn mite is.

Die grootste teken van haar sukses is seer sekerlik die manier waarop dieselfde mense wat die Grondwet om elke hoek en draai ignoreer, nou pligsgetrou op die bepalings wys wat haar verhoed om vir ʼn tweede termyn te staan. Wat hulle nie verstaan nie, is dat haar integriteit haar nie sou toelaat om te staan indien dit haar aangebied sou word nie, want sy begryp hoe gevaarlik dit is om enigiets te verdraai, selfs al is dit vir ʼn goeie doel.

Ons sal 2017 ingaan met ʼn nuwe OB, of ons ʼn nuwe een wil hê of nie.

Die entoesiasme waarmee gewone landsburgers persone genomineer het, die intensiteit waarmee die lys wat verlede week bekend gemaak is, bestudeer word, dis als ʼn reusekompliment vir ʼn vrou wat stil-stil ons verwagtinge van openbare posisies verander het. Al hoe meer mense verstaan dat die aanstelling van die regte persoon in die OB-posisie dalk selfs meer belangrik kan wees as die verkiesing van die regte kandidate in die opkomende munisipale verkiesings. Die regte OB kan die toon van nasionale debatte verander. Die regte OB kan politieke partye, wat baie keer dink hulle is verhewe bo die reëls wat op ander van toepassing is, in hulle spoor laat trap.

Natuurlik kan dit nooit net die taak van een instelling wees nie. Ons regters moet integriteit toon. Ons openbare vervolger moet onpartydigheid en ʼn respek vir die reg uitleef. Ons polisie moet onkreukbaar wees. Ons verkose amptenare moet korrupsie in al sy vorme verwerp. Slegs dan sal ons land kan begin om die beloftes van die reënboognasie te vervul.

Maar die regte openbare beskermer is ʼn goeie begin.

Natuurlik is die verwagtinge van die verskillende politieke partye noodwendig verskillend, maar terselfdertyd verskil dit ook hemelsbreed van wat Jan Publiek verlang. Ek is seker daarvan dat die ANC byvoorbeeld iemand sou wou sien wat meeer inskiklik en minder onafhanklik is.

Alhoewel ʼn goeie begrip van die reg belangrik is, is die bepalende faktor van wat ʼn uitstekende OB is, heelwat minder konkreet, en dalk selfs in die sfeer van die alchemiese tuishoort. Die OB moet iemand wees in wie se integriteit en sin vir regverdigheid Jan Publiek kan glo. Ons soek ʼn OB wat nie besluite gaan neem gegrond op tot watter party ʼn persoon behoort, of wie sy familie is, of enige grond ander as die feite, gekoppel met die korrekte interpretasie van die toepaslike regsbeginsels nie.

Dit bring my by die lys. Natuurlik is dit moeilik om te voorspel hoe iemand gaan reageer wanneer hulle die eerste moeilike besluit moet neem, hoe die openbare druk en openbare verwagtinge hulle gaan beïnvloed. Thuli Madonsela laat reuseskoene agter om te vul.

Ek het egter moeite om te glo dat iemand soos Krish Naidoo, regsverteenwoordiger van die ANC, in staat sal wees om onpartydig oordeel te fel indien daar ʼn klag teen ʼn staatsdepartement of minister sou inkom. Hy ken en is waarskynlik vriende met die meeste van hulle. Ek vermoed dan ook dat die ANC waarskynlik hulle volle steun agter sy nominasie gooi.

Ons sal binnekort weet wie die nuwe OB is, waarskynlik alreeds so vroeg as September. Kom ons hoop dis iemand wat wel die openbare belang op die hart dra.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top