Die vergete stiefboetie van transformasie in arbeidsverhoudinge

  • 0

Bennie Linde (Foto: verskaf)

Koos Malan het in 13 Junie se Rapport (“Dié met mag en geveerde neste”) ’n interessante oorsig gegee oor hoe wette en sisteme in Suid-Afrika gebruik word om die ideologiese eiebelang van die regerende party na te streef. In dié meningstuk het hy veral klem gelê daarop dat ’n klein elite dit regkry om die meerderheidskiesers tevrede te hou terwyl hierdie klein groepie hulself verryk. Dit is nogal fassinerend, selfs skrikwekkend, om waar te neem hoe dit toegelaat word dat ons fokus gehou word op die regerende party se een hand, wat ideologiese wonderwerke belowe (natuurlik ook met die dreigemente dat enige ander alternatief ons sal terugneem na apartheid toe), terwyl die ander hand, soos by ’n vernuftige kulkunstenaar, diep in die staatskas gedruk word, asook soos ’n marionetmeester volle beheer oor alles in die land wil neem.

Hierdie vergrype was die mees opsigtelik in die Gupta-Zuma-era, waar dit niks minder as ’n magsvergryporgie was nie. In die eerste van ’n reeks verslae van die Zondo-kommissie word hierdie vergrype ontbloot en word daar ook (uiteindelik?) ’n verband tussen staatskaping en kaderontplooiing aangedui. Alhoewel ons nou hopelik die meeste van die blatante rook en spieëls wat nodig was om die aandag op die sosialistiese hand te hou, verloor het met die uitvlug van die Guptas en kie, asook die Zondo-verslae, is die ideologiese boodskap wat daardeur geskep is – radikale ekonomiese transformasie – stewig gewortel in Suid-Afrika. Daar is nie ’n aspek van ons sosio-ekonomiese omgewing wat nie meer vanuit hierdie raamwerk beskou word nie – alles moet radikaal transformeer.

Hierdie ideologies gevestigde uitkyk op die samelewing deur politici is sigbaar uit minister Gwede Mantashe se opmerking “‘Ontplooiing’ is nodig vir transformasie en die demokrasie” (Beeld, 15 Januarie 2022, bl 5). Dit herinner nogal aan Solly Tshitangano wat gekla het oor die aanstelling van ’n wit man (Werner Mouton) wat ’n driemaandkontrak gekry het en die impak van so ’n aanstelling op gelyke indiensname by Eskom. Met Solly se dissiplinêre verhoor het hy dit ook gestel dat sy afdanking ’n groot slag vir transformasie (regstellende aksie) en Eskom se gelyke-indiensnemingsrekord sal wees. Hierdie is maar twee van vele gevalle waar gelyke indiensneming geprioritiseer word bo geskiktheid van kandidate en werknemers.

Daar is twee sake wat uit bogenoemde ter sprake kom. Die eerste is dat Mantashe eintlik impliseer dat gelykheid nooit sal gebeur sonder politieke inmenging nie. Dit laat ’n wrang smaak in die mond, aangesien dit die geskiktheid van kandidate bevraagteken. Dit maak nie sin nie, aangesien die instellings waar kaderontplooiing plaasvind, lank reeds getransformeer is wat indiensnemingsbillikheid en regstellende aksie betref. Is daar dan nie kandidate vanuit die aangewese groepe wat die werk kan doen en aan die inherente van ’n posisie voldoen sonder kaderontplooiing nie? Indien dit die geval is, moet Mantashe eerder vrae vra oor ons opvoeding- en onderriginstellings se vermoëns om gelyke geleenthede aan alle Suid-Afrikaners te gee om sonder politieke inmenging die werk te kan doen.

Beskouings van welvaart

Daar is geen twyfel dat ons ’n geweldige probleem met ekonomiese ongelykheid het nie, en daarom kan hierdie probleem maklik omskep word in ’n politieke speelbal. Hierdie ongelykheid kan egter vanuit verskeie oogpunte bestudeer word. Johan Fourie se skitterende boek Our long walk to economic freedom verwys alreeds in die inleiding (“How do we thrive?”) na twee benaderings tot ekonomiese welvaart met die metafoor van bordspeletjies: Monopoly en Catan. Dit kom daarop neer dat welvaart gesien kan word vanuit ’n benadering van alles of niks, of dat die sukses en welvaart van my buurman tot my welvaart kan lei. Sy boek vra dan ook eerder die vraag wat ekonomiese welvaart, eerder as armoede, veroorsaak. Wanneer jy eersgenome nastrewing van “alles of niks” het (die Monopoly-benadering), kan die persepsie voorkom dat welvaart op sigself eiendom is, eerder as die gevolg van sekere suksesvolle besluite en optredes.

Uit so ’n perspektief word welvaart beskou as iets wat gevát moet word, eerder as verdién word. In Suid-Afrika is dit dan ook maklik om welvaart aan ras te koppel en daarmee aan te neem dat welvaart ongelyk verdeel is in die verlede en daarom op een of ander wyse in die verlede oneerlik verkry is. Vanuit daardie siening moet welvaart daarom weggeneem word van hierdie groep en gegee word aan die groep wat in die verlede nie toegang daartoe kon verkry nie. Dit sien ons veral in die landbou, waar aangeneem word dat suksesvolle plase en bedrywe ook suksesvol moet wees wanneer dit aan ’n voorheen benadeelde groep of persoon oorgedra word. Die teenstand teen kritiek wanneer so ’n projek misluk, is dan heftig, vyandig en soms militant, aangesien die doel van gelykheid deur die verdeling van welvaart volgens die staat bereik is. Dus moes daar ander redes wees wat die projek laat struikel het, soos negatiwiteit van ander boere en gemeenskappe, rassisme, “witmonopoliekapitaal”, Jan van Riebeeck, en vele meer.

Met hierdie benadering tot welvaart kan geweldige frustrasie plaasvind wanneer die “witmonopoliekapitaal”-groep steeds vooruitboer. Dan was óf die herverdeling (radikale ekonomiese transformasie) nie goed genoeg gedoen nie, óf hierdie voorheen bevoordeelde groep is steeds met onderduimsheid besig. Die alternatief, dat hierdie groep deur besigheidsvernuf en produktiwiteit sukses kan bereik, kan eenvoudig nie oorweeg word nie, want welvaart word dan as staatseiendom beskou. Mantashe se opmerking oor kaderontplooiing as ’n noodsaaklikheid vir transformasie weerspieël ’n uitgangspunt dat die ANC glo dat alle staatsposisies daardeur besit word en dat hierdie politieke groep kan besluit wie daarin aangestel word. Sonder hierdie mag word daar in wese dan van die ANC gesteel.

Billike diskriminasie

Dit bring my na die woorde in die titel van hierdie meningstuk: “die stiefboetie van gelykheid”. In ons arbeidsverhoudingesisteem, wat deur ons verskillende arbeidswette gereguleer word, is daar twee vorme van diskriminasie wat as billik beskou kan word. Dit klink dalk vreemd om die frase “billike diskriminasie” te hoor, maar dit word algemeen toegepas. In die akademie sien ons dit daagliks, waar ’n aansoeker vir ’n studieveld nie oorweeg word indien daar nie ’n vorige nodige kwalifikasie verkry is wat toegang tot die opvolgende graad vereis nie. Selfs op skool kies die kinders op die speelterrein eerste ’n spanlid met die beste vaardighede vir die spel, en so word gediskrimineer teen die kind wat nie hierdie vaardighede het nie. Dit is nou waar die span sukses in die spel bo goeie vriendskapverhoudings om ander redes plaas.

In arbeidsverhoudinge word na die billike diskriminasie in laasgenoemde voorbeeld verwys as inherente vereistes van ’n posisie. Dit is dus billike diskriminasie indien ’n persoon nie oorweeg word nie omdat hy of sy nie aan die minimum vereistes voldoen vir die betrokke posisie nie. Die Wet op Gelyke Indiensneming (Employment Equity Act) verwys na toepaslik gekwalifiseerde kandidate wat aan hierdie inherente vereistes moet voldoen. Indien ’n kandidaat nie hieraan voldoen nie, hoef daardie persoon nie oorweeg te word vir die posisie nie. Dit is die reg van die werkgewer om binne landsregulasies te kies wie aangestel word.

Met die oorweging van ’n aanstelling kan die werkgewer die tweede tipe billike diskriminasie toepas om binne sy reg op te tree; regstellende aksie. So word regstellende aksie dan ’n hulpmiddel om voorheen benadeelde kandidate wat aan die minimum vereistes voldoen, toegang tot die werkplek te gee, asook om die organisasie toe te laat om gelykheidsdoelwitte te bereik. Volgens hierdie benadering is die klem dus op gelyke geleenthede, waar die kans op welvaart toegelaat word vir geskikte kandidate wat in die verlede daarvan weerhou is.

Met die nastrewing van gelyke geleenthede met indiensneming en met die inagneming van geskiedkundige ongelykhede moet beide hierdie vorme van billike diskriminasie – inherente vereistes en regstellende aksie – toegepas word. Indien enige een van hierdie twee voorkeur kry ten koste van die ander een, verloor dit die billikheidsbeginsels waarvoor dit bedoel is. Sonder die inagneming van diversiteit en verteenwoordiging kan die beginsel van inherente vereistes op sy eie misbruik word as ’n skyn vir die toepassing van onbillike diskriminasie gebaseer op ras, geslag, kultuur, ens. In so ’n geval is die ware rede vir die voorvereistes dus nie om geskikte gekwalifiseerde kandidate te werf nie, maar om groepe uit te sluit wat nie by die werkgewer nie voorkeur geniet – onbillike diskriminasie.

Transformasie en aanspreeklikheid in wanbalans

Dit gebeur ook dat die nastrewing van gelykheid (transformasie) verhewe geplaas word bo die inherente vereiste van ’n posisie. Dit vind meestal plaas wanneer daar nie genoeg geskikte gekwalifiseerde kandidate van die aangewese groep is wat die werkgewer wil aanstel nie. Die werkgewer besluit dan om eerder die voorvereistes af te water. Dit is hier waar daar ook ’n donkerder kant van die nastrewing van transformasie bo inherente vereistes plaasvind, waar kaderontplooiing ’n rol speel. Transformasie bo alles word die dekmantel vir staatsbeheer; ’n taktiek waarin oudpresident Jacob Zuma gefloreer het. Die oomblik wanneer hierdie aanstellings bevraagteken word, word “teenrevolusionêre magte” en “rassisme” uitgebasuin.

Die nastrewing van transformasie word in so ’n geval die einddoel en nie ’n komponent van billikheid nie. Dit vergemaklik die taktiek om prosesse van aanspreeklikheid te beveg deur die rassekaart te gebruik. Hierdeur word die toepassing van inherente vereistes met die aanstelling en aanspreeklikheid gedurende die werksverhouding die stiefboetie. Dit is nie nodig om te wonder wat gebeur waar transformasie sonder die teenwig van inherente vereistes toegepas word nie, aangesien die meerderheid van plaaslike owerhede, staatsdepartemente en staatsondernemings waar hierdie praktyk met minimale tot geen aanspreeklikheid nie skaamteloos toegepas word, duidelik toon wat die gevolge is.

Wat dit verder moeilik maak, is dat die strewe na transformasie nie altyd gekoppel is aan aangewese groepe nie, maar eerder aan ideologiese en politieke “transformasie”. Nie alleen is dit met kaderontplooiing nodig dat die aangewese kandidaat aan regstellende-aksie-regulasies voldoen nie, maar die persoon moet ook die ideologiese, politieke en ekonomiese belange van die dominerende politieke groep nastreef. Dan wonder mens na watter “transformasie” Gwede Mantashe verwys het met “’ontplooiing’ is nodig vir transformasie en die demokrasie”: gelyke-indiensnemingtransformasie of staatskapingtransformasie?

Werk as staatseiendom

Ons regering en regerende politieke party kyk na ongelykheid vanuit ’n baie ander perspektief as die benadering waarvolgens ons arbeidsverhoudingesisteem funksioneer. Ons hele arbeidsverhoudingesisteem is aan bedingingskorporatisme gekoppel, waar onderhandelde wetgewing en regulasies die speelveld skep waarbinne werkgewers diensverhoudinge kan bestuur en poste kan skep. Werk is dus ’n hulpbron om organisatoriese doelwitte te bereik.

Ons huidige dominerende politieke magte beskou posisies egter eerder as staatseiendom, en dat die regering misluk indien alle poste (openbaar en privaat) nie op alle vlakke die bevolking se samestelling, asook die dominerende faksie in die party se ideologie en belange, reflekteer nie. Dit skep ’n omgewing waar besighede onder geweldige druk geplaas word om transformasie (soos alreeds in baie staatsinstansies die geval is) bo inherente vereistes en aanspreeklikheid te stel. Omdat besighede afhanklik is van finansiële sukses, anders as in staatsinstellings, is dit nie so maklik om inherente vereistes af te water nie.

Dit gebeur dat besighede wat hul reg toepas om geskikte gekwalifiseerde werknemers aan te stel beskou word as boosdoeners indien dit nie die populistiese siening van transformasie, onderskryf deur politiese ideologieë, weerspieël nie. Soos wanneer kaders wat geïdentifiseer word, nie aangestel word nie. Ons is in baie groot moeilikheid wanneer die werkgewer se mag om binne landswette billike indiensneming te doen, hom ontneem word en dit met sulke politieke inmenging vervang word. Nog erger is dit wanneer politieke en gemeenskapsgroepe toegelaat word om reg in eie hande te neem en besighede aan te val en te ontwrig wanneer hulle nie hou van die wyse waarop dit bestuur word nie.

Draaipunt

Daar is heelwat ligpunte in ons arbeidsverhoudingesisteem wat daarop dui dat die huidige wanbalanse met die klem op transformasie, verhewe bo inherente vereistes en aanspreeklikheid, ’n keerpunt bereik. Die wyse waarop Solly Tshitangano verantwoordelik gehou is deur sy werkgewer, Eskom, is ’n belangrike arbeidsgebeurtenis. Vir buitestanders kom dit voor asof hy oortuig daarvan was dat die rassekaart outomaties sy wangedrag sou verdoesel, want dit lyk asof transformasie vir hom belangriker as verantwoordelikheid is.

Die Zondo-kommissie se eerste deelverslag het ook heelwat lig geplaas op die gevolge van aanstellings gebaseer op eie belange bo organisasiebehoeftes. Selfs die parlement is onder ’n vergrootglas geplaas, waar die gevolge van die nienakoming van pligte deur die Zondo-kommissie vir die wêreld gewys is. Die boodskap kom al hoe meer uit dat ons nie hoef te hou van ons pligte om dit te moet respekteer en uit te voer nie. Dit is ook verblydend dat ons huidige president meer klem lê op bevoegdheid met kaderontplooiing, alhoewel die impak van hierdie praktyk steeds meer kwaad as goed blyk te veroorsaak.

Eintlik word hierdie hele benadering nou ontbloot en betwyfel. Ja, baie van ons het ’n sterk negatiewe reaksie op die verwysing na kaderontplooiing, maar net soos in die privaatsektor kan die werkgewers in die openbare sektor kies wie hul aanstel, mits dit volgens die wetgewing en regulasies billik is. Ons hoef dus nie daarvan te hou om dit billik te maak nie. Die positiewe impak is dat die belangrikheid van geskikte werknemers, en om die werknemers se verantwoordelikheid deurentyd te bestuur, nou erken word. Dit is ’n draaipunt, al het die regering se “transformasie bo alles”-era ons in ’n situasie gelaat wat vir seker nie binnekort gaan verander nie.

’n Oorsig van die aantal staatsdepartemente en -afdelings sonder arbeidsverhoudingebeamptes, die persone wat aanspreeklikheid in die werkplek moet toepas, is skreiend bewys hiervan. Dit is wel in die afgelope jare duidelik gemaak dat die gevolge van die ignorering van aanspreeklikheid verpletterende nagevolge vir hierdie werkgewers het en dat prioritisering van die toepassing van arbeidsbeleide nou sal moet plaasvind. Hopelik aanvaar die regering ook dat net soos ons nie hoef te hou van aanstellings wat billik en wettig gedoen word in staatsinstansies nie, die regering ook nie van privaataanstellings hoef te hou om dit wettig en billik te maak nie.

  • Bennie Linde is ’n professor in arbeidsverhoudinge by die Noordwes-Universiteit en redakteur van LitNet Akademies (Ekonomiese en Bestuurswetenskappe). Heelwat van die meningstuk is gebaseer op sy artikel “Die dualistiese benadering tot arbeidsverhoudinge in die hedendaagse Suid-Afrika: ’n Sisteemteoretiese perspektief”, LitNet Akademies, 17:3.

 

Lees ook:

Bennie Linde se onderhoud met Johan Fourie, skrywer van Our long walk to economic freedom

Bettina Wyngaard: “Zuma tol weer

Jason Lloyd: “Sosialisme en die ANC

 

Fokusprent deur Ümit Yıldırım op Unsplash

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top