Die tyd van Verwoerd deur Louis Bothma: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Die tyd van Verwoerd, 19011960
Skrywer: LJ Bothma

ISBN: 9781037078200

Die historikus Louis Bothma is bekend vir sy boeke wat handel oor die Suid-Afrikaanse Grensoorlog (1966–1989), asook ander aspekte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, soos die Rebellie van 1914. Bothma se nuutste publikasie is ’n ambisieuse ondersoek na die era van een van Suid-Afrika se mees omstrede politici, Hendrik Frensch Verwoerd, in ’n publikasie wat in twee volumes onderneem word en waarvan die eerste volume in 2025 verskyn het.

Wie sal ooit vergeet toe Suid-Afrika se openbare uitsaaier, die SAUK, in 2004 gepoog het om die 100 “Grootste” Suid-Afrikaners aan te wys? Met Hendrik Verwoerd, wat ingestem is op nommer 20 deur die SAUK se kykers! Die hele projek is later laat vaar (sommige van die ander omstrede name op die lys was DF Malan, Jan van Riebeeck, Cecil John Rhodes en die AWB se leier, Eugène Terre’Blanche). Politici verdeel mense se opinies. Die beste voorbeeld is miskien Donald Trump, maar Verwoerd was geen uitsondering nie. Volgens Bothma was ’n nugtere historiese ondersoek na Verwoerd “nie 30 jaar gelede moontlik met die bewindsoorname van die ANC en die aanbreek van die nuwe Suid-Afrika in 1994 nie” (5), en dat die tyd in 2025 ryp is vir ’n wetenskaplike en genuanseerde ondersoek na die jare van Verwoerd.

 ’n Mens sal maklik onder die indruk kan kom dat hierdie boek ’n biografie van Hendrik Verwoerd is, met die gesig van Verwoerd wat prominent op die voorblad pryk, tesame met die gebruik van die datums 1901–1960 (Verwoerd is in 1901 gebore), maar ’n biografie is dit nie. Ten spyte van die genoemde datums, begin Bothma sy ondersoek in 17de eeu, maar hy skryf besonder bondig en opsommend oor hierdie tydperk. In hoofstuk een word daar ook eers stilgestaan by die skrywer se eie perspektief en belewenis, voordat hoofstuk twee in die algemeen in Suid-Afrika se verlede begin delf. Daar word egter eintlik maar min oor Verwoerd self in die boek geskryf, en waar daar wel detail opgeneem is, word die besonderhede uiters opsommend weergegee. Verwoerd se kinderjare en studentejare word byvoorbeeld glad nie bespreek nie, en so ook nie veel van sy persoonlike lewe nie.

Dit word egter baie gou duidelik dat die skrywer sorgvuldig en noukeurig en sistematies te werk gegaan het in sy ondersoek, soos wat ook die geval was met al sy vorige boeke. Daarvan getuig die omvattende bronnelys en endnotas wat die teks vergesel, waaronder ruim van argivale bronne gebruik gemaak is. Die boek sou egter maklik gesny kon word en met hoofstuk drie kon begin. Die genealogiese informasie van die Bothma-familie is byvoorbeeld baie interessant, maar hoe relevant dit tot die groter onderwerp in die boek is, is nie altyd duidelik nie. Trouens, daar is heelwat gedeeltes wat in die boek voorkom wat mens laat wonder hoekom dit ingesluit was. Dit is veral die uitgebreide besprekinge van sportgebeure soos rugby en boks, sowel as die skoonheidskompetisies, wat in die verband uitstaan, alhoewel daar toegegee moet word dat sportpolitiek ’n besondere belangrike deel uitmaak van die tydperk onder bespreking, met Suid-Afrikaanse sportspanne wat toenemend meer en meer onder internasionale druk begin verkeer het.

Vanaf hoofstuk drie beweeg die boek vervolgens stadig maar seker in die rigting waarheen dit beloof, waar die hoofstuk die 1948-oorwinning van die Nasionale Party as vertrekpunt neem. Vir die volgende sowat 150 bladsye vorm die politiek van die 1950’s die sentrale fokuspunt van die boek, waaronder ’n bittere stryd om swart kiesers van die kieserslyste te verwyder. Dit was die jare van DF Malan en JG Strijdom, en die konsolidering van mag binne die Nasionale Party was aan die orde van die dag. Weereens is die fokus op Verwoerd self maar skraps, maar die vertelling beur voort tot by hoofstuk 8, waar Verwoerd vir Strijdom opvolg om die sesde premier van die Unie van Suid-Afrika te word.

Die nadraai van die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) met die gepaardgaande dekolonialisasie van Afrikastate, het ’n deurslaggewende invloed op die Verwoerd-administrasie uitgeoefen. Hierdie feit kom miskien nie so sterk deur in die boek nie, maar daar word wel heelwat aandag gewy aan die historiese besoek van die Britse Eerste Minister Harold Macmillan (1894–1986) en sy bekende “Winde van verandering”-toespraak wat hy in die parlement gelewer het. Verwoerd se reaksie op die veranderende tye was ’n futiele poging om die beleid van apartheid te hervorm, deur dit as “afsonderlike ontwikkeling” te herverpak, met die sisteem van tuislande en die gehate pasboeksisteem.

Alhoewel Bothma se aanbieding in toeganklike en leesbare styl geskryf is, en die navorsing deeglik en gesaghebbend is, sou die boek kon baat by ’n sterker interpretasie van die feite. Die leser word ietwat oorweldig deur feit op feit op feit, ’n eienskap wat nogal kenmerkend is van baie geskiedenisboeke. “Geskiedenis is net een ding na die ander na die ander, dit kom nooit tot ’n punt nie” – so lui die ou bekende kritiek teen geskiedenis en geskiedskrywing en ongelukkig skemer iets daarvan ook in hierdie publikasie deur. Die teks lees by tye meer soos ’n kroniek as ’n geskiedenisboek. Daarmee kan ’n mens geensins tot die gevolgtrekking kom dat Bothma se poging nie die lees werd is nie, maar dit voel tog asof daar bietjie van ’n gebrek aan ’n groot argument agter die boek is. ’n Sentrale fokuspunt skyn te wees die aanslag op Verwoerd se lewe, wat ook die punt in die verhaal is waar volume een ten einde loop. Die suggestie wil-wil soms deurskemer dat die geldmag agter die aanslag op Verwoerd skuil (375), hoewel dit nie pertinent so gestel word nie, en die boek eintlik maar net ’n oorsig van die breë anti-Verwoerdsentiment vanuit die sakesektor van die tyd skets.

Alhoewel Die tyd van Verwoerd in sommige opsigte ietwat teleurgestel het, veral in vergelyking met sommige van die skrywer se vorige publikasies, is die teks geloofwaardig en is besondere omvattende en deeglike navorsing gedoen. Gegewe die feit dat ’n tweede volume in die pyplyn is, wat die tydperk van 1960-1966 moet dek, moet daar ook miskien gewaak word om ’n finale oordeel oor hierdie eerste volume te vel.

Die meeste boeke oor Verwoerd is geneig om hoofsaaklik op sy openbare lewe te fokus, of dit is publikasies wat geskryf is as werke wat ten doel het om Verwoerd as staatsman te verheerlik. Bothma se Die tyd van Verwoerd pas nie in een van hierdie twee kategorieë nie, en bied eerder ’n breër algemene oorsig van die tydperk van Verwoerd se loopbaan in die politiek. Hoewel die boek grotendeels slaag, kry mens die gevoel dat die teks kon baat by groter interpretasie van die feite wat gestel word.

Lees ook:

Lucas Mangope deur Oupa Segalwe: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top