Die twaalfde Tuin van Digters in beeld

  • 0

Die twaalfde Tuin van Digters-fees is op 15 en 16 September 2023 by die Breytenbach Sentrum op Wellington aangebied. Engela Duvenage deel haar indrukke.

Die twaalfde Tuin van Digters-fees is rondom die tema “lewende woord(e)” aangebied. Dit is moontlik gemaak danksy die bydrae van borge soos die Dagbreek Trust en NB Uitgewers.

Afbeeldings van verskeie Afrikaanse vrouedigters is verlede jaar op ’n buitemuur rondom die Breytenbach-kultuursentrum deur Tanja Erasmus aangebring, op inisiatief van Louis Duvenage, voorsitter van die Sentrum se direksie. Hier is hy saam met Diana Ferrus, wat vanjaar deur die Sentrum se Tuin van Digters-fees as digter gehuldig is.

Diana Ferrus het vanjaar 70 jaar oud geword. Hier is sy by ’n afdruk van haar “Ons Komvandaan”-gedig, wat vandeesweek in die Digterstuin by die Breytenbach Sentrum aangebring is.

Die Tuin van Digters-fees word jaarliks rondom die datum van Breyten Breytenbach se verjaarsdagdatum (16 September) beplan. Hier is hy saam met Francois Lötter, feesorganiseerder namens die Breytenbach Sentrum.

’n Beeld deur Nanette Ranger hou waak oor die Digterstuin, ’n lewende monument vir Afrikaanse digkuns, by die Breytenbach Sentrum op Wellington.

Diana Ferrus (links) is as digter gehuldig gedurende die Tuin van Digters-fees. Hier is sy saam met lede van die Mengelmoesdigters. Hulle het as deel van die huldigingsprogram van haar bekendste gedigte, soos “Vir Sara Baartman” en “Ons Komvandaan”, voorgelees en met Ferrus oor haar skryfwerk gesels. Van links is Theresa Carstens van Wellington en Merle Danhouse en Gaireyah Fredericks van die Paarl. Die groep het in 2013 onder Ferrus se leiding begin saam skryf.

Musiekstudente van die Universiteit Stellenbosch was deel van Diana Ferrus se huldigingsprogram. Jason September het ’n toonsetting deur Kerwin Petrus van Ferrus se gedig “Ons Komvandaan” gesing.

Die Di Prima-jazzpoësiegroep uit België het Vrydagaand se verrigtinge afgesluit.

Tom Dreyer het oor sy bundel Nou in infrarooi gesels met Marius Swart, ’n dosent van die Departement Afrikaans-Nederlands.

Pieter Odendaal het voorgelees uit sy jongste bundel Ontaard.

PEN Afrikaans het digters genooi om verse in reaksie op hul voorgangers se werk voor te dra. Die gehoor kon eers na die oorspronklike gedigte luister en daarna die nuwe werke. Veronique Jephtas het die program gelei, wat in samewerking met deelnemende digters soos Bibi Slippers, Ashwin Arendse, Pieter Odendaal, Tom Dreyer en Lynthia Julius saamgestel is.

Frazer Berry in gesprek met Dominique Botha. Sy het die Ingrid Jonker-prys vir ’n Afrikaanse debuutdigbundel gewen vir Donkerberg/Bloodwood. Berry en ander musikante van Tribal Echo het op hul beurt ’n huldigingsprogram vir digter Diana Ferrus aangebied onder die titel “Warrelende Woorde: ’n lofsang aan Lady Di”.

Produksies is aangebied in die ATKV Akkoordtent, die Boland Cellar Woordtent en ook weens ysige reënweer in die Bôrdinghuis Teater.

Bundels is geteken na afloop van Daniel Hugo se gesprek met Bernard Odendaal oor sy Vers en Kapittel II. (Foto: Louis Duvenage)

Hoe lyk kreatiewe Afrikaanse skryfkuns in ’n era van kunsmatige intelligensie en ChatGPT? Dit was die onderwerp van bespreking tussen Annie Klopper, Hunter Kennedy en Burgert Senekal. (Foto: Louis Duvenage)

Die Tuin van Digters is die afgelope vier jaar die plek waar die veeltalige Ons Klyntji-zine jaarliks bekend gestel word. Dit bevat 114 bydraes deur onder meer digters, kortverhaalskrywers, illustreerders en fotograwe. Hier lees Charlton Andrew, ’n honneursstudent aan die Universiteit Stellenbosch, sy gedig “As jou pa march” voor.

Danie Marais het sy gedig “Geld”, wat in die 2023-Ons Klyntji Jaargang 127 verskyn, voorgelees.

Joernalis, digter en musikant Toast Coetzer is weer eens een van die redakteurs wat die publikasie van die Ons Klyntji-zine dryf. Dit word ondersteun deur kykNET.

Willem Mulder lees voor uit sy bundel In my soeke verdwaal – die eerste publikasie deur die uitgewers Man in die Berg.

Hermien de Vos (Bamboesina) se “Die Seeperd” in vanjaar se Ons Klyntji (Jaargang 127) het aangegryp.

Digter Grant Jefthas was vanjaar die seremoniemeester gedurende die Tuin van Digters-fees. Hy het ook gedurende die bekendstelling van die Ons Klyntji-zine van sy gedigte voorgelees.

Die Breytenbach Sentrum het, ter ondersteuning van die Afrikaans 100-inisiatief, vir Bernard Odendaal, PEN Afrikaans en Conrad Steenkamp (staande), hoof van die Afrikaanse Taalraad, kans op die program gegee om oor die inisiatief te gesels, en spesifiek wat binne die domein Skrywers en Uitgewers vir 2025 beplan word.

Elizabeth Gunter, voorheen van die Universiteit Stellenbosch se Departement Visuele Kunste, het die feesuitstalling geopen. Verskeie werke deur Breyten Breytenbach, Marinta Skupin, Sharle Matthews, Michele Nigrini, Kobus Coetzee, Elzahn Nel en Kobus le Grange is in die Breytenbach Galery en die Cloete Gemeenskapsgalery in die Hoofgebou van die Breytenbach Sentrum te sien. Die uitstalling word ondersteun deur Star South Vrugte en Boland Kelder.

Elzahn Nel het borduurwerk gebruik om ’n driedimensionele aard aan Breyten Breytenbach se woorde te gee, as deel van die groepuitstalling ’n Oulap se rooi (is mos) mooi. Hier is hulle saam met Niel Neethling.

Werke deur die kunstenaar Marinta Skupin is nog tot November in die Cloete Gemeenskapsgalery te sien. Haar reeks is geïnspireer deur die gedigte van onder meer Breyten Breytenbach en Diana Ferrus, onder die tema “Iets van ’n heelal”. Dié strofe kom uit die gedig “liefling, taal” van Breytenbach.

Jessica Ruiters van die Breytenbach Sentrum bekyk van die kunswerke van onder meer Breyten Breytenbach wat tans deel vorm van die uitstalling Oulap se rooi (is mos) mooi. Anne-Ghrett Erasmus Coetzee is die kurator.

Sielkundige en musikant Hanru Niemand se bundel Gedaantespel bevat ’n enkele verhalende gedig oor ’n stom held se sending om ’n geliefde prinses uit die kloue van ’n bose bosnar te red. Die teks is vroeër vanjaar as multimedia-bundel uitgegee. Hy het dit by die Tuin van Digters-fees opgevoer in geselskap van Frieda van den Heever, Riku Lätti en Danie Marais. Hier is hy saam met kinderboekskrywer Elsibe Loubser McGuffog. (Foto: Alisa Farr)

Dominique Botha (naas links) is vanjaar se wenner van die Ingrid Jonker-prys vir ’n Afrikaanse debuutdigbundel. Hier is sy (van links) by Francois Lötter, organiseerder van die Tuin van Digters-fees namens die Breytenbach Sentrum, Astrid de Vos, uitvoerende trustee van die Dagbreek Trust, en Marius Crous, voorsitter van die Ingrid Jonker-pryskomitee.

Digters Breyten Breytenbach en Dominique Botha het in die produksie Lewende woord(e) voorgelees uit van hul werk. Rian Malan en Daniel Franks op viool het vir musiek en sang gesorg. (Foto: Louis Duvenage)

  • Alle foto’s deur Engela Duvenage, tensy anders vermeld.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top