
Boekomslag: LAPA Penguin Random House South Africa
Die tusseninners
Zelda Bezuidenhout
Uitgewer: LAPA
ISBN: 978-0-63701-269-0
Dit neem nie lank om jou in Zelda Bezuidenhout se nuutste jeugroman Die tusseninners gemaklik te maak nie. Of dit nou op die stoep by oom Phill, met sy opmerkings oor verbygangers en hulle voertuie, of langs die kombuistafel van Max se sielkundige-ma is, dit voel tuis.
Die tusseninners hier ter sprake is presies tussen die begin van hoërskool en die einde van hoërskool. Tussen bleeksiel en koninginby of main ou, en dikwels tussen die duiwel en die diep blou see. Meesal tussen die boom en die bas. So-so, nie uitstekend nie, maar ook nie te sleg nie. Tot die dag van Max se flater.
Menige lesers sal identifiseer met die fout wat Max en haar vriendin Bibi een middag ’n paar weke voor die graad 10’s se Halfpadklaarpartytjie maak. ’n Boodskap wat vir Bibi bedoel was, beland per ongeluk op die graad 10’s se sosiale komitee se WhatsApp-groep. Oornag is hulle persona non grata en bly hulle uitnodigings na die Halfpadklaarpartytjie in die slag. Hulle word, soos Max se ma later verduidelik, geshun. Sy bevestig: “Dis vermyding. Finish en klaar. Om watter rede ook al.”
Die tusseninners word uit die perspektief van Maxine, sowel as Jonatan vertel. Hemelbesem Jona is nuut by die skool, op die oog af ook ’n tusseninner, maar dis duidelik dat hy nader aan die in-groep as die “deurskynendes” is. Hy beskryf Max en Bibi baie mooi wanneer dit deur sy gedagtes gaan dat hulle lyk “asof hulle op die reserwebankie van die lewe sit en wag om gekies te word”. Hy aan die ander kant kan en moet ’n keuse maak. Soos oom Phill sê: ’n Mens moet jouself darem op ’n plek sit waar die ding wat jy wil laat gebeur, kan gebeur.
Max en Bibi besluit om cooler as die res te probeer wees en besluit om iets beters vir die aand van die beplande partytjie te reël. Saam met Jona beplan hulle ’n baie oorspronklike aand, en hulle noem die “partytjie” Heelpadcool. Bezuidenhout het baie oorspronklike planne met haar storielyn gemaak. Die manier wat die storie aanmekaargesit is, wys duidelik dat sy haar boublokke ken. Van ’n ou spieëltafel tot veteraanmotors tot eertydse vermaak. Sonder dat enige iets outyds voel. Dis byna asof sy kreatief hergebruik en opgradeer. Max se meesterplan is heilsaam en retro en het my herinner aan Marita van der Vyver se Dis koue kos, skat. Die teikengroep behoort gemaklik daarby in te koop, terwyl ouer lesers (hierdie resensent ingesluit) heerlik nostalgies kan raak.
........
Dit herinner aan die skrywer se debuutroman As mens geluk kon proe, ook ’n lekkerleesboek. Nooit vervelig nie en eg, kontemporêr en geloofwaardig.
.........
Die tusseninners is nie ’n “issue”-boek nie. Dis ’n grootwordverhaal waarin aktuele en universele kwessies soos nie-tradisionele gesinne, boeliery en vriendskapsuitdagings ’n rol speel. Dit herinner aan die skrywer se debuutroman As mens geluk kon proe, ook ’n lekkerleesboek. Nooit vervelig nie en eg, kontemporêr en geloofwaardig. Van oom Phill se ou Land Rover wat ’n botteltjie Valve Guard as aanvulling nodig het om met loodvrye petrol aan die gang te kan bly, tot die bekende bitsigheid wat vir baie van Bezuidenhout se lesers bekend sal voel. Max se bynaam by die skool is Tuindwerg en Jona moet hoor: “Jy sal nog leer hoe dit in hierdie skool werk. As jy met losers uithang, word jy self as loser gebrandmerk. Dit maak nie saak hoe vreeslik cool jy dink jy is nie.” Dis egter asof Jona reeds ’n paar bladsye vroeër hierop voorberei en dus toegerus is toe sy oom opgemerk het: “Party planne maak hulleself, Jona. Dit sal jy nog leer, en op die ou end werk alles eintlik maar uit soos dit moet.”
Bezuidenhout se karakters wroeg nie vir te lank nie en sy bou genoeg vangnette en gidse in om hulle veilig te hou en boodskappe oor te dra. Hopeloosheid is nie ’n opsie nie. Selfs wanneer dinge beter gaan, is daar nie ’n fanfare nie, want die leser weet of moet besef dat hierdie verhaal ’n grepie in die lewe van ’n klompie karakters wys – moeiliker, sowel as beter tye. Soos Ferris Bueller se bekende aanhaling waarsku: “Life moves pretty fast. If you don’t stop and look around once in a while, you could miss it.”
Eie aan Bezuidenhout, is daar ook deurgaans genoeg humor om binnepret deel van die leeservaring te maak. Max se eksentrieke ouma Nettie met haar hoesmedisyne wat soos trifle ruik, Max voor haar spieëlkas met haar haarborsel-mikrofoon en dierbare en wyse oom Phill met ’n dooie sigaret in sy mond en sy buitengewone talent. Jikkels, tikkels!
Ek is redelik seker dat hierdie boek nie halfpadklaar gelees gaan word nie, maar vir baie lesers ’n heelpadcool boekbelewenis sal wees. En hopelik lees party van Jona se “uitskieters” en “uitvaagsels” én “tusseninners” Die tusseninners. Dis ’n wen-wen-situasie wanneer lesers hulleself in boeke herken, sowel as ander leer ken.
Dis duidelik waarom hierdie verhaal een van die wenverhale van LAPA se Jeugromankompetisie van 2025 was. Fanie Viljoen was dié keer die wenner met Die seun met die swaeltjie en die twee naaswenners was Bezuidenhout met Die tusseninners en Jacolet van den Berg met Die fluisteraar.
Maar wat gebeur volgende? Sal Zelda Bezuidenhout dalk Max en Bibi se Fast Forward-speletjie speel? Mag ons asseblief uitvind hoe Max en Bibi en Jona se heelpadklaar uitspeel?
Lees ook:

