
Die tusseninners
Zelda Bezuidenhout
Uitgewer: LAPA
ISBN: 978-0-63701-269-0
Menige kind en tiener sal kan getuig dat kinders soms ontsettend wreed teenoor mekaar kan optree. Afknouery, hetsy aanlyn of op die skoolgronde, katterigheid en fisieke geweld speel daagliks by skole en in klaskamers regoor die wêreld af. Ook in Suid-Afrika floreer hierdie tendens in allerlei gedaantes.
As skrywer het Zelda Bezuidenhout haarself reeds as gesoute jeugboekskrywer in Afrikaans gevestig. Haar literêre oeuvre getuig hiervan. Naas belangrike temas wat in haar jeugromans verken word, was haar Toe sy oneindig was die eerste Afrikaanse jeugroman met ’n gay meisie as hoofkarakter. Bezuidenhout skroom nie om temas in haar jeugfiksie te betrek wat deur sommige as gewaagd beskou mag word nie.
Haar nuutste roman, Die tusseninners, was die naaswenner in die 2025 LAPA- jeugromankompetisie.
Maxine Myburgh woon in ’n klein dorpie, Groenvlei, saam met haar ma en ouer broer. As graad 10-meisie is sy en haar beste vriendin, Bibi, opgewonde oor die komende Halfpadklaarpartytjie wat jaarliks deur die graad 10’e gevier word. Hierdie partytjie dien as ’n ritueel – ’n oorgangsfase waartydens die graad 10-klas die liminale fase van hul skoolloopbaan vier en uitsien na die laaste jare van hul hoërskoolloopbaan.
Die leser word reeds op bladsy 8 verras met ’n gebeurtenis wat die intrige vir die res van die verhaal aanvoer. Max het ’n enorme faux pas begaan. ’n Enkele gebeurtenis tydens hul selfontwerpte WhatsApp-speletjie, Fast Forward, verander oornag Max en Bibi se sosiale status na personas non grata. Hoe stel jy ’n onskuldige fout reg wat jou ’n sosiale uitgeworpene in ’n klein dorpie soos Groenvlei maak?
Maxine se optrede laat die poppe behoorlik dans. Sy en Bibi moet vinnig planne beraam om hul vervreemding van hul jaargroep te beredder. Maar hoe gemaak?
Hul paaie kruis met dié van ’n nuwe leerder by Groenvlei Hoër, Jonatan Winter. Jonatan is skaam en teruggetrokke en verkies om nie betrokke te raak by die daaglikse intriges van sy klasmaats nie. Hy woon saam met sy ietwat eksentrieke oom op ’n kleinhoewe buite die dorp. Sy gesinsdinamika is gekompliseerd en hy verkies ’n eenvoudige bestaan. Sy lewe op Groenvlei verander onherroeplik wanneer Max en Bibi al hoe meer in sy lewe figureer. Met opwindende planne en ’n skeut romanse bring Jonatan se toetrede tot die narratief ’n opwindende wending in ’n boeiende intrige mee.
Die verhaal bevat heelwat humor, en in dié opsig is Max se ouma ’n absolute staatmaker. Sy is glad nie beïndruk met die feit dat sy in ’n ouetehuis genaamd Maturitas moet woon nie. Sy merk op: “Maturitas. Wat ’n naam! Nee kyk, my kinders is mos disleksies. Ek het gesê ek wil in Mauritius aftree, en toe beland ek in Ma-tu-ri-tas!” Haar karakter dra aktief by tot die uiteindelike ontknoping van die intrige wat daartoe lei dat Maxine, Bibi en Jonatan se vriendskap gedy en hul die spreekwoordelike etiket op hul voorkop kan verwyder.
’n Interessante tegniek wat in die teks voorkom, is die gesprekke wat Max met haarself voor haar ouma se ou spieëlkas voer. Hierdie gesprekke sluit indirek aan by die gebeure in die verhaal. Max se alter ego verken haar verbeelde toekoms. Vanuit ’n Jungiaanse perspektief versinnebeeld hierdie selfgesprekke met die alter ego ’n jong volwassene se onderdrukte gevoelens en gedagtes, insluitend haar vrese, wense en drome vir haar toekomstige self. Hierdie verteltegniek stel die leser in staat om die hoofkarakter op ’n veel dieper vlak te verken. Sodoende slaag die skrywer daarin om deur middel van Max se karakter universele gevoelens wat tieners ervaar te verwoord.
Die kern van dié roman beklemtoon die vraag rondom universele vooroordele wat in die samelewing voorkom. In dié opsig is die titel van belang. Jonatan verwys na die groeperinge by Groenvlei Hoër as “die uitskieters”, “die uitvaagsels” en “die tusseninners”. Die blote feit dat kinders en tieners op ’n jong ouderdom blootgestel word aan onregverdige en onnodige etikettering, spreek boekdele. Hiermee beklemtoon Jonatan se karakter die wyse waarop vooroordeel, aannames omtrent persoonlikhede en selfs diskriminasie in allerlei vorme die norm geword het. Géén individu behoort gekategoriseer of geëtiketteer te word nie. Individualiteit behoort gerespekteer te word.
Dit is geen verrassing dat hierdie roman een van die wenners van die 2025 LAPA-jeugromankompetisie was nie. Bezuidenhout slaag daarin om ’n gewigtige tameletjie ’n omwenteling te laat ondergaan en ’n storie van hoop, vriendskap en vergifnis te vertel. Hierdie verhaal versinnebeeld die gulhartigheid van menswees en dien as bewys dat selfs die sogenaamde tusseninners hulle in hart en siel kan en moet uitleef.
Lees ook:
Elders gesien: Die tusseninners het onlangs tweede gekom in Lapa se Jeugromankompetisie

