Die tiende Tuin van Digters, ’n visuele oorsig

  • 4

Die wetenskap het digters nodig, aldus ’n wêreldleier in klimatologie.

Dit was maar een klein juweeltjie tydens die Tuin van Digters op Wellington. Later meer hieroor.

Die gewilde sanger Deon Meiring was die seremoniemeester.

Nommer 10

Afrikaanse digkuns en die diversiteit daarvan is van 22 tot 24 Oktober 2021 by die tiende Tuin van Digters gevier. Soos vorige jare was die Breytenbach Sentrum in Wellington die tuiste van hierdie geleentheid.

Daar is orals gedigte in die tuin van die Breytenbach Sentrum.

Curtis van Kerwel het die fees geopen. Hy gee lesse in die Breytenbach Sentrum.

Dawson Jacobs, ’n leerling van Van Kerwel, het ’n stuk saam met sy leermeester gespeel.

Frank Kilbourn, voorsitter van Strauss & Co, het die opening van die groepsuitstalling in die Breytenbach Sentrum waargeneem.

Die tema van die uitstalling is Recto-Verso. Recto verwys na die “regte” of die voorkant van ’n objek, terwyl verso na die teendeel, of die ander kant, verwys.

Kilbourn het daarop gewys dat dit nie altyd so maklik is om reg en verkeerd uit te ken nie, veral nie as jy met kuns te doen het nie.

Anne-Ghrett Erasmus is die kurator van die uitstalling.

Catherine du Toit en die pianis José Dias het daarna voorlesings gedoen uit Breyten Breytenbach se volksboekie Hokhokaai Fragmente.

Du Toit is ’n professor in Franse en Vergelykende Letterkunde en Dias is in Portugal, so tussen hulle is verskillende tale op die verhoog voorgelees. Die fragmente en verse is op die groot skerms geplaas, met ’n Afrikaanse vertaling daarnaas. Dit was veral interessant om Breytenbach in Frans te hoor.

Toe dit kouer word, is vure in die tuin aangesteek.

Woorden word woorde

Alfred Schaffer is op 22 Oktober deur die Tuin van Digters gehuldig. Hy is ’n Nederlandse digter wat in Aruba gebore is en nou in Suid-Afrika woon en werk.

Van sy werk is al deur Daniel Hugo en Zandra Bezuidenhout in Afrikaans vertaal.

Schaffer vertaal weer Afrikaanse digters, onder wie Antjie Krog en Ronelda Kamfer, in Nederlands. Hy is al talle male bekroon. Die nuutste, en grootste, prys van sy loopbaan is die PC Hooft-prys wat baie onlangs aan hom toegeken is.

Yves T’sjoen het ’n videogesprek met Schaffer gevoer waarin hy hom onder andere gevra het of die PC Hooft-prys nie intimiderend is nie. Hoe gaan mens van hier verder?

Schaffer het geantwoord dat hy bewus is van die uitdaging, maar dat daar tog vele ander skrywers was wat ná die ontvangs van die PC Hooft-prys steeds puik werk gelewer het.

Danie Marais het daarna die huldigingsrede gelewer. In ’n pittige toespraak het hy verwys na Schaffer se vermoë om stereotipes te verbreek. Hy het aanvanklik self die prentjie van ’n lang, blonde Nederlander in sy kop gehad toe hy van Schaffer hoor, en moes vinnig van hierdie beeld ontslae raak toe hy Schaffer die eerste keer ontmoet. Lees die toespraak hier.

Marais en Schaffer ken mekaar al ’n lang ruk.

Mont du Toit, die wynmaker wat ’n borg is vir die Tuin van Digters, hou daarvan om mense oor wyn te laat skryf en Alfred Schaffer het in die verlede ook ’n kwatryn oor wyn geskryf. Daar is dus ’n bottel Mont du Toit-wyn met ’n Schaffer-gedig op, aan die digter oorhandig.

Laat die borde sing

Die Breytenbach Sentrum doen dinge in styl. Hier koop ’n mens pizza volgens ’n skrywer se naam. Dié een is ’n Jaco Jacobs.

Die aand is afgesluit met Hanna Pretorius en Bram Potgieter.

Pretorius het in verskeie tale gesing. Coenie de Villiers is ook betrek, weens die keramiekuitstalling deur Martin Swart.

Potgieter het haar begelei.

Martin Swart, ’n skaapboer, het hierdie keramiekstukke gemaak wat deur Coenie de Villiers geïnspireer is. Dié woordkunswerk word tans in die Breytenbach Sentrum uitgestal.

Mandane beelde klink klaarblyklik die ondermaanse

Die reikwydte en verskeidenheid wat oor twee en halwe dae in Wellington gehoor is, val op.

Saterdag 23 Oktober se eerste paneelgesprek is deur Diana Ferrus gelei.

Die feesprogram het dit só aangekondig:

Luister hoe die mandane deur Mengelmoes woordmakers, wat in 2012 by die Breytenbach Sentrum onder leiding van Diana Ferrus ontstaan het, gepen word.

Op watter stadium die ondermaanse mandaan word, sou debatteerbaar wees, maar elkeen van die deelnemers het ’n waarderende gehoor getrakteer op beelde wat spreek van kwessies wat nie sonder meer in die openbaar gelug sou word in alledaagse geselskap nie. Deur die poësie mag dit.

Hier is Theresa Cartens, Jacqualine Saaiman, Naidene Lottering, Merle Danhouse, Jadrick Pedro Koopman, Sophia Oliphant, Gaireyah Fredericks en Diana Ferrus.

Die son het deurgebreek en die mooi tuin was vol mense wat tussen vertonings deur in die buitelug kon kuier.

Desmond Painter het toe in die Mont du Toit Woordtent ’n gesprek gevoer met Bester Meyer, ’n regsgeleerde wat Magmoed Darwiesj se gedigte in Afrikaans vertaal het.

Meyer se vertalings het onlangs as Die vlug van ’n vreemdeling Naledi verskyn.

In die Mont du Toit Woordtent het Meyer aan Painter vertel hoe die lees van Magmoed Darwiesj hom bewus gemaak het van die situasie van die Palestyne.

Darwiesj het oor gewone goed, soos koffie en vis, gedig, en ook oor die digkuns.

Hy het baie moeite gedoen om nie bloot politieke gedigte te skryf nie, maar om in sy gedigte stories van ontheemding en verlange te vertel. Die digter moes, soos talle ander Palestyne, in ballingskap gaan ná sy tuisdorp verwoes is en die Israeli-owerhede hardhandig opgetree het teen enigeen wat hulle brutale optrede bevraagteken.

Sulke stories het gemaak dat Meyer al hoe meer van die politieke situasie in Palestina wou weet.

Op ’n droë manier het Meyer die beeldryke poësie naas die verskrikking van die besette Palestina geplaas. Teen einde van hulle gesprek het hy ’n Darwiesj-gedig gesing op ’n toonsetting wat hy self geskryf het. Meer as een feesganger het die klank met dié van Bob Dylan vergelyk.

Mont du Toit se wyne kon hier geproe word terwyl die gesprekke aan die gang was.

Direk daarna het Deborah Steinmair gesels met Daniel Hugo, wie se jongste bundel, Klinkklaar, by Protea Boekhuis verskyn het.

Hugo is ’n digter wat steeds rym gebruik. ’n Strofe moet klaar klink, anders weet hy nie waar om op te hou nie, sê hy.

Hugo kan die skynbaar alledaagse omtoor in klank, in ryme en reëls met ’n sterk metrum, sonder om weg te skram van die werklikheid waarin ons leef.

Monde agter maskers en mure

Poësie laat ’n mens soms toe om sin te maak van goed wat bykans onverstaanbaar is. Daarom het die Tuin van Digters twee sessies gewy aan Maskers en mure, ’n bloemlesing wat ’n groot aantal digters se belewenis van COVID-19 en die tyd van inperking ondersoek het.

Daniel Hugo, een van die samestellers, en Hannes Visser, ’n vennoot in die nuwe uitgewery Turksvy Publikasies, het die gesprek gelei.

Marlene Malan, ook ’n vennoot in Turksvy Publikasies, was in die gehoor.

Verskeie bydraers tot Maskers en mure het toe hul gedigte voorgelees.

Diana Ferrus

Gaireyah Fredericks

Danie Marais

Willem Mulder

Zandra Bezuidenhout

Anita van der Walt

Janine Maske

Anne-Ghret Erasmus

Jerzy Koch

De Waal Venter

Die stemkunstenaar Johann Nel het ook voorgelees.

Tribal Echo, wat bestaan uit Frazer Barry, sy vrou Deniel en die baskitaarspeler Earl Witbooi, het toe feesgangers se voete laat ritme hou met hulle verwerkings van verskeie gedigte uit Maskers en mure.

Deniel Barry

Earl Witbooi

PJ Philander | Die wetenskap het ook digters nodig

Steward van Wyk

Die digter PJ Philander sou vanjaar 100 jaar oud geword het. Hy was ’n gerekende digter wat in ballingskap na die VSA gegaan het. Sy lewe en werk is by die Tuin van Digters bespreek.

Lees gerus die Philander se memoir "’n Soetsuurlemoen" wat gratis hier op LitNet beskikbaar is.

In Wellington het Steward van Wyk met Daniel Hugo en Heinrich Wyngaard gesels, terwyl die Philanders se drie seuns, George, Dennis en Peter, asook twee van sy kleinkinders, Lisa en Ryan, verhale oor hulle pa en oupa vertel het via ’n opname uit die VSA wat in Wellington voorgespeel is. Die volle opname en ’n kort verslag oor die gesprek is hier te sien.

Peter Philander - via 'n opname

As digter is Philander deur die letterkundiges erken, maar as bruin man was hy ’n tweedeklasburger onder apartheid.

Dennis Philander - via 'n opname

Peter en Dennis het uit die VSA vertel hoe die kaartehuis om hul pa begin ineenstort het. As skoolhoof het hy ’n goeie huis in Rondebosch gehad wat hy sou moes verlaat. Toe word een van sy onderwysers deur die veiligheidspolisie in hegtenis geneem en Philander het besef dat hy en ander na aan hom ook so sou kon deurloop.

Lisa Philander - kleindogter, via 'n opname

Philander het homself hart en siel in die Amerikaanse leefwêreld gestort, maar het Afrikaans gemis.

Ryan Philander, kleinseun - via 'n opname

Sy kinders het Engels gepraat in die VSA, so daar was maar min Suid-Afrikaners met wie hy kon Afrikaans praat. Die digter Julian de Wette, wat aan die VN verbonde was, het ’n uitkoms gebied. Tog was dit uiteindelik net Philander se vrou met wie hy sy moedertaal kon praat. Toe sy oorlede is, het Philander glo ’n voosgevatte kopie van die HAT op haar kant van die bed laat lê waaruit hy tot sy dood gereeld gelees het.

George S Philander - via 'n opname

Nog ’n juweeltjie het uit hierdie gesprek na vore gekom. George Philander is ’n klimatoloog en wêreldleier op die gebied van die effekte van aardverwarming en veral die El Niño-effek. (Google hom gerus.) In sy boodskap het hy aan die gaste in Wellington gesê ons leef in ’n tyd waarin gewone mense hulle vertroue in die wetenskap verloor het. Die probleem, volgens Philander, is dat die wetenskaplikes voortdurend moeilike begrippe aan lesers voorhou en vir hulle probeer vertel wat om te doen. Digters, soos sy pa, skep stories waarin mense hulleself kan eien. Die oomblik wanneer enige een kan identifiseer met ’n verhaal, sal hulle begin luister. Daarom het die wetenskap digters nodig.

Heinrich Wyngaard vertel ’n ander mooi storie. Soos Philander, is Wyngaard ’n boorling van Caledon. Toe hy eendag oor die radio hoor hoe Daniel Hugo oor Philander praat, het hy aan Philander geskryf deur die brief aan Hugo by die toenmalige SAUK te pos.

Hugo het dit aangestuur en Philander het geantwoord; ’n briewewisseling tussen die twee het ontstaan.

Uitklophoue

Die voorlesings in die Mont du Toit Woordtent het vir nog ’n hoogtepunt gesorg. Ryan Pedro, met Pienk ceramic-hondjies, en Ashwin Arendse, met Swatland, het die gehoor oorrompel.

Pedro, wat kort hierna die Ingrid Jonker-prys ontvang het, en Arendse het gedigte voorgelees wat seergemaak het, maar hulle ingehoue, byna afstandelike, voorlesings, het die gehoor laat bly sit.

Mense het geluister.

Die woorde het getref.

Die laaste sin van die commendatio vir die Ingrid Jonker-prys lees so:

Die digter orden die ervarings van armoede, ontbering, onreg, geweld en rassisme in gestroopte verse, met ʼn voorkeur vir die juisste woord en met ’n trefkrag wat die leser onkant betrap en wat veral in die slotte “uitklophoue plant”.

Keiharde, ongemaklike onderwerpe oor armoede, wit bevoorregting, strukturele geweld en blatante rassisme maak seer. Tog, dit moet in die openbaar ter sprake gebring word en die twee digters het dit reggekry.

Soos Pedro se Pienk ceramic-hondjies is Arendse se debuut Swatlandn bundel wat meedoënloos, maar o so slim, die strukturele geweld van ons samelewing aanspreek. Dit was veral die gedig Is altyd lente in Stellenbosch” wat die gehoor geruk het. (Die gedig is hier te lees.)

Pedro en Arendse het nie gepreek nie. Bloot een gedig na die ander opgestapel. Hulle voorlesings gaan nog vir lank onthou word.

Mont du Toit, die stil wynmaker, het siele getroos.

Zandra Bezuidenhout se stiller, veel meer formele verse, het daarna getoon hoe nodig variasie in ons letterkunde is – en hoe bevoorreg Afrikaans is om soveel stemme in ons publikasies te kan akkommodeer. Bezuidenhout het voorgelees uit haar bundel Derde gety.

Die tuin het ook ’n uitkoms gebied vir diegene wat ná Pedro en Arendse se gedigte ’n blaaskans nodig gehad het.

Vertaling en poësie in ander tale

PEN Afrikaans het ’n paneelbespreking aangebied oor die vertaling van poësie. Lees Voertaal se verslag hier.

Marius Swart, vertaler en dosent in vertaalkunde, het die gesprek gelei. Saam met hom op die verhoog was Alfred Schaffer, wat al ’n aantal Suid-Afrikaners se werk in Nederlands vertaal het, en Zandra Bezuidenhout, wat gereeld Nederlandse gedigte in Afrikaans vertaal, waaronder Schaffer se bundel Mens dier ding, en ook die uitgewer Nèlleke de Jager van NB Uitgewers. De Jager het Mens dier ding in Afrikaans uitgegee.

Hierna het Daniel Hugo, self ’n bedrewe vertaler, met Jerzy Koch gesels oor Koch se bundel Pleks van plaas wat in 2020 by Naledi verskyn het.

Koch, ’n Poolse akademikus, het leer Afrikaans praat en het ook al talle Suid-Afrikaanse skrywers vertaal.

Pleks van plaas, sy debuut, het in Afrikaans verskyn, nie in sy moedertaal nie.

Ons Klyntjie 2021

Toast Coetzer

Toast Coetzer en Erns Grundling bedryf nou al vir ’n aantal jaar die alternatiewe “zine” Ons Klyntji.

Die buksie van ’n publikasie bevat gedigte, kortverhale, fotografie en kuns.

Soos gebruiklik het ’n aantal bydraers werk by die Tuin van Digters voorgelees.

Danie Marais (“Oupa Dominee”, bl 102)

Donker Jonker (“Saterdagaand in Pretoria-Oos”, bl 119)

Bester Meyer (“ons huisie”, bl 30)

Desiré Gird (“Sunbird”, bl 33)

Justin Nurse (sy kortverhaal “Telefon Tel Aviv” is op bl 68) het Alice Inggs se gedig “Sun” (bl 51) gelees.

Hanru Niemand, (“Die knaagdier”, bl 106)

Anouk Cronjé (“28-06-20” en “Kakamas x Loeriesfontein”, bl 26)

Jennifer Pape (“pelgrimstog”, bl 21)

Lynette Gerber-Lochenkov (“dis asof die herfs”, bl 150)

Curtley Jones (“die laaities”, bl 40)

Llewellyn Daniel (“siek bloeisels”, bl 123)

Adriaan de la Rey se kunswerk verskyn op bl 104.

Daniël Marais (“die verlore seisoen”, bl 99)

Francois Lion-Cachet (ongetiteld, bl 75)

Churchil Naudé (“En die dood”, bl 10)

Jemima Meyer (“final plea before you anyways leave”, bl 77, en drie haikoes op bl 79)

Reghard Visser (“Q20”, bl 144)

Willem Mulder (“begrafnisgedig”, bl 76)

Hermien de Vos (sy lees Johann Botha se “Wondergat”, bl 133)

Tom Dreyer (“Lettera” 22”, bl 15, en “15 dinge om aan te dink”, bl 16).

Die Ingrid Jonker-prys

Ryan Pedro het vanjaar die Ingrid Jonker-prys vir sy debuutbundel Pienk ceramic-hondjies ontvang. Die prysgeld bedra R10 000, en word deur Dagbreek Trust voorsien.

Ronel Foster het onder haar nom de plume, Ronel de Goede, die commendatio voorgelees. (Die volledige commendatio is hier op LitNet te lees.)

Francois Lötter is iemand wat, in sy eie woorde, nie graag op die verhoog staan nie, maar hy het die Dagbreek Trust bedank vir hulle steun vir beide die Tuin van Digters én die Ingrid Jonker-prys.

Astrid de Vos, die uitvoerende trustee van die Dagbreek Trust, het ’n baie kort toespraak gehou waarin sy verduidelik het waarom die Dagbreek Trust geld aan verskeie instansies skenk. Die trust bestaan weens “ou geld” wat korrek belê en bestuur word, sê sy, en die opbrengs van die beleggings gaan oor die bevordering van Afrikaans. Dikwels vra mense haar: “Hoe bevorder ’n mens Afrikaans?” Eintlik is dit die verkeerde vraag. Die vraag moet wees: “Wat is Afrikaans?”

Op daardie punt het De Vos na Pedro gedraai en hom gelukgewens met sy bundel en die prys.

Daarna het sy ook die organiseerders van die Tuin van Digters gelukgewens en gesê sy hoop dié geleentheid sal groei.

Simone Garcia Marques, Ingrid Jonker se dogter, het die formele oorhandiging aan Pedro gedoen.

Pedro het daarna nog ’n aantal gedigte voorgelees.

Nagwoorde en akkoorde

Riku en Jacki Lätti het die aand afgesluit soos net hulle kan. Willem Möller en Jean Marais het saamgespeel.

Riku Lätti

Jacki Lätti

Jean Marais

Willem Möller

***

Verskeie mense het spesiaal moeite gedoen om my te help om hierdie stuk op te stel. Diegene wat die ekstra myl gestap het, is: Francois Lötter, Deon Meiring, Toast Coetzer, Danie Marais, Daniel Hugo, Marlene Malan en Adéle Changuion. Baie dankie.

Lees ook:

Huldigingsrede | Alfred Schaffer (Tuin van Digters-feesdigter 2021)

Persverklaring: Wenner van die Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie vir 2021

"’n Soetsuurlemoen": ’n Memoir deur PJ Philander

PJ Philander-huldiging, Tuin van Digters 2021: ’n Oorsig

Persverklaring: Volledige program | Tiende Tuin van Digters op 22 en 23 Oktober in Wellington

  • 4

Kommentaar

  • Bernard Odendaal

    Julle laat my met dié foto’s en toeligting dubbel spyt kry oor die feit dat ek die geleentheid moes misloop. Dankie, Izak-julle!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top