Die teenoorgestelde is net so waar deur Azille Coetzee: ’n resensie

  • 0

Die teenoorgestelde is net so waar
Azille Coetzee
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798182355

In dieselfde week waarin ek Azille Coetzee se boek, Die teenoorgestelde is net so waar, lees, post ’n vriendin op Facebook dat haar kollega, ’n dierbare en geliefde vrou, vermoor is. Die probleem is egter dat sy in Blue Downs in die Kaap gewoon het en dat haar moord nie eens die koerant gehaal het nie. Die vraag word gestel: Sou dit anders gewees het as die vrou in Constantia gewoon het? Daarna lees ek van die huiswerker Dupuo Kokolosi wat in Potchefstroom deur drie pitbulls verskeur is waar sy gewerk het en dat die eienaar verpletter is dat haar honde doodgeskiet is.

........
Hierdie werklike gebeure bly my by terwyl ek lees, en die herkenbaarheid van ons hedendaagse bestaan in Coetzee se roman val op.
...........

Hierdie werklike gebeure bly my by terwyl ek lees, en die herkenbaarheid van ons hedendaagse bestaan in Coetzee se roman val op.

Die boek, haar eerste roman na die 2019-memoir In my vel, vertel die verhaal van drie vriendinne, Lien, Charlotte en Katryn. Die roman is ook in drie dele verdeel en word om die beurt uit elke vrou se perspektief vertel. Deel 1 gaan oor die bruilof in die woestyn van Lien, dan spring ons na drie jaar later in deel 2 en eindig drie maande daarna in deel 3 met Lien se seuntjie se verjaarsdagpartytjie en die oorhandiging van nog ’n ring. ’n Netjiese sirkel, dus. Die verhaal takel al die groot temas van vriendskap en verhoudings, rituele, geweld, aborsie, gender, politiek, internetkultuur, kuns, relevansie, honde, suiker, die wit/swart-debat en nog meer.

..........
’n Netjiese sirkel, dus. Die verhaal takel al die groot temas van vriendskap en verhoudings, rituele, geweld, aborsie, gender, politiek, internetkultuur, kuns, relevansie, honde, suiker, die wit/swart-debat en nog meer.
..........

Die netjiese struktuur roep onmiddellik die simbolies-mitologiese relevansie van die getal 3 op en ek kon nie anders as om die drie vroue te lees as die drie Grasieë nie; en saam met Luami Calitz se skildery op die voorblad getiteld Witches, sien mens die vroue as uitbeeldings van Antonia Canova, Raphael of Boticelli, wat op sy beurt weer inpas by die sterk visuele element van die boek en die verwysing na die kuns van Mark Rothko, die films van Andrei Tarkovsky en natuurlik Die drie susters van Anton Tsjegof. ’n Mens wil byna verder gaan met die simboliese en die drie karakters probeer lees as verteenwoordigend van die drie aspekte van die mens – liggaam, verstand en gees – of van die wêreld – lug, water, aarde, maar dit mag geforseerd voorkom.

Die ritueel van die huwelik aan die begin van die roman kan dan ook gelees word as die mitologies-simboliese oorgang, ’n tipe drempel wat oorgesteek moet word. Nie net vir die bruid Lien nie, maar ook vir die ander karakters: Katryn (wie se vriendskap met Lien duidelik op daardie oomblik problematies is) en Charlotte. Amper asof Lien se huwelik vir elkeen van hulle ’n nuwe begin is. Die huwelik as ritueel verteenwoordig ’n ontmoeting of bymekaarbring van magte wat uitgebeeld word in Lien, die suksesvolle prokureur wat trou met Tiaan wie se familie byna as boere-adel geskets word.

Die trouring wat aan die begin oorhandig word, is veronderstel om heelheid, samehang en ongebrokenheid te simboliseer, maar dit word later in die roman duidelik dat Lien dit nie so beleef nie. Sy gee geboorte aan ’n seuntjie, maar voel geheel en al afgestomp teenoor die kind. Sy verwyt haarself dat sy nie reageer soos wat die samelewing van haar verwag om as moeder te reageer nie. Tipiese genderrolle word deur haar karakter as werkende vrou bevraagteken en die ander simboliese betekenis van die ring as gebonde tot slawerny kom na vore. Cirlot beskryf in sy A Dictionary of Symbols die ring as “the circular dance of nature in eternal process of creation and desctruction” (1972:274). As Hendrik dan aan die einde van die roman (nie binne die konteks van ’n huwelik nie) sy ma se trouring wat vir haar net teëspoed gebring het, vir Charlotte gee, hoop die leser dat die ring hier die positiewe deel van hierdie ewigdurende, sikliese proses sal teweegbring en dat die vernietiging vir eers verby is.

..........
Afrikanerskap en veral Afrikaner-manlikheid word ondersoek deur veral die karakters van Hendrik en die kunstenaar, Thomas.
...........

Afrikanerskap en veral Afrikaner-manlikheid word ondersoek deur veral die karakters van Hendrik en die kunstenaar, Thomas. Daar is ’n verkenning van die woord “boer” en dit is vir my amper die karakter van Hendrik wat die titel van die roman die sterkste verteenwoordig. Hy lyk soos ’n boer, hy praat Afrikaans soos ’n boer, hy is wit soos ’n boer, maar telkens ondermyn hy die stereotipe. Hy kyk kunsfilms oor Luandese dansgroepe (Beyond my steps), drink wyn, en is diepsinnig en bedagsaam. Die arme teenvoeter, die Engelse Thomas, drink bier, dink uitermatig baie van homself en gedra hom telkemale soos ’n buffel.

Die internetkultuur word raakgevat wanneer Charlotte in ’n kunssinnige debat sê: “Vandag moet aktivisme mooi genoeg wees vir Instagram. Hoe mooier die prentjie, hoe meer aandag sal dit kry, hoe meer radikaal is jou movement” (bl 124).

In dieselfde interaksie kom ons huidige “ongemaklike gesprekke” ook aan bod. Wit Suid-Afrikaners wat hulself nie ag as Europeërs nie (wanneer dit hulle pas), die Weste wat hulself as uniek ag, maar Afrika en die Ooste sien as een gesiglose massa en dat ’n gedeelde menslikheid eintlik net ter sprake is wanneer die Weste die narratief beheer. Soos die Nigeriese skrywer Ifeoma radikaal beweer: “Die plantasie herinner ons daaraan dat daar nie sulke maniere (die maniere waarop ons almal dieselfde is) bestaan nie” (122).

Die ewe gelade idee van die hond loop soos ’n draad deur die roman.  Nie net ondersoek Charlotte die patriargie en gendergebaseerde geweld in haar kuns nie (sy skilder familieportrette van gesinne wat uitgewis is deur gesinsmoorde), maar maak ’n lewensgrootte beeld van Hendrik se hond (’n boerboel) Griet, wat haar as kind gebyt het.  Die stigter van die kunsinstituut, Prof Frank Jama, vertel op sy beurt, sy traumatiese storie van ’n boerboel wat sy broer verskeur toe sy ma as huiswerker hom en sy boetie eendag werk toe geneem het toe hulle klein was. Die klem word gelê op hoe verskillend mense se stories, ervarings en herinnerings oor honde is en dikwels verdeel word deur raslyne.

.........
Die boek lees lekker en die dialoog en storie dra die leser met gemak deur die boek. Die skrywer moet egter daarteen waak om elke hedendaagse sosiopolitieke vraagstuk in een roman te takel. Dit raak naderhand ’n woke manifes vir die moderne samelewing.
............

Die boek lees lekker en die dialoog en storie dra die leser met gemak deur die boek. Die skrywer moet egter daarteen waak om elke hedendaagse sosiopolitieke vraagstuk in een roman te takel. Dit raak naderhand ’n woke manifes vir die moderne samelewing. Ek het ook soms gevind dat die newekarakters soos Ifeoma, Mei, Jenna en selfs Lerato so polities korrek en perfek was dat hulle onnatuurlik en tweedimensioneel voorgekom het. Al sou Ifeoma seker die teendeel kwytraak, lê ons gedeelde menslikheid miskien juis in ons vratte, geite en soms selfs twyfelagtige gedrag.

Lees ook:

In my vel deur Azille Coetzee: uit die perspektief van iemand met haar voete op twee vastelande

Die teenoorgestelde is net so waar: ’n onderhoud met Azille Coetzee

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top