
Foto’s: Allistaire Bart @gayle_club
Cape Town Ballroom: Prison honey hosted by The House of Indecency
7 November
Outlore Base, Kaapstad
Ek was sewe jaar oud toe ek die eerste keer verlief raak.
Sy naam was Trane.
Hy was vannie bandiete wat my pa as tronkbewaarder kon uithuur as goedkoop arbeid. Hulle het al ommie huis gewerk.
Die vision in oranje was ’n skamerige, mooi jong man wat altyd, as my pa nie gekyk het nie, saam met my karretjies en poppe langs die huis sou speel.
Soos ek die trappe by die Outlore Base op minki, ruik ek hom weer.
Daai mansweet wat my meisielyf lam gemaak het.
Teen die mure is wanted posters met verskillende ballroom-lede se gesigte op. So shady soos ons community is, wissel die reward vir elkeen ook aansienlik. Van tien duisend tot tien miljoen.
Die moira word al harder. Electronic met ’n bass wat drop soos ek binnestap.

Foto’s: Allistaire Bart @gayle_club
Hier word ek nie soos ’n skouperd dopgehou nie. Ammal lyk soos ek. Is soos ek.
Verder is die saal bedek en besmet met caution tape, spray paint en BDSM, dan ook oranje en swart en wit trunk-pakkies. Die tema van die kiki ball is “Prison honey” en word deur die House of Indecency aangebied, met die bekoorlike Ina Propriette van Beaulah: Queens vannie Kaap as huismoeder en MC. Met die tronktema is ammal aangetrek in bandietnommertjies, konstabels en offisiere, skelms en mafia. Die kategorieë sluit in runway, banjee girl/guy, sex siren en natuurlik die bekendste dansvorm wat aan ballroom gekoppel is, vogueing.
Die DJ gooi haar lang swart harriets van een skouer na die volgende.
Die reuk van scandy en sigarette lei my na die balcony besaai met burlesque-kostuums. Gerties en mabels uitgevat vir die affêre. Stemme skril van plesier en oorgawe groet, kekkel, flikflooi en skel dat dit goed gaan.
...
Hy kannie ophou gayle oor allie mooi borste nie. Real tiete, fake tietie, up-and-coming tiete, pending tiete, plastic tiete, alles behalwe Koos Kombuis se “AWB tiete”.
...
Ek loop ’n omroeper van ’n plaaslike radiostasie raak. Hy kannie ophou gayle oor allie mooi borste nie. Real tiete, fake tietie, up-and-coming tiete, pending tiete, plastic tiete, alles behalwe Koos Kombuis se “AWB tiete”.
Die omroeper en ek braak gal oor die onlangse election.
Ek vertel hom hoe iemand naby aan waar ek bly teen ’n muur geverf het: DA VOTERS ARE RACISTS
En hy elsie geselsie oor gevalle soldate soos Sheila Barsel en Simon Nkoli wat die pioneers was wat die ANC se konstitusionele regte rondom gender en seksualiteit geïmplementeer het.
Net daar word ons ingeroep en die twee van ons trap ons cillas dood en minki binnetoe.
Is ’n beskeie gehoor met twee rye stoele aan beide kante van die verhoog en runway.

Foto: Allistaire Bart @gayle_club
Daar is egter nie nog tyd om stoele te tel nie, want Madison Scarr, die beroemde drag queen ook van Beaulah: Queens vannie Kaap, is op die verhoog. Sy word vergesel deur haar twee dansers. Al drie in wit en swart gestreepte leotards uitgevat. Sy is ’n kween wat spesialiseer in Beyoncé songs wat sy choreografeer en lip sync. ’n Performer wat skaamteloos spasie opneem. Sy pluk kort-kort haar plastic gun uit en mik dit na random lede vannie gehoor. Scarr is a vision met haar lang krulle en skerp danspassies. Egter nog heel PC vir wat volg.
O jirre, waar begin ek.
Kategorie: banjee girl/guy
Hie vra die kategorie vir die sexyste skelms. Die’s wat jy love om te haat. Ook die beste herkenbare merchant-mammas, corner boys, stoutgatte en stylvolle diewe.
Elkeen stap, soos by ’n pageant, ’n paar keer op en af op die runway en stop vir ’n pose wat die drie judges op stage dan ’n telling van nul (chopped) tot 10 gee. Een na die anner het die verskeie karakters na vore gekom. Kettings, balaklawas, wife-beaters, ’n rol innie stap, klein swart brilletjies, opgerolde pype, houding tot die maks 100. Tot die gewilde Spinners-akteur Cantona James het hier deelgeneem en sou later ook die category wen met sy waaghalsige sjarme.
...
Ennie spanning, sweet en spoeg wat spat, is so tasbaar dat ons as gehoorlede uit ons stoele uitspring om nie ’n moment te mis nie.
...
Later moet die finaliste twee-twee teen mekaar kompeteer. Hie is waar die regte pret begin, mense! Dan kyk die een nou hoe ommie anner een te outshine. Later word dit teatrale gevegte wat voorgestel word. Ennie spanning, sweet en spoeg wat spat, is so tasbaar dat ons as gehoorlede uit ons stoele uitspring om nie ’n moment te mis nie.
Kategorie: sex siren
Die girls, guys, gerties, mabels, studs, fem kweens en fairies wat die girls is wat hulle dink hulle is, neem hier deel. Lywe van alle soorte, van deliciously dik tot tingerige twinks. Hier word die storttonele in tronke herverbeel. Wat gebeur as daai glibberige Sunlight-sepie uit jou hanne val? Alles verleidelik, sappig, stomend, rof en smeulend word hier gesoek.

Foto’s: Allistaire Bart @gayle_club
En moenie dink die girlies is skaam nie. Nancy vir dit!
Twee manlike lywe kom in klein handdoekies op die runway gestap. Eers die een en dan die anner. ’n Tengerlyfie en dan weer ’n vleispaleis. Stadig en tydsaam. Soos nat katte of kaatjies vannie baan. Die gehoor en judges moet verlei word. Die maer enetjie steek ’n cocoa butter Vaseline lotion in sy handdoek weg en lat val ’n koekieseep voor die gehoor. Die spiertier is weer reguit op pad na die judges toe. Een beoordelaar raak so opgewonde dat sy omtrint eers haar pruik moet afpluk en haarself koel waai. Cue vir asynlappies by die volgenne event, seblief!
Tog was dit nogal nie een van die twee wat die finals sou bereik nie, maar eerder die twee bekende performing artists CC Martinez en Simone Neethling. Hulle het nie met die kategorie gespeel nie. Albei is nie bang om hul seksualiteit uit te druk nie. Verskeie seksposisies is virrie gehoor voorgestel. Kykers het gegil van lekkerkry. Om net so donners vry te wees kan mos nie ’n sonde wees nie. Wil ons ammal nie tog die lewe geniet nie? Wanneer het ons so skaam vir seks geraak?
Trane het my handjie gevat en dit oor sy wang gestreel. Daar waar die drie trane getattoo is.
Hy sê is van allie gehuil innie tronk.
Sy oë was so groen soos die gesnyde grasperk, soos my Ninja Turtle-onnie wat ek hom gewys het, so groen soos die ertjies wat ek nooit wil eet nie, so groen soos die etter toe die bure se brak my byt, so groen soos die dae toe ek my onskuld nog kon voel, proe, ruik en weet dit bestaan.
Toe ons van ’n Krismisvakansie af terugkom, was daar by ons huis ingebreek.
Dit was kort na Trane se vrylating.
En ek onthou hoe mooi hy my gevra het om hom te wys waar ons die agterdeur se sleutel wegsteek.
...
Hier by House of Indecency confront jy die lelik en haal net die mooi uit. Hie word uniekheid gevier en andersheid verdedig.
...
Die aandlig loer swart na my van die balcony se oop deur af. Die donkerte nooi uit, maar ek nooi haar eerder in. Hier by House of Indecency confront jy die lelik en haal net die mooi uit. Hie word uniekheid gevier en andersheid verdedig.

Foto’s: Allistaire Bart @gayle_club
Ina Propriette eindig die event deur hulde te bring aan dié van ons gemeenskap wat in aanhouding is en moedig ons aan om dankbaar te wees vir ons vryheid.
Die DJ slat die music op sy hardste.
Ek rodger my laaste cilla. Blaas ’n soen virrie sterre en stap met nuwe moed by die trappe af. Ek hoef fokol mee skaamte te dra oorie verlede nie. Lat ek eerder die taaiwees van als mooi en kaklelik embrace. Hie waar die regte Kaapstad is. Hie waar goed en kwaad lepellê. Hie waar ons ammal kan vrywees.

