
Cerneels Lourens (foto: verskaf)
Ek gaan kortliks die Suid-Afrikaanse Regspraktykraad (RPR) toelig, dan sy konseptaalbeleid met my kommentaar uiteensit, en afsluit met antwoorde op moontlike vrae wat lesers dalk aan my sou wou vra.
Die RPR het sy konseptaalbeleid toevallig op 14 Augustus 2020 gepubliseer. Ons weet die opstel van hierdie konseptaalbeleid is op die RPR afgedwing deur die VRA se hofaansoek om hulle te dwing om die toelatingseksamens nog in Afrikaans aan te bied, maar hierdie konsep is aanduidend daarvan dat hierdie soort taaloptredes steeds in gekoloniseerde gedagtewêrelde voorkom.
..........
Wat is die RPR? Dit is ’n byeenvoeging van regsgeleerdes – ’n poging tot ’n regsbredie – maar weens die sterk bedinging van die georganiseerde advokatuur is dit meer soos ’n potjiekos en die advokatuur lê bo in die pot. Die RPR is veral daargestel vir die groot T en alle knieë buig voor die T se pot. Hierdie konkoksie se groot oogmerk is om gelykheid onder regslui te bewerkstellig.
...........
Wat is die RPR? Dit is ’n byeenvoeging van regsgeleerdes – ’n poging tot ’n regsbredie – maar weens die sterk bedinging van die georganiseerde advokatuur is dit meer soos ’n potjiekos en die advokatuur lê bo in die pot. Die RPR is veral daargestel vir die groot T en alle knieë buig voor die T se pot. Hierdie konkoksie se groot oogmerk is om gelykheid onder regslui te bewerkstellig.
Die dominante organisasie in die RPR is die Black Lawyers Association (BLA), gesteun deur ’n kleiner National Democratic Lawyers (Nadel), en hulle beskik oor baie breinkrag. Die ge-"blaviseerde" lede is in Engels geskool en word gerugsteun deur ’n sterk Engelse steunbasis (lobby).
Die lastige bepaling 6(1) van die Grondwet waarvolgens byna ‘n wêreldrekord van 11 amptelike tale daargestel is, bevat ’n mengsel van kruie wat die Grondwet vir die diverse smake voorskryf, maar dit akkordeer nie met die geblaviseerde instelling se maag nie. Nee, daarom het die RPR sy konseptaalbeleid mooi gaan verpak met etikette van veeltaligheid, maar binne-in is daar net Engelse sout.
As prominente gesag gebruik die RPR die hoofsjef van die Nuwe Leeuwkopgevangenis se resep: die enigste krui wat in alle gevangenisse gebruik mag word, is Engelse sout, het hy verklaar! (Terloops, ek lees onlangs die Supreme Court van die VSA is ook op ’n ou gevangenisterrein gebou.) En terwyl ek nou so na ‘n gevangenis afdwaal, wil ek darem op rekord stel dat ek dink dat Jacob Zuma se grootste misdaad die oorsien van oudadjunkhoofregter Dikgang Moseneke vir die hoofregterskap was. Hy kan glo ál 11 amptelike tale praat en hy sou na alle waarskynlikheid die voorskrifte van die Grondwet, wat taaldiversiteit as uitgangspunt het, nagevolg het.

Neville Alexander
Terug by die taalbeleid: Wat hou die RPR se taalbeleid en die hoofregter se dekreet dat Engels die enigste hoftaal is, vir Afrikatale in? Onder die rookskerm dat ons nie ons tale op mekaar moet afdwing nie, sê hulle dat die Afrikatale eintlik maar net suigstokkies gekry het toe hulle amptelik gemaak is. Dit is in skerp teenstelling met die argitek van die inklusiewe elftalige bedeling, Neville Alexander, en ooreenstemmende denkers se visie. Die gedagtegang dat die Afrikatale en Afrikaans gelykgestel moet word, dus dat Afrikaans afwaarts na die Afrikatale se ontwikkelingsvlak afgebou moet word, is die dominante geur uit hierdie brousel. Die duidelike grondwetlike voorskrif in subartikel 6(2) dat die staat, waarvan die RPR deel is, die Afrikatale moet ophef, is in die konsepbeleid genegeer. Die verlening van amptelikheid is waardigheidsherstellend en dit was myns insiens die uitgangspunt dat die Afrikatale intellektualiseerbaar is om onder meer as regstale gebruik te kan word, maar die RPR gebruik die ander resep. Die Afrikaanse regslui met ‘n ontwikkelde regstaal moet maar ophou om te pleit om ook van die potjiekos te kry: Hulle moet verbredie met die gebruik van Engelse sout, impliseer die RPR se beleid.
’n Belangrike funksie van die RPR is om ’n gedragskode vir regspraktisyns (dit is wat die allegaartjie se lede genoem word) se optrede en gedrag te reguleer. Indien lede van die publiek deur sodanige optrede benadeel word, en die praktisyn het die gedragskode verbreek, kan ’n klagte by die RPR weens die verbreking daarvan teen sodanige praktisyn ingedien word.
U vra my: "Wil jy lastig wees om te vra dat die gedragskode in al 11 amptelike tale vertaal moet word sodat die publiek kan verstaan hoe om regslui aan die aanvaarde resep te hou? Ons kan mos almal Engels verstaan."
Laasgenoemde vals stelling het die Regshulpraad in ’n landswye opname oor die publiek se vaardigheid in Engels sowat drie jaar gelede heeltemal uitgewys.
"Wil jy nou nóg lastiger wees om te vra dat die toelatingseksamens tot die beroepe in Afrikaans afgelê mag word? Nee man, aanvaar maar dat die ou Kaapse koloniale hoofregter, Henry de Villiers, reeds in die 19de eeu tereg gesê het dat Engels ons almal se moedertaal gaan word. Selfs julle beweerde grootste digter, NP Van Wyk Louw, het glo, hoewel ‘n bietjie uit konteks, gesê Engels is die Afrikaanssprekende se tweede moedertaal."

NP van Wyk Louw
As Van Wyk Louw dit gesê het, lewer ek graag die vrypostige kommentaar: Is ‘n tweede moeder nie ‘n stiefmoeder nie?
"Jy kla ook oor die RPR se voorstel dat hulle jou die geleentheid sal bied om in jou eie taal die klagte te bestry met die voorbehoud dat jy gebruik moet maak van een van hulle werknemers as tolk. Voorts omdat hulle nie op hulle koste ’n professionele tolk beskikbaar sal stel nie – dit sê mos hulle personeel is volledig elftalig! Waarom kla jy dan? Ek herhaal, waarom kla jy?"
Ek kla omdat hulle van die bestanddele van die ooreengekome resep uitgelaat het. Die sout is uitgelaat. Hulle het naamlik die reg dat daar nie onbillik op grond van taal gediskrimineer mag word nie, net weggelaat. Verder negeer hulle wetgewing. Hulle is glo nie ’n staatsorgaan wat onder die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale ressorteer nie, wat wel op nasionale departemente, nasionale entiteite en nasionale instellings van toepassing is, want gemelde wet maak voorsiening vir ’n minimum van drie amptelike tale. Ek vermoed hulle sal waarskynlik terugkom en sê hulle gebruik Engels, Zoeloe en Pedi. In die praktyk sal egter wel net Engels gebruik word.
Die doel met sodanige beleid is egter die uitsluiting van Afrikaans nieteenstaande die groot aantal regslui – omtrent ’n derde van die lede – wat Afrikaanssprekend is. Voorts dra hulle klaarblyklik nie kennis van die strekking van provinsiale taalwetgewing nie. Dit sal naamlik die provinsiale kantore se taalkeuse bepaal. Hulle ignoreer dus die hele veeltaligheidsresep behalwe op hulle etiket. Die gevange denke om net Engels te verkies, wys daarom nie alleen uit dat die gedagtewêrelde gekoloniseer is nie, maar onderstreep die onvermoë om uit hierdie gearresteerde staat na diversiteit te ontsnap.
"Waarom vereis jy dat die taalbeleid al die bestanddele moet bevat?"
.........
Waar ’n dominante taal, soos Engels, die ruimtes van ’n ongereguleerde omgewing outomaties sal vul, en waar burokrate die beleid moet uitvoer, vereis ’n veeltalige omgewing duidelike riglyne wat arbitrêre diskresie uitsluit. Dit behoort duidelik te stel dat dokumente vir die publiek, byvoorbeeld die gedragskode, in al 11 amptelike tale beskikbaar gestel moet word.
..........
Waar ’n dominante taal, soos Engels, die ruimtes van ’n ongereguleerde omgewing outomaties sal vul, en waar burokrate die beleid moet uitvoer, vereis ’n veeltalige omgewing duidelike riglyne wat arbitrêre diskresie uitsluit. Dit behoort duidelik te stel dat dokumente vir die publiek, byvoorbeeld die gedragskode, in al 11 amptelike tale beskikbaar gestel moet word.
Die dokument bevat halfgebakte begrippe. Die verduisterde taalregdenke mond uit in vae veeltaligheidsterme en die definisies word vermeng tot ’n eenvoudigheid van "Engels". Dit haal byvoorbeeld die aanvangsin van artikel 6(3)(a) van die Grondwet aan wat die faktore vir die keuse van ’n taal daarstel, maar die kwalifiserende "maar"-gedeelte in dieselfde artikel dat daar ’n minimum van twee amptelike tale gebruik moet word, ontbreek.
"Waaruit spruit hierdie onkunde – of is dit moedswilligheid?"
Die onkunde is enigsins moontlik as gevolg van die LLB-sertifikaat, wat 20 jaar gelede ingestel is, in plaas van ’n behoorlike nagraadse LLB-graad, en andersins dis die RPR met ‘n besoedelde lepel die anti-Afrikaanse sentiment met hierdie beleidsbredie op. Die RPR breek met hierdie dokument die goue lepel van verdraagsaamheid.
"Dink jy dat hulle hul gaan steur aan ’n paar protesterende Afrikaanssprekendes wat nog krag het ná die eet van soveel Engelse sout die afgelope aantal jare?"
Natuurlik nie sonder druk nie. Toe die regulatoriese eksamen deur die toentertydse Raad op Finansiële Dienste net in Engels aangebied sou word, het regter E Bertelsmann ’n bevel gemaak dat een van die vier geakkrediteerde eksamenagente die eksamen in Afrikaans moet aanbied. Die RPR kan ’n agent, byvoorbeeld ’n universiteit se regskool (regsfakulteit) akkrediteer om die eksamens in Afrikaans af te neem.
"Dit lyk mos na apartheid! Weer eksklusief en nie inklusief nie."
Nee, as jy nie ’n taal kan praat en gebruik nie, is dit daardie taalspreker of sy ouers se keuse. Verkeerde vrae lei tot verkeerde aannames en antwoorde. ’n Taal is per definisie uitsluitend tensy jy dit aanleer, en ons wil nie weer Afrikaans op mense afdwing nie, maar eweneens het ek as Afrikaanssprekende die reg om my taal te gebruik. Hierdie reg is in die internasionale taalreg ontwikkel in die beginsel teen onregmatige taaldiskriminasie en natuurlik word dit gevind in die konsep van taalgeregtigheid wat nog nie in die Suid-Afrikaanse reg ontwikkel is nie. Ek verstaan die 1976-geslag is tans in beheer van die regswese. Ek hoop dat hulle nie die taalimperialisme wat die Afrikaanssprekende gepleeg het, sal herhaal nie, maar eerder ’n klimaat van verdraagsaamheid sal begin kweek.
"Is jy bang dat Afrikaans sal uitsterf as dit nie meer in die regswese gebruik word nie?"
Ja, die "uitsterf"-vraag ... Dit is eintlik ’n meulsteenvraag, wat net in die see van onkunde werk. Nee, niemand praat van uitsterf nie. Ek praat van die verlies van die hoër funksie van Afrikaans om as regstaal gebruik te kan word waar almal Afrikaans kan verstaan. Waar die meerderheid partye Afrikaans is, moet daar na Afrikaans getolk word. Die taaldemografie moet dus ’n uitgangspunt van die beleid word.
"Hoe kan die RPR dit op ’n realistiese wyse hanteer?"
Daar behoort ’n behoorlike taalbestuursplan deur ’n gekwalifiseerde sosiolinguis opgestel te word. So word ’n goeie resep bedink. Een van die hoofbestanddele vir die gebruik van meerdere tale sal die virtuele deelname deur lede en die publiek wees. Die samestelling van dissiplinêre komitees sal die taalvoorkeur van die regspraktisyn eerbiedig. Die regskendende onkunde dat jy as regspraktisyn tevrede moet wees met hulle interne tolke, wat jou maar net na die Engelse sout gaan laat gryp, sal nie nodig wees nie.
"Is dit nie billik dat gegewe die feit dat die meeste regspraktisyns in Engels geskool is, universiteitsopleiding in Engels geskied en hulle hulle praktyke in Engels bedryf, Engels uitsluitlik gebruik moet word nie?"
Hierdie vraag staan op drie vals pote: Eerstens negeer dit die grondwetlike model; tweedens versterk dit die mite dat die gebruik van Afrikatale stamtrots en nasionalisme gaan opwek en ’n verenigde Suid-Afrika gaan ondermyn; en derdens sê dit dat ‘n deurdagte taalbestuursplan nie kan slaag nie.
"Hoekom dink jy hulle gaan nie kritiek ernstig opneem nie?"
Hulle onmiddellike voorganger, die LSSA (Law Society of South Africa), het geweier om die Wet op Regspraktisyns in Afrikaans te vertaal. Ek het gevolglik vertoë aan die Departement van Justisie gerig wat dit toe in Afrikaans vertaal het. Ek het die RPR die afgelope jaar gevra om die gedragskode in Afrikaans te vertaal en het selfs ’n kwotasie van ’n kundige vertaler, wat maar sowat R20 000 gekwoteer het, aan hulle deurgegee. Hulle het geweier.
"Wat van ’n ledegeldboikot as protes as daar nie aan die kritiek gehoor gegee word nie?"
Miskien, want sonder geld kan dit hulle vuur laat uitbrand.
"Is ’n hofstryd hieroor voorkombaar?"
Ja, natuurlik, maar hulle moet dan net terugkeer na die Grondwet-resep. Anders sal ’n klompie van ons wat Engelse-sout-bestand is, die vure tot in die Engels-gebrilde howe stook totdat ’n Grondwetgetroue potjiekosresep toegepas word.
"Ek wonder, of weet jy, wat van die sterk Afrikaanse regsluistem geword het?"
........
Miskien is ons verslane sout. Miskien het ons nie vir die ete opgedaag nie; of miskien smul van ons tevrede aan die bredie. Maar miskien is dit ’n gevaarlike stilte.
..........
Miskien is ons verslane sout. Miskien het ons nie vir die ete opgedaag nie; of miskien smul van ons tevrede aan die bredie. Maar miskien is dit ’n gevaarlike stilte. Dalk weet ek gewoon nie. Die grootste vyand vir Afrikaans is die Afrikaanssprekende askari en Afrikaanssprekende Engelshartiges wat die rooi kole namens hulle wil roer om aanvaarding te kry.
"Skeer jy die Afrikaanssprekende advokate ook oor dieselfde kam?"
Advokate is individualiste; hulle staan onder opdrag om ’n saak te wen en die opstaan vir taalregte sal vir hulle praktyke noodlottig wees.
"En wat van Afrikaanssprekende regters?"
Hulle is so gedwee, hulle onderbreek selfs hulle ete om die hoofregter se wenresep te lees.
"Hoe sal die volgende geslag op hierdie verengelsing reageer?"
Ek dink ’n verwytende nuwe geslag sal by die Afrikataalmuseums treur en die Mogoeng-standbeeld omstamp.
"Wat dink jy gaan die polities-korrektes hieroor sê?"
Ek vermoed hulle gaan kla oor die swak smaak van hierdie bredie.
"Het jy nog hoop?"
Ek hoop op ’n goue era waar taaldiversiteit omarm sal word en waar taalgeregtigheid herstel sal word. Miskien stel president Cyril Ramaphosa oor ’n jaar of twee ’n resepkenner as hoofregter aan.
.........
"’n Finale woord vir jou mede-Afrikaanse regslui?"
Bly onbeskroomd taallojaal!
..........
"’n Finale woord vir jou mede-Afrikaanse regslui?"
Bly onbeskroomd taallojaal!
Ns: Protesskrywes moet gerig word aan die RPR: rules@lpc.org.za.
- Cerneels Lourens, prokureur en taalregte-aktivis
Lees ook:
Hofuitspraak oor Afrikaans by Unisa ’n ligpunt in ’n donker omgewing
Gemeenskapsvertaalpraktyk: Gewone taal vir die hervertaling van ’n bankteks
Kommentaar
Ek dink jy kan gouer agter die kap van die RPR en sy konseptaalbeleid se byl kom, Cerneels, as jy meer op die politiek waardeur dit geïnspireer word, konsentreer. Jy suggereer dit i.e.g. vroeg reeds met "Die RPR is veral daargestel vir die groot T en alle knieë buig voor die T se pot. Hierdie konkoksie se groot oogmerk is om gelykheid onder regslui te bewerkstellig". Ons weet mos hoeka al wat met daardie "gelykheid" bedoel word. Die topstruktuur van die ANC word tot vandag toe steeds deur sosialiste oorheers, waaronder verskeie openlike kommuniste en waarskynlik 'n klompie kripto's ook. Let's not be too coy and indirect about this everyday fact.
En vandag se sosialiste spits hulle toe op "equity", wat in social justice terminologie as "equality of outcomes" (en allermins "equality of opportunity") vertaal. In die akademiese social justice konteks van die koorsige sosialistiese denkwêreld beteken dit een taalmedium - en gevolglik 'n eentalige regstelsel. Hoekom? Omdat sosialisme 'n internasionale ideologie met internasionalistiese oogmerke is, en agitprop op sy effektiefste dmv een medium internasionaal verkondig kan word. Where better to begin as in die akademie?
In dié verband, om die verengelsing van sy alma mater te regverdig, het US se rektor, Wim de Villiers, juis met geesdrif na Rooi China se groot universiteite verwys wat toenemend van Engels as navorsings-, onderrig- en omgangsmedium gebruik maak - so al asof Beijing sy universiteite nié as deel van sy internasionale propagandamasjien beskou nie (Beeld, 22/10/2019). Maar nouja, Great Minds Think Alike.
Die voorstel oor hoe die RPR ’n behoorlike taalbestuursplan kan skep, is die enigste sinvolle wyse waarop die saak hanteer kan word en die RPR behoort ag op die skrywer se voorstel te slaan. In die era waar kennis en spesialisasie hoog aangeslaan word, word spesialiste helaas selde (indien ooit) gebruik om taalplanne te skryf - dit word té dikwels aan sommer enigeen gewapen met 'n sleutelbord en 'n agenda oorgelaat. Daar is soveel internasionale voorbeelde van planne wat werk, maar Suid-Afrika steek vas by lippetaal aan ons tale en gedienstigheid aan Engels. Pragtige dokumente soos die Dienshandves vir Misdaadslagoffers wat taalregte waarborg, word tot leë beloftes gemaak en keer op keer is diegene wat daaronder ly, juis die mees kwesbares in ons gemeenskappe, vir wie Engels ten beste 'n stiefmoeder is, maar meer dikwels 'n tante wat net nou en dan vinnig kom kuier.
Beste Cerneels,
Watter voorreg om jou artikel te lees!
Veels geluk met jou uitstekende aanbieding! Ek glo dit sal 'n groot impak hê! Langenhoven het natuurlik dieselfde metode as jy gebruik, met groot sukses, soos ons almal weet. Hou so aan! Jy is 'n tweede Langenhoven!
Wat kan ons doen om die agteruitgang teë te gaan? Jou artikel is 'n baie effektiewe metode. Dryf die spot met hulle!
Die howe het, om baie redes, insluitend die taalprobleem, vir Afrikaners ontoeganklik en onprakties geraak.
Waar dit enigsins moontlik is, behoort geskille , myns insiens, by wyse van arbitrasie of bemiddeling wat in Afrikaans geskied, opgelos te word. Die arbiter of bemiddelaar se gelde en dié van die regslui moet natuurlik so laag as moontlik gehou word. Spesiale maatreëls moet ook toegepas word om die duur van die arbitrasie of bemiddeling ingrypend te beperk.
Ek glo dat die kwaliteit van diens en die omvang van koste van so 'n aard moet wees dat partye wat 'n geskil het, sal verkies om dit buite die howe opgelos te kry.
Die gehalte van die howe se werk het , as gevolg van die swak aanstellings op die regbank, en veral die uitsluiting van Afrikaans, ongelukkig sò agteruitgegaan dat arbitrasie of bemiddeling die enigste doeltreffende metodes geword het om geskille behoorlik op te los.
Ek hoop dit sal help.
Vriendelike groete,
William de Villiers