Die stil-stil wetsontwerpe gedurende die feesseisoen: wat behoort landsburgers te doen?

  • 13

Terwyl Suid-Afrikaners haastig en gefokus voorbereidings tref vir die feestyd, het ’n verfoeilike en laakbare ondemokratiese ding weer eens feitlik ongesiens in die openbare Kerskous geval.

Die regering het ons ’n week of wat gelede getrakteer met twee wetsontwerpe wat die grootskaalse sentralisering van sport en skole behels. Kort hiervoor het die Minister van Polisie, Bheki Cele, ’n amnestie kragtens die Wapenwet afgekondig wat oënskynlik aan geen behoorlike openbare raadplegingsvereistes of ander prosedurele verpligtinge voldoen nie.

Hierdie ou truuk om ingrypende wets- en beleidsveranderinge voor die jaarlikse rustyd in Desember af te kondig, is sprekend van die ANC-geleide-regering se verknogtheid aan ’n bo-na-onder-regeerstyl.

Hierdie baasskapmetodiek dra nie net sterk eggo’s van Lenin se demokratiese sentralisme uit die afgestorwe Sowjetunie nie, maar is ’n koloniale oorblyfsel wat in feitelik elke voormalige Britse kolonie bly voortbestaan.

Die oorheersende en afdwingende houding van die ANC-regering het my laat nadink oor die filosofieë van Mahatma Gandhi en Frantz Fanon, twee teenkoloniale stryders en denkers uit die twintigste eeu.

Frantz Fanon, wat ek al in ander skrywes aangehaal het, was ’n Algeriese psigiater wat ten nouste by die Algeriese stryd om onafhanklikheid teen Frankryk betrokke was. Fanon het in sy seminale werk The Wretched of the Earth aangevoer dat die teenkoloniale stryd ook met die sielkundige verlossing van die gekoloniseerde moet saamgaan. Die afgedwingde norme van die koloniserende mag moet ook sielkundig teengestaan word sodat die taal, kultuur, politieke versugtinge en regeerstyl van die gekoloniseerde óf in ere herstel óf behoorlik aan die nuwe grondwetlike norme getoets word, voordat die nuwe onafhanklike staat ontstaan.

Sodoende is die teenkoloniale stryd nie net teen politieke of ekonomiese oorheersing nie, maar ook teen sosio-kulturele dominering. Die maatskaplike sielkunde hiervan, sê Fanon, is dat die gekoloniseerde bevolking bewys dat hul inheemse waardes, tale, norme en stelsels ook eerbiedwaardig is en nie uit noodwendigheid afsteek teen Westerse kulturele verordeninge nie. Self-afhanklikheid en selfbeeld, redeneer Fanon, is ’n integrale stap in die dekoloniale proses.

In Suid-Afrika het hierdie dekoloniale proses nie sy gang behoorlik gegaan nie. Ons stry steeds om die betekenisvolle erkenning van inheemse tale aan ons universiteite en selfs ons skole. Die vermelde wetsontwerpe is voorbeelde van hoe die ANC-regeringselite ingekoop het by die bo-na-onder-baasskap-regeerstyl wat tekenend is van Britse imperiale administrasie in die kolonies. Fanon wy ’n hele hoofstuk aan die “inheemse koloniale elite” - daardie karakters wat afkomstig is uit die voormalige kolonie en selfs deelvorm van die teenkoloniale stryd, maar wat “grootgemaak” is met die koloniserende mag se regeernorme. Dit is dan ook al wat hulle verstaan van regeerkunde.

In Suid-Afrika is die ANC-regering inkopers by die bo-na-onder-regeerstyl wat al van voor Alfred Milner se post-Boereoorlog imperiale skrikbewind kom. Veral tekenend hiervan is die ontstaan van ’n elite groep regeerders en administreerders heel bo, en die res van ons aan die onderkant kry elke paar jaar kans om te stem in ’n verkiesing, maar word andersins verwag om dekrete van bo sonder meer te aanvaar en te eerbiedig.

Protes hierteen word beantwoord deur ’n verwysing na die vrye verkiesing as bron van toestemming. Maar wat help ’n verkiesing as die verkose verteenwoordigers vir alle doeleindes steeds ons belastinggeld en tyd mors deur eksklusief die nasionale agenda uit te dink, wetgewing te skryf en af te dwing ondertoe, terwyl die res van ons kwalik kans kry om repliek te lewer?

’n Hofsaak wat ’n fundamentele deel van ons grondwetlike demokrasie beslaan, is die uitspraak van regter Sandile Ngcobo in Doctors for Life International v Speaker of the National Assembly and Others 2006 (6) SA 416 (CC).  In hierdie saak het die applikant kapsie gemaak teen die parlement se versuim om grondwetlik-verpligte openbare beraadslaging behoorlik deur te voer. Daar is aangevoer - en die hof het hul betoog aanvaar - dat die burgery ingevolge ons deelnemende demokratiese bestel behoorlike toegang moet hê tot geleenthede om ingrypende beleid en wetgewing te debatteer en na te gaan. Die saak vestig dus die beginsel van effektiewe en toeganklike deelnemende demokrasie in ons grondwetlike bestel. Die parlement kan nie kortpaaie neem wanneer nuwe wetgewing deurgevoer word nie. Elke stap moet behoorlik gevolg word en openbare deelname moet so wyd as moontlik gesoek en aangemoedig word.

Gegewe hoe stil-stil en midde-in die feesseisoen hierdie ANC-geleide-wetsontwerpe uitgereik word, en gegewe dat Suid-Afrikaners net tot omtrent 15 Januarie het om terugvoer te gee op hierdie ingewikkelde stelle wetgewing, is dit regtens hoogs betwyfelbaar of hierdie wetsontwerpe aan deelnemende demokrasie gehoor gee.

Dit bevestig weereens die voortdurende kolonialiteit wat in die ANC se regeerstyl te vinde is. Hulle wil, net soos Alfred Milner, van bo af oor hul “onderdane” beskik. In hul geskiedenis en samestelling is daar nie twyfel hieroor nie. Wladimir Lenin, leier van die Bolsjewiste, het destyds die “demokratiese sentralisme” as regeerstyl in die Sowjetunie neergelê. Dit behels dat die sentrale komitees van die kommunistiese regime ’n besluit per stemming neem, en die besluit dan teen wil en dank deur die res van die party en land afgedwing word. Die ANC-bannelinge het hierdie regeerstyl beslis in die kommunistiese Ooste opgetel: Ace Magashule se gehamer daarop dat die ANC se NUK-besluite op ons almal afgedwing moet word, illustreer hierdie styl. Daarby is daar beslis nog ’n (on-)gesonde stel tradisionaliste in die ANC wat die feodale bo-na-onder-styl van die Zoeloe-koning Shaka en ons eietydse Mswati die Derde van eSwatini aanhang. Demokratiese sentralisme en feodalisme is ironies genoeg, nogal nie te ver verwyderd van mekaar in die praktyk nie.

Ons grondwetlike demokrasie behoort nie volgens hierdie regeerstyl te funksioneer nie. Wat doen ’n mens hieromtrent, as jy ’n gewone burger is?

Die optimistiese antwoord is om die demokratiese stelsel met sy wigte en teenwigte aan te wend. Ons kan die oorheersers en koloniale lakeie in teorie uitstem. Ons kan die howe gebruik om die regering te dwing om openbare beraadslagingspligte na te kom. Wanneer ’n prosedureel-onbillike wapen-amnestie afgekondig word, kan ons die relevante Minister ingevolge die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid op hersiening neem.

Maar gestel die patroon van baasskap hou nie op nie? Wat as ons weens subtiele magstrukture, vuilspel, omkopery, die ingebore tekorte van die partypolitieke stelsel en mense se blinde lojaliteit aan die ANC, nie die regering kan uitstem nie? Wat as die howe ons nie juis kan help nie, omdat hul toetrede te diep op die skeiding van magte tussen die regsprekende, uitvoerende en wetgewende gesag sal inbreuk maak?

Wat taal in ons skole en die regering se rol in sport betref, is ons baie naby aan hierdie dooiepunt. In hierdie verband opper ek Gandhi en sy vertroue op vreedsame verset.

Mohandas “Mahatma” Gandhi was ’n prokureur wat in sy idealistiese jongdae in die destydse Natal gehoop het dat die reg hom teen onbillike diskriminasie sal kan beskerm. Hy het gou besef dat die regsproses teen hom gelaai was en dat ’n blinde vertroue op die strukture van onderdrukking om reg en geregtigheid te laat geskied en diskriminasie te beëindig, nie gaan werk nie. Hy het in Suid-Afrika reeds sy filosofie van Satyagraha oftewel “lydelike verset”, op diskriminasie teen Indiërs getoets. Gandhi het vasgeklou aan ’n vertroue in lydelike of vreedsame weerstand teen koloniale oorheersing. Sy pogings het miljoene Indiërs suksesvol verenig om vreedsaam teen koloniale Brittanje in opstand te kom, en Indië het sy onafhanklikheid in 1949 verkry.

In Suid-Afrika het ons ’n lang en selfs roemryke geskiedenis van lydelike verset. Artikel 17 van die Grondwet stel die reg om massa-optrede as ’n mensereg in, solank daar nie wapens betrokke is nie. Die reg word ook skynbaar rojaal uitgelê om verset teen onderdrukkende regering aan te moedig en te beskerm. Die weerstand teen die destyds beoogde Muilbandwet is ’n voorbeeld van suksesvolle vreedsame verset in die demokratiese era.

Maar waar hierdie wetsontwerpe oor skole en sport dalk tot wetgewing deurgedruk word, ten spyte van grondwetlike kwessies met die wese en die proses daarvan, moet ons begin hardegat raak en eenvoudig weier om die koloniale regeerstyl sy sin te gee. 

Verteenwoordigende demokrasie gekoppel met deelnemendheid beteken juis nie dat die verkose partypolitieke verteenwoordigers die alleenskeppers van wetgewing en die nasionale agenda is nie: daardie dinge moet van onder af boontoe opstyg. Nie andersom nie.

En wanneer die politieke partye besig is om hul eie magsbehepte agendas te dryf, wanneer deelname in die wetgewende proses bloot leë formaliteit raak, en wanneer die ANC die verwagting aanhou koester dat ons soos koloniale onderdane moet doen wat daar in Luthuli-huis besluit word, is dit ons morele plig as vrye burgers om onsself vreedsaam maar heldhaftig teen oorheersing te verset.

Ons moet weier om ons sportklubs aan ’n laakbare ideologie oor te gee.

En ons moet volstrek weier om die bestuur en taal van ons skole, wat aan ons gemeenskappe en hul kinders behoort, aan ’n regime van staatskapers en kolonialistiese askari’s oor te lewer.

En as dit beteken dat die regering ’n hele skoolpersoneel, beheerliggaam of sportklub moet toesluit omdat hulle afgedwingde dekrete skooltaal en sportbeheer weier, laat dit so wees! Diktature oorleef nie martelaars nie.

 

  • 13

Kommentaar

  • Avatar
    Cornelia von Benecke

    Hiermee stem ek saam. In die apartheidsjare voor 1993 het die witregering onder PW Botha die grond aan die verskillende volke teruggegee sodat hulle hulself kon regeer. Voorbeelde was Venda, Boputhatwana, Kwazulu Natal, Transkei en Ciskei, ens. Hulle was reeds in selfregerende styl en dit het geblyk dat dit goed kan werk. Toe De Klerk aan bewind kom het hy anders besluit. Nou sit ons met 'n Kommunistiese, Marxistiese, liberale regerende party wat hul idealisme op ons afdwing om aan bewind te bly. As ons mense tog net kan besef hul kan teenstand bied. Ek huil nou nog oor Andries Treurnicht wat so hard probeer het om dit wat nou gebeur te keer.

  • Avatar
    Mrs Maria Borcherds

    I wish to record my objection to the proposed government plans regarding language usage in schools and sports clubs. It is a tyrannical invasion of our freedom of choice and expression.

  • Avatar
    Anida Visagie

    Ons moet ophou feesvier en wakker word. Dis asof ons dink niks ergers kan gebeur nie. Ons moet ernstig beswaar maak!

  • Cornelia, ongeag hoe goed bedoeld, omdat die onderskeie ontvangers van die gewaande regstelling dit as paternalisme identifiseer en ervaar het, kon dit nooit werk nie. Die werklikheid van Afrika dat die voorheen oorheersende wit groepe by verre in die minderheid was teenoor diegene op wie hulle hul politieke wou afdwing, het hul ingehaal. Ek was so deel daarvan.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Dis nie die eertse keer en ook nie die laaste keer dat die ANC regering hierdie kaart gaan speel nie. Korrup tot in sy wese word Afrika regerings al meer en meer nagevolg. Hulle het 'n beweging geword wat hul hande op en oor alles wil hê en in die proses word gevestigde en werkende strukture afgebreek en vernietig. Dis 'n regime wat goed onderlê is in mooi broodjies bak en al die nuutste, demokratiese clichés ken maar die betekenis daarvan, ontwyk hulle. Soos byvoorbeeld die woordjie 'deursigtigheid' net om in donker kamers byeen te kom en te konkel oor maniere om die demokrasie te omseil.

    Mens sidder as jy dink wat met sport gaan gebeur indien hierdie konkelende, magsbehepte 'regering' die stuk drakoniese wetgewing gaan deurvoer. Sport wat 'n ontvlugting vir baie van ons is, staar verval in die gesig en meer en meer van ons skitterende sportmanne en vroue sal hul heil oorsee gaan soek. Hoeveel keer gebeur dit nie reeds dat gebore Suid-Afrikaners wedstryde en kompetisies vir hul nuwe aangenome lande help wen nie. Nie dat dit 'n duit saakmaak aan die ANC en sy kripvreters nie. Al wat vir hulle sin of saak maak, is mag, of dan die gevoel van mag.

  • Avatar
    Maureen Prinsloo

    Moet tog nie vergeet van kaalsteel ook, en kinders wat moet leer om te maturbeer, same sex seks te hê, en hoe om kondome aan te sit nie.

  • Avatar
    Spook Speurder

    M.i. is moderne demokrasie altyd sentralisties. Demokratiese regerings het te veel mag. Ons kort 'n ander landstruktuur. Ons is nou deur 'n uiters vreemde, onnatuurlike kultuur koloniseer. Verset alleen maak nie 'n toekomsplan nie, of, anders gestel: hier verset, daar verset, hoe kan dit werk? Dis poep teen die wind. Die teenstander is slinks en het slegte bedoelings met internasionale trefkrag en trawante. Ons moet slinkser wees.

    Ek glo nie dis 'n goeie opsie om in die tronk geplaas te word nie, want sal jy as 'n pollitiese gevangene hanteer word en ordentlik regte hê? Dis eerder waar jy jou dood sal vind, van die tronkinboorlinge af, dus, van hierdie regering, en van aids.

    Sulke verset moet anders geskied, deur bv. die bal in die staat se hande te plaas met 'n versoek lewer, soos op die teenwoordigheid van die minister of wetskrywer wie die wet gemaak het aandring. Die persoon moet dan oortuig word om die wet te verander. As daar 'n hofsaak teen wette is moet die staat daarvoor betaal, uit staanspoor uit. 'n Staat, as die persone, moet vir sy optrede verantwoording kan doen; wetskrywers moet vervolg kan word.

    Ek dink verset moet soos Swart Maandag geskied, goed vooraf beplan sover dit saam optree gaan. Uit die aard van die saak sal aandag genoegsaam getref word om die internasionale media, en hof, se aandag te trek. Dit sal sommer werk daarvan maak om ons op te wakker tot meer geneigd wees om saam te staan. Al is die VN ons sleggesind moet ons ons sommer as eerste stap daar registreer, as 'n opstandbeweging. Dit kan net goeie gevolge hê.

  • Avatar
    Gerhard Scheepers

    Tussen die ANC en EFF
    Besit hul stemmegewys hierdie land
    Die grondwet herskrywe het watse keer
    Sieketoestand onderliggend

    Daarin broei 'n grootse beywering
    Beskermend van ewige voortbestaan
    Uit die grondwet sal gou verwyder word
    Elke wet wat rem aan een opperhand

    Hoe minder wette hoe beter vir ons
    Elke mens vrystaan voor verbetering
    Tog kom die staat met sy onderdrukking
    Apartheid steeds die goue verskoning

    Hoe die psigopatiese staat bekeer?
    Skisofreniese selfbeskerming heers

  • Avatar
    Nico M Ferreira

    Stil-stil wetsontwerpe nogals - wat 'n lot tjol!
    Geen politieke party in SA kan 'n wetsontwerp stil-stil deur druk nie. Daar is spesifieke prosedures wat deur die parlement gevolg moet word. Het julle dan nie die versoeke om kommentaar op die wetsontwerpe in die dagblaaie gesien nie?
    Veral belangrik is die versoek om kommentaar te lewer op die moontlike verandering van artikel 25 van die SA Grondwet. Dit help nie om kommentaar langs die braaivleisvuur te lewer nie. Doen jou deel en stuur jou kommentaar soos versoek aan die SA parlement - maar hou die vervaldatum in ag.
    Of is dit makliker om terug te sit en niks te doen nie.

  • Avatar
    Spook Speurder

    Nico M, die twee wette is nie so maklik opspoorbaar en oop vir kommentaar soos dit behoort te wees nie.

    Advokaat Tembeka Ngcukaitobi skryf in die Mail & Guardian op 13 Desember 2019, die artikel “What section 25 means for land reform”. Hy maak daarin die punt dat regters, en ander, se interpretasie van ’n wet noodwendig ’n verbeeldingryke affêre is, asof dit groot nuus moet wees. Dit beskryf ook sy artikel. Dis ’n persoonlike opinie. Hy sê ook dat politiese opinies, soos winde, invloedryk is. Die besef van die belangrikheid van die onderliggende menswaardigheid van regsdienaars word nie genoem nie en die wet verval in ’n post-modernistiese politiese spel. Die eintlike groot nuus word ignoreer, die een oor moraliteit vanwaar die idee van oa gelykheid kom.

    In die onlangse US/Gelyke Regte saak, bv., het regters mi bewys hul is alles behalwe oopkop en openhartig maar speel eenvoudig die regering se deuntjie. Die gedagte dus dat regters onafhanklik van die staat is, is vals – dis met die proviso gesê dat dit in ’n Westerse beskawing vals sou wees, maar dit is nie in ’n Afrika-beskawing vals nie. As “the people” wil hê, en ’n handvol of tweeduisend van hulle tjop-tjop buite die hof kom betoog, ek bedoel genoegsame bewys daarvan lewer dat hulle waarskynlik ongelukkig is, sal die regter(s) se ore die hof vol lê.

    Vandat ons deur ’n Afrika-beskawing gekoloniseer is, is ons regte as ’n minderheid in gevaar van uitwissing deur die staat. Dink jy dis ook ’n lot tjol? Watse gewig gaan my ‘wit-ou-klakous’-brief voor die gewig van die meerderheid, in die oë en verstand en gemoed van die briefleser (een en dieselfde ding) hê? Asseblief!

    Wat ek oor sport gelees het, wil maar net meer mag in die staat en ander state se hande sit. Hulle wil al hoe meer en meer beheerliggame hê. Om vir maatjies werksposisies te skep of vir wat? Dit doen afbreek aan die ekonomie en vryheid van gees. Dit vermeerder ‘red tape’ wat ’n moderne siekeplaag is, ’n tiepe onsigbare, giftige wurm, wat kan vlieg, suig, klou en steek en oa verlamming bring. Hoe is hulle in elk geval beter as ek of jy behalwe dat hul teen red tape bestand is?

    Die voorgestelde skolewetgewing kon ek nie opspoor nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top