Die Springbok Nude Girls is terug met nuwe musiek en toer weer!

  • 0

Dit is presies 10 jaar gelede sedert die Nudies hul laaste album voltooi het en ongeveer 20 jaar dat hulle “Blue eyes” geskryf het. Dis hoe dit gaan met ’n musiekgroep wat borrel van talent. Die individuele lede van die Springbok Nude Girls was die afgelope jare besig met hul eie projekte en loopbane.

Na ’n spontane samekoms en suksesvolle toer verlede jaar besef die groep dat die inspirasies wat hulle in die eerste plek saamgebring het, steeds daar is. Hulle vind ook dat hul ondersteuners nog net so honger soos voorheen is vir hul musiek. Die gevolg is byna ’n natuurlike progressie om nuwe musiek te skryf en weer te toer.

Arno Carstens

Besonderhede van ’n vollengte-album word later in die jaar bekendgemaak. Die eerste liedjie van 2018, “Beautiful evolution”, is gedurende Mei digitaal vrygestel en ’n binnelandse toer het gevolg. Die toer is lojaal deur hul bestaande aanhangers en ook ’n jonger geslag ondersteun.

’n Stellys van meer as 18 liedjies het met elke optrede genoeg aan die gehoor gegee om hulle uitasem te laat. Die Springbok Nude Girls se musiek is hard, energiek en vol passie. Met hul optrede by Hillcrest Quarry was die ondersteuners reg van die begin af op hul voete.

Theo Crous

“Gang”, “Super girl” en “Managing mula” word gretig met vuiste in die lug ontvang en die Nudies kon nie ’n voet verkeerd sit nie. Die ouer liedjies word effens verwerk om dit steeds vars te laat klink.

Die Nude Girls kon die hele aand gespeel het en die gehoor sou steeds vir nog gevra het. Geen wonder dat die encore oor drie liedjies gestrek het nie: “Genie”, “Blue eyes” en “Bubblegum on my boots” kry almal luidkeelse applous.

Arno Carstens en Theo Crous van die Springbok Nude Girls

Die Springbok Nude Girls is reeds ’n Suid-Afrikaanse instelling en ons sien gretig uit na hul album later vanjaar.

“Beautiful evolution” nou beskikbaar op iTunes.

Teks en foto’s (by Hillcrest Quarry): Stephen Fourie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top