Die skerpskutter – ’n ware (lieg)verhaal deur Fielies Fisant

  • 0

In 1963 beland ek in die weermag. Dit was in die dae toe ons jongmanne se ma’s geen keuse gehad het as om hulle seuns aan die genade van die regering uit te lewer nie.

By die aankoms van die kamp waar jy moes aanmeld, was die eerste ding wat gebeur, jou hare word afgeskeer. Dit was baie onaangenaam want dit was in die tyd van die Beatles en ducktails. Ek het my hare soos die Beatles s’n gedra. En was voorwaar trots op die haardos wat pa en ma verafsku het.

Jy het jou hare lank laat groei – dan het jy ’n pee-pot onderstebo op jou kop gesit, en met ’n skêr al in die rondte gesny, tot dit gelyk het soos ʼn rondawel se dak. Maar die army barber het natuurlik net een styl geken, en dit was poenskop. Blybaar om kopluise te voorkom.

Daarna is ons uitgereik met uniform, sportklere, kouse en, natuurlik, die immergewilde stewels. Vir hulle het dit nie saak gemaak of die goed pas of nie, ons moes maar onder mekaar uitruil tot jy hét wat pas, of wat naastenby voel of dit pas. Ons is ook met ʼn helmet uitgereik wat ons sommer ʼn staaldak genoem het, asook ’n waterbottel, en ’n klein pik en graaf waarmee ons loopgrawe moes grou (en ander gate, sou die natuur op jou gil, terwyl jy jouself op een of ander bos-ekspedisie, in die hartjie van nêrens bevind).

Die belangrikste van alles was jou geweer. In daardie tyd was dit nog die ou drie-nul-drie.

Tesame met die strawwe oefening wat ons daagliks moes deurmaak, het die skietoefeninge ook begin. Die infanteriebataljon was baie streng en die opleiding was hard, maar ek het die geskietery op die skietbaan vreeslik geniet. Sien, ek het op ’n plaas grootgeword en my oorle’ pa het my van jongs af leer skiet. Hy was ’n baie goeie skut – en dit het my dus ’n groot voorsprong bo die stadsjapies gegee.

Ek is opgeroep vir nege maande, maar na die derde maand van skietopleiding was ek reeds so akkuraat dat ek ’n sertifikaat as skerpskutter verwerf het. My korporaal was baie trots op my. Ons was ses pelotons in die kamp en elke peloton het sy eie korporaal gehad. Ons hoor toe dat daar in een van die ander pelotons ook iemand gekwalifiseer het as skerpskutter. Onmiddellik reël my korporaal en die ander man se korporaal ’n skerpskut-kompetisie tussen die twee van ons. ʼn Shoot-off het hulle dit genoem.

Die kompetisie het op die skietbaan begin. Die reëls was eenvoudig en daar was vier posisies waaraan ons gemeet is:

Op vierhonderd meter lê ons plat op ons pense en skiet, staan dan op en hardloop twintig meter.

Dan val ons, tot op ons kniëe, skiet, staan op en hardloop ʼn verdere twintig meter.

Daarna gaan sit jy plat op jou alie, skiet, staan op, en hardloop weer twintig meter.

Laastens moes ons op ons koppe staan en skiet …

Beide van ons was so briljant dat ons daarin geslaag het om in al vier posisies kolskote te skiet. En so loop ons kop aan kop.

Terwyl die twee korporaaltjies nog so loop en bespiegel oor hoe hulle die kompetisie op ʼn reverdige manier tot ’n einde kan bring, vlieg daar so drie honderd meter van ons af, twee pampoentorre verby.

My opponent trek toe los en skiet die een tor dat die sop so spat. Ek laat waai en skiet die ander een raak, maar ek kwes hom net en hy vlieg weg. Nou loop die opponent met ’n halwe punt voor.

So vyfhonderd meter van ons af was daar ’n tamaaigroot skrootwerf. Dit is daar waar die ou Army-voertuie tot ruste gelê word om hulle laaste jare uit te dien. Onder andere staan daar toe ook ’n ou Spitfire met sy stert na ons kant toe gedraai. Díé dien blykbaar vandag sy laaste dae in Brittanje uit, omdat die Suid-Afrikaanse weermag geld vir ammunisie nodig gehad het …

Op vyfhonderd meter skiet my opponent die Spitfire se regter-, en ek die linker-truspieëls morsaf, en hy loop dus steeds met ʼn halwe punt voor.

Skielik raak ek keelvol vir die kompetisie-gedoente en dink so by myself – sy mal Aunt Tillie se nickle-plated-six-pack-woer-woer, hy gaan my nie wen nie.

Ek vra toe dat ons almal na die Uniegebou in Pretoria gaan vir die grand finale. Daar aangekom, klim almal op die Uniegebou se dak, op soek na ʼn teiken, elkeen toegerus met ʼn hengse teleskoop.

As jy Pretoria en omgewing ken, sal jy weet dat Hartbeespoortdam ongeveer so sestig kilometer van Pretoria, en spesifiek die Uniegebou af, lê. Ek wys toe vir die manne deur die teleskoop dat ’n tortelduif besig is om oor Hartbeespoortdam te vlieg.

Ek lê aan, mik, hou my asem op, trek die sneller en skiet.

Ek skiet ’n vlooi bo van daardie tortelduif se kop af, sonder om een enkele veer deurmekaar te krap! En net daar wen ek toe die kompetisie loshande.

My opponent het nie kans gesien om só ver te skiet nie, want hy was half blind in die een oog en die ander een was skeel.

Ek wen toe ’n pragtige trofee, ʼn medalje en beland pens en pote in die Pretoria News, waarna ek tot majoor bevorder word.

Ongelukkig kan ek dit vir niemand wys nie. Alle bewyse van my groot prestasie as skerpskutter het ʼn paar jaar gelede saam met my villa in Clifton afgebrand. Alle ooggetuies teenwoordig het die land reeds in die tagtigs weens erge politieke onluste verlaat.

Al wat ek vandag daarvan oor het, is my woord …

 

*Met dank en erkenning aan Oom Flip Verster

Lees ook

Is daar whisky in die hemel? Loretta Szikra skryf twee nuwe gedigte

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top