Is daar whisky in die hemel? Loretta Szikra skryf twee nuwe gedigte

  • 14

Die krismisliggies het lankal
hul feestelike vonk verloor,
Van ons kersboom se glorie
is net vuurmaakhout oor

Daar buite val geelperskereën
vir dae al aaneen –
soet druppels genade
oral om ons heen

Golwende groen gebergtes
kontrasteer 
met die hemel se stormblou,
wyl ek wonder wat hierdie prille jaar
vir jou en my inhou?

 

Is daar whisky in die hemel? 

Met jou nou ses voet onder
– op die rotse –
V E R D R I N K 
sit ek vandag
hier langs jou graf
en wonder
so sommer maar net
of daar ook whisky in die hemel is? 

want sou jy tog daar wakker skrik
met ʼn dik babelas, 
hoop ek daar wag ʼn kelner 
met ʼn knertsie in ʼn glas 
Ek hoop dat daar ʼn kroegie is
waar jy ʼn regmaker sal kry – 
vóór die hel soos bokhael losbars 
as die môredors die oorhand kry

Sonder lokaas na die hemel 
sal jy die bus daarheen verpas ... 
tensy daar op jou ʼn engel wag
met ʼn dubbel in ʼn glas

  • 14

Kommentaar

  • Hierdie digwerk getuig van 'n digter wie se woordewêreld, goed deurleefd is.
    Treffend en eerlik geskryf, en het ek na 'n 'whiskey' hartseer wat knop sit in my keel.

  • Amanda Hattingh

    Whisky - komies maar sad. Skryfwerk is uitstekend
    Krismisliggies - Min woorde wat so BAIE sê.

    Goeie gedigte.

  • Viole, Whisky, Moeder Theresa, krismisliggies en wat nog? Dis lekker om jou werk te lees Loretta

  • Ek stem met Margaret. Jy beskik oor n woordewereld wat nie net goed deurleef is nie maar ook pragtig benut word in jou werk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top