Die sewe doodsondes van rook

  • 0

Fotobron: Unsplash

Suid-Afrikaanse rokers is besonder aanpasbaar en resilient. Wel, dit is nie die eienskappe eie aan rokers alleen nie – die meeste mense wat in Mzansi wil oorleef, moet leer planne maak. "Adapt or die", lui die spreekwoord mos.

Nou, 9 weke sedert die verbod op tabakprodukte in werking getree het, hóór jy die rokers. Hulle hoes soos ou Volkswagen Kewers in wintersweer. Nie van Korona nie, nee, van al die laekwaliteit-swartmarksigarette wat hulle so lank moes rook. My eerste kennismaking met verbode sigarette was met Legends. Jip, dit was die brand-name. Toe ek my kartonne heel stigtelik in ’n Food Lovers Market-inkopiesak versteek en pokergesig huis toe gestap het, het ek gelag. Die rokers is inderdaad legends! Daar sal later na die absurde rookverbod van 2020 verwys word in dieselfde asem as na die VSA se drankverbod in die twintigerjare. Maar toe ek my eerste Legend aansteek, was dit suiwer sianied … en dit het my tong soos ’n sweisvlam geskroei. Maar nou ja, dit was die rookgoed tot my beskikking en met die tabakverbod het ek as roker nie oor die luukse beskik om te kla nie.

Die volgende brand wat my dealer gebring het (weer verdoesel as vars, heilsame kos), was Remington Gold, kartonne ciggies met so casino-agtige aura. Hierdie sigarette was meer aanvaarbaar, alhoewel die naam my weer laat smaail het en beelde van ’n derderangse dobbelplek in Brakpan in my geestesoog opgeduik het: Payday het ek al my ching by Remington Gold se tafels verloor. Ja.  

Teen dié was al wat roker is op moedverloor se vlakte – én hul trots kwyt. Want Cowboy Cele het intussen begin dreig dat jy kwitansies (van voor einde Maart) moet kan wys as jy betrap word met kankerstokkies in jou besit, die heksejag nou in volle swang. Wanneer ’n dop-en-dampie-dealer gevang word, word dit luid uitbasuin in die nuus. Die transaksies het gevaarliker begin word en twee van my geliefdes is gereeld vasgetrek in Pretoria-Oos in padblokkades om hulle karre te deursoek vir verbode middels. My waaksaamheid het verhoog – en só ook my dealer se delivery fee, met ’n R100. Daarom was ek dankbaar toe my derde besending, Pine Black, veilig onder een van sy vele karre se noodwiel arriveer. As sigaret is Pine Black net so common soos dit klink, met so wilde, soeterige geur wat eerder aan ganja herinner. Die voortvlugtige bankrower, Pine Black, is vanoggend ná ’n wilde jaagtog in Vereeniging gearresteer. Ek skep assosiasies met elke nuwe onwettige karton gifpyle, want solank ek nog kan lag, sal ek die grendelgruwels oorleef.

Pegasus Sky: dit was die naam van my vierde brand, ingesmokkel met komplimente van Food Lovers Market natuurlik. Hierdie pakkie het aansienlik meer classy gelyk as die voriges, blou en wit. Nou gaan ek vlerke kry, myself in ’n mitiese dimensie in rook, het ek gegrinnik. Die sigaret was baie lig en ek het deur ’n karton gevlieg (pun intended). Tóé sien ek wat my nog die hele tyd pla, naamlik: die pakkies is korter as die standaard-pakkies sigarette – of verbeel ek my dit alles?  

Fase 3 het gekom en gegaan en rokers se lot was geseël. Ek het uiteindelik ge-graduate tot die volgende brand, Mega – (is dit nou die magnum opus van die swartmarksigarette?) Gits, en hier gaan ek tekere soos ’n connoisseur … (Mega is by verre die slegste sigaret wat ek nog gerook het.) Ek hoor my vriende in die Kaap rook Sharp ... wettige substandaard ciggies. Sharp-sharp my bru!

Nou ja, met soveel variasies op die swartmarktema kan mens seker ook verskillende soorte rokers onderskei. Sewe soorte, of is dit die sewe doodsondes van rook? Ek is al 28 jaar in die rookbesigheid en ken elkeen op sy voornaam.

Die kettingroker. Hulle is die geelvinger-veterane, die pro's met die plooie om dit te bewys. ’n Rookplooi vorm soos ’n gradeboog langs die oog. ’n Kettingroker se volgende sigaret brand reeds wanneer hy sy kooltjie uitdoof en hy haat dit om sy rooktyd aan etes af te staan. Dirty Harry was ’n kettingroker (dit was die dae toe rook nog cool was. In die 70’s was rook ook cool; die dae van mans met lang hare, wollerige sideburns, sigaret in die hand. Op sewentiger-foto’s pose mense graag met hulle ciggies).

Kan ek 'n sigaret by jou leen? Hierdie pyn-in-die-agterent-roker redeneer dat as hy nie sigarette koop nie, hy nie (regtig) rook nie. Hy leen by al wat vriend of vreemdeling is – nie juis baie sosiaal sensitief nie. Wel, eintlik is dit nie 'leen' nie, maar 'vat', want hy gee nooit die sigarette terug nie.

Die skelm/koverte roker sluip alleen buitentoe vir ’n dampie, en sy hele lewe is ’n web van leuens, skuldgevoelens, ontkenning en pogings om op te hou. Hierdie rokers spandeer ’n klein fortuin aan kougom, tandepasta, mondspoelmiddel en peppermente en hulle lieg vir die mense die naaste aan hulle oor hulle rookgeheim. Korreksie: Hulle lieg vir almal.

Ek het opgehou rook. Die bekeerdes het al opgehou vir net so lank as wat hulle rook. Hulle het als, van hipnoterapie tot homeopatie, plakkers en pille, probeer, maar die tabakduiwel wil hulle net nie los nie. Tja ... maar hulle hou definitief môre op met rook.

Die vapers. Hierdie rokers is die wasem-asems, saprokers, aanhangers van e-sigarette, tanks, mods of enige gadgets wat met vaping verband hou. Hulle vertel graag dat hulle dampies gesonder as filter-ciggies is en blaas vrugte- en bubblegum-geure in jou gesig. Of dit nou ’n boheemse - of gesondheidsding is ... hulle lieg vir hulle self. Hulle is net rokers in disguise.

Die sosiale roker rook net wanneer hy drink. Sigarette en drank is mos bloedbroers, sien? Hierdie roker sal enige tyd van die dag of nag ’n dop skink om sy gifpyl te laat brand.

Die onrehabiliteerbare roker is nog ’n graad erger as die kettingroker. Hierdie roker wy sy hele lewe aan rook, maak nie saak hoe kort dit is nie. Sy sigaret sit soos ’n vergroeisel tussen sy wys- en middelvinger, permanent daar. Hy lag vir die mediese wetenskap, lag vir sy eie rookverwante diagnoses en ignoreer enige vorm van sosiale druk om op te hou rook soos ’n stopstraat. Hierdie roker sal tot die dood toe baklei vir sy reg om homself dood te rook.  

Lees ook:

Gesteelde water is soet

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top