Die seun wat bly leef het deur Jacques Papenfus: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Die seun wat bly leef het, van Moeggesukkel na soveel meer
Skrywer: Jacques Papenfus
ISBN: 9781779881441
Uitgewer: LUCA

Vrae waarmee ons almal op ’n sekere stadium gekonfronteer word, is waarskynlik: “Hoekom is ek hier?” “Wat is ek veronderstel om te doen?” Ek dink in Engels kan ’n mens dit beter verstaan in die vraag: “What is my great commission?”

IK- en aanlegtoetse, persoonlikheidsontledings, breindominansiebepaling, kleurklassifiserings en ’n hele reeks psigometriese toetse is beskikbaar om te help bepaal wie jy is en waar jy die beste gaan funksioneer in die samelewing. Dit is alles belangrik, maar wat gebeur as alles noodgedwonge verander? In ’n breukdeel van ’n sekonde kan alles wat ons ken en doen en wat vir ons bekend is, omver gegooi word.

Daar is geen waarborg teen die noodlot nie, daarvan kan almal getuig. As dit nie iets is wat jy self ervaar het nie, is dit die geval met iemand wat aan jou bekend is.

Dit is presies wat met ’n negejarige seuntjie van Harrismith gebeur het. Hy is uit sy stabiele huisgesin en gemeenskap geruk. Vanuit sy hospitaalbed het hy gehoor dat sy hele gesin in ’n motorongeluk gesterf het, en dat hy die enigste een is wat die ongeluk oorleef het. Asof hierdie tragedie nie genoeg was nie, het die res van sy familie in die openbaar aan die baklei gegaan oor waarheen hy moet gaan en by wie hy moet gaan bly. Dit eindig egter ook nie daar nie; hierdie geborge plattelandse seun beland in die stad, wat hy glad nie verstaan of ken nie. Niemand ken hom nie. Hulle weet nie dat hy uitgeblink het in sport nie. Hulle weet nie dat sy ouers in die negentigerjare die dorp se videowinkel besit het nie. Dit het aan die familie ’n sekere soort sterstatus gegee. Hy is ontnugter, ontwortel en heeltemal onbekend.

Sy oom en tannie wat hom aanneem, bring hulle kant, maar alles is vreemd vir Jacques. Dit word nooit sy huis, sy ouers of sy gesin nie. Hy pas glad nie in waar hy hom bevind nie. En hier begin dinge skeefloop vir hom. Hy maak verkeerde keuses en begin dwelms gebruik. Maar binne hierdie jongman klop daar ’n hart waarvoor ’n ma gebid het. Hy en Lukas deel een laatmiddag ’n paar broodjies, atjar, piesangs en aangemaakte koeldrank, met twee weggooimense op die Kerkplein in Pretoria. En daar word hierdie hart wakker. Jacques besef dit is hier waar hy inpas. Hy kon net homself wees. So begin hulle vir straatmense kos te gee.

Jacques en Lukas doen alles wat na hulle kant toe kom om geld te verdien. Maar dis nie om ’n luukse bakkie te ry, of om in ’n mooi huis te kan bly nie. Die meeste geld word ongelukkig op dwelms uitgegee. Maar op ’n dag haal Jacques se ma se gebed hom in.

Hawelose mense word die sentrale punt waarom Jacques se lewe draai, en Moeggesukkel word gebore. Hy en Lukas werk om genoeg geld te verdien sodat hy blyplek, kos en werk kan verskaf aan mense wat deur die samelewing uitgespoeg is. Dit kom met opofferinge en buitengewone uitdagings. Maar Jacques se ervaring van uitsluiting dryf hom om vir hierdie mense ’n doel en ’n toekoms te gee. Wat gedoen word, moet goed gedoen word, en dit wat goed gedoen is, moet van die beste gehalte wees. Dit op sigself vestig ’n gevoel van trots in elke mens wat hom of haar op Moeggesukkel se lappie aarde bevind. Die een na die ander Buddy-besigheid sien die lig in die proses om vir die noodsaaklike te betaal.

Jacques het die tonge op sosiale media laat klap met sy tafeltjieprojek. Hy ry met ’n tafel, stoele en eetgoed in sy motor, stop by mense wat op straat is en nooi hulle om aan te sit vir ’n ete by ’n gedekte tafel. By hierdie tafel gesels hy bloot met hierdie mense oor waar hy vandaan kom en wat hy doen. Hy luister, en waar moontlik help hy en sy span van Moeggesukkel om een mens op ’n slag weer ’n kans in die lewe te gee. Hy het kritiek op sy video’s van hierdie ontmoetings gekry. Miskien was ek een van die mense wat gedink het dat as jy ’n goeie daad verrig, jy dit nie moet gaan verkondig aan die wêreld nie. Maar ek het nooit verder gedink as my veroordeling nie en het die hele doel van hierdie plasings misgekyk. Dit wat hy op video versprei, gaan nie oor hom nie, dit gaan oor hoop en liefde, asook hoe ons veronderstel is om na mekaar te kyk, nie met ’n hart vol oordeel en kritiek nie, maar met ’n liefde wat alle verstand te bowe gaan. Dit is ’n liefde wat voortspruit uit die genade wat daar vir elke mens gegee is.

Jy kan jouself verloor in Jacques se storie, op meer as een geleentheid. Maar wat my soos ’n golf getref het, is die vraag: “Doen ek wat ek veronderstel is om te doen?” Ons is dalk nie in die posisie om behuising of ’n veilige hawe aan iemand daarsonder te bied nie, maar daar is iets wat ek en jy kan doen om van ons samelewing ’n beter plek te maak. Hoe gering ook al. Miskien kan ek ’n ekstra brood en koeldrank koop en dit vir daardie vuil bedelaar voor die winkel gee. Dalk kan ek ’n paar blikkies kos saam met my maandelikse inkopies koop en dit vir die kerk se sopkombuis gee. Daar is veiligheidshuise en organisasies wat staatmaak op hierdie bydraes. Maar as jy nie geld of tyd het wat jy kan gee nie? Soms is ’n sagte woord, ’n opregte glimlag en ’n vriendelike gesindheid meer werd as wat jy ooit sal besef. Dit kan letterlik iemand se lewe red.

Begin deur Jacques Papenfus se boek Die seun wat bly leef het te lees, en besluit dan self waar jy ’n verskil kan maak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top