Die SABC se Teletubbies-nuus: die begin van die einde vir vryheid van spraak in Suid-Afrika?

  • 1

Daar doen op die oomblik ’n spotprent van Rico (eNCA) die ronde wat kommentaar lewer op die SABC se besluit om voortaan nie meer diensleweringproteste in hulle nuusbulletins te dek nie. Klik hier om daarna te kyk.

In die spotprent is twee van die vier Teletubbies besig om in ’n borrelberig te lewer oor sonskyn, terwyl daar net buite die borrel donderwolke is, met protesteerders wat teen swak dienslewering protesteer.

Dis natuurlik nie ongewoon dat ’n spesifieke nuusagentskap ’n spesifieke ideologiese trant inslaan in die wyse waarop hulle die nuus rapporteer nie. Ons weet tog byvoorbeeld dat Al Jazeera ’n ander inslag sal hê wanneer hulle oor die vlugtelingkwessie rapporteer as wat SABC News Africa dit sal doen. Daar was ’n ruk terug geweldige kritiek uitgespreek teen SABC-verslaggewers wat politieke beriggewing in ANC-T-hemde gedoen het, ten spyte van die feit dat hulle toe nog lippediens aan onafhanklike beriggewing gelewer het.

Die besluit om egter glad nie meer verslag te doen oor sekerlik die grootste politieke vraagstuk in die aanloop na die verkiesings nie, is egter meer as net partydige beriggewing. Hier begin dit alte veel voel na politieke inmenging in vryheid van spraak. En joernaliste wat vir die SABC werk, se loopbaan en toekoms is afhanklik daarvan dat hulle gehoor gee aan die opdragte.

Diegene met toegang tot satelliet-TV word nie te veel gepla hierdeur nie. Wat egter kommerwekkend is, is die groot getalle mense wie se enigste toegang tot nuus die openbare uitsaaier is. Hierdie mense word nou aan die neus gelei en wysgemaak dat dinge meer rooskleurig is in ons land as wat werklik die geval is. Natuurlik is mense nie dom nie. Selfs indien daar nie enige beriggewing is oor protes of swak dienslewering in ander dorpe nie, sal elke persoon tog weet wat in hulle eie dorpe aangaan. ’n Slaggat, of vuil water, of gebrek aan elektrisiteit is tog moeilik om mis te kyk. Die ergste wat kan gebeur, op kort termyn, is dat mense kan dink hulle situasie is uniek, en dat dit nie ook in ander dorpe gebeur nie. Dit kan mense dalk selfs beweeg om te stem vir die regerende party, wat aan die einde van die dag tog die party is wat die meeste baat by die snoer van beriggewing.

Die kort termyn gee my nie te veel slapelose nagte nie. Dis die langtermyneffek van politieke inmenging in beriggewing wat my bekommer. Ons sien voorbeelde daarvan dwarsoor die wêreld. Die oomblik as die vryheid van die pers om verslaggewing te doen sonder vrees vir inmenging belemmer word, word demokrasie bedreig.

Vandag mag daar nie berig gelewer word oor diensleweringsprotes nie. Môre word daar dalk wetgewing uitgevaardig wat dit ’n kriminele oortreding maak om met Zuma die spot te dryf, soos wat tans in Turkye gebeur met Erdogan. Destyds met die Spear of the Nation-debakel was daar alreeds sulke geluide gemaak.

Wat is die volgende logiese stap? Sluit joernaliste op indien hulle nie die amptelike beleid volg nie, soos wat in Iran, Turkye, Egipte en ander lande gebeur. Of maak hulle gewoon dood, soos wat in Meksiko, Brasilië en Indië gebeur.

Impunity. Dis ’n woord wat ons al meer hoor in verband met lande wat tot onlangs nog goeie demokratiese, menseregtestandaarde gehandhaaf het. Wat my bekommer, is dat ons stadig maar seker besig is om ons demokratiese beginsels stuk-stuk te verloën.

Ons word oor en oor die versekering gegee deur senior lede van die regerende party dat kriminele defamasie iets van die verlede is in Suid-Afrika. Leiers met die gravitas en integriteit om ernstig opgeneem te word, beide binne die party en daarbuite, is deesdae egter skaarser as hoendertande. En Zuma gee nie die indruk dat hy enigsins ’n duit omgee vir ’n vrye pers nie.

Dis maklik, en waarskynlik die lui antwoord, om die skuld vir al Suid-Afrika se probleme voor Zuma se deur te lê, soos wat die ANC met groot gemak die skuld vir al ons sosiale euwels voor apartheid se deur lê.

Die waarheid is egter veel meer kompleks as dit.

Zuma kan nie al die dinge wat voor sy deur gelê word, doen sonder dat hy ondersteuning, wýe ondersteuning, van binne die regerende party kry nie. Zuma het nie man-alleen korrupsie gepleeg nie. Geen enkele skandaal waarby Zuma die afgelope aantal jare betrokke is, kon hy man-alleen baasgeraak het nie. Hy was passief toegelaat of aktief gehelp om die dade te pleeg wat gepleeg is. Hy was toegelaat om homself te omring met mense wat net so korrup soos hy is, en wat selfverryking voor die beste belange van die land plaas.

En waar laat dit ons, die gewone landsburgers? Die narratief dat ons onskuldig meegesleur is, dat ons nie seggenskap in die leierskap van die land het nie, is nie net misleidend nie, dit doen groot skade. Die narratief dat ons stem nie enige verskil maak nie, en dat ons maar eerder by die huis moet bly en nie stem nie, doen skade.

Daar is ’n ander spotprent, waar ’n leier op ’n plank by ’n podium staan, oor ’n afgrond. Aan die ander kant van die plank staan ’n skare, en hulle teenwoordigheid op die plank is al wat die leier in posisie hou. Heel agter staan een enkele persoon wat een voet van die plank afhaal.

Dis ons. Elkeen van ons hou die leiers in posisie. Sommige doen dit direk, deur vir die party te stem. Ander doen dit indirek, op verskillende maniere. Elke keer dat Steve Hofmeyr sy vitrioel kwytraak, en sy volgelinge hom klakkeloos napraat, dan wek hy nuwe simpatie vir die regerende party. Elke keer wanneer daar na Zuma se leierskap verwys word in terme van sy gebrek aan formele opvoeding, wat tog regstreeks voor die deur van die apartheidsregering gelê kan word, dan wek dit nuwe simpatie by ander mense wat nie geleenthede gehad het om te studeer nie. Elke keer wanneer daar in terme van vergelykings met diere na lede van die kabinet verwys word, dan wek dit simpatie by ander lede van dieselfde groep wat al aan daai narratief onderwerp was. Elke keer wanneer daar rassistiese grappe vertel word wat swart mense uitbeeld as dom, of dieragtig, dan wek dit simpatie vir diegene in beheer.

En simpatie kan baie maklik omskep word in stemme.

Moenie vir een oomblik dink dat die DA meer stemme gaan wen omdat ’n swart man die openbare gesig van die party is nie. Maimane spreek dalk tot middelklas kiesers, maar hy is heeltemal uit voeling met die werkers.

Daar is heelwat kritiek wat teen Malema ingebring kan word, maar hy verstaan die mense op voetsoolvlak. Hierdie komende verkiesing, vermoed ek, gaan ’n Malema- triomftog wees. Maar of Malema beter vir Suid-Afrika is as Zuma, is ’n vraag wat ek nog nie regtig kan beantwoord nie. Sy ekonomiese beleid, sy bewondering vir Mugabe, sy vlugtigheid maak hom onvoorspelbaar – en in ’n politieke leier is onvoorspelbaarheid nooit ’n goeie ding nie.

Ons politieke leiers is nie in isolasie geskep nie. Hitler het nie in isolasie aan bewind gekom nie. Hy was ondersteun deur groot groepe mense wat gedink het hulle doen wat goed en reg vir hulle eie groep is.

Langtermyn, vrees ek, is Teletubby-verslaggewing die minste van ons probleme. Die vraag is, is ons mense polities aktief en ingelig genoeg om daadwerklik ons politieke landskap te verander?

  • 1

Kommentaar

  • engemi ferreira

    Soos Nic Swanepoel (hy in wie se mond Afrikaans nuwe dimensies kon aanneem van 'O Skone Taal')sou gesê het: Wat was my verbasing groot, toe ek hoor van die SAUK (ja, oukei BC) se "Teletubbies nuus", want wat daarin gesê word is minder belangrik as die feit dat iets sóós Teletubbies ooit die daglig aanskou het op die ... um SABC. Dit tref my toe hoeveel en hoe groot die bydraes was wat sedert vroeë tye die klein hamertjies was waarmee Afrikaans se voortbestaan stukkie vir stukkie tot niet gemaak is deur die manier waarop daaraan gekap, getimmer en gebeitel is deur die invoer van soveel soorte van programme in 'n Afrikaans-vreemde idioom in te gevoer het. Soos byvoorbeeld Teletubbies. Mos! Wat aan Teletubbies klink vir enige iemand wat hier lees na goeie Afrikaans? Kon die Tt's ooit Afrikaans praat? Indien wel, in watter 'vernacular'? Hoe het die 'n nuwe geslag peuters geleer om wanskapige idees te verorber van hoe Afrikaans daar moes uitsien. Daar lê die ding: een van die grootste sondebokke was sekerlik die gebrek aan Wolf en Jakkals en so voort op die vroeë TV kinderprogramme; waarskynlik is dit hoe 'n hele geslag Afrikaans-slaners onder ons oë groot geraak het en nou dat hulle groot is veg hulle met mening vir die vernietiging van ons taal – want laat ons eerlik wees; húlle taal was dit nooit. Sela

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top