Die Psalms in omdigting en vertaling

  • 2

Heilna du Plooy was die afgelope 30 jaar as literêre adviseur betrokke by twee projekte waar die Psalms vir Bybelvertalings herbewerk is – die laaste keer tydens die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans. In hierdie bydrae brei sy uit oor aspekte van die Psalm-omdigting tydens die vertaalproses.

Besoek die invalsblad van die miniseminaar hier om al die bydraes te lees: 

Miniseminaar: Die 2020-Bybelvertaling

Heilna du Plooy (Foto: verskaf)

1. Inleiding

Die boek van Psalms beklee ’n besondere en volgens sommige skrywers selfs ’n sentrale plek in die Ou Testament. Daar word selfs die mening gehuldig dat dit inderwaarheid nodig is om die hele Ou Testament te bestudeer om die Psalms te verstaan en dat die hele Ou Testament as ’n soort kommentaar op die Psalms beskou kan word (Doud 2020:1). Waarskynlik ook andersom. Die rede hiervoor is dat al die basiese geloofsoortuigings en die teologiese opvattings van Israel in die Psalms neerslag vind. Kulturele sake wat te make het met die verbond, die wet en die regstelsel, die geskiedenis, die koninklike tradisie, profesie, wysheidsopvattings en dan natuurlik ook die literêre en poëtiese tradisie lê ten grondslag aan die inhoud en aan die formele literêre en talige eienskappe van die Psalms. Daar sou dus gesê kon word dat bykans alle aspekte van die religieuse en kulturele belewenis van die Jodedom in die tyd van die Ou Testament in die Psalms neerslag vind (Doud 2020:6).

Nou het dit so gekom dat ek oor die afgelope 30 jaar by twee groot bewerkingsprosesse van die Psalms betrokke was, in beide gevalle as lid, meer spesifiek as literêre adviseur, van ’n veel groter span medewerkers: van 1991 tot 2001 by ’n omdigting van die Psalms en van 2005 tot 2020 by die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans. In albei gevalle het ek steeds meer onder die indruk gekom van die kompleksiteite, maar ook van die ongelooflike veelsydigheid, van tale en van taal as menslike verskynsel.

Die onomstootlike feit waarmee mens die hele tyd werk, is dat die Bybel ’n taalteks is, dat geloofswaarhede en geloofsriglyne oor eeue heen in woorde vasgevang en in groter samehangende tekste opgeteken is en dat hierdie woorde in “boeke” van welke aard ook al bewaar en oorgedra is. Die gesag van die Bybel word deurentyd bevraagteken, maar vir gelowiges oor die wêreld heen het die boodskap van hierdie versameling tekste oor al hierdie eeue heen geldig gebly.

Vir toegang tot antieke tekste is vertaling egter noodsaaklik. Dit beteken die bestaan van die Bybel is onherroeplik gebonde aan taal – die toegang daartoe behels talige aktiwiteite soos kennis van die brontale, goeie interpretasie en eksegese en die oordra van die inhoud, die inligting sowel as die betekenis vervat in die Bybelboeke, via ’n ander taal. Die omgang met die Bybel, hetsy in sy oorspronklike taal of in vertaalde vorm, is en bly dus onvermydelik verbonde aan en gebonde deur taal. En terloops, dit beteken ook dat die siening van die Bybel deur die eeue heen telkens ernstig beïnvloed is deur taalbeskouinge en taalfilosofieë wat deurentyd in fluks is en wissel van hiperbehoudend tot relativisties.1

Nogtans, vir mense wat die Bybel ernstig opneem, is wat EW Bullinger in 1898 in die openingsparagraaf van sy boek Figures of speech used in the Bible skryf aangaande die verstaan, die vertaling, die taal- en literêre versorging van die vertaling van die Bybel, steeds geldig:

JEHOVAH has been pleased to give us the revelation of His mind and will in words. It is therefore absolutely necessary that we should understand not merely the meanings of the words themselves, but also the laws which govern their usage and combinations. (Bullinger 1898)

Omdat ’n mens met taal te make het, moet jy onthou dat woorde se betekenisse nie absoluut vas en onveranderlik is nie. In enige taalbewerking vind daar dus geringe verskuiwinge van betekenis plaas, en om betekenis so goed as moontlik te bewaar en oor te dra verg sorgsaamheid en vindingrykheid in die doeltaal. Ek gebruik die chronologiese verloop van my betrokkenheid by die Psalms en gee dus eers aandag aan die omdigting van die Psalms soos wat dit in Liedboek en Psalmboek wat in die Afrikaanse kerke gebruik word, opgeneem is, en daarna skryf ek oorsigtelik oor die Psalms in die 2020-vertaling van die Bybel.

 

2. Die Psalm-omdigting van 2001

Die omgedigte Psalms wat in 2001 deur Afrikaanse kerke in gebruik geneem is, het 20 jaar geneem om te voltooi.2 Die projek het stadig op dreef gekom en dit was eers nadat TT Cloete in 1991 begin saamwerk het dat dit vinniger gegaan het. Verskeie bekende kontemporêre digters, soos Lina Spies en Antjie Krog, en ander medewerkers het ook ’n paar omdigtings gedoen, maar Cloete het die hele korpus tekste omgedig. Waar vorige omdigtings in Afrikaans gesteun het op bestaande en ouer Nederlandse omdigtings, is hierdie omdigting heeltemal nuut gedoen en die psalms het inderwaarheid nuwe Afrikaanse gedigte geword. Krog se omdigting van Psalm 19 is op sigself ’n pragtige gedig, soos ook Psalm 88 in Cloete se omdigting – hierdie psalm word as die donkerste psalm beskryf, maar die omdigting is so mooi dat mens eintlik beter voel as jy dit gelees het.

Omdigting is ’n meer komplekse proses as vertaling.3 Die inhoud, geskiedenis en struktuur van die psalmteks word bestudeer deur eksegete en Hebraïci en hierdie ontledings en interpretasies word aan die digter beskikbaar gestel. Die digter moet dus self ’n hele klomp navorsing doen en die stof goed bestudeer voordat die taalbewerking aan die gang kan kom. Deur die eeue was dit vir baie digters ’n uitdaging om die psalms in gedigte of liedere om te sit – in Nederlands byvoorbeeld deur Vondel, Camphuysen en Marnix in vorige eeue en in die 20ste eeu deur Ida Gerhardt en Martinus Nijhoff.

Waar Totius die psalms aanvanklik in Afrikaans berym het slegs ongeveer 15 jaar na die verskyning van “Winternag”, die eerste “literêre” gedig in Afrikaans, kon die hedendaagse digters steun op ’n gevestigde poëtiese tradisie en vertroudheid met baie meer virtuose digtegnieke. Nou lyk die nuwe omdigtings gemaklik in Afrikaans; dit is eenvoudige en direkte verse (soos die Hebreeuse poësie inderdaad self ook daar uitsien) in ’n taal met sy eie ritme, sy eie aard, styl en atmosfeer, maar om daarby uit te kom was nie maklike werk nie.

In die eerste plek moes die digters bykomend tot die komplekse verhouding tussen woorde en betekenis, die betekenis behou en in poëtiese vorm weergee. Die Hebreeuse psalm het ’n bepaalde vorm wat op sigself ook betekenisdraend is, maar die omgedigte psalms se vorm as kontemporêre lied word primêr deur die wysie en die musikale reëls vasgestel, terwyl die Hebreeuse poëtiese struktuur ook in gedagte gehou moet word. Die digter moet dus, afgesien van taaltransformasies (vertaling sowel as verwerking na poëtiese vorm), ook die formele eise van die musiek nakom en respekteer om ’n singbare produk daar te stel. Waar die eksegese regdeur bepalend bly en die eksegete in die kommissie noulettend was dat geen betekenis verlore gaan of verander word nie, en waar die musikoloë die musikale struktuur en kwaliteit in elke strofe van elke psalm getoets het, was die taal die enigste veranderlike en aanpasbare aspek van die proses. Die digters moes dus die woorde skik en herskik totdat die musikoloë (“die kinders van Korag” het ons hulle genoem) met elke strofe tevrede was ten opsigte van woord-toon-verhouding en vloei en struktuur. Die proses kan so opgesom word:

  1. Daar word aan die digter ’n deeglike eksegese van elke psalm verskaf. Die digters raadpleeg dan ook soveel kommentare as wat hulle nodig vind, totdat hulle voel dat hulle die betrokke psalm verstaan en die toonaard daarvan ken.
  2. Daar word ook aan die digters die melodie verskaf waarop die psalm gesing sal word. Die melodie is sorgvuldig uitgesoek om by die toonaard en inhoud van die psalm te pas.
  3. Dan maak die digters ’n eerste versie van die omdigting. Daar word later klein werkkomitees (bestaande uit ’n brontaalkenner, musikoloog en literator) aangewys wat saam met elke digter werk om die proses te bespoedig.
  4. Daarna word die omdigting deur die digter afgerond en aan die groot kommissie voorgelê. Daar word die werk gekontroleer deur 40 mense uit verskillende dissiplines en die gevaar is natuurlik dat ’n bespreking in ’n groot vergadering vrugteloos en rigtingloos kan raak. (’n Kameel was immers – so word mos gesê – die produk van ’n kommissie wat veronderstel was om ’n perd te ontwerp!) Hierdie vergaderings het egter meestal baie goed gestruktureerd verloop.
  5. Die kommentaar op die psalm word opgeteken en aan die digter gestuur om verder aan te werk. Die tekste word dan heen en weer gestuur tussen die kommissie en die digter, tot ses of sewe keer, totdat almal tevrede is. Geduld en vasbyt is nodig.

Sekere vereistes is so noukeurig as moontlik nagekom:

  1. Die Hebreeuse poëtiese middele soos parallelismes en inclusio’s moes behoue bly.
  2. In singbare liedere soos die psalms is rym ’n vereiste. Frasering word deur die musiek bepaal, in versreëls in die strofe, en ook binne tweeledige versreëls. As in die musiek frases herhaal word, moet daar selfs van dubbelrym en soms selfs drieledige rym gebruik gemaak word om die musikale herhaling te ondersteun. Aanvanklik is gedink dat dit nie noodsaaklik sal wees nie, maar toe die digters dit regkry, het dit die gebruik geword.
  3. Die korrekte woord-toon-verhouding was in hierdie omdigting ononderhandelbaar. Enige woord pas nie op enige noot nie en die musikale ritme en taalritme moes korreleer. Sommige woorde kan nie op hoë of lae note gesing word nie – jy kan nie sing “O God” en “O” is op ’n hoë noot en “God” op ’n lae noot nie. Jy kan nie ’n beklemtoonde lettergreep sing op ’n onbeklemtoonde noot nie. As die musiek ’n melisma het, tadada, dan moet daar een woord wees vir die drie note en daardie woord moet rym met die woord op die melisma twee reëls verder. Sommige woorde wat baie in die Psalms voorkom – en dit sluit God in – is baie moeilik om te sing. Mens sou kon sê daar is baie gesukkel met God in die omdigtings!
  4. Die musiekmense wou graag hê dat die woorde en die musiek mekaar optimaal ondersteun. As daar in ’n lofpsalm hoë note voorkom, dan wil hulle die lofprysende woorde juis daar hê. En Dawid het nou nie eintlik daardie wysie geken nie.
  5. Die spanning tussen die Geneefse melodieë wat die reël laat aanstoot tot op die laaste noot en die meer reëlmatig afgemete ritme van Afrikaans het hoë eise aan die digters gestel, eise wat hulle nogtans hanteer en uitstekend bemeester het.
  6. Die psalms handel oor ’n beperkte aantal onderwerpe en die korpus tekste bevat dus ’n beperkte woordeskat. Daarom het die digter ook beperkte woorde, en veral rymwoorde, tot sy beskikking, en hy kan nie dieselfde woorde oor en oor gebruik nie – dit sou vervelig word en swak poësie oplewer. Verder het sommige woorde wat prominent is in die psalms, nie rymmaats nie: liefde rym omtrent net met gegriefde en deurkliefde (!), en selfs woorde/name soos Here en God rym nie maklik nie.
  7. Daar moet kontemporêr verstaanbare woorde gebruik word sonder om poëtiese gehalte in te boet. Daar was dikwels meningsverskille daaroor of ’n woord verouderd is of nie, en oor die registers van woorde.

Desnieteenstaande (wat ’n heerlike woord is dit nie – hy dra so ’n lieflike gewig, al is hy verouderd) was dit ’n wonderlike proses om by betrokke te wees, ’n leerproses oor musiek en taal en poësie waarvan die gelyke ver gesoek sal moet word. Ons het ook baie pret gehad. Cloete het vertel hoe hy met die vloekpsalms gesukkel het. Hulle is plek-plek nogal grusaam en dan moet in kerklike en poëtiese taal beskryf word hoe mense mekaar verdelg of die Here vra om hulle vyande se tande namens hulle uit te slaan! Op ’n dag het hy moedeloos in die tuin gaan loop. Op pad terug studeerkamer toe kry hy in die posbus sy belastingaanslag. Voor donker was daardie vloekpsalm klaar.

 

3. Die Psalms in die 2020-vertaling van die Bybel4

3.1     Die spanbenadering en direkte vertaling

Net soos by die psalmomdigting is daar by die 2020-vertaling van die Bybel gebruik gemaak van ’n spanbenadering. Dit het beteken dat kundiges uit verskillende terreine saamgewerk het om die omdigting/vertaling te maak en dit impliseer dat hierdie span onderling in die proses onderhandel het. Die spanlede het mekaar ondersteun en gekontroleer sodat nie net een persoon se siening van ’n saak of interpretasie van ’n woord of frase of teksgedeelte bepalend was nie. Die spanne was in beide gevalle bewus daarvan dat taal self, en die prosesse van taalhantering, nooit “deurskynend” is nie en dat meningsverskil en interpretasieverskille moontlik is. In die geval van die 2020-vertaling van die Bybel het die medewerkers aan die redaksionele fase se religieuse standpunte en literêr-teoretiese benaderings wat kernsake betref by mekaar aangesluit: Almal het die gesag van die Bybel aanvaar en saamgestem dat die teks met die grootste ontsag en omsigtigheid en met soveel as moontlik wetenskaplike kennis en vaardigheid benader moet word. Daarom is daar deurgaans aan sowel die geloofsdimensie van die vertaalwerk as die talige aard van die werk aandag gegee. Probleme met woorde en idiome en formulering was waarop daar in die praktyk van die vertaling gefokus moes word, omdat die medewerkers talige oplossings moes vind vir vraagstukke in die moeilike gebied tussen taal en religie. Die vraagstukke self en die oplossing daarvan is immers alles talig van aard.5

Hoewel die spanbenadering tans as ’n nuwe benadering beskou word, is daar interessant genoeg ’n uitstekende voorbeeld daarvan bekend baie ver terug in die geskiedenis van vertaling. Die eerste amptelike en formele skool vir vertaling, die Escuela de Traductores de Toledo,6 is in die 12de en 13de eeu in Spanje tot stand gebring, eers onder leiding van aartsbiskop Raymond van Toledo en in die 13de eeu onder beskerming van koning Alfonso X van Kastilië.7 In hierdie skool is tekste oor en weer tussen Arabies, Latyn, Grieks en later Kastiliaans en ander Europese tale vertaal. Die vertaalwerk is in interaksie gedoen en die vertalers, wat op grond van hulle bekwaamheid gewerf is, was uit alle Europese en Midde-Oosterse lande afkomstig.8 Toledo beklee dus tot vandag toe ’n belangrike plek in die geskiedenis van vertaling en kan as voorbeeld van goeie samewerking dien.

Ons 2020-vertaling is gedoen deur gebruik te maak van die vertaalteoretiese benadering wat bekend staan as direkte vertaling. Christo van der Merwe (2014:290) beskryf die werkwyse as “’n poging … om ’n vernuwende oplossing te bied vir die eeue oue spanning tussen getrouheid aan die outeurs van die antieke bronteks en die verstaanbaarheid daarvan vir ernstige Bybellesers vandag”.

Hierdie benadering was in die vertaalopdrag van die 2020-vertaling ingeskryf en daarmee saam het die eerste en grootste probleem van so ’n vertaling gekom, naamlik om die balans te behou tussen (die ononderhandelbare) getrouheid aan die bronteks aan die een kant en verstaanbaarheid en toeganklikheid vir die gebruikers in die doeltaal aan die ander kant. Die groot verskil in die aard van die antieke tale Grieks en Hebreeus van die oorspronklike Bybeltekste en moderne Afrikaans is nogal iets om te behartig in ’n vertaling, des te meer in die poëtiese gedeeltes van die Bybel.

’n Goeie vertaling wat gesag wil afdwing en geniet, moet verder aantreklik wees, literêr en taalkundig afgerond. Waar die bronteks soms, indien dit letterlik vertaal sou word, heeltemal onverstaanbaar sou wees vir die doeltaalgebruiker, moet die vertaalspan ’n oplossing vind. In die algemeen gesproke kan dit gedoen word deur onder meer vryer te vertaal (in ’n direkte vertaling nie ’n aanvaarbare opsie nie), verduidelikend te vertaal (deur byvoorbeeld ’n woord of frase met ’n duideliker betekenis te gebruik of deur uit te brei), of in ’n voetnoot ’n verduideliking te verskaf vir die vertaalkeuse wat aangebied word.9

3.2     Literêre adviseurs

Die werk van literêre adviseurs in ’n moeilike vertaling is nogal belangriker as wat mens met die eerste oogopslag sou dink. Die uiteindelike doel is om ’n soepel en natuurlike vertaling te kry, een waarin die “grondwerk” en “steiers” nie sigbaar is nie, en in die onderhandeling om so ’n uitkoms te bereik, speel die literêre adviseurs ’n groot rol. Daar is deurgaans gesoek na die regte woord en frase en sinsformulering wat die hele semantiese lading én die literêre vormgewing van die bronteks dra en weergee, en daarvoor is goeie insig en taalaanvoeling nodig. Die taal- en literêre adviseurs sou ’n taalprobleem in die voorgestelde formulering raaksien, maar omdat hulle dalk nie ’n diepgaande kennis van die brontaal het nie, kan hulle dit nie direk volgens die taalreëls en hulle taalaanvoeling vir die doeltaal oplos nie – dit sou daartoe lei dat die vertaling te vry raak. Hulle het dan soveel as moontlik inligting oor die brontaalteks nodig om ’n sinvolle oplossing voor te stel. Die brontaalkenners wat die brontaaltekste binne hulle oorspronklike talige en kulturele raamwerke bestudeer en interpreteer, verskaf dan die nodige agtergrond en inligting oor die taalkonstruksie en literêre tegnieke in Hebreeus of Grieks en verduidelik die betekenisse wat in die doeltaal verwoord moet word.

Die redaksionele spanne wat die vertaling moes kontroleer vir konsekwentheid en afgerondheid is elke dag gekonfronteer met taal as ’n kameleontiese en verglydende medium op sy beste. Die agtergrondskennis waaroor die brontaalkenners beskik aangaande kultuurgebruike, sosiale strukture, die boukuns, geografie, plante, edelstene, mates en gewigte was, afgesien daarvan dat dit onontbeerlik is vir die korrektheid van die vertaling, ook noodsaaklik in die vertaling van poëtiese gedeeltes, want wanneer word iets letterlik en wanneer word dit figuurlik bedoel? Alle woorde dra uiteindelik ’n historiese lading van betekenisse wat oor eeue opbou en dikwels ook radikaal verskuif, soos wat Foucault (1973:xi–xiv) verduidelik met sy konsep van “die argeologie van die taal”. Die strewe om so noukeurig as moontlik uit ’n oeroue en kultureel ver verwyderde bronteks te vertaal, is dus ’n geweldige opgawe. Om die betekenisse wat uit die bronteks gehaal word, so suiwer as moontlik weer te gee in ’n moderne taal, waarvan die woorde en uitdrukkings op hul beurt net so gelade is met historiese gebruike, veranderinge, variasies en assosiasies, maak alles net moeiliker.

Wat egter wel ook waar is, is dat die kernbetekenisse van taal en van woorde en uitdrukkings wel grootliks herwin kan word. Die brontaalkenners het baie bronne tot hulle beskikking, waarvan sommige baie ou bronne is wat in tyd nader aan die brontaaltekste is. Verder kan daar uit die konteks van ’n woord baie afgelei word, asook deur die gebruike van ’n woord op verskillende plekke in die Bybel met mekaar te vergelyk. En al is daar speling in die betekenisse van woorde en uitdrukkings, weet taalpraktisyns dat die kernbetekenisse wel bewaar bly en toeganklik is. Dit is ook so dat die oorkoepelende betekenis van ’n samehangende reeks boeke soos dié in die Bybel telkens herhaal word, en daar is soveel wedersydse verwysings dat vertaling nie maklik die betekenis radikaal kan verander nie, soveel te meer as die getrouheid aan die brontaalteks gerespekteer word. Klein formuleringsverskille verander nie die groter deurlopende lyne van betekenis nie.

’n Kompliserende faktor is egter dat antieke religieuse tekste inderwaarheid bykans deurgaans in hoogs poëtiese taal geskryf is. In die geval van die Bybel gaan dit nie net om die eksplisiet poëtiese boeke soos die Psalms, Hooglied, Prediker, liedere in baie boeke en die beskrywings van visioene in die profetiese boeke nie, maar ook om die hele versameling tekste, miskien minder in die Nuwe Testament maar weldeeglik in die Ou Testament. Afgesien daarvan dat alle taal teoreties gesproke metafories van aard is, was religieuse tekste in antieke tye hoogs gestruktureerde en stilisties komplekse tekste, want die formaat het gesag aan daardie tekste gegee. Dit beteken dat indirekte poëtiese segging, metaforiese taal, stilisties betekenisvolle poëtiese vorme en betekenisdraende strukture in byna elke sin en vers voorkom. Die betekenisdraende kodes waarmee gewerk is, sowel wat semantiek as struktuur en styl betref, is tans nie meer volledig toeganklik nie, en dit vereis diepgaande kennis van die antieke tale en van die wêreldbeeld van die betrokke antieke periodes om die brontekste te interpreteer. Hiervoor kan die brontaalkenners in die vertaalproses ’n pluimpie kry, want hulle het onvermoeid gewerk en was altyd gereed met inligting en nog en nog bronne.

Die feit van die saak is dat die Bybel ook ’n literêre teks is en so gelees moet word. Die bekende Christelike Amerikaanse literator Leland Ryken (2014) het byvoorbeeld geskryf dat “[t]he form in which the Bible comes to us is primarily (though not completely) a literary book” en hy verwys dan ook na die bekende Britse essayis CS Lewis se Reflections on the Psalms (1958/2017) waarin Lewis skryf: “[T]here is a sense in which the Bible, since it is after all literature, cannot properly be read except as literature; and the different parts of it as the different sorts of literature they are.” Toegang tot ’n baie spesifieke dimensie van die Bybel kom via die literêre vorm en aard daarvan.10

In Die A–Z van Openbaring (2007) beskryf Jan Du Rand die Bybelboek Openbaring soos volg:

Die boek Openbaring is inderdaad ’n apokaliptiese kunswerk. Dit is soos ’n kleurryke tapisserie. Die literêre kleure, tekstuur, nate en steke is deeglik beplan en meesterlik saamgevoeg tot ’n geheelharmonie. Om dié kunswerk ten volle te kan waardeer verg verfynde kennis en eerlike gesofistikeerde metodes van verstaan.

Een duidelik literêre eienskap van die Bybel is dat daar verskillende genres voorkom: verhalende prosa en poësie, geskiedskrywing, regstekste, wysheidsliteratuur, lofliedere en klaagliedere, profetiese tekste en visioene, en hierdie genres moet gerespekteer word, omdat dit die vorm en die betekenis van die Bybelse teks bepaal. Binne hierdie genres is daar dele wat selfs meer intens literêr is en eksplisiet poëties van aard is in dié opsig dat dit die eienskappe van die Hebreeuse poësie en van die poësie in die algemeen vertoon. In hierdie gedeeltes kom spesifieke poëtiese eienskappe soos strukturele, metaforiese, klankmatige en ander eiesoortige stilistiese literêre eienskappe ter sprake wat gespesialiseerde kennis van die brontaal vereis om korrek te hanteer.

Die 2020-vertaling is egter glad nie ’n “literêre vertaling” in die gewone sin van die woord nie, omdat dit hier nie gaan om die kreatiwiteit van óf die oorspronklike skrywer óf die persoon wat uiteindelik die vertaalde teks formuleer nie. Die aard en religieuse betekenis van die Bybelse tekste was, soos hier bo uiteengesit, bepalend vir die vertaalstrategie en -praktyk van die 2020-vertaling.11

Desnieteenstaande moes die literêre adviseurs tog poog om met hulle literêre aanvoeling en insig die finale vertaling in literêre opsig so goed as moontlik te maak. Dit sou selfs as hulle verantwoordelikheid beskou kon word. Baie literêre en poëtiese strategieë wat in moderne Afrikaanse literêre teorie en praktyk bekend is, moes ontgin en geïmplementeer word om hierdie strewe te probeer waar maak.

3.3 Die vertaling van die Psalms

Poëtiese taal word gekenmerk deur betekenisdigtheid deurdat die woorde veel meer sê en wil aandui as wat hulle letterlik beteken. Om hierdie betekenisdigtheid te bewerkstellig gebruik digters in alle tale, in alle tye van die geskiedenis, poëtiese tegnieke. In die 2020-vertaling is die poëtiese eienskappe van die Psalms ontleed en toe is daar tussen brontaalkenners en literêre adviseurs en taalkundiges onderhandel om die beste korrelerende poëtiese formulering en struktuur in Afrikaans te vind om die betekenis van die inhoud van die psalm en die betekenis van die formele poëtiese tegnieke weer te gee. Ek bespreek kortliks enkele van die poëtiese tegnieke wat spesifiek in die Psalms, maar ook uitgebreid in die res van die Ou Testament voorkom.

Voordat mens nog by eksplisiete en komplekser poëtiese tegnieke kom, word jy in die vertaling van Hebreeuse poësie gekonfronteer met die woordorde. Die woord waarmee ’n versreël begin, dra uiteraard meer klem, maar omdat die woordorde in Hebreeus en Afrikaans so radikaal verskil, moet bepaal word of die woordorde behou moet word of nie. Is dit gewone Hebreeuse woordorde of is daar in die Hebreeus self ’n verplasing gemaak in die sin om klem op ’n bepaalde woord te vestig?

’n Voorbeeld: In Psalm 24 staan die frase “Aan die Here behoort” aan die begin van die eerste versreël sodat dit in die reël en in die psalm in sy geheel prominent is. Die frase staan eerste om te beklemtoon dat die Here sentraal staan. In Hebreeus sou die sin normaalweg begin met die onderwerp wat hier die aarde is, maar “aan die Here” is beklemtoon deur die vooropplasing. Daarom moet dit dan behou word en dit was wel moontlik.

In ander gevalle het die Hebreeuse woorde, al was dit as ’n bewuste beklemtoning bedoel, ’n baie ongemaklike Afrikaanse woordorde teweeggebring. ’n Mens kan immers nie Hebreeus in Afrikaans skryf nie en ’n strak vertaling is onaanvaarbaar. Daar is dan net eers seker gemaak of die Hebreeuse woordorde deur die normale woordgebruik bepaal is, in welke geval die Afrikaanse vertaling nie die woordorde hoef te behou nie. Die woordorde is in hierdie gevalle ’n taalkenmerk wat gewoonweg vertaal moet word. Indien die woordorde egter in Hebreeus ongewoon is, dui die verplasing of dislokasie van die woord op ’n bewuste vooropstelling, wat ’n tekskenmerk is en gehandhaaf moet word. In sulke gevalle het die 2020-vertaling die ongewone Hebreeuse woordorde absoluut gerespekteer deur óf in Afrikaans ook ’n vooropstelling téén die gewone woordorde in te gebruik (dus ook ’n poëtiese omruiling te gebruik) óf die vooropstelling op ’n ander manier weer te gee. ’n Ander vooropstellingstegniek is byvoorbeeld dat so ’n woord dan aan die einde van die reël geplaas word omdat dit ook ’n vooropgestelde posisie in die versreël in Afrikaans is.

Die bekendste en prominentste poëtiese tegniek in die Ou Testament en die Psalms is parallelisme, waarvan daar ’n verskeidenheid vorme is. Die basiese versreël in Hebreeuse poësie bestaan uit twee helftes wat op een of ander manier met mekaar verband hou deur herhaling en variasie (Fokkelman 2001:61), sodat daar gepraat word van sinonieme, antitetiese en sintetiese parallelismes. Die parallelismes word dikwels gesamentlik gebruik en soms ook saam met ellipse, sintaktiese uitbreidings en ander tegnieke.

In die geval van sinonieme parallelismes belig die twee vershelftes dieselfde saak en in sommige gevalle word in die twee vershelftes woorde gebruik wat sinonieme is. Psalm 24:2 is ’n goeie voorbeeld. In vers 1 is daar ’n sinonieme parallelisme, hoewel daar ’n ellipsis voorkom in die tweede vershelfte:

  1. Aan die Here behoort die aarde
    en die volheid daarvan,
    die wêreld en dié wat daarin woon,
  1. Want Hy het dit op oseane gegrond
    en op strome gevestig.

In baie parallelismes word nie presiese sinonieme gebruik nie, maar wel soortgelyke terme of woorde. In Hebreeus rus die parallelisme dikwels sterker op semantiese gronde as op die sintaktiese patrone van parallelisme in moderne poësie. Psalm 1:5 is ’n voorbeeld hiervan: goddeloses en sondaars hou semanties met mekaar verband en so ook die regspraak en die byeenkoms van die regverdiges. Hier word weer eens gebruik gemaak van sintaktiese uitbreiding as die werkwoord in die tweede deel van die parallelisme nie herhaal word nie:

Daarom sal goddeloses nie staande bly tydens die regspraak
of sondaars in die byeenkoms van die regverdiges nie.

Die parallelisme kan ook antiteties wees, soos in Psalm 37:21:

’n Goddelose leen
en betaal nie terug nie,
maar ’n regverdige is goedhartig
en mededeelsaam.

Hierdie tipe teenstelling kom ook dikwels in Spreuke voor, waar die regverdiges en goddeloses teen mekaar gestel word.

In sintetiese parallelisme bou die tweede vershelfte op die eerste voort. Psalm 37:4 is ’n goeie voorbeeld:

Vind jou vreugde in die Here,
dan sal Hy jou gee wat jou hart begeer.

Parallelismes is dikwels nie beperk tot ’n enkele vers nie, soos in Psalm 27:1. Die vers bestaan uit twee versreëls wat elkeen ’n sintetiese parallelisme bevat, terwyl die twee verse saam weer ’n sinonieme parallelisme vorm:

Die Here is my lig en my redding – vir wie sal ek vrees?
Die Here is die toevlug van my lewe – vir wie sal ek skrik?

In al bogenoemde gevalle is die parallelisme in die oorspronklike teks getrou bewaar in die vertaling. Waar woorde soms weggelaat word, is dit ter wille van vloeiendheid, maar die parallelisme is nooit wegvertaal nie. Omdat daar in die moderne poësieontleding steeds baie aandag gegee word aan die struktuur van versreëls, word soortgelyke verskynsels maklik in die Hebreeus raakgesien. Dit is wel nie altyd maklik om hierdie strukturele sintaktiese eienskappe in ’n vertaling te behou nie. Tog is dit belangrik om die semantiese en estetiese implikasies daarvan op een of ander manier in ’n vertaling weer te gee.

’n Ander parallelistiese konstruksie is die chiasme, of kruisstelling, ’n tegniek wat in moderne poësie nog baie gebruik word. In die vertaling moes ons dikwels ter wille van soepelheid ’n parallelisme as ’n chiasme vertaal en andersom. Ons het dus die probleem van onmoontlike woordorde opgelos deur van ’n ander Hebreeuse tegniek gebruik te maak. Ek gee uit Psalm 107:16 ’n voorbeeld om te illustreer hoe die Hebreeus (wat sonder lidwoorde en voorsetsels is) bewerk moet word om by ’n goeie Afrikaanse formulering uit te kom.

van brons / deure / Hy het stukkend gebreek / want [woord vir woord vertaal]
want Hy het deure van brons stukkend gebreek [grammatikaal korrek vertaal]

Hy het stukkend gekap / van yster / sluitbalke [woord vir woord vertaal]
Hy het sluitbalke van yster stukkend gekap [grammatikaal korrek vertaal]

In die vertaling is gepoog om iets van die chiasme weer te gee deur die onderwerp van die werkwoord in die tweede helfte onvertaal te laat, maar die struktuur is nou eerder ’n parallelisme as ’n chiasme:

Want Hy het deure van brons stukkend gebreek,
die sluitbalke van yster stukkend gekap.

Ellipse en sintaktiese uitbreiding is sover moontlik net so behou, byvoorbeeld in Psalm 18:42, woord vir woord vertaal:

Hulle het om hulp geroep maar daar was geen redder nie,
Na die Here, maar Hy het hulle nie geantwoord nie.

Die vertaling lyk so:

Hulle het om hulp geroep,
maar daar was geen verlosser nie,
selfs na die Here geroep,
maar Hy het hulle nie geantwoord nie.

Ander poëtiese tegnieke, soos klankmiddele (assonansie, alliterasie en klankverspreiding), is nie vertaal nie want dis onmoontlik, soos ook die gebruik van akrostiese versreëls (elke nuwe vers of reël begin met die volgende letter van die alfabet). Daar was egter wel deurgaans ’n sensitiwiteit vir die klankmatigheid van die vertaling en daar is dikwels ’n toegif gekry daarin dat ’n versreël vanself klankmatig baie mooi uitgekom het. Metrum en ritme was ook nie van kardinale belang nie, vanweë die groot verskil tussen die twee betrokke tale.

Wat metaforiek betref, is daar gepoog om metafore so getrou as moontlik te vertaal. Verklaring is hoogstens in ’n voetnoot verskaf. As die Hebreeus na ’n bepaalde liggaamsdeel verwys, het ons probeer om dit te behou tensy dit heeltemal verwarrend sou uitkom. As daar ’n soortgelyke Afrikaanse metafoor bestaan, byvoorbeeld met hand as ’n teken van krag of status, kon ’n korrelerende metafoor gebruik word. Kulturele betekenisse is egter hier uiters belangrik. In Afrikaans en ander moderne Westerse tale dui ’n verwysing na die hart meestal op die emosie, op liefde of smart, maar in Hebreeus dui die hart op die diepste gedagtes van die mens. Die hart is die setel van die intellek waar gedagtes en wilsbesluite gevorm word. Die hart bepaal ’n mens se karakter, terwyl die niere as die setel van die emosies en die gewete gesien is.

Deurgaans was woordkeuse as sodanig van groot belang. Waarteen ’n direkte vertaling moet waak, is wat mens sou kon noem die verletterliking van die bronteks. Dit gebeur wanneer die strewe om die bronteks op die letter te volg, ’n onnatuurlike vertaling tot gevolg het. In Psalm 91 staan daar letterlik dat die Here sy engele sal opdrag gee om jou op hulle “handpalms” te dra. Die Hebreeuse woord beteken letterlik handpalm en dit is wel verstaanbaar in Afrikaans. In ’n Afrikaanse vertaling sou “op die handpalms dra” egter idiomaties vreemd oorkom. Die Hebreeuse stelwyse is waarskynlik ’n vaste ingeburgerde uitdrukking en nie ’n estetiese formulering of metafoor nie, eerder wat mens as ’n “dooie metafoor” kan beskryf, sodat dit inderwaarheid eerder ’n taalkenmerk as ’n tekskenmerk is. Daarom is dit in Afrikaans vertaal met die korrelerende idiomatiese uitdrukking “op die hande dra”.

Soos wat ek reeds genoem het, is Hebreeuse poësie baie eenvoudig en direk beeldend en hierdie digstyl kom baie goed in Afrikaans tuis. In Psalm 120:2 is die vers byvoorbeeld voorheen vertaal met “valse lippe en ’n bedrieglike tong” (Die Bybel 1953). In hierdie vertaling is die volgende gekies:

Here, bevry my van lippe wat lieg
En ’n tong wat bedrieg.

Hierdie formulering is eenvoudiger en direkter en ook poëties beter as die omskrywing van die eerste moontlikheid, omdat dit ’n parallelisme vorm en ook ’n herhaling van die l-klank bevat. Die formulering bevat ook ’n gemaklike en natuurlike rym. En dit is baie nader aan die Hebreeuse oorspronklike.

 

4. Slot

Ek hoop dat hierdie kort oorsig lesers ’n indruk sal kan gee van die omvang en die kompleksiteit van die omdigting en die vertaling van die Psalms in die 2020-vertaling van die Bybel. Dit was nie net vir my boeiende werk met waardige tekste nie, maar ’n ongelooflik intense leerproses waarin ek meer te wete gekom het oor taal en tegnieke van formulering in prosa en poësie as wat ek my ooit sou kon voorgestel het. Ek hoop regtig dat gebruikers van die 2020-vertaling en die omdigting die vrug van hierdie harde werk sal kan geniet.

 

Bibliografie

Doud, RE. 2020. Psalms, Heidegger, the New Hermeneutic, and Beyond.

https://www.academia.edu/6779189/The_Psalms_and_the_New_Hermeneutic_at_Fifty. 2 Maart 2020.

Du Plooy, Heilna. 2006. Geloof, musiek en taal. CG Cillié-Gedenklesing. Vir die Musiekleier. Jaarblad van die Suid-Afrikaanse kerkorrelistevereniging, 26.

—. 2020. Literêre aspekte en die werk van die literêre adviseurs in die 2020-vertaling van die Afrikaanse Bybel. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(4–1). doi.10.17159/2224-7912/2020/v60n4-1a11.

Du Rand, J. 2007. Die A-Z van Openbaring. ’n Allesomvattende perspektief op die boek Openbaring. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.

Du Toit, Catherine. 2019. Vertaling as transgressiewe potensiaal. Lojale verset. In Galloway (red) 2019.

Fokkelman, JP. 2001. Reading Biblical poetry. An introductory guide. Louisville: Westminster John Knox Press.

Foucault, M. 1973. The order of things: An archaeology of the human sciences. New York NY: Random House.

Galloway, Francis (red). 2019. ’n Huldiging. breyten breytenbach. woordenaar woordnar. Pretoria: Protea.

Ryken, Leland. 2014. The Bible as literature. www.washingtontimes.com. 1 Maart 2020.

Van der Merwe, Christo JH. 2014. Direkte vertaling van die Bybel as antieke teks: net ’n nuwe benaming vir ’n stokkerige woordelikse vertaling? LitNet Akademies, 11(3).

Van Vliet, E. 1998. ’n Pleidooi vir die poësie. (Vertaal deur Heilna du Plooy.) Pretoria: Protea.

Zima, Peter V. 1999. The philosophy of modern literary theory. Londen en New Brunswick, NJ: The Athlone Press.

 

Eindnotas:

1 Deur die eeue het die sieninge van die gesag en werking van taal geweldige veranderinge ondergaan, en in die 20ste eeu het hierdie taal- en literêre teorieë uiters prominent geword en mekaar ook al hoe vinniger opgevolg. Die verskillende teorieë behels ingrypende filosofiese implikasies (vgl Zima 1999:vii–xi) en vanselfsprekend het hierdie teorieë en filosofieë ’n uitwerking op die verstaan van die Bybel as ’n talige teks en uiteraard ook op vertaling as dissipline.

2 Die werk is onderneem deur ’n interkerklike kommissie waarin die drie Afrikaanse Kerke verteenwoordig was en die APK later ook as waarnemers al die vergaderings bygewoon het. Die kommissie het bestaan uit deputate/afgevaardigdes/benoemdes wat deur elke kerk se sinode aangewys is op grond van vakkundigheid. Daar was van elke kerk eksegete, musikoloë, himnoloë, teoloë wat in die liturgie spesialiseer, Ou-Testamentici, taalkundiges en letterkundiges, ’n span van meer as 40 mense.

3 Vir ’n uitvoeriger bespreking van die omdigting, kyk Du Plooy (2006).

4 Vir ’n meer uitvoerige bespreking van die werk van die literêre adviseurs in die vertaalproses en van die psalms en ander poëtiese tekste in die Bybel, kyk Du Plooy (2020).

5 Die vertaalproses is in alle fases deur spanne hanteer: eers die aanvanklike vertaling deur ’n brontaalkenner en eksegeet in interaksie, daarna die talige kontrole deur ’n intravertaler in interaksie met die brontaalkenner en die eksegeet, en uiteindelik die finale redaksionele prosesse deur die onderskeie redaksiekomitees vir Ou en die Nuwe Testament en die Deuterokanonieke boeke.

6 Vgl https://en.wikipedia.org/wiki/Toledo_School_of_Translators.

7 Vgl https://en.wikipedia.org/wiki/Alfonso_X_of_Castile.

8 Dit was hierdie vertalings in Kastiliaans wat die grondslag van Spaans as taal gelê het, soos Luther se Bybelvertaling (van 1522–1534) ook die basis van Duits gelê het.

9 In sommige vertalings word daar soms van ’n “verleentheidsvertaling” gebruik gemaak, dit is ’n vertaling wat sigself vryhede veroorloof om probleme met onduidelikhede op te los, meestal deur gewoon logiese of kontekstuele merkers te gebruik om ’n meer of minder akkurate raaiskoot te waag. In hierdie vertaling is daardie opsie met groot sorg vermy en is daar eerder van toeligting in voetnote gebruik gemaak om duistere teksgedeeltes te hanteer.

10 Daar bestaan die opvatting dat poësie oorspronklik die natuurlike vorm van taal in alle kulture was en dat die oudste religieuse tekste in daardie idioom geskryf is. Die oudste tekste waarvan ons weet, soos die Bybel, die Tibettaanse Dodeboek, die Indiese Rig-Veda, die Oudegiptiese poësie met die Sonlied van Akhnaton as die hoogtepunt, en die Chinese Boek van Odes, is stilisties almal baie sterk of selfs suiwer poëties. Hierby kan mens ook die Babiloniese heldedig die Gilgamesh-epos voeg, sowel as Homeros se Ilias en Odusseia en die Aeneïs van Vergilius (vgl Van Vliet 1998:18–9). Ook Martin Heidegger het die standpunt gehuldig dat die oorsprong van taal poëties of poësie self was – die poëtiese is met ander woord geensins blote versiering of verfyning van die taal nie, maar die “ruimte” of “plek” waar “being came primordially into expression as language” (Doud 2020:4).

11 Vir sommige vertalers van sekulêre literêre tekste is die ideaal van literêre vertaling die totstandkoming van ’n nuwe literêre teks, ’n nuwe kreatiewe teks. Dit is onder meer die standpunt van die bekende Switserse digter en vertaler Philippe Jaccottet, wat selfs verkies dat die vertaler van poësie self ’n digter moet wees. Vertaling is dan  “’n verborge onderhandeling wat die vorm aanneem van ’n gesprek; ’n stem wat antwoord op die spesifieke klank en toon van ’n ander” (Du Toit 2019:154) met die oog daarop om ’n nuwe selfstandige literêre teks tot stand te bring. Hierteenoor is die Mexikaanse digter Octavio Paz egter van mening dat digters in die praktyk selde goeie vertalers is, omdat hulle eie digterlike ego in die pad staan van ’n “onderdanige” weergawe van die ander digter se werk (Du Toit 2019:154). Daar is ook teoretici wat glo dat die vertaler eerder die dinamiek van die oorspronklike teks moet vasvang en nie meganies korrek hoef te vertaal nie (Kopp 1998). Hierdie soort vertaling stem ooreen met funksioneel-ekwivalente dinamiese vertalings, en die waarde wat die 2020-vertaling van die Bybel aan getrouheid aan die bronteks heg, sluit so ’n werkwyse heeltemal uit.

 

  • 2

Kommentaar

  • Zandra+Bezuidenhout

    Dankie vir jou helder en volledige uiteensetting, Heilna. Belangstellendes het dikwels vrae oor hierdie aspekte en jy bied 'n kosbare verwysingsbron.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top