Die ou met die lang hoed: ’n Jonglesersindruk rondom Jack Parow

  • 0

Foto van Jack Parow: https://www.litnet.co.za/kyknet-silwerskermfees-2020-van-parow-tot-parowfest-n-onderhoud/

  • Eduan Kriel is 16 en woon in Kuruman. Hierdie jonglesersindruk is uit sy eie beweging na LitNet gestuur.

In die hedendaagse musiekbedryf is daar ’n ou met ’n snor by die bar, ’n ou met ’n lang hoed, ’n ou wat jy gewoonlik langs die braaivleisvuur kry met ’n Jägermeister en ’n stuk wors in sy hande. Die Jägermeister is natuurlik in sy linkerhand. Ek praat oor die enigste Jack “flippen” Parow. As daar oor hom gepraat word, moet daar gekyk word na hoe hy die Suid-Afrikaanse musiekbedryf onomkeerbaar beïnvloed het, en veral Afrikaanse rapmusiek.

Hy het die kultuur rondom Suid-Afrikaanse musiek verander

Jack Parow, of Zander Tyler (sy regte naam), was ’n laaitie toe hy rapmusiek begin luister het. Rappers soos Snoop Dogg, Tupac en Notorious BIG was ’n groot invloed vir hom.

Parow is in 1982 gebore. In daardie tyd het Afrikaanse musiek weggedraai van Mammie en Pappie se konvensionele Afrikaanse musiek. Alternatiewe rock met kunstenaars soos The Usuals en Scooter’s Union, wat in Johannesburg ontstaan het, asook die krag van Asylum Kids en Peach, het dit hier in Suid-Afrika gewild begin maak. Die grootste ding wat in Suid-Afrika uit die ’80’s gekom het, was die Voëlvry-beweging, waar Afrikaanse musiek teen die Nasionale Party en die konserwatiewe waardes geprotesteer het. Van die kunstenaars wat betrokke was by hierdie beweging, was Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel. Hierdie beweging was ’n groot rolspelende faktor in die 1990’s na die einde van apartheid.

Net voor die 2000’s het dinge begin gebeur en groei in die Kaap en op die Kaapse Vlaktes. Ek praat natuurlik van die geboorte van Afrikaanse rapmusiek, wat egter nog deur die gemeenskap daar as ondergrondse rapmusiek beskou is. Kunstenaars soos Die Antwoord, Dr Kapnoudis en Zander Tyler, wat daardie tyd nog in die musiekgroep Die Donkermag was, het daar begin rap. Zander Tyler het in 2008 buite ’n sogenaamde rap battle die lied “Cooler as ekke” geskryf en dit daar opgevoer. Hy het homself die Kaptein van Parow genoem, Kaptein Jack Parow. Na daardie opvoering het Wynand van Coke, wat die klank behartig het, vir Parow sy eerste kans gegee. Hy het sy eerste album, getiteld Jack Parow, uitgegee. Soos hulle sê, “the rest is history”! Hy het die kultuur rondom Afrikaanse rapmusiek verander en het ’n groot rol in die gewildheid daarvan gespeel. Mense oral oor Suid-Afrika het aanklank by sy musiek gevind en so is ’n eenheid binne Suid-Afrikaanse kuiermusiek gevorm. Hy is definitief die skoonpa van Afrikaanse rapmusiek. Isaac Newton is die oupa, want hy het eerste in Afrikaans gerap.

Sy invloed op Suid-Afrikaanse musiek in die buiteland

Mense wêreldwyd luister na Jack Parow se musiek. Dit sluit Australië, Nieu-Seeland en Nederland, waar hy die Parow Fest in 2017 gehou het, in. Hulle verstaan dalk nie altyd sy lirieke of taal nie, maar is verslaaf aan sy energie! Sy “Parow brandy” vaar ook besonder goed in die buiteland. Hy doen beslis sy deel om Afrikaans en Afrikaanse musiek in die buiteland te bevorder.

Sy helpende hand in ander kunstenaars se loopbane

Jack Parow se bydrae tot Afrikaanse musiek eindig nie by homself nie. Hy het al baie ander kunstenaars gehelp om raakgesien te word. Onlangs het hy ’n nuwe groep, Middelvinger, gehelp deur in een van hulle liedjies te wees en saam te rap. Afrikaans is nie dood nie. Nie solank as wat Jack Parow rap nie.

Bronne

Jack Parow, the Afrikaans rap artist. www.sahistory.org.za.dated-event.

Who the hell is Jack Parow, eintlik? www.timeslive.co.za/amp/sunday-times/lifestyle/2015-11-01-who-the-hell-is-jack-parow-eintlik.

Power to Parow Fest dokumentêr: https://www.youtube.com/watch?v=seWkrRNq8_o

Lees ook:

kykNET Silwerskermfees 2020: Van Parow tot Parowfest, ’n onderhoud

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top