kykNET Silwerskermfees 2020: Van Parow tot Parowfest, ’n onderhoud

  • 1

Die rapper Jack Parow laat lyk die pad na sukses baie eenvoudig in ’n dokumentêr, Parow to Parowfest – The Jack Parow story, wat by die Silwerskermfees 2020-webinaar vertoon is. Dis nou eksklusief op BoxOffice beskikbaar. Die regie is deur Charlenè Brouwer behartig. Maryke Roberts het na afloop van die première met Parow gesels.

Hy verdien ná skool geld op verskillende maniere: van motorwerktuigkundige, grafiese ontwerp tot in ’n visfabriek, maar toe sy talent as rymelaar en rapper duidelik word, neem hy die wêreld – van Rusland tot Amerika – in tien kort jare op horings. In Afrikaans nogal.

Nie sleg vir ’n seun wat in die tagtigs in Parow gebore is en in Durbanville matrikuleer het nie. Hy sê op skool was daar geen drome van rap nie, al het hy van jongs af geskryf. “Ek is eintlik ’n computer nerd. Die rêrige shift van online leef het in my leeftyd gebeur en ek het geweet ek gaan dalk iets met rekenaars te make hê.”

Die pad wat jy tot sterstatus gestap, lyk so maklik in die dokumentêr?

Ek het nooit imagine dat dit ’n job kan wees nie, so daarom was my pad langer as wat mens dink. Ek het baie ander maniere gehad om geld te verdien, en selfs toe ek begin rap het, in taxi ranks opgetree, en is al twee maal aangeval, een maal gesteek, so dit lyk dalk of die pad maklik was, maar dit was nie!

Waar het jou pad met rap begin?

My lewe is in standerd vier deur ’n CD-speler en CD, Monster hits, omgedop. Toe ek Snoop Dogg se liedjie “Doggy style” hoor, het ek geweet dis die tipe ding wat ek wil doen. Wat my gefassineer het van die Snoop Dogg song, was die anti-establishment – dit was net wêrelde apart van my lewe en dit rym. Rym het my van jongs af aangetrek ek het dit snaaks en cool gevind dat mense stories kan vertel wat kan rym ook boonop. Dis ’n interesting kind of thing. Ek het al Snoop Dogg se lyrics geleer, want ek het geweet ek is into rap music en ek hou daarvan. My ma sou my roep en sê ek moet vir die tannies oor tee kom rap. Dit was die vuilste lyrics en almal het gelag, maar ek is nooit stilgemaak nie – dis die kind of ma wat ek het. Sy het my in daardie aspek nie onderdruk nie – die goed waarin ek into was, was cool met haar.

Wat was die eerste ding wat jy self geskryf het?

Ek was op skool goed in tale – selfs in Engels het ek uitgeblink en baie geskryf, maar nie musiek geskryf nie. My skool het nie gefokus op musiek nie, of nie waarvan ek geweet het nie. Mense het gedink ek is mal oor ek van rapmusiek hou. Maar hoe ouer ons geword het, het rap al meer mainstream geraak.

Jy praat in die dokumentêr oor jul hegte gesin?

Ja, maar met drie vrouens in een huis, moes ek op die stage klim – dis die enigste plek waar mense na my luister! Almal in my familie is op hul eie manier eksentriek en dit het my die kans gegun om my eie eksentrieke self te wees. Ek het baie open-minded ouers wat ons ook so grootgemaak het, in ’n tyd toe baie mense closed-minded was.

Hoe word Zander toe Jack Parow?

Ek het gerap onder verskillende name. Maar een aand voor die televisie kyk ek na Jack Sparrow van Pirates of the Caribbean en Zander Tyler van Parow word Jack Parow, Pirate of the Caravan Park.

Ek het aanvanklik in Engels geskryf en moes noodgedwonge vir ’n gig ’n Afrikaanse song skryf en net daar het ek besef dat ek nooit weer in enige ander taal wil skryf nie. Ek het Engels geskryf omdat Afrikaanse rap nie regtig gebeur het nie, veral nie vir enige wit laaities nie. Jy rap in wat jy na luister, geken het en gehoor het. Tot jy jou eie stem vind. Ek het nooit regtig gevoel ek is myself toe ek in Engels geskryf het nie. Ek glo nie daaraan om enigiets te overthink nie; ek gaan net voluit.

Musikant wees is net nog ’n job. Maar jy moet die beste in jou job wees. Werk hard, gee jou alles, hê respek en humility vir die mense om jou.

Lag jy soms vir jouself as jy besef dat jy jou brood en botter verdien deur in Afrikaans te rap?

Ek lag nie dat ek in Afrikaans rap nie – ek dink nie dis uiterste pole nie. Inteendeel, Afrikaans lend homself baie meer as Engels vir rap. Die klanke en die lettergrepe en woordvorm is gebou vir rapmusiek. In Nederland is rapmusiek die grootste musieksoort daar, omdat die taal homself lend daartoe. Ek lag dalk eerder omdat ek geld maak uit musiek en ’n goeie lewe kan maak. En dat almal so supportive is.

Kyk jy soms terug op jou reis en dink dis te goed om waar te wees?

Ja, ek word soms wakker en dink dis alles ’n droom. Maar ek is so dankbaar dat ek iets kan create en myself wees. Glo in wat ek doen en in my vision. En so dankbaar vir almal in my lewe se ondersteuning. Glo in jouself en jou thinking, is hoe ek dinge aanpak.

Wat dink jy is die sleutel tot jou sukses – dis meer as bloot die regte tyd, die regte plek, of hoe?

Ja, seker – ek was op die regte tyd en plek, maar ek het baie hard gewerk en vir baie lank het dit nie gebeur nie. Ek het in Afrikaans begin rap toe ek 20 was en eers famous geword op 28 – ek het vir 10 jaar musiek gemaak en baie min mense het geluister. Ek het maar net ’n klein cult following gehad en het op Facebook en Myspace gedeel. Mense het geld in my rekening gesit, ek het die covers by die biblioteek afgerol, die CD’s self gesny op CD writer, gepos vir mense. Of by hul huise afgelaai. Dit was harde werk.

Hoe hanteer jy kritiek?

Mense wat my aanvat oor ek vloek of sulke aanmerkings maak, het geen invloed op my nie. Actual kritiek waar ek weet iemand is reg, want ek het dalk nie my alles gegee nie, en die kritiek kom van goeie gronde, daaruit probeer ek leer. Dit laat my vir ’n rukkie sleg voel, dalk ’n bietjie down, maar ek probeer om dit op ’n konstruktiewe manier te neem. Mense gaan jou kritiseer, of hou nie van iets nie – leer daaruit en probeer weer.

Watter treffer is die naaste aan jou hart en waarvoor wil jy eendag onthou word?

Almal het hul eie plekkie. My musiek is vir my baie persoonlik. “Cooler as ekke” kom van die keer toe ek half geboelie gevoel het deur die cooler mense as ek by hierdie bar is.  “Tussen stasies” is een van my persoonlikste liedjies, wat ek geskryf het die dag na my pa dood is. “Tema van jou lied” wat ek met Valiant opgeneem het, was in ’n donker tyd in my lewe en het my half uitgelig. Skryf is baie ’n sielkundige ding vir my. Ek skryf party musiek as ek voel ek het te min of te lanklaas geparty, of ek is kwaad. Niks word net geskryf om net musiek te skryf nie – alles is altyd persoonlik. As ek een moet kies, sal ek “Tema van jou lied” kies. Waarvoor ek onthou wil word: dat ek ’n fokken goeie dubbele brandewyn-en-Coke kan drink en ’n lekker braaibroodjie kan drink.

Jy is vreeslik energiek op die verhoog. Hoe kom jy terug aarde toe ná die tyd?

Gewoonlik na ’n show doen ek autographs, ek hang uit met die mense – dis vir my belangrik. Toe ek jonk was en ’n fan was van mense, het dit vir my baie beteken om hulle te ontmoet. Soms lê ek vir ure in my hotelbed en kyk movies om van daai adrenalien ontslae te raak.

“Cooler as ekke” is geskryf omdat die hele sterstatus jou nie aangestaan het nie. Dink jy nou soms jy is cooler as ander?

Nee, ek dink nie ek is cooler as ander mense nie. Ek is wel anders as ander mense. En maybe bietjie rowwer. En dis wat ek probeer uitbeeld deur my musiek en hoe ek is met mense. Mense is hoe hulle is en só uiteenlopend en dis fine.

Een van jou liedjies sê “daar is net goeie tye in my koninkryk”. Is jy ’n “glas half-vol”-tipe mens of hoef jy nie alles te glo en leef wat jy skryf nie?

Ek is completely ’n glas-half-vol-mens. Ek is so mal oor Suid-Afrika en altyd ’n ambassadeur vir hierdie awesome land. Ek spandeer baie tyd in Eerste Wêreld-lande waar alles werk, alles is op tyd en dis great, maar ek kort cowboy country en chaos, anders raak en net bored. En Suid-Afrika is waar my mense is. Hier moet baie chaos gebeur voor ek hier weggaan.

Wat het deur jou kop gegaan toe jy genader is om ’n dokumentêr te maak?

Ek het net gedink: Is ek lank genoeg aan die gang en worth it om ’n dokumentêr oor my te doen? En nou dat dit vyf sterre kry, is dit net vir my amazing.

Waaroor het jy spyt in die lewe?

Ek het nie spyt oor baie goed nie. Dinge gebeur vir ’n rede. Ek het wel spyt dat my pa dood is voor ek opgeblaas het. Ek is ’n klein bietjie spyt dat hy dit nie kon sien nie; hy sou dit nogals gelike het.

Hoe lank gaan jy nog hierdie energieke optredes kan volhou en wat gaan jy doen as jy nie meer só kan party nie?

Ek weet nie, so lank as wat ek kan. Covid het my ’n break gegee en ek het lekker gerus. Ek is nou reg vir nog so tien jaar! Ek het voorheen twee shows per week gedoen en dis uitputtend, maar baie geleer uit hierdie inperking: minder shows, met groter uitkomste.

Wat was jou eienaardigste/snaaksste plek waar jy nog opgetree het?

In sjebeens, by taxi ranks, in Rusland of Hongkong, en die eerste keer in Nederland by die malste plek, wat herinner aan die bar uit Dusk till dawn. Dit was donker, daar was stickers en getekende mure en ‘n crazy kind of hippy vibe.

Wat was die grootste gehoor waarvoor jy al gespeel het en wat gaan deur jou kop as jy besef al daai mense is daar vir jou?

In Holland voor 70 000 mense – die venues is groot en mense is gewoond daaraan om live concerts te ondersteun. In Suid-Afrika al vir 30 000. Dis insane as die mense saamsing en spring en ek kan sekere dele uitlos en die mike na die crowd hou en hulle sing my woorde terug. Dis ’n crazy en humbling experience.

Hoe werk jou skryfproses?

Ek het altyd ’n boekie by my gehad, maar verloor dit te gereeld. Nou werk ek met Google Keep en sit graag musiek aan en wag dan tot iets na my toe kom; of gaan weer deur idees wat ek in Google Keep gebêre het.

Som jouself in vyf woorde op?

Vol jol, zol, karre rol.

In die paneelbespreking na die vertoning gesels jy en Niel van Deventer en Wikus du Toit oor die dokumentêr. Wikus wou weet hoekom jy so ’n aanklank vind in Nederland – hoekom almal nie regkry wat jy regkry nie.

Ek het al so baie in Nederland opgetree en met soveel Nederlandse bands gereis dat die meeste mense daar glo ek is Nederlands of woon in Nederland. Die Nederlanders is ’n baie live-driven crowd en die plek waar musiek vir my leef is in live. Ek probeer die gehore iets gee wat hulle nêrens anders in die wêreld sal kry nie. Ek werk baie hard om die crowds so gelukkig as moontlik te hou. Mense kom sien my shows tien jaar nadat hulle dit die eerste maal gesien het. Hulle kom soek weer daai energy wat hulle daar in die show ervaar het. Ek laat hulle jonk voel as hulle ouer is; ek laat hul vry voel. En die Hollanders is mal daaroor.

Foto’s: verskaf

  • 1

Kommentaar

  • Sandra Pretorius

    Sit die fliek asseblief op Showmax! DStv is nie die alfa en die omega nie, al dink hulle so.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top