Die openbare beskermer: een jaar later

  • 0

’n Jaar gelede hierdie tyd was die onderhoude om ’n nuwe openbare beskermer aan te stel, in volle swang.

Ek het toe in ’n artikel beklemtoon hoe belangrik dit is om die regte persoon aan te stel, want “die taak van die openbare beskermer was nog altyd om die speelveld tussen Jan Publiek en die staat meer gelyk te maak”. Ek verwys ook na Thuli Madonsela as “die toonbeeld van wat ’n samesmelting van regverdigheid, geregtigheid, empatie en meelewing kan wees ... van integriteit in die konteks van 21ste-eeuse politiek en openbare lewe ... Die regte OB kan die toon van nasionale debatte verander ... Die OB moet iemand wees in wie se integriteit en sin vir regverdigheid Jan Publiek kan glo.”

In hierdie tyd, wanneer die nuwe OB aanbevelings maak wat die deure wawyd oop kan gooi vir grootskaalse plundering, lyk die beskrywing hier bo na hopeloos naïewe wensdenkery. Die nuwe OB is skaars nege maande in die saal, en alreeds is dit duidelik dat ons nie dieselfde standaarde van haar kan verwag as van Thuli Madonsela nie. Hier gaan dit nie om persoonlikheid nie, dit gaan om objektiewe kriteria soos regverdigheid, onpartydigheid, ’n deeglike verstaan van en respek vir die Grondwet en ander toepaslike wetgewing. Dis tog die minimum vereistes waaraan die OB behoort te voldoen, nie waar nie?

Dit lyk en voel asof hierdie OB veel meer geïnteresseerd is daarin om die belange van gekaapte individue te beskerm, en om dit makliker te maak om verder te plunder. Dit maak byvoorbeeld nie sin dat sy nog nie ’n vinger verroer het om ’n ondersoek in te stel na die sg Guptaleaks-e-posse, waar beweringe gemaak word dat individue ten koste van Jan Publiek verryk is ten bedrae van miljarde rand nie. Tog kies sy om die sg Lifeboat-verslag uit te bring, waarin sy aanbeveel dat Absa ietwat meer as ’n miljard rand moet terugbetaal, op grond van verryking onder die destydse apartheidsregering. Met die argument dat daardie gelde ingevorder moet word, is daar geen probleem te vinde nie. Daar is egter belangrike vrae oor wie die regte regspersoon is wat aanspreeklik gehou behoort te word, vrae met betrekking waartoe ek sou verwag dat dit in ’n behoorlik nagevorste verslag beantwoord behoort te wees.

En ek sou verwag dat om huidige vergrype stop te sit, hoër prioriteit behoort te geniet as om dekade oue skulde, waaroor daar skynbaar alreeds politieke besluite geneem was, te probeer in.

Of is dit dalk ’n swakverskuilde poging om druk toe te pas op Trevor Manuel, wat nie in Zuma se binnekring is nie en wat seer sekerlik groot invloed agter die skerms kan uitoefen wanneer dit kom by die verkiesing in Desember? Sy vrou is immers die hoof uitvoerende beampte van Absa. Dit sou waarskynlik sy invloed heelwat verswak indien daar apartheidsera-skandale aan sy vrou gekoppel kan word – veral wanneer Absa die inhoud en gevolgtrekkings van die Lifeboat-verslag bevraagteken, wat baie waarskynlik is. Die Reserwebank en ander het reeds begin met hofverrigtinge om die aanbevelings tersyde te stel, en die OB het [aanvanklik] aangedui dat sy hof toe gaan en die aansoeke sal teenstaan.1

Die nasionale direkteur van openbare vervolginge is ewe afwesig waar dit die Gupta-e-posse (of enigiets anders rondom daardie familie en die ander gekaapte een) aangaan.

Stadig maar seker is al die instellings wat veronderstel is om ons demokrasie te begrond, besig om te tuimel. Onlangs het Zuma twee nuwe Konstitusionele Hof-poste gevul. Na al die kere dat hy pak slae gekry het in die hof, kan ek my maar net indink dat hy regters sal aanstel wat meer simpatiekgesind sal wees teenoor hom. Soos wat hy met die openbare beskermer gemaak het.

Juis daarom is dit so belangrik dat ons die regte van joernaliste om vry en sonder intimidasie beriggewing te doen, moet beskerm. Dit beteken ook dat ons moet waak daarteen om valse, onware en sensasionele beriggewing sonder meer as die waarheid te aanvaar.

Juis daarom moet ons die regte van burgerorganisasies wat eenheid in die land verdedig en bevorder, beskerm. Dit beteken ook dat burgerregte-organisasies wat die regte van een rassegroep ten koste van ander probeer bevorder, se ware waardes ontbloot moet word.

Te danke aan uitstekende ondersoekende joernalistieke werk, en seer sekerlik ’n fluitjieblaser of twee langs die kantlyne, weet ons nou presies hoeveel geld deur korrupte praktyke verlore gegaan het. Dis groot besigheid. Dit verklaar die toenemende intimidasie waaronder enigeen wat Zuma, die Guptas en hul kring kritiseer, gebuk gaan.

Nou, meer as verlede jaar hierdie tyd, balanseer die siel van ons reënboognasie op ’n mespunt. Die teenwigte, die beskermingsmeganismes om vergrype, korrupte praktyke en immorele leierskap teen te werk, word al vinniger weggekalf.

Al wat dit kos, is ’n paar mense wat wegkyk en niks doen wanneer dinge verkeerd gaan tydens hul diensbeurt nie.

Leunstoelkommentators vergelyk ons baie vinnig met Zimbabwe elke keer wanneer ’n nuwe vergryp aan die lig kom. Hulle is verkeerd. Anders as Zimbabwe, het ons burgers die waarde van ’n vuurhoutjie, ’n klip en ’n koeël ontdek. As dinge finaal verkeerd gaan in Suid-Afrika, gaan ons nie ’n tweede Zimbabwe wees nie. Ons gaan ’n eerste wees. ’n Land wat brand, bloed wat vloei, ’n geween en ’n gekners van tande.

Dit kan gestop word net as die kanker wat Zuma en sy trawante is, uitgesny kan word. En ja, al meer lyk dit of die OB en die NDOV onder daai getalle tel. Die pasiënt mag dalk ’n paar liggaamsdele verloor, maar bly lewe, as ons politici nou hulle verlore morele ruggraat vind en die regte ding doen.

Nie dat dit hoegenaamd ’n uitgemaakte saak is nie.

1 Hierdie rubriek is geskryf voordat die OB in die hof aangedui het dat haar remediërende aksie met koste tersyde gestel kan word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top