Die nuwe Covid-maatreëls: sinvol, of dalk heel sinloos?

  • 0

Bettina Wyngaard (foto: Izak de Vries)

So elke dan en wan sien ek op sosiale media ’n video oor persone, gewoonlik konserwatiewe Amerikaners, wat weier om ‘n masker te dra, wat ander se maskers van hulle gesigte afpluk, of wat mense wat kies om masker te dra, teister.

Elke keer word die persone wat masker dra, afgemaak as sheeples, die gewaande beledigende naam vir persone wat glo klakkeloos mediese advies navolg. Dít terwyl die aggressor baie keer heel bereid is om te glo  bleikmiddel of beesdip is meer effektiewe teenvoeters vir siekte as tradisionele medikasie. Mense is bereid om van vliegtuie afgeskop te word, of om ander passassiers hulle vlugte te laat verpas om ’n punt te probeer bewys. Baie antimaskermense, en hul bloedbroers die antivaksers, het al hul werk verloor, is op lugrederye se swartlys geplaas, het uitval met hulle familie gekry, alles net omdat hulle nie mediese advies aanvaar nie.

Sover het ons daai manie vrygespring. Nadat die President die afgelope week Covid-maatreëls verder verslap het, met die belofte om binne die afsienbare toekoms die ramptoestand heeltemal op te hef, begin mense egter ander geluide maak. Kommentaar word gelewer dat persone wat verkies om nog steeds op straat masker te dra, se maskers van hulle gesigte afgepluk gaan word, “want die President sê so”. Natuurlik is dit ’n gruwelike en vermoedelik aspris verdraaiing van wat die President wel gesê het.

........
Hoekom en wanneer het mense so onverdraagsaam teenoor mekaar begin word? En wanneer het ons, in navolging van die swakste voorbeeld in die wêreld, besluit dat masker dra ’n politieke besluit is eerder as ’n mediese besluit?
.........

Hoekom en wanneer het mense so onverdraagsaam teenoor mekaar begin word? En wanneer het ons, in navolging van die swakste voorbeeld in die wêreld, besluit dat masker dra ’n politieke besluit is eerder as ’n mediese besluit? Ons was nog altyd as ’n nasie in staat om mense toe te laat om hulself te wees, al is iemand se besluite ook hoe vreemd. Leef en laat leef, wees lekke’, is festive is f**ol is deel van die nasionale ingesteldheid. Of so het ek in elk geval nog altyd gedink.

Dis  asof die inperking van die afgelope twee jaar mense se interpersoonlike vaardighede en hulle empatie laat afstomp het. Daar is minder geduld met mekaar, mense verloor hul humeur vinniger. Leerkragte rapporteer dat leerlinge meer emosioneel is in die klaskamer, en minder in staat om te konsentreer. Al meer mense sien nie kans om terug te keer na werk in ’n kantoor nadat hulle gesien het hoeveel meer tyd hulle met hul gesinne kan deurbring wanneer hulle van die huis af werk nie.

Dis verstaanbaar, tot ’n mate. Meer as twee miljoen mense het hul werk verloor sedert die begin van die inperkings. Besighede het bankrot gespeel. Mense moes hul leefwyse afskaal. Die sterftetal is alreeds op feitlik 100 000. Soms is hele gesinne uitgewis. Die langtermynuitwerking van die siekte moet nog bepaal word.

Die samelewing in sy geheel is onder geweldige stres.

Dalk het die tyd aangebreek dat ons in alle erns daaraan dink om terapie verpligtend te maak vir enigeen wat met ander mense in aanraking kom op gereelde basis. Groepsterapie vir gemeenskappe kan dalk net op lang termyn positiewe gevolge inhou wat min of niks met Covid te doen het nie.

Maar is die skade wat deur Covid aangerig is, dan nie juis ’n argument ten gunste van groter versigtigheid nie? Indien persoon X verkies om steeds masker te dra op straat, ten spyte van die feit dat maatreëls verslap is, doen dit tog nie skade aan enigiemand anders se keuse om sonder masker te loop nie. Waarom dan jou keuse afdwing op die persoon wat verkies om meer versigtig te wees?

.........
Maar is die skade wat deur Covid aangerig is, dan nie juis ’n argument ten gunste van groter versigtigheid nie? Indien persoon X verkies om steeds masker te dra op straat, ten spyte van die feit dat maatreëls verslap is, doen dit tog nie skade aan enigiemand anders se keuse om sonder masker te loop nie. Waarom dan jou keuse afdwing op die persoon wat verkies om meer versigtig te wees?
..........

En wie is dan die groter sheeples – die persone wat die regering se instruksies blindelings navolg, of die persone wat besluite neem onafhanklik van wat die regering mag besluit?

Maskers vir eers eenkant geskuif, is daar baie leerkragte wat ongelukkig is dat die sosiale-afstand-reëls ten opsigte van skole opgehef is. Kinders onder 12 het geen geleentheid om inentings te ontvang nie, maar hulle kan nou maar styf teen mekaar in die skoolbanke sit. Die redenasie is dat hulle minder siek word en vinniger herstel van Covid. Maar wat van die leerkrag wat dalk onderliggende siektetoestande het wat hulle aan groter gevaar blootstel?

Watse sosiale afstand is daar in elk geval wanneer ’n polisiebeampte ’n krimineel moet arresteer wat dalk glad nie ‘n masker dra nie, of alreeds Covid het? Watter sosiale afstand is daar in die aanhoudingselle? Hieroor rep die President se adviseurs geen woord nie.

Die belofte is dat ons kan terugkeer na ’n tipe normaliteit. Maar daar is geen waarborg dat ons nie ook, soos ander lande op die oomblik, weer aan ’n nuwe variant blootgestel gaan word nie. En hoe gaan ons weet, wanneer besoekers aan Suid-Afrika nou nie meer nodig het om ’n negatiewe verslag voor te lê voordat hulle die land mag binnekom nie?

Dalk maak die nuwe maatreëls ekonomies sin, maar solank as wat daar onverdraagsaamheid is teenoor mense wat verkies om meer versigtig te wees, kan dit nie medies of moreel sin maak nie.

Kom ons hoop maar dat ons as ’n land nie maande van nou af die prys gaan betaal vir die terugkeer na ’n tipe normaal nie.

Lees ook:

COVID-19: Die jongste | The latest

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top