“Maatskaplike kohesie is belangrik, maar die probleem is implementering.” So sê Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers op hierdie einste LitNet. Dan val hy weg met ’n hele string goeters wat gesonde samesyn beduiwel … soos ministers wat uit twee monde praat oor wat eintlik die oorsaak was van die onluste en plundering in Julie in KwaZulu-Natal en Gauteng. Hy meen die regering het die situasie sleg hanteer. Ongelukkig, sê hy, gaan dit vir baie politici oor die ego, eie belang, gierigheid, ’n gebrek aan spiritualiteit, morele waardes en etiek.
In ’n opvolgprogram oor die betreurenswaardige brandstigting en plundering in KZN val die klem in die besonder op Phoenix en omstreke wat die ergste getref is. Daar is onheilspelende ondertone van ’n ander soort rassisme as die gewone wit-swart-narratief.
’n Jong swart vrou wat lid is van die gestigte vredeskomitee, pak die skuld vierkantig op die regering. Nonku Zungu van Ntuzuma sê die regering maak nou al 27 jaar net beloftes, maar daar gebeur niks nie. Al die ontwikkeling gaan na Phoenix, waar hoofsaaklik Indiërs bly. Die gevolg is dat swart mense die Indiërs verwens en hulle besighede aanval. Maar, voeg sy by, dit is te verstane dat Indiërs hulle besittings, besighede en infrastruktuur sal beskerm.
Maar hierdie keer was dit anders as tydens vorige botsings tussen die twee groepe, in 1949 en 1985. In 1949 het swart mense op groot skaal Indiërpersone en -ondernemings aangeval; 142 mense is dood – 87 swart mense en 50 Indiërs. Daarby is een fabriek afgebrand en 58 winkels verwoes, 652 beskadig, 247 woonhuise verwoes en 1 285 beskadig. In 1985 het swart mense weer die aanvalle van stapel gestuur; 55 mense is dood. Sowat 1 500 Indiërgesinne moes vlug.
In vanjaar se geweld het die aggressie van die Indiërgemeenskap gekom om hulle eiendom te beskerm.
Volgens die polisie is altesaam 337 mense dood van wie ’n beduidende getal, 36, van Phoenix was. In die geheelprentjie is onder meer 89 winkels geteiken, 45 stoorkamers, 22 fabrieke, agt banke, 88 OTM’s, 89 drankwinkels, agt drankverspreidingspunte, 139 skole en 37 vragmotors. Die geraamde skade beloop minstens R50 miljard.
In ons onderhoud met Sham Maharaj, die sameroeper van die nuutgestigte vredeskomitee by Phoenix, sê hy “social cohesion” het ’n “buzz”-uitdrukking geword. Maar praktiese dinge moet gedoen word om daaraan inhoud te gee. In die Phoenix-omgewing het hulle ’n vriendskaplike sporttoernooi gereël om kontak en begrip tussen die verskillende gemeenskappe te bevorder. Dit was so ’n sukses dat hulle dit nou ’n jaarlikse instelling wil maak.
Die geweld en verwoesting van winkels en infrastruktuur het die posisie van arm gemeenskappe net vererger. Nou moet mense verder taxi ry en duurder betaal om by winkels uit te kom. Basiese kruideniersware kos meer. Die vredeskomitee het gereël dat kospakkies aan 12 000 gesinne in die eThekwini-gebied gelewer word. Berading word voorsien aan kinders wat getraumatiseer is deur hulle belewenis van geweld.
Hoewel rassisme duidelik ’n rol gespeel het in die onluste in Julie, het die behoeftes oor die kleurgrens heen eerder meer met basiese dinge te doen. In ’n onlangse peiling deur die Instituut vir Rasseverhoudinge is bevind dat Suid-Afrikaners by verre meer besorg is oor werkloosheid (53%), misdaad (22%) en korrupsie (18%). Net 3% glo rassisme is die grootste probleem. Volgens die jongste inligting van Statistieke Suid-Afrika was die amptelike werkloosheidsyfer in die tweede kwartaal ’n rekord 34,4%. Dus sit meer as een uit elke drie van die potensiële arbeidsmag tuis. Dit is sowat 11,3 miljoen mense. Volgens die uitgebreide definisie van werkloosheid verdien 44,4% van die bevolking nie ’n inkomste nie. Vir die jeug onder 25 is die syfer 64,4%. Dus amper twee uit elke drie jeugdiges. In hierdie groep is daar omtrent 3,3 miljoen lediges en sowat 73% van hulle het geen kwalifikasies nie. Hulle het dus geen hoop om ooit werk te kry nie. Hoe oorleef hulle? Waarskynlik deur die tweede grootste probleem wat Suid-Afrikaners beleef: misdaad.
Polisieminister Bheki Cele het onlangs skokkende statistiek bekendgemaak. Ernstige misdaad, soos moord en verkragting, het met 60,6% in April tot Junie vanjaar toegeneem in vergelyking met dieselfde drie maande verlede jaar. (Dis in die maande net na die aankondiging van die inperkings weens die Covid-pandemie.)
In effek beleef derduisende Suid-Afrikaners daagliks trauma weens misdaadgeweld of werkloosheid en swak vooruitsigte. Dis die soort omstandighede wat maklik tot geweld en rasseverwensing kan eskaleer. Een van die organisasies wat betrokke is by die helingsproses in die Phoenix-omgewing is die Privilege-stigting van Barend la Grange. Die organisasie was al by verskeie dorpe betrokke om vyandigheid en wrewel in te perk voordat dit tot gevaarlike uitbarsting kom, soos by Senekal in die Vrystaat verlede jaar. Sy benadering om maatskaplike kohesie te bewerkstellig, is nog die maklikste, beste, mees praktiese wat ek nóg teëgekom het:
- Maak skoon. (Kry gemeenskappe om saam rommel op te tel.)
- Maak mooi. (Verf geboue en mure wat onooglik is.)
- Maak reg. (Vervang gebreekte goed soos vensters, pype ens.)
- Maak groen. (Plant bome en blomme om strate en parke te verfraai.)
Die proses is aan die gang by Phoenix. Met die toegewyde ywer en oortuigings van mense soos Imtiaz Sooliman, Sham Maharaj, Nonku Zungu en Barend la Grange sal die lelike verlede van die gebied sekerlik vorentoe verander. Die burgerlike samelewing het tydens Julie se geweld weer gewys dat baie bereik kan word as daar aktief gewerk word aan ’n beter toekoms. Dis nie te veel gevra dat die regering ook sy deel doen nie.
Kyk ook:
Reguit met Robinson: A Zoom conversation with Sham Maharaj and Nonku Zungu
Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met John Mathuhle, Barend la Grange en Giel Bekker

